Matteus 19:16-30; Matteus 5:3

Wat dit beteken om afhanklik van God te wees



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In ‘n boek wat ek so pas gelees het, het iemand, en ek meen dit is heel gepaste beskrywing en ook ‘n sinvolle begin om vanoggend se gedeelte vir ons sinvol in ons tyd oor te vertaal, die ryk jongman in ons gedeelte beskryf as die jappie van die Nuwe Testament.

Hy is ryk met leerskoene aan. Hy dra ‘n handgemaakte snyerspak. Al sy geld is op die regte plekke belê. Hy leef soos hy vlieg — eersteklas. Hy is jonk, vol lewe, planne en idees. Sy verstand en oë is skerp. Energie is sy handelsmerk, en die dood is vir hom iets wat ‘n ewigheid weg en ver is.

Verder meen hy dat hy werklik magtig is. Want het jy vrae, hy het antwoorde op alles. Het jy probleme, hy het al die oplossings. En het jy dilemmas, hy het baie opinies. Hy weet waarheen hy op pad is, en hy gaan sommer môre daar aankom. Hy is, meen hy, van die nuwere geslag. En die oueres beter maar hulle litte roer om by te bly, of maar hulle tasse pak. Vir hom is die lewe ‘n gemaklike wandeling op ‘n reguit, verligte teerstraat.

Maar vandag, vertel Matteus ons, het hy ‘n vraag op die hart. Of die inhoud van sy vraag vir hom maar net ‘n terloopse kwessie is, of spruit uit ‘n opregte vrees, weet ons nie. Wat ons wel kan aflei, is dat hy tog, wat hierdie een saak betref, so ‘n bietjie advies wou hê.

Wat ons ook kan aflei is dat dit vir hom, wat so gewoond was om oor ander baas te speel en antwoorde op al sy vrae te hê, miskien so ‘n bietjie moeilik was om raad te kom vra by iemand soos die seun van ‘n timmerman. Dit gebeur in elk geval nie elke dag dat iemand so belangrik soos hy ‘n gewone plattelander nader vir raad nie.

Maar aan die ander kant, broers en susters, is sy vraag nie maar net sommer so ‘n standaardvraag nie. Want, meneer, vra hy, watter goeie daad moet ek doen om die ewige lewe te verkry? En uit sy vraag, geliefdes, kan ons dadelik aflei dat hy iets nie reg verstaan nie. Want hy dink dat hy die ewige lewe kan verkry soos hy alles in sy lewe verkry en gekry het — deur eie inspanning.

Maar sy vraag is tog duidelik: Meneer, wat moet ek doen? Wat is die vereiste Jesus? En kom ons lei maar af dat hy byvoeg: en meneer, dit is nie nodig om doekies om te draai nie, sê my sommer reguit. Hoeveel moet ek belê om seker te wees van my opbrengs?

Jesus, se antwoord, broers en susters, was bedoel om hom te laat ineenkrimp: As jy die ewige lewe wil ingaan, onderhou al die gebooie.

Hoekom sê ek, broers en susters, dat Jesus se antwoord bedoel was om hom te laat ineenkrimp? Want enige iemand, selfs net iemand met ‘n halwe gewete, sou sy hande in die lug gegooi het, en dalk van die volgende gesê het: Onder hou die gebooie? Onderhou die gebooie! Weet jy hoeveel gebooie daar in die Bybel is? En weet jy hoe moeilik van hulle is? Wanneer laas het jy die wet van die Here gelees? Jy weet mos dit is nie moontlik nie. En ek het probeer, ek het regtig probeer — maar ek kan nie. Want daarvoor is die gebooie van God te veel en soms net te moeilik.

Dit is, broers en susters, wat ons sou verwag die jongman sou sê, maar ‘n belydenis oor sy eie leemtes is die laaste ding wat deur sy verstand gaan. Nee, wat hy eerder doen is om, in plaas van Jesus te vra vir hulp, by wyse van spreke sy potlood en ‘n stukkie papier uit die sak te haal en te vra vir die lys van die gebooie waarna Jesus verwys.

Watter gebooie, stel ons onsself voor, vra hy vir Jesus terwyl hy sy wenkbroue lig. En Jesus, lees ons, kom hom tegemoet: Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie, eer jou vader en moeder, en jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

En sy antwoord: Wonderlik, sê hy, nou het ek die vraelys. Kom ek kyk of ek die toets slaag: Moord? Natuurlik nie. Steel? Miskien so ‘n bietjie afpersing, maar niks om werklik van te praat nie. Valse getuienis? Nie daar waar dit nie nodig was nie. Dit is immers ‘n harde wêreld hierdie vol kompetisie. Eer jou vader en moeder? Nie werklik nie, maar onthou, hulle is outyds en leef in die verlede. Jou naaste liefhê soos jouself? Waar ek kan, maar besigheid is besigheid.

Daarom sy antwoord: Meneer, maar hierdie sake is maklik. Ek dink ek slaag die toets. Wat meer is, ek doen dit al van kleins af. En trots stoot hy sy bors uit en hak sy duime in sy gordel.

Jesus se vraag, broers en susters, wat hierdie man moes oortuig dat hy ver tekort skiet, oortuig hom dus eerder dat hy die paal haal. En daarom, sien ons, praat Jesus nou met hom baie reguit. Goed dan, jy sê jy doen al hierdie dinge. As jy dan volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gaan gee jou geld vir die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê.

‘n Stelling van Jesus, broers en susters, wat ons sien nie alleen die jong man nie, maar ook die dissipels ontstel. En ‘n mens sou amper saam met hulle wou vra: Maar wie kan dan gered word?

En dan tref Jesus se antwoord sy toehoorders soos ‘n bom: vir mense is dit onmoontlik! Let goed op, broers en susters, wat Jesus hier sê: Hy gebruik die woord onmoontlik, nie die woord onwaarskynlik nie. Hy sê onmoontlik. Daar is geen kans nie. Daar is geen manier nie. Geen skuiwergate nie. Geen manier nie. Geen hoop nie. So onmoontlik as om met ‘n vlieër maan toe te wil vlieg of Mount Everest met ‘n piekniekmandjie en kierie te wil uitklim.

Kom ons wees eerlik, broers en susters, Jesus se antwoord klink so ‘n bietjie ongevoelig. ‘n Mens se hele lewe lank word jy beloon op grond van jou prestasie. Jy kry goeie punte as jy hard leer. Jy word geprys as jy suksesvol is. Jy word betaal vir werk wat jy doen. En dit is juis waarom die ryk jongman gedink het die hemel is maar net ‘n paaiement ver. Dit is net logies. Jy werk hard, jy doen jou plig, en siedaar, jou rekening is betaal en alles is reg.

Maar Jesus sê vir hom dat dit nie is hoe dit werk as dit by die koninkryk kom nie. Want wat jy wil hê, kos baie meer as wat jy kan betaal. Jy het ook nie ‘n plan nodig nie, maar ‘n Verlosser. Jy het nie ‘n goeie CV of verwysing nodig nie, jy het ‘n Saligmaker nodig.

Ons moenie, broers en susters, omdat hierdie gedeelte vir ons so bekend is, en selfs miskien omdat dit wat ek vanoggend sê so bekend is, die boodskap van hierdie vers miskyk nie. Jy kan jouself nie red nie. Nie deur die regte rituele nie. Nie deur die regte leerstelling nie. Nie deur toewyding nie. Noem maar op. Want sê Jesus, dit is onmoontlik.

Want sien, broers en susters, dit was nie die ryk jongman se geld wat hom verhinder het nie, dit was sy selfgenoegsaamheid, sy oortuiging dat hy alles het, alles kan verkry, op sy eie, sonder die hulp van ander. Ook die ewige lewe. Ook was sy groot somme geld nie die probleem nie, dit was sy grootdoenerigheid, sy dunk van homself, sy oortuiging dat hy beter as almal was. Daarom, broers en susters, en dit moet ons raaksien, Jesus het dit nie hier teen ryk as sodanig nie, maar teen die sterkes, die mooies, gewildes, die geleerdes, die godsdienstiges. En ook teen ons wat dink dat enigiets ons kan laat kwalifiseer vir die koninkryk.

En as ons dit moeilik vind om te verteer wat Jesus vir die ryk jongman gesê het, sal Jesus se beskrywing van die oordeelsdag in Matteus 7:22 in die keel bly vassteek: Baie sal daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?

Eintlik, broers en susters, is hierdie vers verstommend. Stel uself voor: hierdie mense staan voor die troon van God en spog oor hulleself. Die groot trompet het weerklink, maar hulle blaas steeds hulle eie beuel. Eerder om die Here te prys, prys hulle hulleself. Eerder as om God te aanbid, hou hulle hulle getuigskrifte voor. Wanneer hulle eintlik stom moet wees, praat hulle, Selfs in die volheid van God se teenwoordigheid is hulle vol van hulleself.

Kom ons sê dit op ‘n eietydse manier: ‘n Mens beïndruk nie die grootkoppe by NASA met ‘n papiervliegtuigie nie. Jy spog nie in die teenwoordigheid van Picasso met ‘n kryttekening van ‘n stokkiesmannetjie nie. En jy dink nie dat jy so slim soos Einstein is omdat jy weet water word as H2O geskryf nie. Daarom, bo alles: jy spog nie oor jou goedheid in die teenwoordigheid van die volmaakte God nie.

Verstaan mooi, broers en susters: God red ons nie op grond van dit wat ons gedoen het nie. Dit is net ‘n nikswerd afgod wat hom sal laat omkoop deur tiendes. Dit is net ‘n egoïstiese afgod wat beïndruk sal word deur ons swaarkry vir sy saak. Dit is net ‘n temperamentele afgod wat tevrede sal wees met ‘n goeie offer. Dit is net ‘n hartelose afgod wat die verlossing sal verkoop aan die hoogste bieërs. Maar dit is ‘n groot God, en dit is ons God, wat vir sy kinders sal doen wat hulle nie vir hulleself kan doen nie.

En dit is juis Paulus se boodskap in Romeine 8:3: Wat die wet nie by magte was om te doen nie… dit het God gedoen.

En dit is ook die boodskap van die eerste saligspreking van Jesus, geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is: God se vreugde word alleen gegee aan hulle wat arm van gees is. God se vreugde en redding word alleen ontvang wanneer ons ons aan God oorgee, nie as beloning vir wat ook al nie.

Die eerste stap na redding en vreugde is daarom ‘n pleidooi om hulp, ‘n erkenning van ons geestelike armoede, ‘n erkenning van ons gebreke. Diegene wat God in hulle lewens teenwoordig smaak, is die wat hulleself bankrot verklaar het en bewus is van hulle geestelike krisis. Hulle voorraadkaste is leeg. Hulle is bankrot. Daar is vir hulle geen ander uitweg nie. Hulle het lankal reeds opgehou om regverdigheid en belonings te eis; al wat hulle doen is om te pleit vir genade. Hulle spog nie, hulle soebat.

Hulle vra God om vir hulle te doen wat hulle nie sonder Hom kan doen nie. Hulle het gesien hoe heilig God is, en hoe sondig hulle is, en hulle stem saam met Jesus se stelling: Dit is onmoontlik om gered te word.

Hierdie pad, broers en susters, is vir baie van ons ‘n onbekende pad, dit is vir ons ‘n ander pad, ‘n pad wat ons nie gewoond is om te bewandel nie. Want ons verklaar nie dikwels ons onmag nie. Ons mislukkings lei nie gewoonlik tot blydskap nie. Eerlike belydenis in ons lewe lei ook nie gewoonlik tot algehele vergifnis nie. Hierdie pad, die pad van God, is ‘n ander pad.

Maar dan weer: God het Hom nog nooit laat bind deur wat gewoonlik gebeur nie.
Amen