Matteus 20:1-16; 1 Korintiërs 1:26-31

Ons is vyfuur werkers



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die meeste van ons ken die gelykenis wat ons vanoggend saamgelees het goed. Ook die betekenis van hierdie gelykenis – dit wat die gelykenis wil sê, dit wat die gelykenis ons wil leer – is nie moeilik om te verstaan nie.

Gewoonlik verstaan ons die gelykenis so. Daar was ‘n boer wat werkers moes huur om op sy lande te gaan werk. Daarom het hy sesuur die môre uitgegaan, ‘n hele span gehuur, met hulle oor hulle loon ooreengekom, en hulle die lande ingestuur om te werk. Hy sien toe egter dat hy nie genoeg hande het om die werk af te handel wat daardie dag afgehandel moes word nie. Nege uur gaan hy toe weer en huur nog ‘n aantal werkers. Maar ook hulle was nie genoeg om die werk klaar te maak nie. Twaalfuur die middag gaan haal hy toe nog ‘n klompie werkers. En toe weer drie uur die middag. En selfs vyf uur die middag. Want die werk het nie klaar gekom nie.

En toe betaal hy hulle teen ses uur die aand. Op ‘n vreemde manier. Vir van die werkers op ‘n onaanvaarbare manier. Want hy betaal nie alleen die wat laaste begin werk het eerste nie, hy betaal almal boonop presies dieselfde loon.

Wat wou Jesus met hierdie gelykenis sê? Daar is verskeie moontlikhede: God gee aan wie Hy wil wat Hy wil. God het al sy kinders so lief, dat Hy nie een afskeep nie. Dat dit nooit te laat is om te kom wanneer God roep nie. God dink en doen anders as ons. God se liefde is onmeetbaar. Sy genade is onbepaalbaar. En so kan ons aangaan.

Ons kan egter ook anders na hierdie gelykenis kyk, broers en susters. En dan kom iets verrassends in hierdie gelykenis na vore. Hoe kan ons anders na die gelykenis kyk? Deur raak te sien dat die boer nie maar net telkens werkers op die plein gaan huur het nie, maar dat hy telkens moes kies wie hy wou huur. En kom ek verduidelik:

Toe die boer die oggend ses uur by die mark die eerste werkers gaan huur, was daar heel waarskynlik baie meer werkers beskikbaar as wat hy kon huur. Dieselfde het nege uur gebeur. Daar was baie meer werkers as wat hy nodig gehad het. En dieselfde het waarskynlik gebeur toe hy twaalf uur gegaan het, en drie uur en vyf uur die middag. Elke keer moes hy kies watter van die wat beskikbaar was, by hom moes kom werk.

Hoekom kan ons so sê? Kom ons kyk baie mooi wat vers 7 sê: toe die werkers wat teen vyf uur nog daar rondgestaan het gevra is hoekom hulle daar rondsit, was die antwoord eenvoudig en duidelik: omdat niemand ons nog gehuur het nie. Die Griekse woordjie wat hier gebruik word kan ook vertaal word met: omdat iemand ons die hele dag nog nie gehuur het nie. Dus: hulle was ook al van vroeg oggend daar, maar niemand het hulle gekies nie.

Hoekom nie? Heel waarskynlik is die bestes en sterkstes heel eerste gekies. Veral hulle wat die werk kon doen waarvoor die boer, of ander, hulle nodig gehad het. Jy huur tog nie ‘n verwer as jy ‘n muur wil pleister nie. Jy kies eerste die wat die werk kan doen, hulle wat lekker sterk en gesond is. Die wat nie so goed en sterk was nie, en miskien darem so ietsie van wingerde geweet het, en daarom darem gangbaar was, is heel waarskynlik so teen twaalf uur gehuur. Nog ‘n swakker groep is drie uur gehuur, en die wat die minste werd was (en ook by niemand anders werk kon kry nie), is toe darem teen vyf uur gehuur.

Hoekom eers teen vyf uur? Hulle was heel waarskynlik nie opgelei om enige iets te kon doen nie. Of dalk was hulle opgelei vir ‘n sekere soort werk, maar het nog geen ervaring gehad nie. Of dalk was hulle goed vir niks. Dalk was hulle baie swak. Ons weet nie. Feit van die saak is, die wat teen vyf uur gehuur was, is gehuur omdat net hulle oor was. Beslis nie omdat hulle dit verdien het om gehuur te word nie.

Presies soos ons, broers en susters. God het ook vir ons gekies, ons gekies om sy kinders te wees, terwyl ons dit glad nie verdien nie. Kom ons hoor maar weer vir ‘n slag wat die Woord vir ons sê oor wie en wat ons was toe God ons gekies het. Nie een van ons was regverdig nie, nie een nie, sê Romeine 3:10-15. Nie een van ons was verstandig nie, nie een van ons het na die wil van God gevra nie. Almal van ons het afgedwaal, elkeen van ons was die spoor byster, nie een van ons het goed gedoen nie, agter almal van ons het ‘n spoor van vernietiging en ellendes gelê.

Ook kan ons nie sê dat God ons gekies het omdat Hy ons nodig gehad het nie. Want wat kan ons bied wat God nodig het, of wat God nie het nie? Ons verstand? Waar ons denke ophou, begin God se denke nie eers nie. Ons insig? Hoeveel verstaan ons regtig van die lewe as God ons nie nuut gemaak het nie?

Of soos Paulus dit in 1 Korintiërs 1 stel: ons was swak, nie geleerd nie, nie invloedryk nie, nie mense met aansien nie. Maar tog het God ons gekies. Hy het ons gekies om dit wat eintlik niks is, iets te maak.

Hoe dankbaar was daardie werkers seker nie wat eers teen vyf uur gehuur is nie? Iets van daardie dankbaarheid sien ons dikwels in ons tyd wanneer ons soms werkers gaan oplaai. Hulle het beslis dadelik op die boer se bakkie gespring. Want hulle het werk gehad, hulle was uiteindelik gekies.

Ons, broers en susters, is daardie vyfuur werkers. God kies ons, terwyl ons niks daarvan verdien nie. Ons kan God niks bied dat Hy ons moet kies nie. Inteendeel. Ons is niks beter as ander nie. Want almal is sondaars. Almal is ver van God af. En wanneer jy vir ‘n slag werklik kyk na wie en wat jy is, en wat jy doen, dan besef jy al hoe meer: ek is daardie vyfuur werker, ek verdien nie om gekies te word nie.

Maar God het. En wat, broers en susters, maak ons met hierdie erenaam, God se kind? Ek is God se kind, ek is God se mens, ek het ‘n Vader. Al verdien ek dit nie.

Die Woord leer ons dat ons dankbaar behoort te wees. Dat ons lewens nou anders behoort te lyk. Dat ons anders behoort te doen, te dink en te handel. Maar doen ons dit?

Wie van ons kan vanoggend voor God staan en sê: Here, u weet, ek bring my kant volledig? Ek kan dit nie sê nie. Miskien kan u. Wie van ons kan sê dat ons aan God gee wat Hom toekom? Miskien kan u, ek kan nie.

Kom ek sê dit meer presies, en wat ek nou gaan sê, sê ek vir die eerste keer in vyftien jaar van hierdie kansel af. Hoekom moet ons hoor dat hierdie gemeente tien ouderlinge en amper vyftien diakens kort? Hoekom hou ons ‘n basaarvergadering, en net twee mense daag op? Hoekom moet ons hoor dat verlede jaar daar so deur die jaar 35 kinders net by die kategese weggeraak het? Hoekom doen net ‘n paar al die werk van die Here in die gemeente? Omdat net hulle sogenaamd tyd het? Nee. Hulle tyd is net so min soos u en myne.

Is dit, broers en susters, hoe ons dankbaarheid lyk? Is dit hoe ons reageer wanneer ons die is wat eers teen vyf uur gehuur is? Is dit wat ons maak met die tyd, krag en talente wat God vir ons elkeen gegee het? Of meen ons ons kan maar net gryp en neem, dit is vir God goed en reg so?

As u en my verhouding met God nie werklik vir ons belangrik is nie, broers en susters, moet ons nie vandag verder tyd mors om oor hierdie vrae na te dink nie. As God vir u en vir my nie die belangrikste in ons lewens is nie, moet ons nie toelaat dat hierdie vrae van ons enige aandag eis nie. Of ons ontstel, of ons aan die dink sit nie.

Maar: as ons oordeel dat God vir ons alles gegee het, as ons die Woord vanoggend so verstaan dat ons raaksien dat ons daardie vyfuur werkers is, dat ons niks verdien nie, dat alles ongelooflike genade is, dan kan ons nie anders as om te besef: omdat God vir my alles gegee het, daarom vra Hy alles.

Hierdie woord gee dalk vanoggend aanstoot. Ek weet nie. Dalk voel u so bietjie vieserig. Ek weet nie. Wat ek wel weet as dat God, soos 1 Korintiërs 1 dit stel, vyfuur werkers vat, wat in niemand se oë iets beteken nie, en van hulle mense maak wat ses uur die oggend gehuur word. Want Hy maak ons bekwaam. Hy maak ons nuut.

Aan God moet ons dus antwoord. Nie aan mekaar nie. Aan God moet ons antwoord wanneer God ons elke oggend ses uur roep om te kom werk in sy wingerd. Dit is ons besluit. Net ons besluit. Daarom sal net ons eendag tot verantwoording geroep word. Net ons.
Amen