2 Kronieke 34:1-7

Hoe lyk die woud wat ons plant?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Stefan maak sy bestaan uit bome. Hy het ‘n woud by sy pa geërf, ‘n woud wat al meer as 400 jaar in die familie is. Maar ook: ‘n woud wat vir nog baie meer jare in die familie sal wees. Hoekom? Want Stefan het ‘n bepaalde uitkyk op sy werk as bosbouer. Die werk van die bosbouer, sê hy, is om deel te wees van ‘n ketting. Elke geslag, sê Stefan, moet ‘n keuse maak. Jy kan of plunder of plant. Jy kan plunder deur net af te saag en af te saag en so baie ryk word, of jy kan twee bome plant vir elke boom wat jy afsaag. So, reken Stefan, word jy deel van ‘n ketting. Hy saag bome af wat deur sy oupa se oupagrootjie geplant is, en die bome wat hy plant, sal deur sy kinders se kinders se agterkleinkinders afgesaag word. Afhanklik van die verlede, en verantwoordelik vir die toekoms. Hy is deel van ‘n ketting.

Nes ons, broers en susters. Ons is kinders van die verlede, en ouers van die toekoms. Ook ons het almal ‘n woud geërf, ook ons is gebore in ‘n woud wat ons nie geplant het nie. En ons kan met ons woud maak net wat ons wil. Maar daarby kom ons later.

Kom ons begin eers by ons elkeen se woud, die erfenis wat aan ons elkeen nagelaat is. En die vraag is: hoe lyk die woud wat jy geërf het? Party van ons sal dadelik sê: ek is baie trots op die woud wat ek geërf het. Want in die woud wat ek geërf het staan daar pragtige bome vol beginsels. Daar is bome van ongelooflike liefde. Bome wat iets sê van dit wat ek by my ouers en voorouers geleer het. Daar is bome van gebed, bome van vaste oortuigings, bome vol lewenswaarhede, bome van beskerming, bome as voorbeelde van dit wat ware liefde, vergifnis, bystand en sorg is.

Ander van ons weer, broers en susters, se familiestamboom lyk dalk egter nie so goed nie. Want in ons woud staan bome van armoede, skande en mishandeling. Die grond in ons woud is geplunder. Oeste is afgehaal, en niks is weer geplant nie. Dalk het jy grootgeword in ’n huis waar onverdraagsaamheid aan die orde van die dag was, en daarom kan jy ander wat nie soos jy is nie, glad nie verdra nie. En so kyk jy na boom vir boom in die woud wat jy geërf het: bome van slegsê, verkleinering, geen belangstelling, te hoë eise, geen vergifnis, geen liefde, geen ondersteuning. Daarom: jou woud veroorsaak meer pyn as inspirasie. Jy is nie trots op jou erfenis nie. Jy is skaam oor die woud wat jy geërf het. En jy wens jy kan dit so teen die grond afbrand, dat dit nooit weer ‘n effek op jou sal hê nie.

Ek ken iemand, broers en susters, wat sulke gedagtes gehad het oor die woud wat hy geërf het. Wat hierdie man geërf het, was tragies. Sy oupa was ‘n moordenaar wat sy eie kinders misbruik het daar waar geoffer is. Sy pa was ‘n skobbejak wat die plekke waar mense wou aanbid afgebrand het, en almal wat geglo het, gespot het oor hulle sogenaamde geloof.

Sy oupa en pa was tipiese mans van hulle tyd. Hulle het geleef in ‘n tyd toe die plekke van aanbidding alleen besoek is omdat die prostitute van die dag hulle ware daar uitgestal het, siektes was behandel deur towenaars met dreunsang, mense het eerder die sterre as God aanbid en geglo in horoskope, en meer aandag gegee aan bygeloof en voedoe as die opvoeding van hulle kinders.

Inderdaad ‘n donker tyd om in gebore te word. Want watter toekoms het jy as die woud wat jy erf vol sulke lelike bome staan? Wat doen jy as jou oupa toorkuns beoefen het, en jou pa ‘n skurk was, en die volk waarvan jy deel is totaal korrup geword het?

Jy kan of, broers en susters, in hulle voetspore volg, die woud bly plunder, of jy kan, al is dit hoe moeilik, die bose ketting breek. En dit is presies wat hierdie man, hierdie man met so ‘n bose oupa en pa, gedoen het. En sy verhaal is so merkwaardig, dat ons dit vandag, 2600 jaar later nog graag oorvertel.

Hierdie man se naam, broers en susters, was koning Josia. Ja, die wêreld het beslis al slimmer, ryker, en magtiger konings as Josia geken, maar nog nooit ‘n dapperder koning as Josia nie. Sowat 600 jaar voordat Jesus Christus gebore is, is hierdie man gebore. Wat hy geërf het, was ‘n wankelrige troon en glanslose kroon. Die tempel was in puin, die wetboek kon nêrens gevind word nie, en die volk het elke god aanbid wat hulle hart begeer het. Maar aan die einde van Josia se regering van 31 jaar was die tempel herbou, die afgode vernietig, en die wet van God weer in ere hertel. Die ketting was gebreek, die woud was teruggeëis. Hoe het Josia dit reggekry?

Josia se oupa, koning Manasse, was bekend as die koning wat Jerusalem van hoek tot kant met die bloed van onskuldige mense gevul het. En sy pa, koning Amon, was so ‘n geweldenaar dat hy deur sy eie vriende vermoor is. Op sy grafsteen het daarom ook gestaan: Hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here.

So bestyg Josia die troon, ‘n skamele 8 jaar oud. Die eerste keuse wat Josia maak, is ‘n baie dapper keuse: hy het besluit dat hy sou doen wat reg was in die oë van die Here (2 Kon 22:2)

Maar Josia het ook meer gedoen. In hierdie selfde vers, 2 Konings 22:2, lees ons dat Josia deur die woud wat hy geërf het, gaan stap het om te soek na ‘n boom wat navolgenswaardig was. Die boom van sy oupa en pa het hy summier oorgeslaan. En toe hy uiteindelik so ver terug soek as tot by die boom wie se naam Dawid was, het hy besluit: ek gaan soos hy wees.

En omdat Josia, broers en susters, Dawid as voorbeeld gekies het, het dinge begin verander. Ons lees dit duidelik in ons gedeelte: hy het persoonlik toegesien dat al die altare afgebrand is, al die gewyde pale en beelde het hy stukkend gebreek en fyngemaal, die bene van die afgodspriesters het hy laat verbrand. In die hele gebied waaroor hy geheers het. En eers toe hy daarmee klaar was, is hy terug Jerusalem toe.

Nou nie ‘n reis wat openbare betrekkinge bevorder het nie. Maar Josia was nie daarop uit om vriende te maak nie. Nee, hy was daarop uit om ‘n stelling te maak: ek hang nie die leer en lewe van my voorvaders aan nie. Ek verwerp alles waarvoor my pa en oupa gestaan het.

En nog was Josia nie klaar nie. Vier jaar later, toe hy maar 26 was, het hy begin om aandag te gee aan die tempel. Want die Here alleen was sy God. Die God van sy voorvader Dawid, as sy God. Dawid se geloof was sy geloof. En so met die regmaak van die tempel, word die wetboek, wat meer as ‘n duisend jaar vantevore aan Moses gegee is, gevind. En toe Josia hoor wat daarin staan, was hy geskok, en het hy gehuil. Hy kon nie glo dat die volk so vêr van God afgedwaal het nie. En dit ook in orde gebring.

Is dit nie ongelooflik nie, broers en susters? ‘n Ganse geslag, ‘n ganse volk, word gered, en deur God begenadig, op grond van die optrede van een man. Kan dit wees dat God hom juis vir hierdie rede op aarde geplant het? Ja, sal ons antwoord.

Maar, broers en susters, is dit nie dalk die rede hoekom God vir u en vir my hier op aarde geplant het nie? Dalk is u en my verlede nie iets om oor te spog nie. Dalk het ons grootgeword in alle kwaad. Dalk kan ons in ons woud geen voorbeeld vind om na te jaag nie. Maar selfs dit, broers en susters, maak nie saak nie. Wat saak maak is dat ons elkeen vandag ‘n keuse het. ‘n Eenvoudige keuse: gaan ons bo ons verlede uitstyg en ‘n verskil maak, of gaan ons gebuk bly onder ons elkeen se verlede en bly soek na verskonings?
Hoor maar hoe praat ons soms, broers en susters: as ek maar net ..., as ek maar net êrens anders gebore is ..., as ek maar net beter behandel is ..., as ek maar net beter ouers, meer geld en beter geleenthede gehad het ..., as ek maar net gouer van die doeke af was, minder pak gekry het... . Of selfs sê u en ek dalk: as ek maar net iemand in my familiestamboek kan kry soos Josia, as ek maar net een boom in my woud kan kry wat as voorbeeld kan dien.

Indien dit die geval is, broers en susters, kom ons sit die familiestamboek neer, en tel die Bybel op. En kom ons blaai na die evangelie van Johannes, hoofstuk drie, vers ses, en lees daar Jesus se woorde: wat uit die mens gebore is, is mens; wat uit die Gees gebore is, is gees.

Wat wil hierdie versie vir ons sê? ‘n Ware geestelike lewe van gehoorsaamheid kom van die Here, van die Gees af. Jou ouers het jou dalk gene gegee, maar die Here gee genade. Dit sê Galasiërs 4:7 baie mooi: Jy is nou kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook erfgenaam gemaak.

So, broers en susters, word ons elkeen se verlede in wese uitgewis. Want in God word ons nuut, in God alleen kom daar vir ons nuwe moontlikhede van lewe, en kyk na die lewe.

Nes, Josia, broers en susters, het van ons miskien hier geen beheer op die soort woud wat ons geërf het nie. Ons het egter, broers en susters, beheer oor wat ons met ons geërfde woud gaan maak. Want die verlede hoef nie ‘n mens se tronk te wees nie. Jy het ‘n keuse. Jy het ‘n keuse oor jou lewe. ‘n Keuse wat ons eintlik nie eers hoef te maak nie. Want God het dit reeds vir ons gemaak.

Dit lees ons in Efesiërs 5:1: Omdat julle nou kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg.

God, broers en susters, word ons verlede. Want Jesus Christus aan die kruis is ons verlede. Dit maak ons verlede eintlik niksseggend. Maar dan vra God van ons ons hele toekoms.

En hoe gaan dit lyk? Die van ons vanoggend hier, wie se kinders dalk hier saam met ons is, watter bome gaan ons in ons woud plant wat hulle eendag gaan erf? Hoe lyk u en my woud? Wat meer is: sal ons kinders se kinders se kinders eendag, as hulle deur die woud stap wat ons vandag besig is om te plant en wat hulle gaan erf, by ons as boom gaan staan en sê soos Josia van ouds: hier is Koos, Jan, Klaas, hier is pa, ma, ek kies om soos hulle te wees!

Mag ons, broers en susters, na hierdie naweek se saamwees, so saam met ons gesinne die Here gaan dien, dat elke aspek van ons persoonlike en gesinslewe, ‘n boom in ‘n woud sal word waarvoor mense eendag sal gaan staan en sê: ek wil so wees!
Amen