Romeine 3:21-4:4

Kan ons ons skuld betaal?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die Fariseërs in die tyd van Jesus het gereken dat 'n mens met jou skuld teenoor God kon maak soos byvoorbeeld die balans/skuld van jou kredietkaart. Aan die einde van die maand kry jy jou staat, en betaal wat betaal moet word. Dan is alles reg, want dan skuld niemand iemand niks.

Net so, broers en susters, het die Fariseërs gereken, en reken baie mense vandag ook nog, kan 'n mens met jou skuld teenoor God maak. So word elke gebed 'n tjek wat vir skuld uitgeskryf word, elke goeie daad 'n paaiement. As ons een goeie daad kan doen vir elke slegte een, sal ons rekening mos aan die einde balanseer, reken ons. Of: ek kan mos my vloekery uitbalanseer met 'n paar komplimente, my klagtes met 'n paar bydraes, my gebreke met 'n paar vriendelike woorde.

Hoekom, broers en susters, kan dit nie so werk nie? Veral twee sake maak dit onmoontlik, waarvan die eerste die doodeenvoudige feit is dat niemand van ons weet hoeveel sonde kos nie. Dit is maklik, broers en susters, om uit te vind wat petrol kos, en was dit maar so maklik met sonde. Maar dit is nie.

Wat, byvoorbeeld, kos dit om jou humeur in die verkeer te verloor? Moet ek nou 50 kilometer per uur in 'n 60 sone gaan ry, of moet ek waai en glimlag vir die volgende tien motoriste? Of, broers en susters, wat sal 'n paar buierige ure byvoorbeeld kos? Sal een kerkdiens volgende Sondag byvoorbeeld een uur daarvan uitkanselleer? Of dalk is dit nie nodig nie, want wie weet, dalk word 'n mens darem so paar dikbekdae per jaar toegelaat. Nogal verwarrend, hierdie saak van die berekening van sonde.

Wat dit egter nog moeiliker maak, broers en susters, is dat ons nie weet wat ons sonde kos nie, ons weet nie eers altyd wanneer ons sondig nie. Die seuntjie haat die een wat sy fiets gesteel het, maar eers toe hy twaalf word hoor hy dat jy jou vyand moet liefhê. Peinsend stap jy in die straat af en sien iemand wat jou groet nie raak nie. Dit maak hom vies, want jy blyk onvriendelik, sonder rede, te wees. Hoe betaal 'n mens dit, broers en susters?

En dan is daar natuurlik ook nog ander oorwegings, broers en susters, wat alles nog ingewikkelder maak. Die genadetyd, byvoorbeeld. Hoe lank is dit? My kredietkaartrekening vereis 'n minimum betaling, en dra die balans na die volgende maand oor. Doen God dit ook? Sal Hy toelaat dat ek vandag se haatgedagte eers volgende jaar betaal? En wat van rente? As ek een sonde vir 'n paar maande op my staat het, loop dit op tot meer sondes? En gepraat van die staat: waar kry ek dit, hoe lyk dit, kan ek dit sien, en wie het dit?

Hoe, broers en susters, hanteer ek my skuld vir God? Dit is duidelik die vraag? Party sê: ontken dit. Ek kan nie, want my gewete pla my. Ander sê: soek erger sondes by ander, dan voel jy beter. Dit neem egter nog nie my sondes weg nie. En ander sê: betaal dit af. En dit het ons gesê, kan ook nie werk nie, want ons weet nie eers hoeveel sonde kos, en hoeveel ons skuld nie.

Maar wat doen 'n mens dan met jou sonde, broers en susters? Luister hoe antwoord Paulus (Rom 3:24-25) hierdie vraag: `Maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. Hom wat God gegee het as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir die wat glo'.

Eenvoudig gestel: jou sondes kos meer as wat jy kan betaal, daarom: nie deur die onderhouding van die wet nie, nie deur te probeer betaal nie, maar deur te glo. Deur te glo. So eenvoudige stelling, broers en susters, maar 'n stelling waarvan iemand al gesê het dat dit vir baie die moeilikste geestelike waarheid is om te aanvaar. Want om een of ander rede aanvaar mense Jesus Christus as Here voor hulle Hom as Verlosser aanvaar. Hulle aanvaar en verstaan sy krag voor hulle sy genade verstaan en aanvaar. Baie sal, soos Tomas, broers en susters, eerder vir die Here sterf as wat hulle wil hê die Here moet vir hulle sterf. Baie wil maar net eenvoudig nie aanvaar dat verlossing verniet is nie. Loutere genade is nie.

Hoekom nie, broers en susters ? Ek dink daar kan ten minste drie redes genoem word. Die eerste is dat sommiges sê dat om te aanvaar dat verlossing verniet is, te gevaarlik is om waar te wees. Want, sê hulle, hef ons dan nie deur die geloof die wet op nie (Rom 3:31). Want as ek nie deur my werke gered kan word nie, waarom dan nog goeie werke wil doen? As ek nie deur die wet gered kan word nie, waarom nog dan die wet hou? En wat meer is, die genade is mos nou daar om gebruik te word, so: sondig maar, dit is God se werk om te vergewe en genadig te wees. Met ander woorde, broers en susters, gaan mense nie so die genade uitbuit en God se goedheid misbruik nie as geloof alleen red nie?

Wie hierdie vraag vra, broers en susters, het nog nooit God se genade verstaan nie, want om God se genade so te verstaan, is om te sê dat God se genade daar is om boosheid te bevorder. Dat God se genade eintlik niks anders is as 'n toestemming om te sondig nie. En wie dit so verstaan, het God se genade nog nooit verstaan nie.

Want genade wat verstaan word, lei tot 'n begeerte na heiligheid. Hoor hoe mooi stel Titus 2:14 hierdie waarheid: `Jesus het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle sonde te reinig, sodat ons sy volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen'

Genade dus, wat verstaan word, ontlok die ywer vir die goeie. Dit lei tot die begeerte om nie te sondig nie. As jy God se genade werklik jou eie gemaak het, sal jy nie 'n bespotting daarvan maak nie. Om die waarheid te sê, as iemand God se genade sien as vrypas tot sonde, het so iemand God se genade nog nooit verstaan nie.

Beswaar nommer twee: hoekom kan geloof alleen (sonder werke/wet) nie red nie? Want dit is te nuut om waar te wees. So het mense in die gemeente van Paulus werklik geredeneer, broers en susters. Moenie by ons kom met nuwerwetse dinge nie, het hulle gesê, gee ons net die wet, want as dit vir Abraham goed genoeg was, is dit goed genoeg vir ons.

Hoe antwoord Paulus hierop? Nee, sê hy, julle is nie reg nie, Abraham is nie op grond van sy dade regverdig verklaar nie, maar deur sy geloof. Wat meer is, Abraham kon nie op grond van sy werke gered word nie. Want wat van die kere toe hy liewer op die Egiptenaars vertrou het as op die Here? En wat van die leuen wat hy vertel het deur vir die farao te sê dat Sara sy suster is?

Daarom, sê Paulus, dit was nie Abraham se werke nie, dit was sy geloof , en daarom, sê Paulus in Romeine 4:3, het God hom vrygespreek. Daarom, sê Paulus (by implikasie aan hierdie beswaardes: God se genade is niks nuuts nie. Dit was daar voor my, voor Abraham, voor Dawid. En wat meer is: God se genade is nie alleen ouer as elke sonde nie, maar ook groter as dit.

Nee, sê sommiges (en dit bring ons by ons derde en laaste beswaar), dit is darem te goed om waar te wees. Hierdie beswaar, broers en susters, is verreweg die algemeenste beswaar teen God se vrye genade. Het ons nie al almal op 'n keer hierdie woorde uit iemand se mond gehoor nie, broers en susters? Ja, God sal jou miskien vergewe, maar vir my sal Hy nie. want sien, ek het die waters van mislukking ingevaar, ek lewe nie op die kant van sonde nie, maar ek is middel in die see van sonde. Ek het darem nou al te veel kere oortree. Ek is nie maar net die deursnee sondaar nie. Want ek is skuldig aan…, en dan vertel hulle alles wat hulle al gedoen het.

Die vraag is egter, broers en susters: het iemand meer skuld voor God as 'n ander? Gaan skuld net oor dit wat ons doen, of ook oor die feit dat ons in sonde ontvang en gebore word, dus in wese sondaars is, en nie maar net sondaars word wanneer ons iets verkeerd doen nie. Wat meer is: daar is nie een skepsel voor God op hierdie aarde wat nie al meer skuld by God opgehoop het as wat hy/sy kan betaal nie.

Genade sê en beteken egter: nie een van ons hoef in ons skuld te bly nie. Ons hoef ook nie te probeer om by God af te betaal nie. Ons kan in elke geval nie. Want hoeveel sonde het u en ek, en wat is die prys daarvan? Dit weet ons tog nie.

Maar tog weet ons ook: die prys was Jesus Christus aan die kruis. Dit is genade. Dit is die gesig van 'n genadige God. Wie dit sien, raaksien, sal nie langer ongehoorsaam kan leef nie.

Verstaan ons hierdie boodskap werklik, broers en susters? As ons dit werklik verstaan, sal ons lewens dié wees van hulle wat ywerig is om die goeie te doen.
Amen