Johannes 2:1-12

Gee God regtig om?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Volgens Johannes 2:1-12 was die eerste wonder wat Jesus gedoen het die verandering van water in wyn tydens ‘n bruilof.  Omdat ons nie deel is van die wêreld waarin hierdie wonder afgespeel het nie, en daarom ook nie die kulturele gebruike van daardie tyd goed ken nie, kan ons dit wat Johannes vir ons met hierdie vertelling wil sê, baie maklik mis

Daarom lees ons dikwels ook hierdie vertelling as sou dit die volgende wou sê: daar is ‘n bruilof, en die wyn raak op.  Vir die gasheer is dit ‘n verleentheid.  Die winkels is toe.  Wat gemaak?  Jesus word vir ‘n wonder gevra, en Hy doen dit.  So wys Hy sy heerlikheid (vs 11), dat Hy God is.  Soos Hy dan gedurende die res van sy openbare lewe ook nog baie ander wonders gedoen het.

Lees ons egter hierdie vertelling teen die agtergrond van die kulturele gebruike van daardie tyd, wil die vertelling vir ons tog net miskien iets anders sê.  En kom ek probeer verduidelik.

In die tyd van Jesus was ‘n huwelik nie ‘n verbintenis tussen twee individue nie, dit was eintlik die ‘trou’ van twee families.  Dit was van die vader van die bruidegom verwag om vir die bruid se familie ‘n bruilof aan te bied waaroor hulle kon spog.  Dit moes nie alleen uitsonderlik wees nie, dit moes beter wees as al die vorige troues wat in die dorpie aangebied is.  So het die vader van die bruidegom getoon dat hy respek het vir die ander familie, dat hulle mense is wat hierdie eer toekom.  Die familie van die bruid kon al die mense nooi wat hulle wou, en die vader van die bruidegom moes vir alles instaan.  Dikwels was die hele dorpie daarom deel van die gastelys

Die huwelik het gewoonlik die Woensdag begin, en het vir sewe dae aangehou.  En vir hierdie sewe dae moes die vader van die bruidegom regstaan met eetgoed en drinkgoed.   Om dit te kon doen, het die bruidegom se vader ook ‘n klomp gaste genooi.  Maar eintlik was hulle nie gaste nie.  As hulle die uitnodiging aanvaar het, was hulle verplig om die vader van die bruidegom te help met die voorsiening van kos en drinkgoed.  Anders so hulle mense sonder enige skaamte wees, en niemand sou hulle ooit weer genooi het na ‘n feesgeleentheid in die dorpie nie.  Die gaste van die bruidegom se vader was dus eintlik medeverantwoordelik vir die troue.  Daarom het hulle vooruit eetgoed en drinkgoed gestuur sodat dat die vader van die bruidegom ‘n troue kon aanbied waarop hy trots kon wees, en waarmee hy die familie en gaste van die bruid werklik kon vereer.

Hoekom was Jesus en sy moeder, asook sy dissipels by die troue teenwoordig?  Uit Johannes 21:2 kan ons aflei dat Natanael een van Jesus se dissipels was, en dat hy van Kana in Galilea was.  Heel waarskynlik was Natanael deel van die gaste van die bruidegom se vader, en omdat Natanael deel van Jesus se groep was, was hulle ook genooi.  Wat dus ook beteken het dat ook Jesus, sy moeder en sy dissipels, verantwoordelik was dat die troue in elke opsig goed sou afloop.

Nou vertel Johannes ons dat iewers in hierdie week van feesvieringe die wyn opgeraak het.  En dit was vir die bruidegom se vader ‘n geweldige krisis.  Om verskeie redes: eerstens sou hy skaamte bring oor die familie van die bruid.  As hy nie eers kon sorg vir ‘n goeie troue nie, hoe sou sy seun vir die bruid kon sorg?  Tweedens: omdat sy vriende die mense was wat hom moes help met die voorsiening van die kos en wyn, en die wyn raak op, het dit beteken dat hy nie eintlik vriende het nie.  Want te min wyn beteken te min vriende.

Meer nog: die geskenke wat aan die huwelikspaartjie gegee was, was beskou as ‘n ‘lening’.  Indien die gaste om een of ander rede nie tevrede was met die troue en feesvieringe nie, kon hulle hierdie geskenke terugeis in die hof.  En dink nou maar net watter skande en skaamte daar oor die vader van die bruidegom sou kom, watter vernedering hy sou moes deurgaan indien al die gaste een vir een in die hof hulle geskenke sou kom terugeis.  Hy sou iemand wees sonder eer, iemand wat skaamteloos nie sy verpligtinge nakom nie.  En hy sou uitgesluit word uit die dorpslewe, hy en sy gesin.

Dus: dit was nie maar net ‘n geval van wyn wat opgeraak het nie, dit was vir hierdie man werklik ‘n krisis.  Dit was ‘n geweldige sosiale verleentheid. As daar so iets was, sou dit die Sondag op die Jerusalem Post se voorblad verskyn het.

Nou lees ons verder in Johannes dat Jesus se moeder (omdat sy deel was van die gaste van die bruidegom en dus moes help met die eetgoed en drinkgoed) feitlik eerste agtergekom het dat die wyn opgeraak het.  Iets moes gedoen word, en sy wend haar tot sy seun.

En wat antwoord Jesus.  Ek kan nie iets doen, want My tyd het nog nie gekom nie.  Wat beteken dit?  Ek gaan probeer verduidelik.  In al die evangelies (ek gaan nie nou die tekste hier opnoem nie) lees ons dat Jesus dikwels gesê het ‘My tyd het nog nie gekom nie’.  Maar Hy sê ook, as voorbeeld, in Markus 14:41: ‘My tyd het gekom.  Die Seun van die mens word in die hande van sondaars oorgegee’.   Ander gesê: Ek gaan nou sterf, en dan sal almal sien en weet dat Ek werklik die Messias, die seun van God is.  God self is.

Met ander woorde: Jesus sê hier vir sy moeder dat die tyd nog nie gekom het dat Hy aan almal moet toon dat hy God is nie.  Dit is amper of daar ‘n plan is.  Dat daar ‘n skedule is.  Dit gaan gebeur, maar nog nie nou nie.

Maar wat gebeur dan?  Ek wil amper sê, Jesus hou nie by die plan nie.  Hy hou nie by de skedule nie.  HY verander water in wyn.  Hoekom het Hy dit gedoen.  Al was dit nog nie tyd nie?

Miskien, broers en susters, het hy die verleentheid in sy moeder en in die ander se gesigte gesien.  Miskien het hy gedink aan die skaamte wat oor die bruidegom sou kom.  Miskien het hy gedink aan die groot teleurstelling wat almal sou beleef.  Die vrolikheid wat sou verdwyn.  Ons weet nie.

Maar wat ons wel weet, want dit staan hier baie duidelik.  Jesus verander van plan.  God verander van plan.  Want dit wat vir sy kinders belangrik is, is vir Hom belangrik.  Eintlik is dit skokkend as ons net ietsie hiervan verstaan.  Wat vir my belangrik is, wat vir u belangrik is, dit is vir God belangrik.  Kan ons, broers en susters, iets hiervan verstaan?

God verander van plan.  Meer nog: vir so iets.  Ja, as dit nou oor rampe gegaan het, dood, siekte, die sogenaamde ‘groot dinge’, sou ‘n mens dit dalk kon verstaan.  Maar vir ‘n behoefte soos wyn wat opraak?

En kom ek vra maar die praktiese vraag wat baie logies hieruit voortvloei.  Is God regtig besorg oor die klein dingetjies in my lewe?  My motor se band wat pap word?  My hardeskyf wat oppak?  My baas wat moeilik is?  My hond wat wegraak?

Meer nog: wie is ek dat God, wat tog besig is om die heelal te regeer, Hom sal ophou met hierdie klein dingetjies in my lewe?  Dit is dalk ‘n beter vraag om te vra, broers en susters.  Want wie ‘ek’, wie ‘jy’ en wie ‘ons’ in die oë van die Here is, daaroor is God se Woord baie duidelik.

Ons is:

  • Erfgenaam van God en mede-erfgenaam saam met Christus (Rom 8:17);
  • heilig in God se oë (1 Pet 2:15), sy eiendom (Eks 19:5);
  • deur God self gekies (Ef 1:4); en
  • sy kinders.

‘Kyk’, se 1 Johannes 3:1, ‘watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook...’.

Persoonlik, broers en susters, hou ek ongelooflik baie van die laaste deel van hierdie vers, ‘en ons is dit'.  So amper asof, wanneer ons sê ‘ja miskien ander, maar nie ek nie’, God antwoord deur te sê.  Jy is dit.  Laat daar by jou geen twyfel wees nie.  Jy is my kind.  En daarom: wat vir jou belangrik is, is vir My belangrik.

Ek weet, broers en susters, dat ons as sondaarmense dit moeilik begryp.  Maar is dit so moeilik?  Kom ek gee ‘n eenvoudige voorbeeld.  Stel voor jy merk op jou kind se hand ‘n seertjie op wat nie gesond word nie.  Jy vra wat dit is, en die antwoord is dat dit ‘n splinter is.  Jy vra wanneer dit gebeur het, en die antwoord is verlede week.  Jy vra hoekom jou kind jou nie daarvan gesê het nie, en die antwoord is: ma en pa is so besig.  Julle het so hard gewerk verlede week, en bo alles nog vir ons gesorg ook.  Ek wou daarom nie pla nie.

Dink in hierdie oomblik, broers en susters, hoe ‘n mens voel wanneer jy met jou kind so gesprek het.  En vra dan gerus maar weer of God nie vir ons, sy kinders omgee nie.

Ek sluit af.  Waarom het Jesus die water in wyn verander?  Om die gaste te beïndruk?  Nee.  Hulle het dit nie eers geweet Hy het dit gedoen nie.  Om die seremoniemeester se aandag op Hom te kry?  Nee, die seremoniemeester het bloot gedink dat die bruidegom se vader baie gasvry was.  Waarom dan?  Omdat wat vir ons belangrik is, vir God belangrik is.  Omdat wat vir ons saak maak vir God ook saak maak.  Omdat God seer het wanneer ons seer het.  Omdat wat ons hinder God ook hinder.  Omdat ons behoeftes vir God belangrik is.

Verstaan ons dit, broers en susters?  Glo ons dit?  Ervaar ons dat ons God so is?  Meer nog: beteken dit dan nie ook dat dit wat God se ander kinders pla, ons ook behoort te pla nie.  Wat hulle hinder ons ook behoort te hinder nie?  Wat hulle seermaak ons ook behoort seer te maak nie?

Dit moet ons elkeen maar self besluit.  Die skerp vraag vanoggend is: as ons sê ons glo dit, verstaan dit, en ervaar dit, wat doen ons daaraan?

As ons dink aan dit wat ander nodig het, dit wat God nodig het, dit wat God in hierdie gemeente nodig het, moet ons maar elkeen vir onsself besluit.
Amen