Matteus 21:33-46

Vereelte harte



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Almal van ons wat al 'n eelt op die hand of die voet gehad het, sal weet dat 'n eelt niks anders is as dik, dooie vel nie, en dat 'n mens 'n speld baie diep in so 'n eelt kan insteek sonder om iets te voel, of dat 'n mens as 't ware ure daaraan kan skuur sonder om iets te voel. 'n Eelt is daarom eintlik iets wat dood is, 'n gedeelte van die vel wat nie meer kan voel of gevoel in het nie.

Daar is egter ook 'n ander soort eelt wat mense soms kry, broers en susters. En dit is eelte op hulle harte. Waar 'n dik en dooie stuk vel so die senuwees van die siel, die hart, toegegroei het, dat hulle niks meer vir God of ander voel nie. En waar kom hierdie eelte op die hart vandaan? Dit is die gevolg van ure en ure se geskuur teen die waarheid, teen die evangelie, sonder dat daar toegelaat word dat die evangelie in die hart van die hoorder ingaan.

In die laaste week van sy lewe het Jesus met baie mense gepraat wie se harte vol van sulke eelte was. Juis omdat Hy wou deurdring tot daar waar hulle nog kon voel, tot in hulle siele. Daarom, op die laaste Dinsdag van sy lewe (want dit is waar ons hierdie perikoop kan plaas), het Hy vir die mense rondom Hom twee verhale met dieselfde tema vertel: twee verhale wat handel oor mense wat God se uitnodiging keer op keer verwerp het. Die een verhaal het ons saamgelees — die oor die boer en die wingerd — en tweede volg direk daarna in die Matteusevangelie: die gelykenis van die koninklike feesmaal.

In die eerste vertelling sien ons het 'n boer 'n wingerd by 'n grondbesitter gehuur, en toe die druiwe reg was, het hy sy werkers na die boer gestuur om, volgens die huuroor­eenkoms, sy deel van die druiweoes te gaan haal. Die boer se werkers het egter die eienaar se gestuurdes gevang, een geslaan, een doodgemaak en 'n ander een gestenig.

In die tweede vertelling (wat ons nie saamgelees het nie), sien ons het die koning vir sy seun 'n bruilofsfees voor­berei. En toe hy sy mense uitstuur om die wat genooi was na die bruilof te roep, wou niemand van hulle kom nie.

En dadelik sou 'n mens reken, veral die grondeienaar het sake seker nie ongedaan gelaat nie, en verseker die skul­diges gestraf. Maar interessant, dit is nie wat ons verder in albei vertellings lees nie. Want daar staan: weer het hy ander diensknegte gestuur, meer as die eerstes, en hulle het met dié net so gemaak (Matt 21:36), en, weer het hy ander diensknegte gestuur met die boodskap: sê vir die genooides die maaltyd is reg, die vetgemaakte vee is spesi­aal vir julle geslag, kom asseblief na my seun se bruilof (Matt 22:4). Maar weer wou hulle nie kom nie.

'n Mens kan dit amper nie glo nie, broers en susters. Dat albei hierdie mense, die grondeienaar en die koning, so geduldig kon wees met mense wat óf hulle diensknegte doodgemaak het óf hulle gasvryheid so geminag het. Maar dit is hoe Jesus die twee gelykenisse vertel. En hoekom? want hiermee wou Hy sê: My Vader is geduldig (want duidelik verwys beide die grondeienaar en die koning hier na God) en verdraagsaam, Hy hou nie op om met mense te praat nie. Hy bly vra, Hy bly soek, Hy los sy kinders nie totdat Hy hulle gevind het nie.

Wat eintlik nie vir ons 'n vreemde begrip behoort te wees nie, broers en susters. Want wie van ons het nie ook al die ervaring gehad dat ons saam met ons kinders in 'n groot winkelsentrum was nie, en waar ons kind nog die een oomblik by ons was, en toe ons weer kyk, nie meer by ons was nie. Dan, broers en susters, is jy nie meer bekom­merd oor dit wat jy wil koop of nog moet koop nie. Dan los jy alles en soek rasend heen en weer met 'n erg bonsende hart totdat jy jou kind vind. Want vir enige normale en goeie ouer is geen prys te hoog as dit by sy kind se lewe kom nie, is geen inspanning te veel nie. Enige ouer sal daarom alles in sy vermoë doen om sy kind se veiligheid te verseker.

En dit is presies wat Jesus met hierdie twee gelykenisse onder andere wou sê: Geen moeite is vir God te veel om seker te maak dat sy kinders by Hom is en veilig in sy han­de is nie. Daarom hou Hy nie op om op verskillende maniere met sy kinders te praat nie.

Ons kan dit nog sterker stel: God se grootste skepping is nie die ongelooflike sterrehemel of die pragtige aarde waarop ons leef nie, sy grootste skepping is sy ewige plan om sy kinders te bereik. Want daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir God belangriker is as om sy kinders, — vir u en vir my — by Hom eendag in die hemel te kry nie. Iets wat God keer op keer in die verlede al bewys het.

So het Hy vir Noag 'n reënboog gegee om daarmee te sê dat sy kinders nooit weer deur water verdelg sal word nie. Abram het dit gesien toe God in die baie ou Sarai se liggaam lewe verwek het. Josef het dit gesien toe hy in die tronk gestop was, en die farao het dit meer as een keer in die woorde van Moses gehoor. Hy het geweier om God se volk te laat trek, en daarom het hy die een teken na die ander van God se almag gesien: water het in bloed verander, dag het nag geword, sprinkane het uit die niet verskyn, kinders het gesterf, die water van die see het 'n pad gemaak, en uiteindelik weer oor sy eie mense gespoel, sodat almal verdrink het.

Hierdie is almal voorbeelde, broers en susters, van hoe God met ons en met ander praat om seker te maak dat ons nooit sal vergeet dat Hy ons wil bereik nie. Al moet Hy die hele wêreld verander (soos ons sien in die geval van Moses en die farao). God sal nie tou opgooi of moedeloos raak nie. Want dit is wat Hy wil: Hy wil hê dat ons sal roepstem sal hoor, dat ons sy uitnodiging sal hoor, en so daarop sal reageer, dat ons eendag vir altyd by Hom sal wees.

En God sal alles doen om dit te bereik. Daarom stuur Hy nie alleen sy enigste Seun om as mens sonder sonde onver­diend vir sondaarmense te sterf nie, maar bly Hy ook met ons besig, elke dag. Daarom woon God nie iewers ver in die sterrestelsel nie, maar is Hy betrokke in ons hart­seer, in ons vreugde, is Hy Maandag by jou, en ook elke ander dag van die week. En is Hy in elkeen van hierdie dae met ons verdraagsaam en geduldig, en bly Hy met ons praat, bly Hy met ons handel. En dit doen Hy alles omdat Hy nie dit wil laat gebeur dat ons sy uitnodiging tot die fees van die nuwe en ware lewe van die hand sal wys nie.

Hoekom, broers en susters, is God met ons so geduldig? Ek dink dat 2 Samuel 7:19 vir ons hierdie vraag pragtig antwoord wanneer daar staan dat God se liefde nie die liefde van 'n mens is nie. En 2 Samuel is hier heeltemal reg. Want God se liefde is nie dit wat vir ons sogenaamd `normaal’ is nie. Dit is mos nie normaal om 'n moordenaar lief te hê of te vergewe nie — en dit doen Jesus terwyl Hy aan die vloekhout hang. Ook is dit nie normaal om iemand te bly liefhê as hy totaal van jou vergeet nie — en tog bly God vir Salomo, wat dit gedoen het, liefhê. Of dink net hoe God moes gevoel het al die kere wat sy volk Hom verruil het vir afgode van klip, hout en yster, en tog bly Hy vir hulle steeds lief, en bly Hy bemoeienis met hulle maak.

Maar, broers en susters, dit is net die een kant van die muntstuk, dit is net die een gesig van God wat Jesus hier in hierdie twee gelykenisse teken. God bly liefhê, want ons is sy kinders, sy liefde word nie bepaal deur wat ons doen of nie doen nie, sy liefde word bepaal deur die feit dat ons aan Hom behoort. Dat ons harte aan Hom behoort.

Maar, en dit is die ander gesig van God, 'n vereelte hart duld God nie. Ja, Hy is eindeloos geduldig met ons foute. Hy help ons telkens weer wanneer ons struikel, Hy word nie kwaad oor al ons vrae nie, en Hy draai nie sy rug op ons wanneer ons met dieselfde dinge bly sukkel nie.

Maar, daar is een ding wat God nie kan verdra nie, en dit is as ons doelbewus ons rug op Hom draai.. As ons duidelik vir Hom wys in wat ons sê of doen dat ons niks met Hom te doen wil hê nie, sal Hy sy rug op ons keer en ons aan onsself oorlaat.

Dan gebeur wat Paulus en Barnabas vir die Jode in Handelinge 13:46 gesê het: `Dit was noodsaaklik dat die Woord van God eers aan julle verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie, kyk, nou wend ons ons tot die heidene’.

Let wel, broers en susters: dit was nie die Here wat besluit het dat hulle die ewige lewe nie waardig was nie. Hulle het dit self besluit. Hulle het self daardie keuse gemaak toe hulle geweier het om sy Woord te aanvaar. En juis daarom veroordeel God 'n koue, selfsugtige hart wat die bron van nuwe lewe en hoop verag.

Die mens wat Hom verwerp, sal nie vergewe word nie, nie omdat God nie wil vergewe nie, maar omdat so iemand sy rug op God se vergifnis gedraai het. ‘n Vereelte hart, broers en susters , is daarom 'n veroordeelde en verlore hart. Want dit is 'n hart wat nie God se verlossing wil sien, hoor of hê nie.

Daarom sluit Jesus ook albei hierdie gelykenisse min of meer dieselfde af: van die moordenaars in die wingerd sê Hy `die koninkryk sal van hulle weggeneem word en aan 'n ander volk gegee word', en van die genooides sê die koning `hulle sal in die buitenste dieptes gegooi word waar hulle sal ween oor hulle verlies’.

Ek wil afsluit met 'n voorbeeld wat ek meen alles wat vanoggend gesê is baie duidelik sal maak. Een van die bekendste skilderye wat Jesus voorstel, is die van Holman Hunt. Op die skildery staan Jesus by 'n klipingang voor 'n swaar houtdeur en die onderskrif is heel gepas, 'n aanhaling van Openbaring 3:20: `Kyk, Ek staan by die deur en ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe’.

Op die oog, af, broers en susters, 'n heel gewone, ek wil amper sê, middelmatige skildery, wat aanvanklik een opslae gemaak het nie. Totdat iemand iets interessants van die skildery opgemerk het. Hunt het iets uit sy skildery doelbewus uitgelaat. Hy het nie vir die deur aan die buitekant 'n deurknop of handvatsel gegee nie. Met ander woorde, die deur op sy skildery kan net van binnekant af oopgemaak word.

En dit is presies wat die Woord vanoggend vir ons probeer sê het. God het die sondaarhart lief. Oneindig lief. Abnormaal lief. Maar die vereelte hart, wat die geklop hoor en hoor, daardie hart waarteen die evangelie week vir week skuur, maar nie ingelaat word nie, nie oopgemaak word nie, word verwerp. En dit is nie omdat God nie bly klop het nie.
Amen