Johannes 18:1-27

God is getrou, al is ons ontrou



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

God se mense, sy kinders, ons, ek, stel God baie dikwels teleur.  En ons sien dit nie net ons eie lewe nie, maar die hele Bybel vertel vir ons daarvan!  Kom ek noem ‘n paar voorbeelde:

  • Die eerste mense in die paradys, Adam en Eva, het alles gehad wat ‘n mens seker kan begeer.  Maar toe wou hulle soos God word, en doen toe sonde.
  • Noag het op God vertrou, en die ark gebou soos God gevra het.  Maar na die vloed lê hy wingerde aan en word dronk.
  • Abraham het so op God vertrou dat hy selfs bereid was om sy seun Isak te offer omdat God dit gevra het.  Hy het geglo God sou voorsien.  Hy staan bekend as die vader van al die gelowiges.  Maar wanneer hulle in ‘n vreemde land kom word hy bang die mense gaan hom doodmaak, en is bereid om sy vrou Sarai aan ‘n ander man gee net om sy eie veiligheid te waarborg.
  • Moses, die groot profeet van die Ou Testament, die een wat die wet van God ontvang het.  Maar hy verontagsaam die eenvoudigste opdrag van die Here met die gevolg dat hy nie die beloofde land ingegaan het nie.
  • Israel, die klein volkie wat God gekies het om sy volk te wees, neig aanmekaar na ander gode.
  • Judas word gekies as een van Jesus se dissipels, maar hy is bereid om vir dertig silwerstukke sy rug op Jesus te draai en Hom verraai.
  • Petrus wat meer as drie jaar saam met Jesus beweeg het, wat telkemale gesê het dat hy Jesus nooit sal verlaat nie, verloën Jesus herhaaldelik.  Hy sê selfs dat hy Jesus glad nie ken nie.

En ons sou nog baie ander voorbeelde kon noem.  Maar een saak kom baie duidelik uit hierdie voorbeelde duidelik: mense stel God dikwels teleurstel.  En ons doen dit ook.  Ons verraai Christus met ons dade, ons liefdeloosheid, onvergewensgesindheid, met ons kleingeloof, swak geloof en soms selfs ongeloof.  Hoe dikwels swyg ons nie as ons moet praat en van Jesus getuig nie!  Hoe dikwels loop ons nie maar saam met die stroom, doen ons maar wat ons vriende doen, net om in te wees!  Ja, broers en susters, hoe dikwels sê ons nie ook maar met ons verkeerde woorde en dade soos ‘n Petrus ‘ek ken die Man nie!’

Ek sê nie hierdie dinge, broers en susters, om ons almal moedeloos te maak nie.  Nog minder om ons almal te laat voel dat ons maar net sondaars is nie.  Dit is nie sonder rede dat die Skrif ons vertel van ‘n Noag en ‘n Abraham en ‘n Judas en ‘n Petrus se sonde en hulle menslike feilbaarheid en tekortkominge nie!

Want dit is nie al wat die Bybel ons vertel nie!  Te midde van hierdie menslike ontrou en sonde vertel die Bybel vir ons van God se liefde en trou!

In die gedeelte wat ons gelees het is dit so opvallend:  ons lees hier van menslike ontrou - Judas en Petrus se verraad.  Ons lees hier van menslike haat - Jesus word geboei, geklap, gemartel deur die soldate.  Ons lees self hier van politieke agterbaksheid – in vers 14 lees ons dat Kajafas vir die Joodse Raad sê dat hulle van Jesus moet ontslae raak, omdat Hy vir hulle ‘n sogenaamde politieke gevaar inhou het.  Jesus het ‘n klomp volgelinge gehad wat geglo het dat Hy die messiaanse koning is wat die volk sou verlos.  Kajafas en die ander het gedink dit beteken politieke bevryding, en daarom moes hulle van Jesus ontslae raak.  Dit was vir hulle beter om Jesus op te offer en onskuldig dood te maak, as wat die Joodse volk deur die Romeine vervolg sou word.

En wat maak Jesus?  Te midde van al hierdie gemene ontrouheid van die mense rondom Hom, staan Hy bo almal uit as die een wat getrou is tot in die dood!  Uit eie wil.  Wanneer die soldate kom om Jesus in die tuin van Getsemane gevange te neem, gee Jesus Homself vrywillig oor.  Vers 4 sê dat Jesus van alles geweet het wat oor Hom sou kom:  Hy het geweet van die marteling wat vir Hom wag, die kruisiging, die dood!  Hy bly getrou.

Tegelykertyd is dit opvallend dat wanneer die soldate kom om Jesus gevange te neem, Hy met die soldate onderhandel om sy dissipels te laat gaan - en Johannes sê vir ons in vers 9 dat ‘so vervul is dat niemand van die wat aan Hom behoort het, verlore geraak het nie’.  Jesus offer Homself, Hy word gevange geneem en Hy sorg dat sy dissipels behou bly en ontvlug.  Die dissipels is ontrou - Christus bly getrou.

En hierdie is die wonder van die evangelie, broers en susters!  Dit is die wonder waarvan Johannes 3:16 praat:  God het die wêreld so lief gehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê!

Jesus het nie vir sondelose, volmaakte mense aarde toegekom nie.  Hy het nie gekom omdat daar ‘n klomp supergelowiges hier op aarde was wat Hom met ope arms sou ontvang nie!  Die harde werklikheid is dat die supergelowige nie bestaan nie!  Inteendeel:  uit die voorbeelde wat ons hierbo genoem het was die grootste gelowiges in die geskiedenis dikwels ook die grootste sondaars!

Jesus het presies geweet wie die mense is na wie toe Hy kom: sondaars, mense wat struikel in die geloof, mense wat maklik van God vergeet, maklik hulle rug op Hom sou draai.  Johannes sê op ‘n ander plek vir ons dat Jesus sy mense wat in hierdie wêreld was liefgehad het – ja, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad.  Dieselfde mense wat Hom verraai het, wat met ‘n eed verklaar het: ‘ons ken die man nie!’

So staan menslike ontrou teenoor Goddelike trou.  So staan menslike liefdeloosheid teenoor Goddelike liefde wat aan ons bewys is en word..  So was dit deur die hele geskiedenis van Israel soos dit in die Ou Testament opgeteken is.  Telkens het Israel van die Here vergeet - maar God het hulle altyd weer nadergetrek en gered.  En in die Nuwe Testament is dit nie veel anders nie.

Dit is steeds nie anders nie.  Ons is dikwels ontrou aan die Here.  Maar God is steeds getrou.  Ten spyte van die feit dat ons sondaars is, ontrou, opstandig, is God getrou en het Hy ons steeds lief.   Dit is God se onbegryplike genade en liefde vir die ons.

Dit is vir ons - met al ons tekortkominge - dat Jesus aan die kruis gely en gesterf het!  Daarom kan ons seker wees van ons verlossing - nie op grond van ons eie goedheid of prestasie nie, maar op grond van God se genade en Jesus se kruisdood!  Goddank, broers en susters, dat ons nie aan onsself nie, maar aan God behoort!

Die beteken egter nie, broers en susters, en dit moet u baie goed vanoggend hoor, dat ons nou maar kan gaan en God se genade en liefde goedkoop maak nie.  Ons kan nie maar leef met die gedagte ‘God het my lief, Jesus het gesterf vir my en daarom kan ek maar leef soos ek wil en maak of ek Jesus nie ken nie!

Elkeen van ons wat weet dat Jesus vir ons gesterf het,  wat weet dat ons deur sy offer verlos is, wat weet dat Christus Homself vrywillig vir ons gegee het, wat weet wat dit gekos het aan pyn en lyding, kan nie anders as om die Here ook te dien nie.  Jesus se offer vra dat ons ook ons lewens aan Hom sal offer.  As ons dit nie doen nie, maak ons God se genade goedkoop - iets wat nie regtig betekenis het vir ons lewens nie.

Daar lê soveel troos in hierdie wete dat God getrou is, gemeente!  Hoe dikwels het die lewe almal van ons nie al seergemaak nie!  Hoeveel keer gebeur dat ons nie in ons alleenheid wonder of al die moeite wat ons het om ‘n bestaan te maak nie tog maar nie die moeite werd is nie.  Hoeveel keer het ons nie al by ‘n siekbed of ‘n oop graf gestaan en gewonder oor die sin van die lewe nie.  Hoeveel keer word ‘n mens nie met moedeloosheid geslaan as dinge nie loop soos wat jy dit graag wil nie.

En tog - die gelowige mens kan weet: God is getrou!  Hy red ons, ten spyte van onsself!  Daar waar ons alle hoop verloor, waar ons dink dat God ons vergeet het - dit is maar net ons eie ongeloof wat ons daarvan oortuig.   God vergeet ons nie.  Hy is nie ontrou nie.  Daaraan kan ons vashou.  En ‘n lewe gaan leef wat sy genade en liefde vir ons waardig is.
Amen