Lukas 17:11-19

Ware geloof kom tot uiting in jou dankbaarheid



1Geliefdes van ons Here Jesus, die tema van vanoggend se prediking is: “Ware geloof kom tot uiting in jou dankbaarheid!” Voor ons egter gaan saamlees uit God se Woord, wil ek eers vir julle ’n moderne weergawe vertel van een van die bekende Bybelverhale. Terwyl ek die verhaal vertel, kan julle gerus probeer dink aan uit watter Skrifgedeelte ons prediking gaan kom.

Broers en susters, dit was daardie vanoggend koeler as die ander dae. Die man in die verweerde, bont jas trek dit stywer om sy lyf en probeer nog nader aan die vuur langs die pad beweeg. “Ek wens ek kan weer my dogtertjie optel,” dink hy by homself. Hy sien haar in sy gedagtes ... huppelend met haar lang vlegsel al bonsend agterna. Sy moeë lyf voel skoon pap van die onbeskryflike seer in sy binneste. Dit is asof die seer nie wil ophou nie ... so asof iemand hom met die gloeiende kole van binne af brand. Sy gedagtes keer terug na sy dogtertjie toe ... hy onthou hoe hy vir oulaas die kombers tot onder haar ken opgetrek het toe sy gaan slaap het. Dit voel soos eeue gelede .... Tog bly daardie aand so helder in sy gedagtes. Sy het nog gevra hoekom hy so hartseer lyk. “Sommer net lief vir jou,” het hy geantwoord, want hy het geweet hy moet daardie nag nog wegkom, anders gaan sy hele gesin ook deur die gemeenskap gebrandmerk word. Sy vrou wou nog keer, maar hy weet mos hoe mense is: hulle brandmerk jou voor hulle die feite ken!

Die man loer ongemerk na die ander se gesigte ... nege van hulle wat saam met hom om die vuurtjie bondel. Party staan en ander hurk by die vuur, omdat hulle kragte al feitlik ingegee het. Toe sy oë op die een vrou se hurkende figuur rus, besef hy dat sy slegter lyk as gister. Onwillekeurig wonder hy hoe lank sy nog met hulle sal wees ... hoe lank het sy nog oor voor die dood haar ook inhaal. “Ja,” dink die man by homself, “koning Dawid het mos gesê die dood is net een tree agter jou – eendag haal dit daardie tree in, en dan is dit verby!” Die vrou gee ’n roggelhoes, gevolg deur nog een. Haar hele lyf krimp ineen van die pyn.

Die man in die verweerde jas se oë gaan na die donkerkopman wat by die vuur staan terwyl hy die pot met ’n stok roer ... een of ander dis wat hy aanmekaar geslaan het. Ook hý het in die laaste paar weke baie skraal geword ... as ’n mens nie van beter geweet het nie, sou jy gedink het hy lyk maar so. Tog, hy was eens op sy tyd ’n regop en fors man. Nou is hy net ’n skaduwee van wat hy voorheen was ... sy skouers is ineengetrek en maer ... gebukkend staan hy so oor die vuur.

Die man met die verweerde, bont jas draai van die vuur af weg en staar in die niet in. “Dat mense kan dink dis net gays wat vigs kry ...” dink hy met wrewel in hom. Ja, sy eie lot is beseël toe hy as bloedlyer ’n besmette bloedoortapping gekry het. Onwillekeurig gaan sy oë terug na die hurkende vrou by die vuur ... ook sý het ’n hartseer verhaal: Sy was die verpleegsuster aan diens toe hulle met ’n ambulans na ’n ongelukstoneel gehaas het. Sy wou net iemand anders probeer help ... in die haas van die oomblik het sy nie agtergekom sy het haarself en die handskoen met die skêr stukkend gesny toe sy die klere van die bebloede pasiënt wou afsny nie. Nóú is sy ook ’n uitgeworpene uit die samelewing ... mense is geensins gepla oor hoe jy vigs kry nie. As jy dit het, is jy outomaties ’n skande ... ’n uitgeworpene!

En hier staan hulle ... tien van hulle ... almal vigslyers! Sommige het dit gekry deur hulle sedelose en immorele leefwyse ... ander soos hy, deur die noodlot! Dit is net ’n kwessie van tyd dan word hulle uitgeteerde en gebroke liggame ook op die ashoop gegooi ... daar waar selfs nie eers die honde aan hulle kom vreet nie. “Ja,” lag die man amper sinies hardop, “ons is nie eers goed genoeg vir die aasdiere nie, wat nog te sê van die samelewing?!”

Die man met die verweerde, bont jas het skielik nader aan die vuur gestap en vir die res van sy medelyers gesê: “Besef julle dat, as ons nog gesond en deel van die samelewing was, ons waarskynlik nooit met mekaar sou gemeng het nie?”

“Wat bedoel jy?” wou een van hulle weet.

“Wel, dink net daaraan: hier staan ons bymekaar om die vuurtjie – swart en wit! Voorheen sou ons seker nie met mekaar gemeng het nie ... ons kom uit verskillende vlakke van die samelewing. Selfs ek, wat eintlik nie hier tussen julle hoort nie omdat ek ’n uitlander is en nie eens julle taal ordentlik kan praat nie, voel ook welkom hier.”

Toe die res hom steeds verbaas aankyk, vervolg hy in sy gebroke Afrikaans: “Al wat ek wil sê, is dat wanneer almal saam swaar kry, hef dit alle verskille op. In goeie tye raak ons opgewonde oor wat ons dink ons regkry, en dan bring dit afstand tussen ons. Só dink ons dat ons beter is as ander. Maar nood bind ons saam ... vigs maak ons gelyk!”

Die groepie vigslyers het om die vuurtjie saamgedrom, opnuut bewus van hulle ongeneeslike siekte en kameraadskap. Skielik hoor hulle mense wat aankom, en omdat die wet verplig dat hulle nie enige kontak met mense mag hê nie, het hulle in die bosse in geretireer. Agter die skuiling van die blaredos loer hulle na die naderende reisigers. “Dis Hy!” fluister iemand opgewonde: “Dis daardie Man waarvan almal praat ... daardie Jesus!”

“Bedoel jy dit is daardie Jesus wat mense gesond kan maak?” wou die man met die verweerde, bont jas weet.

Iemand anders vra: “Hoe weet jy dat dit regtig Hy is? Verwar jy Hom nie dalk met iemand anders nie?”

“Omdat ek, toe ek nog gesond was, eendag gesien het hoe Hy ’n kreupele man heeltemal genees het! Ek sal sy gesig nooit vergeet nie!” antwoord die vigslyer.

Die tien vigslyers roep soos een man: “Jesus, Here, help ons asseblief!”

Hierdie Jesus het gaan staan, en hulle een vir een deurgekyk. Toe sê Hy vir hulle: “Gaan wys julle vir julle geestelike leiers en kerkrade!” Met dié draai Hy om en stap verder.

Die tien vigslyers het dadelik die vuur doodgegooi, en hulle bondeltjie besittings bymekaar gemaak, en onmiddellik koers gekies na hulle gemeentes. Terwyl hulle so loop, kyk die een vrou na haar hand. “Kyk!” roep sy opgewonde en beduie na haar hand. Verbaas kyk die ander na die seerplek daarop en sien hoe dit al kleiner word totdat dit heeltemal verdwyn.

Selfs die donkerkopman wat so vreeslik gehoes het, sê: “Ek voel vir die eerste keer in ’n lang tyd dat ek gemaklik kan asemhaal sonder enige steekpyne in my bors!”

Die man met die verweerde, bont jas gaan staan toe hy besef dat daar met hom ook iets gebeur. Hy kyk na waar die seerplekke op sy lyf was en besef dat dit heeltemal genees het. Die moegheid sypel by sy lyf uit, dit is asof hy ’n nuwe lewe kry. Net daar draai hy in sy spore om, terwyl die ander nege steeds vol van vreugde en blydskap verder stap. Toe begin hy terugdraf agter Jesus en sy dissipels aan. In die hardloop gooi hy sommer sy verweerde, bont jas af, terwyl hy hardop jubel: “Halleluja! Dankie, Here! Prys u grote Naam!”

Toe hy uiteindelik vir Jesus-hulle inhaal, val hy voor Hom op sy knieë neer, kyk op in sy oë en sê opreg: “Baie, baie dankie, Here Jesus! Mag u Naam in die toekoms deur my geprys word!”

“En die ander? Waar is die ander nege dan?” vra Jesus terwyl Hy terugkyk op die pad waarlangs hulle gekom het. “Is jy werklik die enigste een wat kom dankie sê het?” Toe draai Jesus terug na die vreemdeling en sê: “Jy kan opstaan en huis toe gaan. Jou geloof het jou gered.”

[DOEN SKRIFLESING]

Geliefdes van ons Here Jesus, ons leef in ’n deurmekaar wêreld waarin mense onseker is oor wat die toekoms inhou. Die nuus op die televisie en in die koerante handel meestal oor die lelike dinge in die wêreld ... en een van die lelikste dinge wat deesdae oral kop uitsteek, is die ongeneeslike siekte VIGS. Dit is hoekom ek hierdie moderne weergawe vertel het, want hierdie siekte wek deesdae net soveel weersin as die destydse melaatsheid. Dink maar aan hoe reageer ons as ons hoor van iemand wat VIGS onder lede het: Ons wil gewoonlik niks met hulle te doen hê nie ... ons vermy hulle met groot versigtigheid ... ons beskinder hulle agter ons hande. Ja, vandag word vigslyers net soos die melaatses destyds vermy en uit die samelewing verwerp. Verstaan mooi: ek probeer nie simpatie vir hierdie siekte aanwakker nie, maar dit is ’n realiteit wat ons nie kan weg wens nie.

Die enigste konnotasie tussen my moderne weergawe van die tien vigslyers en die Bybelse verhaal van die tien melaatses is om ons te laat besef hoe groot daardie wondergenesing vir die mense destyds was. Ons weet dat daar tans geen geneesmiddel vir VIGS is nie, en net soos destyds toe daar geen hoop op genesing vir melaats was nie, net so sal ’n vigslyer vandag ook sonder daardie hoop leef. En net soos hierdie Bybelse verhaal nie oor die melaatsheid gegaan het nie, net so wil ek vandag ook nie oor VIGS preek nie. Die boodskap van hierdie gedeelte moet eerder gesien word in die reaksie van die tien melaatses ... hoe hulle op hulle genesing gereageer het.

Daar is deesdae min wat positief en mooi is om aan te bied. Daarom wil ons graag weet of daar iemand is wat ’n plan of ’n oplossing het vir ons onsekerhede en vrese. Moet ons maar aanvaar dat die wêreld ’n wrede plek is met min hoop op verbetering? Moet ons maar alles gelate aanvaar? Dit is wat die Lukas evangelie so wonderlik maak: dit is tydloos ... dit bring ’n boodskap oor eeue heen en is vandag nog net so geldig. Selfs vir vigslyers ... kankerlyers of enigiemand wat aan ’n ongeneeslike siekte ly. Lukas vertel vir ons in hierdie Bybelboek dat daar wel Iemand is wat omgee ... Iemand wat ’n goeie plan vir die wêreld se ellende en nood het. In teenstelling met die media van vandag, bring die Lukas evangelie vir ons wel goeie nuus van Iemand wat die geluk en voorspoed van die mensdom op die hart dra. Dit is waarom die Here Jesus aan die begin van die Lukas evangelie ook sê: “Dié wat gesond is, het nie ’n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense wat op die regte pad is, tot bekering te roep nie, maar sondaars” (Luk 5:31). In hierdie woorde van Jesus Christus moet ons ook die boodskap van die verhaal van die tien melaatses gaan soek.

Broers en susters, destyds is melaatses weens hulle siekte gedwing om uit die samelewing pad te gee omdat hulle volgens wet van Moses onrein was. Daarom het melaatses ook in klein groepies naby die ashope van dorpe saamgewoon (Lev 13:45-46). Die enigste manier hoe so ’n uitgeworpene weer in die samelewing opgeneem kon word, is as hy aan die priester kon bewys dat sy melaatsheid genees is. Hierdie tien melaatses het moontlik geweet en gehoor wat die Here Jesus alles gedoen het, en besluit dat Hy hulle laaste kans is.

En soos ek reeds gesê het, alhoewel die Here Jesus hier ’n wonderwerk gedoen het, val die klem in hierdie verhaal eintlik op hoe die melaatses reageer het toe hulle uitgevind het hulle is genees. Onthou, Jesus Christus het die tien melaatses na die priester toe gestuur nog voordat hulle geweet het dat hulle sou gesond word. En tog het hulle gegaan! Hier sien ons duidelik dat hulle in die geloof opgetree het, en die Here Jesus het hulle op pad daarheen gesond laat word. Maar nadat hulle agtergekom het hulle is genees, het net een omgedraai en God hardop geprys (v 16). Ja, nege uit die tien keer sal ons beleef dat mense steeds ondankbaar is oor God se ingrype in hulle lewe!

Nog iets wat ons hier moet raaksien, is die feit dat die oorspronklike tien melaatses as ’n groep saamgeleef het, ongeag van wie hulle was ... hulle melaatsheid het hulle gelyk gemaak ... ja, daar was selfs ruimte in hulle groepie vir ’n Samaritaan, iemand wat hulle normaalweg nie sou intrek in ’n binnekring nie! En toe hulle gesond word, het die skeiding weer gekom ... toe was dit weer elkeen vir homself en vergeet die res! En ironies genoeg het die “dankie” juis gekom van dié een wat nie eers van dieselfde groep of volk as die Geneesheer behoort het nie ... die Samaritaan. Die ander – ons neem aan dat dit Jode was – is net genees, maar die een wat onthou het waar sy genesing vandaan gekom het, is gered. Dit maak nogal ’n groot verskil ... dit maak dat ons die boodskap baie duideliker verstaan. Jesus het beslis gekom as die groot Geneesheer, nie net vir die siekes nie, maar veral vir die sondaars.

Gemeente, geloof is om te weet waar jou hulp vandaan kom, en om dan dankbaar by daardie adres te gaan aanklop ... om voor die groot Geneesheer te gaan kniel, jou afhanklikheid te bely en sy Naam openlik in dankbaarheid te bely. Ons sien dus uit hierdie verhaal dat ondankbares dalk wel genees word, maar beslis nie gered word nie! Dit is die groot verskil! Dit is waarom die Here Jesus ook vir daardie vreemdeling gesê het: “Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered” (v 19). En is dit nie juis wat ware genesing beteken, naamlik dat jy vir ewig by Jesus Christus, daardie groot Geneser, uitgebring word, nie? Natuurlik! En glo my, daar is ’n baie erger en ongeneesliker siekte as VIGS. Weet julle wat dit is? Die sonde! Ja, dit is juis dié een “siekte” wat moet veroorsaak dat ons mense uit die samelewing moet skop en hulle moet verag. Nie die siektes van die liggaam nie, maar van die gees! Of sou jy eerder verkies om liggaamlik gesond gemaak te word, en van God vervreem te bly?

Nou kan ons onsself afvra: “Is my geloof in God so sterk dat ek reageer soos Hy sê, selfs nog voor ek kan sien wat gebeur?” En sê nou net ’n mens kan later die gevolge van jou geloof sien, loof en prys jy die Here met ’n dankbare leefwyse? En nog ’n moeiliker vraag: Sal ek steeds die Here loof en prys met ’n dankbare lewe al kan ek nie my geloof en hoop sigbaar ervaar en beleef nie? Onthou dan dat die Here eerder die Geneser van ons sondige natuur is, en dat ware redding veel dieper lê as oppervlakkige en liggaamlike genesing. Om Jesus Christus as Verlosser te erken en bely, maak dat ek geestelik gesond word, selfs al moet ek eendag sterf aan een of ander ongeneeslike siekte. Veel eerder dat my liggaam vergaan as my siel (vgl Mat 5:29-30)!
Amen