Matteus 5:4; 7:7-12

God se tere aanraking



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ek wil vanoggend begin deur aan u twee voorbeelde uit die alledaagse lewe voor te hou. Twee voorbeelde wat, indien u kinders nog klein is — glo ek — u onmiddellik sal herken, en as u kinders al ouer geword het, voorbeelde wat ek glo u baie maklik in herinnering sal kan roep.

Wie van ons, broers en susters, het nie al die volgende soort ervaring beleef nie? Ons laai ons kind op by die skool, of sy kom by die huis aan en ons sien sy is ongelukkig. Wat is fout, vra ons. Twee groot seuns, pa, het pouse by die skool my sommer net uit niks uit kwaai aangekyk en gesê ek moet skoert. Ek wou huil, maar ek het nie. Ek kon ook nie eers weghardloop nie, my bene was lam. Ek het toe maar net daar bly sit, want ek was bang.

Wat doen ons as ouers gewoonlik, broers en susters, wanneer so iets met ons en ons kinders gebeur? Ons eerste reaksie is om daardie twee boelies te gaan soek en hulle goed die leviete voor te lees. Maar dit is nie wat ons doen nie. Nee, gewoonlik tel ons ons kind op die skoot, of neem haar in ons arms en sê dat sy haar nie oor daardie twee boelies moet bekommer nie, want pappa is hier, en pappa sal nooit toelaat dat daardie twee boewe my prinses skade aandoen nie. Pappa sal sorg dat nie gebeur nie.

Wat, broers en susters, is ons kind(ers) se reaksie ge­woonlik? Hulle klim van ons skoot af en begin om rustig te speel. Want pa het mos nou belowe, en alles is mos nou reg.

My tweede voorbeeld. Wie van u wat ‘n ma is het nie al in die middel van die nag bewus geword van iemand wat langs die bed staan en dan ‘n benoude stemmetjie gehoor wat roep: ‘Mamma, ek is bang!’ nie? Hoekom my kind, vra ons dan gewoonlik. En dikwels is die antwoord dieselfde. Ek het wakker geword mamma, en toe lyk die vir my in die donker of iemand vir my in die hoek van die kamer staan en loer.

Wat, broers en susters, doen ons dan? Ons staan op, gaan lê by ons kind in die bed, verseker hom of haar dat hulle vir niks bang hoef te wees nie, want mamma is mos nou by haar. Ons maak haar toe, soen haar, en lê by haar tot sy slaap. En, omdat mamma nou daar by haar is, en omdat mamma belowe het dat sy nou vir niks meer bang hoef te wees nie, raak ons kind(ers) dikwels baie gou heel rustig aan die slaap. Vergete is nou die donker en al die boewe wat in die kamer was.

Ouers wat vir hulle kinders omgee, broers en susters, tree eenvoudig so op. Dit is in elk geval ons goddellike opdrag. Wanneer my kind se gevoelens seergemaak word, verseker ek haar dat sy spesiaal is. Wanneer my kind seerkry, dan help ons hom. Wanneer ons kinders bang is, slaap ons nie weer totdat hulle veilig voel nie.

En ons tree so op, broers en susters, nie omdat ons helde is nie, ook nie omdat ons superouers is nie, nie omdat ons buitengewone ouers is nie. Nee, ons tree so op omdat ons ouers is. Wanneer ons kinders seerkry, doen ‘n ouer dit wat doodeenvoudig vanself kom. Ons help. Want dit is ons kinders wat voor ons staan.

Wat meer is: wanneer ons gehelp het, vra ons nie ‘n fooitjie nie. Ons vra nie gunste in ruil vir ons hulp nie. Wanneer ons kinders huil, sê ons nie dat hulle nou vir ‘n slag dapper moet wees en moet ophou huil nie. En as hulle vir die soveelste keer dieselfde toon stamp, raadpleeg ons nie ‘n lys en vra waarom hulle aanhoudend op dieselfde plek seerkry nie.

Want sonder om briljant slim te wees, weet ons mos ons kinders is nog nie grootmense nie. Ons hoef nie almal kindersielkundiges te wees om te weet kinders is meestal bang vir die donker nie. Ons hoef ook nie Salomo’s te wees om te weet dat ons kinders in elk geval nie gevra het om hier te wees nie, dat ‘n bietjie melk opgevee kan word en ‘n gebreekte glas vervang kan word nie.

Ook, broers en susters, hoef ons nie so slim soos Einstein te wees om te weet dat wanneer ons ons kinders so te hulp snel, hulle teer aanraak, bemoedig, van ons liefde verseker of hulle troos, dat daardie dade vir ons kinders baie meer werd is as dit wat ons die hele dag voor die rekenaar of op kantoor vermag het nie.

As dit wat ek tot hiertoe gesê het, broers en susters, alles waar is, as ons weet dat een van die voorregte van ouerskap is om te troos:

  • Waarom is ons dan soms so onwillig dat ons hemelse Vader ons moet troos?
  • Waarom dink ons soms dat Hy nie wil hoor van ons probleme nie?
  • Waarom dink ons soms dat God, ons Vader, te besig is om aan ons aandag te gee, ook wanneer ons bang is?
  • Waarom dink ons dat Hy is moeg daarvan om dieselfde goed by ons oor en oor te hoor?
  • Waarom dink ons dan soms dat Hy begin kreun as Hy ons sien aankom?
  • Waarom dink ons raadpleeg Hy sy lys wanneer ons om vergifnis smeek en vra dan dink jy nie het al te veel kere na My toe gekom met hierdie een nie?
  • Waarom dink ons soms ons moet met Hom heilige taal praat soos wat ons met niemand anders praat nie?

Ja, broers en susters. Waarom dink ons soms Hy was maar net baie digterlik in sy Woord toe Hy vir ons gevra het of die voëls van die lug en die gras van die veld hulle bekommer, want Hy sorg mos vir dit. En as hulle dit nie doen nie, waarom ons ons dan so bekommer?

Waarom, broers en susters, is dit soms vir ons so moeilik om God ernstig op te neem, Hom op sy woord te neem, wanneer Hy vir ons in Matteus 7:11 vra: ‘As julle wat sleg is (lees: nie volmaakte vaders en moeders is nie), dan weet wat om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is (lees: wat die volmaakte Vader is), goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?’

Waarom dus, broers en susters, laat ons soms nie ons hemelse Vader toe om dit vir ons te doen wat ons met soveel graagte vir ons kinders doen nie?

Wat, broers en susters, wil God regtig vir ons doen. Wat is dit wat Hy regtig vir ons wil gee? In ons gelese gedeelte word ‘n pragtige beeld gebruik wat dit wat God vir ons wil gee en wees, nie beter kan uitdruk nie.

Watter mens, vra Jesus hier in Matteus 7:9, sal vir sy kind ‘n klip gee as hy brood vra, of ‘n slang as hy ‘n vis vra? Jesus gebruik hier vier beelde, aan die een kant dié van brood en vis, en, aan die ander kant, dié van ‘n klip en slang. Om brood en vis te gee, impliseer Jesus hier, is om lewe te gee. Want brood en vis voed, dit laat groei. Dit laat leef en oorleef. Maar ‘n slang pik en maak dood, en met ‘n klip kan ‘n mens nie voed nie, net doodslaan en baie skade aanrig.

Dus, wat Jesus hier vra is eintlik dit: wie sal vir sy kind die dood gee, as sy kind die lewe vra? Dit is mos net nie denkbaar nie.

En, broers en susters, nog minder of eintlik, heeltemal ondenkbaar van God. Sal God ons die dood gee as ons lewe vra? Dan sou Hy mos nooit sy Seun vir ons aan ‘n paal van skande laat hang het nie. Dan sou Hy mos nooit vir ons sy Gees gegee het om waarlik te kan lewe nie. Of ken u God anders? Dit is mos hoe God is.

Ek sluit af: iemand het eendag gesê dat om ‘n vader of ‘n moeder te wees, beter is as enige kursus in die teologie. Beter is as enige graad in Godgeleerdheid. Want om ‘n pa of ma te wees leer ons dat daar ‘n Vader in die hemel is wat gereed staan om ons te troos wanneer ons gekritiseer word, seergemaak is, bang is, bekommerd is, nie meer lig vorentoe sien nie.

Om ‘n ouer te wees leer ons dat ons ‘n Vader in die hemel het wat ons sal vashou tot ons beter voel, ons sal help om met ons seer saam te leef, ‘n Vader is wat nie aan die slaap sal raak wanneer ons bang is ons sal wakker word en net duisternis sien nie.

Altyd. Want ons God is ewig. Sonder ophou. Want ons God is oral teenwoordig. En dit, broers en susters, is vir ons wat glo, genoeg. Want as dit nie genoeg is, glo ons nie werklik in God nie.

Ook vandag, broers en susters, kom staan Jesus Christus hier tussen ons, soos daardie dag op die berg, en as ons mooi luister sal ons sy woorde hoor: ‘Geseënd is hulle wat werklik aan God vashou, want hulle sal vertroos word’.

God wil hê dat ons nie klein oor Hom sal dink nie. Nee, Hy wil hê dat ons groot oor Hom sal dink. Want alleen wanneer ons groot oor God dink, sal ons groot dinge van Hom vra. Daarom ook sy opdrag in Matteus 7:7: vra, en vir julle sal gegee word, soek en julle sal kry, klop, en vir julle sal oopgemaak word. God se tere aanraking is net een armlengte ver.
Amen