Romeine 8:31-39

Ons verstandjies en God se genade



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Hoe groot is God se liefde en genade? Hoe sou u antwoord? My antwoord sal wees: Daar is geen manier waarop ons klein verstandjies God se liefde en genade kan begryp nie. Want watter liefde is dit wat maak dat God ’n mens word, nie vir wonderlike mense nie, maar vir sondaarmense. Dat God, toe Hy mens geword het in Jesus Christus, bereid was om die verguising van so baie te verduur deur met woord en daad te wys wat God is, hoe groot sy liefde is. Dat God bereid was om dienskneg te word. Dat Hy bereid was om vir die mens te sterf, eerder as sonder die mens te leef. En so kan ons aangaan. Hoe, broers en susters, sal ons ooit verstaan hoe groot God se liefde en genade vir ons werklik is? Hoe probeer ’n mens selfs net om dit te verduidelik?

As jy Paulus die apostel is, probeer jy nie om dit te verduidelik nie. Jy maak geen stellings nie, en jy bied geen verduidelikings aan nie. Jy vra net ’n paar vrae. Vyf vrae, om presies te wees. Vyf vrae, broers en susters, wat nie vir ons nuut is nie. Want ons almal het dit al gevra: ons het hulle in die donker nag gevra toe ons nie kon slaap nie, ons het hulle in woede gevra, gevra toe ons geweet het ons is verontreg, toe ons bitter was. Vrae wat ontlok word deur pyn, probleme en omstandighede. Daarom: die vrae wat Paulus hier in Romeine 8:31-39 oor die omvang van God se liefde en genade vra, is nie nuut nie. Wat wel nuut is, is die antwoorde wat hy gee. Kom ons gaan kyk
vanoggend daar na.

Paulus se eerste vraag, ’n vraag oor God se beskerming klink so. “God is vir ons. Wie kan dan teen ons wees?” Let mooi op, broers en susters: die vraag is nie maar net “wie en wat is teen ons nie?” Want so ’n vraag sal ons almal maklik kan antwoord: siekte, inflasie, geweld, roof, uitputting, ouderdom, ander mense.

Nee. Die vraag is: “as God vir ons is, wie kan teen ons wees.” Met ander woorde: God is vir ons. Vier woordjies wat ons aandag een vir een verdien:

  • God is vir ons: jou vriende het jou dalk vergeet, jou onderwyser het jou dalk oor die hoof gesien, jou kinders skaam hulle dalk vir jou, maar nie God nie. Want God is altyd daar vir ons.
  • God is vir ons: nie miskien nie, nie was nie, nie sal wees nie. Vandag, hierdie uur. Hierdie oomblik. Hier waar u nou in die kerk sit. By God is dit nie nodig om in die tou te staan of môre weer terug te kom nie. En wat meer is: God se teenwoordigheid, elke oomblik in ons lewens, sal nie meer of minder word as ons beter of slegter mense word nie.
  • God is vir ons: hoe maak ons as ons vir iemand is? Ons juig so iemand toe, ons moedig hom aan, ons ondersteun hom, ons kies sy part, ons neem vir hom stand­punt in. Veel meer hoef ek nie te sê om die punt hier te maak nie. Want so ook is God vir ons.
  • God is vir ons: iemand het dit eendag treffend soos volg uitgedruk: as God ’n kalender gehad het, sou jou verjaardag datum daarop omkring gewees het. As Hy ’n motor bestuur het, sou jou naam op die bufferplakker gestaan het. En as daar ’n boom in die hemel was, sou jou naam in die bas uitgekerf gewees het. Voorbeelde, broers en susters, wat vir u miskien effens vreemd op die oor mag val. Maar hoor gerus wat God in Jesaja 49:16 sê: “Ek het jou naam in my handpalms gegraveer ”. So lief, broers en susters, is God vir ons. Want God is vir ons. Dalk is ons ver­standjies te klein om dit te verstaan.

Paulus se tweede vraag (’n vraag oor hoe God voorsien), klink so: “Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? ’” Kom ons maak van ’n alledaagse voorbeeld gebruik (voorbeelde wat eintlik ook in die Bybel na vore kom, maar net van ander woorde gebruik maak) om hierdie aspek van God se liefde en voorsiening te verduidelik: Kom ons veronderstel ’n man kom op ’n kind af wat halfdood langs die pad lê. Hy laai die kind op, neem hom hospitaal toe, en sorg dat hy verpleeg word tot hy gesond word. Hy betaal vir die behandeling, en kom toe agter dat die kind ’n weeskind is. Daarom neem hy hom aan, en gee hom ook sy eie naam. En dan, maande later, hoor hy een aand hoe die kind in sy kussing lê en snik. Op die vraag hoekom hy huil, antwoord die kind: Ek is bekommerd pappa. Ek is bekommerd oor môre. Waar gaan ek kos kry om te eet. Wie gaan vir my klere koop, en waar sal ek slaap? Onmiddellik is die pa erg ontsteld, Maar my kind, het ek jou nie langs die pad opgetel nie, het ek jou nie laat verpleeg nie, het ek jou nie my kind gemaak en jou my naam gegee nie? Sal ek dit alles doen en jou nie ook verder versorg nie? In al jou behoeftes voorsien nie?

Dit is presies wat Paulus hier vra: “Sal Hy wat sy Seun gegee het, nie ook in al ons behoeftes voorsien nie? ” Maar steeds bly ons bekommerd. Oor môre, oor ons gesondheid, ons toekoms, ons werk. Sal God Homself vir ons, aan ’n kruis laat spyker om dan maar net van ons te vergeet, om dan maar net ons gebede te verontagsaam?

Soms dink ons tog so. En hoekom? Dalk omdat ons verstandjies werklik te klein is om God se liefde en genade te verstaan.

Paulus se derde en vierde vraag (twee vrae oor skuld en genade), klink so: “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Jesus Christus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.”

Ook hier, broers en susters, wil ek van ’n baie eenvoudige verhaal gebruik maak om te verduidelik wat Paulus met hierdie twee vrae oor die mens se skuld en God se genade bedoel: daar was op ’n keer hierdie seun wat ’n rek present gekry het, maar niks daarmee kon raakskiet nie. Tot hy op sy ouma se troetel eend aangelê het. Wat natuurlik ’n raakskoot was met die gevolg: ’n dooie eend. Toe hy paniekerig die eend onder ’n klomp hout probeer wegsteek, sien sy suster hom. Toe hy en sy suster die aand na ete skottelgoed moes was, was sy suster se woorde gou: ek dink jy kan maar alles was, en as jy nie wil nie, onthou gerus van die eend.

Na twee weke was hy so moedeloos gewas dat hy besluit het om maar liewer voor ouma te bieg. En ouma se woorde? Ek weet van die eend, my seun. Ek het alles deur die venster gesien. Omdat ek jou liefhet, het ek jou klaar vergewe. Ek het net gewonder hoe lank jy jou suster gaan toelaat om jou haar slaaf te maak.

Wat het hier gebeur? Hy was reeds vergewe, maar hy het gedink hy is skuldig, het geglo hy sal altyd skuldig bly, omdat ouma hom nooit sal vergewe vir haar troetel eend nie. As hy maar net dadelik na ouma gegaan het. ’n Eenvoudige verhaal, broers en susters. miskien te eenvoudig. Maar dit is ook u en my verhaal. Ons skiet nie met rekke nie, maar wel met oneerlikheid, hebsug, woede, arrogansie, leuens. Noem maar op.

Ons hoef egter nie daarin te bly leef nie. Ons hoef dit nie altyd met ons saam te dra nie. Ons kan dit van ons afkry. Ons moet net bely. Om te hoor: onskuldig. En hoekom? Wie en wat kan God se kinders aankla? Niks en niemand, want God self spreek hulle vry. Wie of wat kan ons veroordeel? Niks of niemand, want Jesus het reeds die graf oorwin.

Hoekom wil ons soms nie aanvaar, broers en susters, dat God ons wil vergewe nie? Wat meer is, hoekom wil ons soms onsself nie vergewe nie, al het God reeds vergewe? Miskien omdat ons verstand te klein is om God se genade te verstaan.

Paulus se laaste vraag, ’n vraag oor God se liefde, klink so: “Wie kan ons van die liefde van God skei?’ ’ `n Vraag broers en susters, wat ons ook anders sou kon stel: het God my altyd lief? Ook wanneer ek ander se koppe afbyt, wanneer my tong so skerp is dat dit ’n rots middeldeur kan sny? Het God my dan ook lief?

God, broers en susters, het hierdie vraag beantwoord voordat ons dit nog gevra het. Want voor ons God geken het, het hy mens geword en onder ons kom woon. Voor ons gebore is, het God ons al gesien, en na ons gekyk. En wat Hy gesien het, het Hom laat sê: Jy is my kind. Ek het jou lief. Ek weet jy sal dikwels jou rug op my draai, dat jy soms selfs sal wil wegloop. Maar Ek wil hê jy moet weet Ek het jou lief. As jy ooit daaraan twyfel, kyk maar net weer na die kruis. Dit is vir My wat jy daar sien hang, jou Skepper, jou God, met spykers deurboor en vol bloed. Bespuug en deurweek van die sonde. Dit is jou sonde wat Ek daar voel. Dit is jou dood wat Ek sterf. Dit is jou opstanding wat Ek leef. Dit is hoe lief Ek jou het.

Sal ons dit ooit verstaan, broers en susters? Paulus het. Ook hulle wat bereid was om as martelare te sterf, ter wille van die evangelie doodgemaak te word. Hoekom was hulle daartoe bereid? Hoekom was ook Paulus bereid om in die gevangenis te sit ter wille van sy geloof?

Die antwoord vind ons in verse 38-39: Hiervan is’ ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenwoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar vir ons is in Christus Jesus onse Here.

Wie bereid is, broers en susters, om sy lewe op hierdie woorde te bou, is iemand wat verstaan het wat God se liefde en genade beteken.
Amen