Jona 3:10-4:11

God het afgesien van die ramp wat Hy oor Nineve sou bring



1Geliefdes van ons Here Jesus Christus, die teksvers van ons prediking is Jona 3 vers 10: “God het afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het die ramp nie gestuur nie.”

Broers en susters, reeds van kleins af word aan ons en ons kinders die verhaal van Jona vertel. En wat ons almal die beste van Jona onthou, is dat hy deur ’n walvis ingesluk is. Nie dat dit verkeerd is nie, maar hoekom onthou ons juis dit? Wel, die antwoord is eintlik baie maklik. Miskien is dit omdat dit so onmoontlik klink ... dit is amper te goed om waar te wees! Hoe is dit tog moontlik dat Jona vir drie dae lank in die ingewande van ’n walvis kon leef?

Die verhaal van Jona is een vol intriges en verdriet. Verdriet veral aan die kant van Jona, maar ook aan die kant van God. Ja, verdriet aan God se kant omdat sy profeet Jona van die begin af nie wou luister na sy opdrag nie. Sommer al in die eerste hoofstuk van hierdie boek ontmoet ons ’n hardkoppige en teësinnige Jona. Nadat God hom geroep het om aan die Nineviete te gaan verkondig dat Hy die stad gaan verwoes, het Jona besluit dat dit nie die moeite werd is om hierdie klomp heidene te gaan waarsku nie. Nee, hy vlug eerder na Tarsis toe. Jona reken dat as hy na Tarsis toe vlug, sal God hom tien-teen-een nie daar kan opspoor nie! Min het hy geweet dat ’n mens nie van God af kan wegvlug nie (vgl Ps 139:7-12).

In die ou Nabye Ooste was die siening gewees dat elke volk se god net beperk is tot die landsgrense van daardie volk. As ’n volk dit buite hulle landsgrense sou waag, kan hulle maar verseker wees dat hulle god nie daar sal wees nie. Selfs in oorlogtye wanneer die een volk die ander verslaan het, was die oorwinnaars se god beskou as die sterker een. Onder die Jode was hierdie siening ook algemeen bekend. Moontlik is dit waarom Jona gedink het dat hy in Tarsis vir God kan gaan wegkruip. Die verskil tussen die Jode en die ander volke was egter hemelsbreed: Israel se God was die ware God, en die ander volke se gode was bloot fiktiewe afbeeldings van die natuurkragte. Daarom dat Jona nie van God af kon wegvlug nie. God is die ware God, en Hy is God oor landsgrense heen. Hy word deur niemand ingeperk tot een land nie. En dit is juis hier waar Jona se probleem ingekom het: Hy wou God net vir homself en vir die volk Israel toe-eien.

Gemeente, baie geleerdes is dit eens dat die boek Jona geskryf is in die tyd ná die ballingskap. Die skrywer van die boek wou vir sy lesers iets van die ware God van Israel leer. Onder die ballinge was daar vrae na die bestaan van die werklike God. Vrae soos: Is ons God nie ook saam met Jerusalem en die Tempel verwoes nie? Is ons God nie maar net so feilbaar soos al die ander gode van die ander volke nie?

Toe die ballinge na die verwoeste beloofde land teruggekeer het, moes hulle geloof in God weer versterk word. Daar het toe onder die Jode die idee begin posvat dat God sy toorn oor hulle vyande sou laat geld. Hulle het so baie gely tydens die afgelope ballingskap, dat daar by hulle ’n gees van bitterheid en wraak teenoor die ander volke was. Hulle het God net vir hulleself begin toe-eien, want God moes nou sy volk in ere herstel deur sy vyande te vernietig. En dit is híér waar Jona nou in die prentjie kom.

Geliefdes van ons Here Jesus, in die boek Jona kry ons twee wondervertellings. Die eerste wondervertelling kry ons in hoofstuk 2 waar Jona deur die walvis ingesluk word. En die tweede wondervertelling kry ons in ons gelese gedeelte: Die komkommerplant wat in net een nag groei om vir Jona skadu te bied teen die skroeiende son en wind.

Beide hierdie wonders het op God se eie inisiatief plaasgevind, sonder enige menslike tussenganger. Die eerste wonder het gebeur op grond van Jona se nood: Die matrose het hom oorboord gegooi tydens die storm op die see. Hy sou sekerlik verdrink het as God nie die walvis beskik het om hom in te sluk nie. Die tweede wonder het egter sonder enige ooglopende nood plaasgevind. God het hierdie wonder gedoen sodat daar ’n konfrontasie tussen Hom en Jona kon wees. God wou, deur die komkommerplant te laat vrek, ’n sekere reaksie by Jona ontlok. Hierdie reaksie van Jona sou dan ook uiteindelik lei tot die stawing van God se reg om barmhartig op te tree teenoor die Nineviete.

Broers en susters, die rede hoekom Jona nie vir die Nineviete wou gaan waarsku nie, was omdat Nineve die hoofstad van Assirië, Israel se grootste vyande, was. As Jona van God af sou wegvlug en hulle nie gaan waarsku nie, dan sal God tog die Nineviete op die ou end moet vernietig as gevolg van al hulle sondes. Dan is Israel se grootste probleem ook opgelos. Maar soos ons reeds weet, het Jona hom deeglik met God misgis. Al moes God dan ook vir Jona tot in die ingewande van die walvis laat beland, sal Hy sorg dat sy opdrag uitgevoer word. Vir die Nineviete móés daar verkondig word dat God hulle sondes raakgesien het, en dat Hy, wat die enigste ware God is, hulle daarvolgens sou oordeel en straf.

In hoofstuk 3 word Jona nou vir ’n tweede maal geroep. Hierdie keer luister Jona toe hy besef dat hy nie van God af kan wegvlug nie. Hoewel teensinnig, het Jona tog na Nineve gegaan en aan hulle God se oordeelsaankondiging oorgedra. En ’n wonderlike ding gebeur: die hele stad, met al sy inwoners bekeer hulle! Ja, die hele stad kry berou oor hulle goddelose lewe en keer hulle na God toe. Hulle smeek God om vergifnis en die beste van alles: hulle glo in God!

Nou lees ons in ons teksvers dat God afsien van sy planne om hierdie heidenvolk te vernietig. Hy het berou gekry oor sy oordeelsaankondiging en dit teruggetrek. Maar dít was een te veel vir die arme Jona. Hy was hewig ontsteld gewees! Het hy werklik al daardie ontberinge deurgegaan net sodat God die heidene op die ou end genadig moet wees? Waarvoor het hy dan in elk geval gekom as dit nog die heeltyd God se bedoeling was om die Nineviete te spaar? Hy bid dan ook tot God en sê: “Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis gevlug. Ek het geweet U is ’n barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.”

Gemeente, wat Jona egter nie raaksien nie, is dat God soewerein is, met ander woorde, Hy is vrymagtig; Hy kan maak soos Hy wil. God is die Skepper en Regeerder van alle dinge, Hy het seggenskap oor alles. Hy het nie nodig om aan Jona te verduidelik hoekom hy sy aanvanklike oordeelsplanne en straf verander het nie. Jona se begripsvermoë is in elk geval te klein om die grootheid van God se liefde en barmhartigheid te besef. Daarom het Jona ook vir God kwaad geword, want hy het net sy eie ongerief en ontberinge raakgesien.

Jona het God se liefde en genade só vir homself en die volk Israel toegeëien, dat hy geen ruimte geskep het vir die stad Nineve nie. Boonop word hy nog vir God kwaad omdat God die komkommerplant, wat vir hom beskerming teen die warm son gebied het, laat vrek het. Plaas dat God eerder die stad Nineve straf! Maar nee, nou moet hy, ’n profeet van die ware God, dit ontgeld! God antwoord dan ook vir Jona deur te sê: “Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood. Maar Ek mag nie besorg wees oor die stad Nineve nie, ’n stad waarin meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie?”

Juis omdat die stad Nineve ook deel van God se skepping is, mag Hy sy aanvanklike besluite verander, en daarom hoef Hy ook nie eers aan sy profeet se oordeelswoorde gehoor te gee nie; daarom kan God met die mens só optree dat daar ’n baie beter verstandhouding tussen die mens en sy God kan wees.

En dit is juis hierdie antwoord van God wat dan ook die antwoord van die boek Jona is: Jona is selfsugtig en gun die Nineviete niks nie, behalwe God se oordeel en toorn. Ons sal ook merk dat Jona geen antwoord gee op God se vraag aan hom nie. Jona het tot die besef gekom dat hy eintlik maar net ’n nietige skepsel voor sy Skepper is, en dat hy eerder moet stilbly en God se genade moet beleef. Die diepste wond, die hardste hou word hier deur God geslaan: God wys die dubbele standaarde van sy profeet uit. Hierdie hou het die kern van Jona se selfsug getref! Nou moes Jona erken, stilswyend egter, dat God tereg het: Hy, wat Jona is, is selfsugtig en gun ander mense niks nie. Hy besef nou dat God genade mag betoon aan wie Hy wil.

Broers en susters, hoewel Jona reg was in sy uitspraak dat God barmhartig, lankmoedig en vol liefde is, het hy egter iets uit die oog verloor. God is ook ’n regverdige God! God se geregtigheid loop hand aan hand met sy liefde. In Homself is God liefde. In die Ou Testament het die geregtigheid van God ’n baie sterk verhouding gehad met sy verbond wat Hy met die volk Israel gesluit het. Hierdie verbond het behels dat die volk in ’n verhouding met God gestaan het. Hulle moes uit dankbaarheid al God se gebooie onderhou. En deur die gebooie na te kom, is hulle eintlik dankbaar vir die verlossing uit Egipte, vir hulle begeleiding deur die woestyn en vir die beloofde land. Indien hulle nie die gebooie gehoorsaam nie, en nie uit dankbaarheid só lewe nie, sal God alles wat Hy aan hulle belowe het, wegvat en hulle laat swaarkry onder ander nasies. En dit is toe ook presies wat met die volk Israel gebeur het. Hulle is weggevoer in ballingskap omdat hulle nie gehoor gegee het aan die oproepe van God deur die profete nie.

Die skrywer van die boek Jona het maar al te goed besef dat sy lesers wél die implikasies van God se woorde sou besef. Die gebeure rondom die ballingskap was nog vars in hulle geheue. As Nineve nie sou luister na die vermaning en waarskuwing nie, sal God hulle verwoes soos Hy destyds met Sodom en Gomorra gedoen het. Net so seker as wat Hy ’n God van liefde is, net so seker sal Hy ook die ongehoorsaamheid straf. God se straf is die absolute “NEE!” op die sonde. Deur die mens te straf, bring God die mens weer terug na Hom toe. En om by God te wees, verseker die mens van die ewige lewe.

Maar, geliefdes van ons Here Jesus, nou het ons gesien dat God net so maklik ook kan afsien van sy aanvanklike plan om die sonde te straf. En Hy doen dit nie sommer maar net soos wat Jona impliseer nie. Jona se woorde wil dit so amper laat klink asof God maar in elk geval die Nineviete sou jammer kry. Nee, so maklik is dit darem ook nie!

Ons het hier te doen met die dilemma van twee begrippe: Oordeel en genade. Hierdie twee begrippe is die twee kante van dieselfde muntstuk. God kondig sy oordeel oor die sonde aan, maar terselfdertyd begenadig Hy ook die sondaar. Slegs omdat God soewerein is, kan hierdie twee idees langs mekaar staan sonder dat die een die ander onwaar maak. Die een wys dat God absoluut téén die sonde is en dat Hy ernstig is daaroor en dit straf. Die ander een toon dat God die sondaar nog steeds liefhet en nie sal toelaat dat sy toorn bo sy liefde oorhand kry nie.

God se genade het betrekking op die hele wêreld, ook op die stad Nineve. God het nie die stad Nineve gespaar bloot op hulle boetedoening en bekering nie, maar op grond van sy barmhartigheid en soewereine genade. God se barmhartigheid word egter slegs werksaam by die sien van boetedoening en bekering van sondaars.

Daarom maak die boek Jona ook ’n oproep tot ons vandag. Ons dubbele standaarde word ook tot op die been oopgevlek. Hoe baie keer het ons nie gebid: “...vergewe ons skulde net soos ons ook ons skuldenaars vergewe” nie? Sekeres sal ons vergewe of selfs nog help, maar ander sal ons nie eers die son oor hulle hoofde gun nie! Ons is net soos Jona selfsugtig in ons toe-eiening van God se liefde en genade. Ons wil sommer vir God besluit aan wie Hy mag en aan wie Hy nie genade en liefde mag betoon nie!

Kan ons nie maar ook soos Jona op die ou end met God in ontmoeting kom, en besef dat Hy die Skepper en Regeerder van alle dinge is, en dat God se genade en liefde net soveel betekenis vir my het, as vir my vyande en sondaars nie? As ons miskien soos Jona ook stilbly op God se genade en liefde, mag ons dalk in dankbaarheid “Amen!” sê daarop!
Amen