2 Korintiërs 12:1-10

God se genade is vir ons genoeg!



1Geliefdes van ons Here Jesus, voor ons vanoggend gaan lees uit God se Woord, wil ek eers vir julle ’n staaltjie vertel wat gaan dien as agtergrond vir ons Skrifgedeelte. Veronderstel ons is besig om in ’n vliegtuig te vlieg. Skielik bars die enjins in vlamme uit, en die loods storm uit die stuurkajuit uit. “Ons gaan neerstort!” skree hy. “Ons moet uitspring!” Vinnig deel hy die valskerms uit, gee ’n paar haastige instruksies en ons val agtermekaar in by die oop deur. Die eerste passasier gaan tot by die deur en skree bokant die geraas uit: “Kan ek iets vra?”

“Sekerlik. Wat is dit?” wil die loods weet.

“Kan ek nie miskien ’n rooi valskerm kry nie?”

Die loods skud sy kop in ongeloof. “Is dit nie goed genoeg dat ek vir jou ’n valskerm gegee het nie?” En met dié, gee hy die eerste passasier ’n hupstootjie by die deur uit.

Die tweede passasier kom by die deur. “Ek wonder of daar iets is wat jy vir my kan gee om seker te maak dat ek nie naar word terwyl ek val nie?”

“Nee, maar ek kan seker maak dat jy ’n valskerm het vir die val,” antwoord die loods.

“Asseblief, Kaptein,” sê die volgende een, “ek het hoogtevrees. Kan jy my vrees wegvat?”

“Nee,” antwoord hy, “maar ek kan vir jou ’n valskerm gee, sodat jy jou nie te pletter val nie.”

Nog een pleit om ’n ander plan van aksie: “Kan ons die vliegtuig nie maar eerder laat val nie. Dalk is ons gelukkig en oorleef dit.”

Die loods glimlag verdraagsaam en sê: “Jy weet nie wat jy vra nie,” en help die man saggies by die deur uit. So het ons - een na die ander passasier - ’n onredelike of onbillike versoek ...

“Julle mense verstaan nie,” skree die loods terwyl hy ons een vir een by die deur uithelp, “ek gee vir julle ’n valskerm, en dis genoeg.”

Net een ding is nodig vir die sprong om te oorleef: ’n valskerm, en dit word deur die loods verskaf. Hy plaas die noodsaaklike instrument in ons hande. Sonder daardie valskerms is ons kanse op oorlewing nul.

[DOEN SKRIFLESING]

Geliefdes van ons Here Jesus, die tema van ons prediking is: God se genade is vir ons genoeg! Daarmee saam wil ek hê ons moet luister na God se antwoord op Paulus se pleidooi dat sy doring in die vlees weggeneem moet word: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

Broers en susters, dalk moet ons eers vra wat beteken die woord “genade”. Genade is daardie verlossing wat God in sy Seun vir ons gebring het, met ander woorde, almal wat Jesus Christus aanvaar as die ware Verlosser en in Hom glo, word nie meer deur God veroordeel nie, maar vrygespreek (Rom 3:24). Ja, al ons oortredinge word deur die bloed van die Here Jesus afgewas ... ons word vergewe (Ef 1:7). Daarom kan genade ook nie verdien word nie ... nee, dit word uit liefde aan ons geskenk omdat ons in Jesus Christus glo. En as God vir Paulus sê: “My genade is vir jou genoeg ...”, dan moet Paulus verstaan dat, sou hy uit ’n brandende vliegtuig moes spring, sy geloof in Jesus Christus soos ’n valskerm sal wees - dit sal sy lewe red!

Om nou terug te kom tot die staaltjie wat ek van die brandende vliegtuig vertel het: is dit te gek om waar te wees? Ek dink nogal so! Immers, dink nou vir julleself: wie van julle sal gepla wees oor die kleur van jou valskerm, en of jy aan hoogtevrees ly, en of jy gaan naar word, as jy uit ’n brandende vliegtuig moet spring? Ek is seker dat die enigste ding waaroor ’n mens op daardie oomblik wel bekommerd gaan wees, is of jy ’n valskerm het, of nie. Want daardie valskerm gaan verhinder of jy jou te pletter val, of nie.

Maar besef julle dat ons baie keer ook op soortgelyke wyse met God se genade werk? Ja, volgens ons het God se genade slegs waarde vir ons as dit aan sekere van ons vereistes en voorwaardes en versoeke voldoen. Is ons ooit tevrede? Nee! Ons is eerder veeleisend en voorskrywend. Daarom is dié staaltjie dalk nie so gek om waar te wees nie! God hoor elke sekonde derduisende versoeke, en elkeen is omtrent ingeklee met eie persoonlike voorkeure. Die Here antwoord gewoonlik met ’n sagte hupstoot wat ons deur die lug laat tuimel, terwyl ons aan sy genade-valskerm hang.

Die groot probleem van ons vertroue in God se almag lê egter by wanneer Hy “nee” sê. Daar is tye wanneer die een ding wat jy wil hê, juis daardie een ding word wat jy nie kan kry nie. Kyk, dit is nie dat ’n mens kieskeurig of veeleisend is nie; jy is maar net gehoorsaam aan God se opdrag: “... maak in alles julle begeertes ... aan God bekend” (Fil 4:6 ). Al wat jy wil hê, is ’n oop deur of ’n ekstra dag of ’n verhoorde gebed, waarvoor jy baie dankbaar sal wees. Dus bid jy en wag ... geen antwoord nie. Jy bid weer en wag ... steeds geen antwoord nie. Jy bid nog ’n keer en wag ... maar die antwoord bly weg.

Maar sê nou net hierdie onverhoorde gebed is eintlik God se manier om vir jou “nee” te sê? Wat as die antwoord vertraag of selfs geweier word? Hoe sal jy reageer as God vir jou “nee” sê? As God byvoorbeeld vir jou sal sê: “Ek het vir jou my genade gegee, en dit is genoeg,” sal jy tevrede wees?

Wat verstaan ons onder “tevrede”? Dit is ’n gemoedstoestand waarin jy vrede sal hê as God vir jou niks meer gee as wat Hy alreeds gegee het nie. Toets jouself met hierdie vraag: Wat sal jy doen as God se enigste gawe aan jou sy genade was om jou te red van die ewige dood? Sal jy tevrede wees? Of kom ons sê jy smeek Hom om jou kind se lewe te spaar ... jy pleit by Hom om jou huwelik te red ... jy dring by Hom aan om die kanker uit jou liggaam te verwyder. Wat as Hy antwoord: “Nee, my genade is genoeg.” Sal jy tevrede wees?

Julle moet een ding goed verstaan - gesien vanuit die hemel se perspektief, is genade genoeg. As God niks meer gedoen het as om ons van die hel te red nie, sou enigiemand kon kla? As God ons siel gered het, en ons dan vir die res van ons lewe as melaatses op ’n verlate eiland laat deurbring het, sou dit onregverdig wees? Durf ons kla oor ’n liggaam wat pyn nadat ons die ewige lewe as geskenk gekry het? Ja, durf ons kla oor aardse armoede nadat ons hemelse rykdom ontvang het? Wil julle regtig ’n antwoord hê?

Gemeente, laat ek vinnig byvoeg: God het vir ons nie net “verlossing” gegee nie. As jy oë het om vandag jou Bybel te kon gelees het, ore het om na die prediking te kan luister, hande het om die Liedboek boek vas te hou en daaruit te sing, geld het om na die tyd by die deur in te gooi, het Hy jou alreeds oorlaai met genade op genade op genade.

Die oorgrote meerderheid van ons is verlos en daarna oorlaai met nog meer seëninge as wat ons kan tel. Dit herinner my aan wat God by monde van die profeet Maleagi op ’n stadium gesê het: “... meer as wat julle kan gebruik ...” (Mal 3:10). Maar daar is kere wanneer God, nadat Hy aan ons sy genade gegee het, ons pleidooie aanhoor en sê: “My genade is vir jou genoeg.” Is Hy dan onregverdig?

Die bekende teoloog-skrywer Max Lucado het eendag vertel hoedat sy oudste dogter in ’n swembad geval het toe sy twee jaar oud was. ’n Vriend het dit sien gebeur en haar betyds uitgehaal. Die volgende dag het hy in sy stiltetyd hard probeer om sy dankbaarheid in sy dagboek te verwoord. Hy het vir God gesê hoe wonderlik Hy was dat Hy haar gered het. En toe, so duidelik asof God self met hom gepraat het, het die volgende vrae by Max Lucado opgekom: Sou Ek minder wonderlik gewees het as Ek haar laat verdrink het, Max? Sou Ek enigsins minder van ’n God gewees het as Ek haar lewetjie nie gespaar het nie? Max, sou jy My vanoggend nog geprys het as Ek haar nie gered het nie?

Geliefdes van die Here Jesus, die vraag is dus: Is God steeds ’n goeie God wanneer Hy “nee” sê? Ag, dink maar daaraan: hoe baie keer pleit ons nie ook om daardie doring in ons vlees weg te neem nie? Paulus het met dieselfde vraag geworstel ... die angs van onbeantwoorde gebede het hy baie goed geken. Boaan sy gebedslys was ’n onbekende item wat sy gedagtes oorheers het. Hy het dit sy “doring in die vlees” genoem (v 7). Miskien was Paulus te skaam om die werklike aard daarvan neer te skryf. Maar dat dit hom gepla het, was beslis. Het ons dan nie almal ’n doring in die vlees nie? Ja, êrens op ons lewenspad word ons vlees deur een of ander doring deurboor. Ons begin mank loop, ons pas word vertraag tot ons gaan stilstaan, ons probeer weer loop net om ineen te krimp van pyn na elke probeerslag.

Uiteindelik pleit ons dat God ons moet help ... Hy moet hierdie “doring” wegvat! Dit was ook die geval met Paulus. As gevolg van sy doring het hy dit moeilik gevind om voort te gaan. Die skerp punt het as’t ware deur sy skoensool gesteek tot diep in sy hart, sodat dit gou ’n saak van ernstige gebed geword het. Paulus sê: “Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word” (v 8). En hierdie doring was ook nie ’n oppervlakkige prikkie nie. Dit het hom geteister ... hom met die vuiste geslaan (v 7). Elke tree wat hy gegee het, het ’n skerp pyn in sy been laat opskiet ... dit was hinderlik. Drie keer was sy versoek baie duidelik ... maar so ook God se antwoord: “My genade is vir jou genoeg ...” (v 9).

Wat was hierdie doring in Paulus se vlees? Niemand weet nie, maar dalk was dit seksuele versoekings. Immers, hy was per slot van rekening enkellopend gewees. Hy beskryf die versoekings so asof hy eerstehandse kennis het: “Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek” (Rom 7:18-19). Vra Paulus nie dalk vir God om hom eens en vir altyd te verlos van die smagting na verbode vrugte nie? Miskien.

Dalk was Paulus se probleem sy baie vyande. Nie versoeking nie, maar teenstand. Die gedeelte sinspeel op die moontlikheid. Hy sê immers sy probleem was ’n boodskapper van Satan (v 7). Paulus het genoeg teenstanders gehad. Daar was diegene wat sy apostelskap bevraagteken het (vgl 2 Kor 12:12). Daar was sommige wat sy boodskap van genade verdraai het (vgl Gal 1:7). Terloops, toe Paulus geskryf het dat hierdie boodskapper van Satan gestuur is om hom met vuiste te slaan, was hy nie besig om te oordryf nie. Trek bietjie sy kleed uit en kyk na sy letsels. Of, aangesien ons dit nie kan doen nie, lees van daardie wrede aanvalle op hom: “[E]k was dikwels in doodsgevaar. Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry, drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi ... Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene ...” (2 Kor 11:23-26).

Broers en susters, sou enigiemand kon fout vind daarmee dat Paulus vir so bietjie verligting vra? ’n Mens kan immers net soveel verduur. ’n Mens word moeg daarvan om voortdurend in Satan se spervuur te leef. “Ag, Here, kan ons nie hierdie jaar beperk tot slegsê en my wonde kans gee om te genees nie? Of wat daarvan as ons die geseling en steniging so skeduleer dat dit nie alles gelyk op my afkom nie? Ek het steeds ’n kneusplek van laas keer aan my nek wat seerkry elke keer as ek my kop draai. En onthou U nog die nag in die tronk in Filippi? My rug het nog nie daarvan herstel nie.”

Daar was natuurlik ook diegene wat geglo het dat Paulus alles verdien het wat hom getref het, en dit bring ons by die derde moontlikheid. Daar is mense wat dink dat die doring Paulus se vurige geaardheid was. Wat hy ook al aan die voete van rabbi Gamaliël geleer het, hy het seker aan die slaap geraak die dag toe hulle oor takt gepraat het. Voor hy God se genade leer geken het, het hy Christene vermoor. En nadat hy genade leer ken het, het hy steeds medegelowiges taktloos laat les opsê. So het hy hom by ’n geleentheid in Antiogië openlik teen Sefas verset omdat hy gemeen het Sefas se optrede was verkeerd gewees (Gal 2:11). Volgens Paulus was jy of aan God se kant óf aan Satan s’n, en hy het hierdie opinie van hom nie geheim gehou nie. So het hy by ’n ander geleentheid vir Himeneus en Aleksander, soos wat hy dit noem, aan Satan oorgegee het, sodat hulle daardeur kan leer om God nie te laster nie (1 Tim 1:20). Ja, almal binne trefafstand van sy pen en sy tong het geweet hoe hy voel en geweet wanneer om te koes.

Daar is natuurlik ook die moontlikheid dat Paulus se doring nie versoeking, teenstand of swak menseverhoudings was nie, maar eerder sy oë. Aan die einde van een van sy briewe skryf hy: “Van hier af skryf ek eiehandig aan julle. Kyk net die groot letters” (Gal 6:11). Dalk het sy oë nooit heeltemal herstel na sy ervaring op die Damaskuspad nie. Onthou, God het hom neergevel met ’n lig wat so skerp was dat hy vir drie dae lank blind was. Dalk het hy permanente skade opgedoen. Miskien is dit die prys wat hy moes betaal om uiteindelik ’n helder visie van Jesus se kruis te kon kry. Vir die Galasiërs het hy geskryf: “As dit moontlik was, sou julle julle oë uitgeruk en vir my gegee het” (Gal 4:15). In Paulus se werk kon swak oë ’n groot probleem gewees het. Dis moeilik om te reis as jy nie die pad voor jou kan sien nie. Dis nie maklik om briewe te skryf as jy nie die bladsy behoorlik kan sien nie. Swak sig lei tot oogspanning, wat lei tot hoofpyn, wat lei tot lang nagte en gebede om verligting.

Ons aanvaar ook geredelik dat Paulus ’n dinamiese spreker was, maar sy toehoorders sou dalk nie heeltemal daarmee saamgestem het nie. In Korinte het hy byvoorbeeld gehoor dat die mense van hom sê dat sy woorde niks beteken nie (vgl 2 Kor 10:10). En hy het nie met hulle gestry nie. “Bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe gekom. Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees” (1 Kor 2:3-4). Vry vertaal, sê Paulus: “Ek was so bang dat ek gestotter het, so senuagtig dat ek vergeet het wat ek wou sê, en die feit dat julle hoegenaamd iets gehoor en geglo het, is louter genade van God.”

Gemeente, kom ons staan bietjie stil vir ’n oomblik en bekyk hierdie feite. Wie is hierdie Paulus, en wat weet ons van hom? Hy is moontlik dikwels versoek ... hy is beslis gereeld gemartel ... eiesinnig is ’n seker feit ... dalk was hy bysiende ... wie weet, dalk het hy gesukkel om te praat. Nou watter een was sy doring in die vlees waarvan hy so graag ontslae wou raak, maar moes hoor dat God se genade genoeg was?

Die vraag is net: Is genade werklik genoeg om ’n dissipel van die Here Jesus te wees? En terwyl ons nou op die onderwerp is, dink julle nie dat Paulus ’n beter apostel sou gewees het sonder enige versoeking, sonder vyande, met ’n kalm geaardheid, goeie oë en ’n gladde mond nie? Dalk ... dalk nie.

As God die versoeking weggeneem het, het Paulus dalk nooit God se genade aangegryp nie. Onthou, net hongeres waardeer ’n feesmaal, en Paulus was dood van die honger. Hy het gesmag na God se genade, want hy het homself beskou as die grootste van alle sondaars (1 Tim 1:15). Geen pen het genade ooit so verwoord soos dié van Paulus nie ... miskien omdat niemand genade so goed verstaan het soos hy nie.

As God die vervolging beëindig het, sou Paulus dalk nooit liefde geken het nie: “... al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks” (1 Kor 13:3). Vervolging het ’n manier om ’n mens se motiewe te suiwer. En sy motiewe is uiteindelik gesuiwer tot net een dryfkrag: “Die liefde van Christus dring ons ...” (2 Kor 5:14).

As God hom sagmoedig en gedweë gemaak het, wie sou dan die skynheiliges gekonfronteer het en die ongelowiges vermaan het? Die rede waarom die brief aan die Galasiërs geskryf is, is omdat Paulus nie tyd vir afgewaterde genade gehad het nie. En die briewe aan die Korintiërs is juis geskryf omdat hy ’n afkeer aan slap geloof gehad het. Sy eerlikheid het dalk nie vir hom baie vriende verwerf nie, maar dit het verseker baie mense tot bekering gebring.

En wat van Paulus se oë en spraak. As God sy gesig herstel het, sou Paulus nog sulke insigte gehad het? Terwyl ander mense na die wêreld gekyk het, was Paulus besig om visioene te sien wat nie met woorde beskryf kan word nie (v 3-4). En wat daarvan as Paulus dalk wel ter tale was? Onthou, die Here Jesus waarsku ons juis dat ’n stortvloed van woorde ons verwaand en arrogant kan maak (Mat 6:7). Dalk wou God maar net sy apostel plat op die aarde hou. Dit maak egter nie saak wat Paulus se beproewing, sy doring in die vlees was nie, dit het ’n goeie rede gehad.

En, geliefdes van ons Here Jesus, Paulus het geweet wat dit was. Daarom sê hy ook: “Sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie” (v 7). Die God wat hoogmoed verafsku, het gedoen wat nodig was om te verhoed dat Paulus hoogmoedig sou word. Daarom het Hy ook eenvoudig vir Paulus gesê: “My genade is genoeg ...” En in ons geval sê die Here dalk vir ons vandag presies dieselfde.

Wonder jy dalk vandag waarom God nie die versoeking uit jou lewe verwyder nie? As Hy dit doen, sal jy op jou eie krag staatmaak in plaas van op sy genade. ’n Mens het dalk juis ’n paar flaters in jou lewe nodig om jou te oortuig dat God se genade genoeg is.

Wonder jy waarom God nie die vyande uit jou lewe verwyder nie? Dalk wil Hy hê jy moet liefhê soos wat Hy lief gehad het. Enigiemand kan ’n vriend liefhê, maar min van ons kan ons vyande liefhê (vgl Luk 6:32). So, wat daarvan as jy nie almal se held is nie? Sy genade is meer as genoeg vir jou selfbeeld.

Wonder jy waarom God nie jou persoonlikheid verander nie? Is jy, soos Paulus, ook maar ’n ruwe, ongeslypte diamant? Sê jy ook soms dinge waaroor jy later spyt kry, en doen jy partykeer dinge waaroor jy later wonder? Waarom maak God jou nie meer soos die Here Jesus nie? O, Hy is besig daarmee ... Hy is nog net nie klaar nie. Tot dan toe is sy genade meer as genoeg.

Wonder jy waarom God jou nie gesond maak nie? O, Hy het jou reeds gesond gemaak. As jy in Christus glo, het jy ’n herstelde siel. God het sy Seun gestuur om ons juis van die grootste siekte te genees, daardie siekte wat tot die ewige dood lei - die sonde! En dalk wil Hy dele van jou liggaam nou reeds gesond maak. Maar as Hy nie wil nie, het jy dan nie steeds genoeg rede om dankbaar te wees nie? As Hy jou nooit iets meer gee as die ewige lewe nie, kan jy vir enigiets meer vra? Sy genade is alreeds genoeg rede om voor dankbaar te wees.

Wonder jy soms waarom God nie aan jou sekere vaardighede soos byvoorbeeld: ’n sanger of ’n atleet of ’n skrywer of ’n sendeling gee nie? Maar nou, hier is jy: toondoof, lomp en dom. Jy is eintlik ’n verleentheid vir die Christendom. Moenie moed verloor nie. God se genade is steeds genoeg om te voltooi wat Hy begin het. En tot dit gebeur, laat Paulus jou daaraan herinner dat die krag in die boodskap lê, nie in die boodskapper nie. Begryp vandag een ding: God roep nie toegerustes nie, maar rus die geroepenes toe!

Broers en susters, onthou ook: God sal eerder wil hê dat ons nou en dan mank loop as wat ons voortdurend loop en pronk. En as dit ’n doring vra om hierdie waarheid by ons tuis te bring, dan het Hy ons lief genoeg om dit nie uit te trek nie.

God het die volste reg om vir ons “nee” te sê. Dit maak Hom beslis nie minder God nie ... dit maak God ook nie minder wonderlik nie ... En ons het alle rede om Hom daarvoor te dank, selfs al is dit nie waarvoor ons gevra het nie! Hierdie “genade-valskerm” is sterk genoeg om ons veilig te laat land. Onthou, almal van ons het een of ander doring in die vlees waarvan ons baie graag sal wil ontslae raak, maar in die meeste gevalle sê God vir ons: “Nee, my genade is vereers genoeg.” Ja, soos Paulus, kan ons vandag ook ervaar dat die verlossing en vryspraak wat ons kry op grond van ons geloof in Jesus Christus, maak dat alle “dorings” vir die wyle verdra word.
Amen