Matteus 21:28-31

Sê en doen – ja en nee



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die kerk (en die kerk is ons) moet altyd ‘n kerk van die Woord wees. Die kerk kan nooit sonder die Woord wees nie. Want ons sê tog dat die Woord (Bybel) die enigste rigsnoer van ons lewens is. Wie in God glo, is God se kind, behoort aan die liggaam van Christus, sy kerk, en daarom is die Woord van God sy of haar se enigste rigsnoer in die lewe.

Omdat die kerk ‘n kerk van die Woord is, broers en susters, moet die kerk in die tweede plek egter ook ‘n kerk van woorde wees. Want geloof in God impliseer altyd ‘n belydenis. ‘n Belydenis oor die groot dade van God. ‘n Belydenis oor God se liefde wat ons ervaar, oor alles wat Hy elke dag vir ons gee. Oor wat Hy vir ons gedoen het en nog doen. Soos ons vanoggend byvoorbeeld reeds bely het.

Dat die kerk bely, broers en susters, impliseer op sy beurt weer altyd ‘n daad. Want wanneer ons net bely, en nie gaan leef dit wat ons bely nie, loop die kerk die gevaar dat sy belydenis leeg en betekenisloos word. Want belydenis en daad gaan altyd saam. Dit weet ons goed. En wanneer ons nie doen wat ons sê nie, dan is ons vals.

Dus: omdat ons kerk is verbind ons onsself aan die Woord, ons ontmoeting met God in daardie woord bring ons tot woorde (belydenis), en wat ons dan gaan doen, maak ons belydenis waar of vals.

Die kerk kan daarom, broers en susters, soveel belydenisse uitspreek as wat hy wil, hoeveel teologiese debatte voer, soveel preke preek wat alles so mooi en pragtig klink, maar as hy nie gaan doen wat hy bely of preek nie, dan is die kerk vals, en in die oë van ander dood.

Dan is die kerk soos die tweede seun in die gelykenis wat entoesiasties en eerbiedig sê: goed pa! — maar die woorde kom tot niks. Net so, broers en susters, word die kerk ook niks as die kerk (ons) een ding sê, en ‘n ander ding doen nie. Dan is ons vals. En dan sal die kerk, terwyl hy so mooi bely, ondergaan. Omdat ons net praat, so baie praat, maar niks doen nie.

Die kerk kan egter, broers en susters, ook doenend ondergaan. Ons kan so baie doen: ons kan gemeente wees, geboue in stand hou, al die vergaderings op die regte tye hou, ons finansies gesond hou, die eredienste pragtig in stand hou, en ook nog steeds ondergaan. Hoekom? Want as ons al hierdie dinge doen omdat ons meen dat dit van ons verwag word, of dit doen omdat almal dit maar doen, bloot omdat dit ‘reg’ is, bloot omdat dit eintlik gewoonte geword het, sonder dat Jesus Christus iewers in die prentjie is, sal ons ondergaan.

Want dan, broers en susters, brand daar mos eintlik geen liefde van dankbaarheid in ons harte teenoor God nie. Dan doen ons mos nie al hierdie dinge in die eerste en laaste plek vir God nie. Dan leef ons eintlik asof God nie bestaan nie. Want ons doen dan al hierdie dinge vir onsself. Ja, dan is ons soos die eerste seun in die gelykenis wat wel tog iets doen, maar tog sê: nee pa!.

Kom ons stel dit anders, broers en susters: kerklike ‘korrektheid’ en lidmaatskap en erediensbywoning en Bybel-lees en bid en bely is nie sonder meer gelyk aan ware geloof nie. Ware geloof is wanneer ‘n mens se ja ja is, en jou nee nee: wanneer ‘n mens se woorde en dade bymekaar uitkom, wanneer dit wat die kerk bely, oorgaan in sigbare, gehoorsame en dienende dade.

Die meeste van ons vanoggend hier, broers en susters, het al baie kere vir God ja gesê: toe ons belydenis van geloof afgelê het, in die huwelik bevestig is, dalk in die amp bevestig is, of toe ons ons kinders ten dope gebring het. En, broers en susters, en dit is die ongemaklike vraag: hoeveel van ons het nie na ons ‘ja’ tog anders gaan doen nie. Ja, die belydenisse was daar, maar nie die dade nie.

Maar ook broers en susters: baie van ons sal kan sê maar die dade is daar, kyk, ek doen presies wat van my verwag word. Die werk in my wyk is in orde. My erediensbywoning is in orde. Waar iets van my verwag word — wat die kerk betref — kyk maar, dit is in orde. Maar dan was daar geen belydenis nie. Ja, die dade is daar, maar nie die hart nie. Die dade is daar, maar nie God nie, die dade is daar, maar eintlik nie die liefde nie. In kort: ons was nie daar nie, al was ons daar!

Nou sou ons kon vra, broers en susters: maar watter een van hierdie twee optredes/houdings is die verkeerdste? Om te sê ja, maar tog nie iets te doen nie, of om iets te gaan doen, maar eintlik nee te sê, omdat die hart nie in die saak is? As ons hierdie vraag vra, broers en susters, en ons verwag van die gelykenis om ons daarop ‘n antwoord te gee, sal ons nie uit die gelykenis ‘n antwoord kry nie. Want dit is nie waaroor hierdie gelykenis in wese handel nie.

Nee. Die gelykenis wil eerder hê dat ons sal raaksien dat iets van beide hierdie twee broers soms ook maar in ons lewens teenwoordig is. Partykeer sê ons ja (goed pa), maar dan gaan werk ons nie in die wingerd nie, en partykeer gaan werk ons wel in die wingerd, maar sê eintlik ‘nee, pa’, want ons doen dit vir onsself, om watter rede ook al, maar in wese nie eintlik vir God nie. So word ons maar te dikwels hierdie twee seuns in een: ons word dubbelgangers.

In Dresden (in Wes Duitsland), is daar in ‘n kunsgalery ‘n voorstelling van Matteus se gesig, wat hierdie dubbelslagtigheid van die mens pragtig tot uitdrukking bring. Nie om te sê dat Matteus so was nie, maar om uitdrukking te gee aan dit wat Matteus met hierdie gelykenis wou sê.

Wanneer jy reg voor die kunswerk staan, sien jy ‘n kartondoos met ‘n baie vriendelike en helder gesig voorop geverf. Wanneer jy egter langs die kunswerk gaan staan, en by die kante van die kartondoos inkyk, sien jy die gesig van die persoon soos hy werklik is: somber, onvriendelik, geslote, eintlik onherkenbaar ten opsigte van die gesig wat jy van vooraf kan sien, geskilder op ‘n doodse grysblou.

Kyk jy eers van voor en dan van die kant na die kunswerk, sê die kunswerk ja en dan nee. En kyk jy eers van die kant af en dan van vooraf, sê die kunswerk eers nee en dan ja. En bo die kunswerk staan die opskrif geskryf: wie is jy?

Wat wil hierdie kunswerk, broers en susters, as uitdrukking van hierdie gelykenis van Matteus, vir ons sê? Dat ons soms in die lewe besig is met ‘n kartondoos-speletjie:

  • Ons bely dat ons in God en in Christus glo, dat ons weet dat ons kan reken op sy liefde, genade, geduld en vergifnis. Maar hoeveel vind ons hiervan in ons eie lewens. Ja, God moet my so behandel, maar moet net nie van my verwag om ander so te behandel nie.
  • Ons bely dat ons in die Heilige Gees glo. Maar as die Gees dan kom, en ons lewens word ondersoek, en ons word tot die oortuiging gebring deur die Gees dat daar sonde in ons lewe is, dat ons dit moet bely en laat staan, wat maak ons dan?
  • Ja, broers en susters, ons word warm onder die kraag wanneer mense sê en skryf dat Jesus Christus nie werklik opgestaan het nie. Maar die feit dat Jesus Christus se opstanding ook beteken dat ek as gelowige elke dag die ou mens moet begrawe en moet opstaan om as nuwe mens te gaan lewe, nee wat, daarvan is daar selde maar ietsie sigbaar in my lewe.

En so, broers en susters, gaan ons ewe vroom belydende onder.

Ander kere weer doen ons so pragtig. Maar eintlik is dit ‘n las, dit is so swaar. Kyk maar net van die kant af in die kartondoos in en jy sal presies sien hoe ek eintlik voel wanneer ek al hierdie goed doen. Want dit is soveel moei­te. God vra so aanhoudend, Hy vra so baie. Jy kry nooit rus nie. Maar ons doen maar, al wil ons eintlik nee sê.

En so, broers en susters, gaan ons ewe vroom doenend onder!

Voor God, broers en susters, kan die mens egter nie sy kartondoos speletjie volhou nie. Want voor God is ons totaal deursigtig. Ja, ons kan óf na die beeld van voor af, óf na die beeld van die kant af kyk, maar God sien alles gelyktydig. Daarom maak kamma-kamma geloof nie op God ‘n indruk nie. Ek weet alles wat julle doen, sê Jesus Christus in daardie sewe briewe aan die begin van Openbaring. Ek weet hoe julle leef. Halwe godsdiens maak nie vir my sin nie. Inteendeel: dit is vir my totale onsin.

Alleen my kind, wanneer jy bely en doen, alleen wanneer my kerk bely en doen, ja sê en gaan doen, nee sê en nie gaan doen nie, wandel jy in my gange en bly jy in my huis.

Hoe, broers en susters, word ‘n mens van hierdie somtydse ‘dubbelslagtigheid’ voor God verlos? Wanneer ons die ‘derde Seun’ in hierdie gelykenis raaksien. Hy word nie genoem nie. Hy word ook nie beskryf nie. Maar Hy is daar. En sy naam is Jesus Christus.

Op Golgota het die mense gesê: nee, ons wil Hom nie hê nie, maar God het gesê: ja, julle het Hom nodig. In sy gesig, broers en susters, sien ons God se ja vir ons, sy liefde vir ons. En wanneer Jesus Christus sterf, word hierdie liefdesverklaring van God ‘n daad. Sy woord word daad. Sy belofte, waarvan ons al in die Ou Testament kan lees, word ‘n daad, word waar. Sy belofte aan Abraham — dat Hy altyd ons God sal wees, word ‘n daad. Dit word waar. God se woord word daad.

Dit, my broer en suster, is die gesindheid waarmee u vanoggend u kind moet kom doop. Ek wil amper sê, anders moet u nie kom nie. Laat ons ja hier, ons belydenis, ‘n daad word. God se gawe aan u was hierdie kind, dit was God se ja, vir u, hier by die doopvont kom God weer en sê Hy weer ja vir u en u kind. Soveel genade, soveel liefde , ons verstaan dit nie. Maar ons kan daarop reageer: ons ja kan ook ‘n ja in daad word. Ons belydenis kan deur doen opgevolg word.

Ek sluit af: in die gelykenis ontbreek daar by elkeen van die twee seuns iets. By die ja-seêr ontbreek die ja-doen, en by die nee-seêr, die ja-sê. Maar daar is ruimte om dit te verander. Albei het nog die kans om ja te sê en te gaan doen.

En dit is juis, broers en susters, vanuit ‘n bepaalde hoek gesien, die boodskap van hierdie gelykenis. Ons grootste skuld voor God is nie dat ons soms ja sê en nie gaan doen nie, of wel gaan doen en eintlik nee sê nie, maar dat ons, op grond van die derde Seun in die gelykenis se optrede en voorbeeld, nie insien dat God niks anders van ons as ‘n ja-ja of nee-nee verwag, en dit nie gaan doen nie.

So gesien, broers en susters, is die eerste seun in die gelykenis vir ons ‘n voorbeeld. Al het hy aan die begin nee gesê, het hy daaroor sleg gevoel en toe wel gegaan. Hy het dus gebruik gemaak van die ruimte wat die genade van God aan ons gee, en gaan regmaak wat hy verkeerd gedoen het.

En dit meen ek, broers en susters, is soms ons grootste skuld voor God. Nie dat ons ja-sê en dan nee-doen, of ja-doen maar eintlik nee-sê nie, maar dat ons nie, wanneer God ons hiervan bewus raak, grondig tot bekering kom en begin leef soos God van ons vra nie. Hoeveel keer, my broer en suster, het ons nie al bewus geword van hoe ons soms, wat hierdie saak betref, lewe nie? Hoeveel keer? En wat het ons daaraan gaan doen?

Ons belydenisse moet dade word. En ons dade moet sy grond vind in ons belydenisse en die Woord wat ons lees.

Anders is ons met kartondoos speletjies besig, en nie met God nie. Terwyl ons nie besef nie: God kyk regdeur ons!
Amen