2 Timoteus 3:10-17

Hoop vir ons en ons kinders



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ongeveer twee weke gelede was ek teenwoordig by ‘n gesprek waar ‘n sielkundige ‘n terloopse opmerking gemaak het na aanleiding van die gebeure rondom ‘n skooldogter (onderhoofmeisie) van ‘n bekende skool wat probeer selfmoord pleeg het. Sy opmerking(s) het min of meer op die volgende neergekom:

Die grootste persentasie van jongmense wat oor sy praktyk se drumpel stap vir berading is jongmense sonder hoop, sonder drome, sonder enige positiewe verwagting oor die toekoms. Hulle glo nie meer dat daar vir hulle ‘n toekoms in die lewe, en veral in ons land is nie. Veral nie werksgeleenthede nie. Waarom moet hulle dan leer en studeer? Waarom moet hulle nog positief wees? Want daar is geen rede meer vir hoop, geen rede meer oor vir drome droom nie. Die lewe, kom oor baie se tong, is net nie meer die moeite werd nie.

Die oorsaak van hierdie gevoel by baie jongmense, broers en susters, kan beslis gesoek word in ons omstandighede, en meer spesifiek, die huidige omstandighede in ons land. En hierop hoef ek nie verder uit te brei nie, u weet presies waarvan ek praat. Skokkend, broers en susters, kom dit egter uit die mond van die sielkundige, is dat dit nie die grootste of hoofoorsaak is van die gevoel onder so baie van ons jongmense nie. Die grootste oorsaak, beweer hy (natuurlik as gevolg van sy berading) is die houding wat jongmense by hulle ouers optel. Omdat hulle hulle ouers sekere dinge hoor sê, en sien hoe hulle ouers self leef sonder veel hoop of drome.

Nou moet u goed verstaan, broers en susters. Ek sê nie, broers en susters, dat ons kinders noodwendig ook hierdie probleme het nie. Ook sê ek nie dat, indien dit wel so mag wees, ons kinders se probleme en kommer se oorsaak gevind kan word by ons as ouers nie. Wat ek wel sê, is dat hierdie, myns insiens, ‘n ernstige bron van kommer by elke ouer behoort te wees, en dat ons as ouers iets behoort te doen, so behoort te lewe, dat ons kinders hoop het, kan droom, en positief ingestel kan wees teenoor die toekoms wat wag. Dat hulle, en ons, met vrede en vreugde kan lewe, iets waarvan daar deesdae in baie mense se lewe ‘n ernstige tekort is.

Wat, sal u vra, kan ons doen? Wat kan ons doen sodat ons kinders, in die woorde van 2 Timoteus 3:17, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk? Of in kort: voorberei sal wees, positief sal wees, (weer) sal kan droom oor die toekoms?

Die antwoord uit die Woord van God, broers en susters, is eenvoudig. Alleen vanuit en deur die Woord van God. Deur die Bybel — en dus die God van die Bybel — te laat lewe in my eie lewe, en in die lewe van my huis. Hoe doen ons dit? En waar begin ons?

Ons begin, broers en susters, deur onsself elkeen nie alleen opnuut aan God te verbind nie, maar ook aan sy Woord. Dat as ons werklik glo, ons bereid sal wees om onsself elkeen onvoorwaardelik aan God se Woord, en aan die voorskrifte in sy Woord, te verbind.

Wat op sy beurt weer, broers en susters, nie iets anders kan beteken as dat ek as ouer met God ‘n persoonlike, lewendige verhouding sal hê nie, en juis daarom ook ‘n lewendige omgang met sy Woord sal hê. Ons moet weer die Woord begin lees, die Woord ken. Want om die Woord te ken, broers en susters, is om die wil van God te ken, en so ook God se wil vir my eie lewe.

Wat gebeur, broers en susters, wanneer ons onvoorwaardelik onsself so aan God se Woord, en dus aan sy teenwoordigheid en sy werking in my lewe, oopstel? Ons lewenswyse sal telkens weer en weer deur God, sy Gees en sy Woord gekorrigeer word. Ons sal baie gou agterkom dat ons nie maar net die Woord kan laat inpas by ons lewens nie, maar dat ons lewens moet aanpas by die Woord. En baie stellig wil ek byvoeg: indien dit nie so is nie, indien die Woord ons nie korrigerend aanspreek oor ons lewens nie, ons nog nie werklik die Woord gelees het nie, en dalk nog nooit werklik ‘n persoonlike verhouding met God gehad het nie.

Waar lê die toets of ons werklik, die Woord lees, of ons werklik naby, by en saam met God leef? Die Woord antwoord self op hierdie vraag baie duidelik en baie maklik verstaanbaar: in die aankweek van ‘n regte lewenswyse. In die lewe van ‘n Christelike lewe. En wat is dit, sou u vra? Ons sou hieroor baie kan sê, maar kom ons sê net die volgende:

  • Dat wat ons sê ons glo, in ons lewens sigbaar word. Dat ons nie een ding sal bely, van een saak met die mond oortuig sal wees nie, maar iets anders gaan lewe nie. As ons byvoorbeeld sê , broers en susters, dat ons glo dat God met ons sal wees tot die einde, as ons sê dat God vir ons die goeie sal gee, as ons sê dat God in beheer is van elke omstandigheid in my lewe, as ons sê God sal uitkoms gee, as ons sê omdat Jesus Christus opgestaan het en lewe ons ook voluit kan lewe, moet ons dit nie alles net sê nie. Ons moet dit gaan lewe. Ten spyte van. Ten spyte van alles: my ervaring, my oordeel oor die toekoms, my siening van my omstandighede. In kort: as ons werklik hierdie glo wat ons bely, sal ons kan leef met hoop teen alle hoop in, met drome teen alle moontlikheid van droom is, met durf, al is daar geen krag meer oor nie. Want ons bely mos dat ons tot alles in staat is in Jesus Christus? Of sê ons dit maar net?
  • Verder, broers en susters, moet ons wat ons van God glo, en uit sy hand ontvang, sigbaar en waar maak in ons lewe teenoor ander. Dit help tog nie ons bely van God dat Hy werklik sorg, maar ons wil nie ook versorg nie. Hoe sorg God? Hy doen vir ons alles om die verhouding tussen Hom en ons in stand te hou — en te laat groei. Daarom vergewe Hy, gee Hy wat nodig is, oorlaai Hy ons met liefde, toon Hy onmeetbare geduld.

Dit is tog die dinge in die lewe, broers en susters, wat ‘n mens teenoor God geborge laat voel. Laat voel God weet van my. Ek is nie alleen nie. Dat God met my ‘n plan het. Dat God besig is om met my ‘n pad te stap. En dat daar daarom hoop is. ‘n Toekoms is. En ek daarom positief kan wees. Voel ons kinders so geborge in die wyse waarop ons vir hulle sorg?

Dus: ons moet leef wat ons bely, leef wat ons glo, en wat ons van God ontvang en ervaar, aan ander gee. En laat ons veral oor die laaste saak maar baie reguit wees: as ons nie weet wat ons aan ander kan en moet gee nie, is dit nie omdat ons so vêr van God af leef, dat ons nie eers meer weet wat die mens in sy onsekerheid, hartseer, behoefte van nabyheid en somtydse alleenheid na smag nie?

Ek sluit af: die geloof as gawe uit God se hand is nie maar net aan ons gegee vir persoonlike besitting nie. Nee. God gee geloof, en sy Gees, sodat ons nuwe mense vir Hom en ander kan word. Dat ons so begin lewe, nuut begin lewe, met hoop begin lewe, dat ander in ons hierdie nuutheid en hoop kan sien.

En dit broers en susters, dit kom alleen deur worsteling met God en sy Woord in elke omstandigheid. Doen ons dit, sal ons weet wat God se wil vir ons is, en sal ons kinders by ons iets van ‘n opregtheid optel. Iets van die waagstuk van die lewe, iets van die hoop, iets van droom. Of, in kort gesê: wat dit beteken om werklik vanuit die geloof te lewe.

Waar staan u en my verhouding met God, broers en susters? Oordeel u maar self. As u en ek egter ons kinders wil laat leef, hoop en droom, sal ons naby en steeds nader aan God moet leef. Want Hy is die bron van alle lewe. Ken u en ek hierdie bron? Persoonlik. Deur ervaring? Of sê ons dit maar net?
Amen