Lukas 23:33-43; Romeine 3:12-18; 23-24

Genade onbeskryflik groot



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Almal van ons, of ons nou groot of klein is, en of dit nou bewustelik of onbewustelik is, het 'n lysie. 'n Lysie van wie ons is, wat ons is, en hoe ons is. Op die meeste van ons se lysies staan daar waarskynlik: ek is vriendelik, hardwerkend, ek betaal my rekenings, ek is lief vir my kinders of ouers, ek gaan kerk toe, ek lees my Bybel, ek is beslis 'n beter mens as byvoorbeeld Hitler, en so kan ons aangaan. 'n Lysie wat in wese sê: eintlik is ek nie so 'n slegte mens nie, eintlik is ek basies goed. Ja, ek het my foute, maar kyk na my lysie: eintlik is ek in my hart 'n goeie mens.

Wanneer ons egter hierdie lysies van ons vat, broers en susters, en dit voor die deur van die Woord van die Here hier in Romeine 3 lê, ontstaan daar egter so 'n ou klein probleempie: nie een van ons is eintlik goed nie.

Want kyk wat sê Paulus hier in Romeine 3, veral verse 12 en 23: daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. Dit wil sê, nie u nie, beslis ook nie ek nie. En dan vers 23: almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie. Dus, broers en susters: daar gaan ons lysies. Daar ontplof ons lysies eintlik in ons gesigte. Want maak nie saak wat op my lysie staan nie, wanneer die lig van die Woord daaroor val, sê my lysie eintlik: ek is nie basies goed nie. Ek is sondaarmens voor God.

Maar hoe kom 'n mens dan in die hemel? As niemand goed is nie, as niemand se lysie voldoende is nie, as niemand se prestasies toereikend is nie, hoe kan 'n mens dan God se kind word en wees?

Heel waarskynlik, broers en susters, is hierdie vraag/vrae aan u oorbekend. Dit neem egter nie die ongelooflike belangrikheid van hierdie vraag weg nie. Of om dit anders te sê: geen vraag is belangriker as hierdie vraag nie. Inteendeel. Vir iemand wat erns maak met sy verhouding met God, kan daar nie 'n belangriker vraag wees nie.

Ek wil u nooi, broers en susters, om vanoggend saam met my te gaan kyk hoe Jesus self hierdie vraag, tydens sy laaste ontmoeting met ander mense op aarde — net voor sy dood — beantwoord het. 'n Ontmoeting tussen Jesus en twee misdadigers. Waar al drie aan 'n kruis hang.

En nou is dit mos maar een maal so, broers en susters, dat die oomblik van krisis of tragedie die nare gewoonte het om die ware karakter van mense wat daarby betrokke is, na vore te laat kom. Presies dieselfde gebeur hier. Die oomblik van skaamte, vernedering, en natuurlik ook die wete dat die dood voorhande is, bring die swart kant van die twee wat saam met Jesus aan die kruis hang, na vore.

Hoe 'n soort koning is jy vir die Jode dat jy nou hier aan 'n kruis hang, kom uit die een se mond. Wat van so 'n ou wonderwerkie, Galilieër, laat die ander een van hom hoor. 'n Mens sou dit verwag van die Fariseërs, hulle wat van die begin af Jesus vyandiggesind was. Of dalk die skare, wat vroeër vir Barabbas bo Jesus verkies het. As dit van die soldate gekom het, sou 'n mens nie eers 'n wenkbrou gelig het nie. Maar nou kom dit van diewe. Van twee wat in presies dieselfde situasie as Jesus is.

Gekruisigdes wat 'n ander gekruisigde beledig. Twee mans met die galgtou om hulle nekke wat die spot dryf met die toestand van 'n ander in presies dieselfde situasie. 'n Mens wil amper sê: hierdie twee mans sal sterf soos hulle geleef het. Deur onskuldiges aan te val.

Maar in hierdie geval, broers en susters, sien ons dat die onskuldige nie terugkap of weerstand bied nie. Inteendeel, in plaas daarvan om hulle terug te antwoord, die onreg wat hulle soveel ander aangedoen het aan te spreek en af te wys, hulle regverdig daarvoor te oordeel, bid Jesus vir hulle. En nie 'n gebed dat God by die sal wees wat deur hulle te nagekom is, dat hulle sal ophou spot, of dat al hulle sondes vergewe moet word nie. Nee, Hy bid dat God hulle sal vergewe vir dit wat hulle Hom persoonlik aandoen. Vergeef hulle Vader, want hulle weet nie wat hulle doen nie.

Jesus se gebed, broers en susters, ontlok twee uiteenlopende reaksies by die twee wat saam met Hom aan die kruis hang. Die een begin Jesus beledig. Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons liewer as om te bid.

By die misdadiger, broers en susters, gebeur daar egter skielik iets. Waar hy Jesus so pas ook beledig en gespot het, verdedig hy Jesus nou. Want, sien ons, hy gaan nou sy diefmaat teë. Is jy nie bang vir God nie? Ons verdien ons straf, want ons is skuldig, maar hierdie man nie. Hy is onskuldig.

Ongelooflik, broers en susters. Dieselfde mond wat Jesus gevloek het, verdedig Hom nou. Wat het gebeur, wil 'n mens dadelik vra? Hoekom ewe skielik 'n ander deuntjie? Het hy iets wonderbaarliks aan die kruis beleef? Het hy miskien 'n wonderwerk aanskou? Het hy na 'n preek geluister? Het ander vir hom gebid?

Nee, broers en susters. Al wat hy gehoor het was 'n gebed, 'n gebed om genade. En dit was genoeg. Want toe Jesus gebid het, was God intens by Hom teenwoordig. Daar by die kruise op Golgota teenwoordig.

En iets gebeur, broers en susters, met elke mens, wanneer so iemand besef dat hy/sy in God se teenwoordigheid is. Wanneer God se lig op so iemand se lewe val, broers en susters, ek wil eerder sê, wanneer God se lig op enigiemand se lewe val, dan besef 'n mens:

Eintlik is ek nie basies goed nie. Eintlik is ek verkeerd, en God reg. Eintlik het my lewe misluk. Eintlik verdien ek om te sterf, en Jesus om te leef. Of, in die woorde van die tweede dief: in ons geval is dit regverdig, ons verdien die straf vir ons dade, maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.

Hierdie dief, broers en susters, het beslis baie min van Jesus af geweet, maar wat hy wel geweet het was kosbaar. Hy het geweet dat 'n onskuldige man besig was om 'n onregverdige dood te sterf sonder om een keer te kla. En as hierdie man dit kon doen, het hy besluit, is Hy seker wie Hy sê Hy is.
Daarom dan ook sy versoek: dink aan my Here, wanneer u vandag in die paradys kom.

Wat, broers en susters, het Jesus gesien toe Hy sy gesig na hierdie man gedraai het? 'n Naakte man. Nie naak omdat hy sonder klere was nie, maar naak, kaal gestroop van enige pretensie, enige lysie van goeie eienskappe, van verdienste. Want nêrens was daar meer vir hom plek om weg te kruip nie.

Hoe, wil 'n mens amper sê, is dit moontlik dat Jesus so iemand kan vergewe? Want hierdie man se titel was skuim van die aarde. Sy reputasie was gevreesde misdadiger. Hy was sleg, tot op die laaste oomblik. Tot die laaste uur. Tot nou. Wat het hy gedoen om hulp te verdien? Wie is hy om genade te vra? Watter reg het hy om hierdie versoek tot Jesus te rig?

Presies, broers en susters, presies dieselfde reg wat u en ek het om dit te bid. Dit te vra. Te sê: Here, in u teenwoordigheid kom ek agter U is heilig en ek is sondig. Ek besef ek is wanhopig en verlore sonder U. Ek is van u vervreem Here. My lewe het tussen U en my 'n muur gebou wat ek nie kan wegneem nie.

Daarom Here, is daar enige manier, ongeag van wat ek gedoen het, ongeag van wat u van my weet en wat U sien wanneer U na my kyk, dat U my sal onthou wanneer ek eendag voor U kom staan.

Iemand wat so voor die Here staan, broers en susters, spog nie. Kom nie met sy lysie nie. Maar vertrou. En glo: alleen in hierdie man is daar nuwe lewe moontlik. Alleen by Hom kan ek kry wat ek nooit kan of sal verdien nie. En juis daarom is ons bereid om te smeek vir vergifnis, vir hulp.

Soos baie voor ons gedoen het. Soos die kreupeles by die bad van Betesda. Maria by die troue toe die wyn opgeraak het. Marta toe haar broer Lasarus dood is. Die besetene van Gerasa. Nikodemus in die nag skelm by Jesus. Petrus op die see. Of Jaïrus vir die lewe van sy dogtertjie.

Mense wat so bid, broers en susters, wat so smeek, is mense wat waag om voor God te kom staan en te erken dat hulle tekorte, gebreke en foute het, maar ook 'n behoefte na redding. Na vergifnis. Na versorging.

Vir sulke mense, broers en susters, antwoord God: Vandag sal jy saam met my in die paradys wees.
Amen