Romeine 1:1-7

Belangrike nuus versprei altyd soos ‘n veldbrand



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons het in Afrikaans, broers en susters, ‘n spreekwoord/vergelyking wat sê dat nuus soos ‘n veldbrand versprei. En kom ek gebruik net een onlangse gebeurtenis uit ons eie omgewing as voorbeeld om te verduidelik: ‘n tydjie gelede was hier naby ons, in ons buurgemeente, ‘n groot tragedie vir baie toe ‘n groot hoeveelheid springstof in ‘n motorhuis ontplof het. Dié nuus het inderdaad soos ‘n veldbrand versprei. Die eerste berig op die radio was dat ‘n bom by ‘n winkelsentrum ontplof het. Baie mense het hulle daarheen gehaas. Gou is egter besef dit moes elders wees. En soos die nuus versprei het, was daar in ‘n baie kort tydjie ‘n groot aantal mense op (naby) die regte toneel (Die prediker moet hier ‘n eie voorbeeld uit eie omgewing as voorbeeld gebruik.)

Wat het gebeur? het die mense onder mekaar gevra. Iemand het ‘n boorgat probeer oopskiet, en die springstof was te veel. Nee, het ander gesê: ons het gehoor iemand wou homself en sy hele gesin uitwis. Nee, het ander weer gesê: dit was ‘n motorbom wat ontplof het om een of ander punt te maak. En die aand kon jy amper nie parkeerplek in die omgewing kry om te sien wat gebeur het nie.

In die tyd van Jesus, broers en susters, moet ons nie vir een oomblik dink dat dit anders was nie. Daarom wil ek u vanoggend nooi om uself saam met my terug te verplaas na daardie Vrydagoggend in Jerusalem toe Jesus gekruisig is. Waaroor, dink u, het die mense onder mekaar gepraat? Wat het hulle vir mekaar gesê? Ons weet nie regtig nie. Maar kom ons spekuleer so ‘n bietjie.

Dit was Vrydagoggend. Eintlik nog vroeg. Maar die nuus het reeds soos ‘n veldbrand deur die strate van Jerusalem versprei. Het julle gehoor? Die Nasarener word teregge¬stel! Van die stoep van die Salomo-paleis tot by die Goue Poort, van die Olyfberg tot by die tuin van Getsemane, van die tempelplein tot in die agterste straatjies van Jerusalem, het die woord die rondte gedoen: Het julle gehoor? Hulle het die Galileër! Ek het geweet Hy sal te ver gaan. Hy moes nooit die tafels van die geldwisselaars en die duiweverkopers om die tempelplein omgekeer het nie. Ek het geweet hulle sou Hom nie daarvoor vergewe nie. Ek het geweet, het ‘n ander een gesê, dat toe Hy die vroue en kinders in die tempel laat kom het en hulle daar geleer het, Hy moeilikheid gaan kry. As Hy maar net gesê het Hy was jammer, dan sou Hy heel waarskynlik met ‘n ligter straf daarvan afgekom het.

Maar is jy nou ernstig, het ‘n ander een gesê: het hulle Hom werklik gearresteer? Ek glo dit nie! Hulle was dan so bang vir die skare toe hulle dit die vorige kere wou doen. En Barabbas! Jy is seker nie ernstig nie? Het hulle hierdie Man, wat so baie gedoen het vir soveel mense, werklik as ‘n rower/opstandeling geruil vir Barabbas? En jy sê werklik dat bo alles een van sy vriende Hom uitverkoop het? Ek kan dit nie glo nie!

Dit was ‘n uur, broers en susters, wat swanger was aan soveel dinge. Grafte was op die punt om oop te bars. ‘n Aardbewing was op die punt om die aarde te skud. Die voorhangsel van die tempel was op die punt om middeldeur te skeur. Dit was oomblikke van skok en verbystering.

En dit was duidelik uit wat rondom jou gesien kon word. ‘n Paar mense het gehuil. ‘n Paar het geglimlag. ‘n Paar het teen die heuwel opgestap om die skouspel van drie kruise te aanskou. ‘n Paar was duidelik geïrriteerd dat die Paasfees se heiligheid deur ‘n aantal aktiviste ontheilig is. Ander weer het maar net gestaan en kyk, vol verbystering oor die pyn en smart wat die Man aan die middelste kruis besig was om te verduur. Hulle het geril toe daar met Hom gespot word. Toe die soldate brullend lag toe die lot bepaal wie sy kleed sou kry. Dit is verskriklik, het iemand geprewel.

En tussen almal en alles deur, broers en susters, staan iemand hardop en dink: is dit moontlik dat iemand wat sewe dae gelede met palmtakke op die grond en hosannas in die lug in Jerusalem verwelkom is, nou aan ‘n kruis hang? Daar kan darem baie dinge in sewe dae gebeur!

Daar kan egter, broers en susters, baie in net een dag gebeur. Wie sou Jesus se moeder die vorige dag daarvan kon oortuig dat sy op hierdie middaguur by haar seun se gebroke liggaam sou staan? En Josef, hy wat vir Jesus in die geheim gevolg het, wie sou hom Donderdag kon oortuig dat hy vier en twintig uur later Jesus se liggaam sou salf? En Pilatus? Sou Pilatus kon glo dat hy ‘n oordeel oor die Seun van God sou fel?

Ja, daar kan baie in vier en twintig uur gebeur. Petrus kan jou dit vertel. As jy die vorige dag vir hierdie trotse dissipel gesê het dat hy hom die volgende oggend, nadat hy Jesus drie keer verloën het, in ‘n put van skaamte en skuldgevoelens sou bevind, sou hy trou gesweer het. Of die ander tien dissipels kan jou ook vertel hoeveel verraad en grootpratery vier en twintig uur kan inhou. En Judas, die armsalige Judas: Gister nog was hy vasberade en vol planne. Vanoggend is hy dood — hy het hom self aan sy eie lyfband opgehang.

Niemand, broers en susters, niemand op daardie Paasfees in Jerusalem, was onaangeraak nie. Niemand nie. Want die ontsaglikheid van hierdie man, Jesus van Nasaret, se teregstelling het dit onmoontlik gemaak om dit te ignoreer. Die donkerte wat oor die aarde gekom het, die aardbewing, die grafte wat oopgebreek het. Almal het dit ervaar. Dit het almal geraak!

Sien jy die vroue wat daar op die straathoek staan en redekawel? Ek wed hulle praat oor Jesus. En daardie twee mans by die mark? Hulle lug heel waarskynlik hulle mening oor die selfverklaarde Messias wat so ‘n dood moes sterf. En die tallose pelgrims wat Jerusalem binnegestroom het vir die Paasfees? Hulle het almal huis toe gegaan met die fassinerende storie van ‘n leermeester wat gekruisig is, maar uit die dood opgestaan het.

Elkeen het sy mening gehad. Elkeen het kant gekies. Niemand kon neutraal staan nie. Vir elke geslepe Kajafas was daar ‘n Nikodemus of Josef wat nou nie meer bang was om openlik te erken dat hulle in hierdie Man geglo het nie. Want daar was iets omtrent hierdie kruisiging wat mense laat nader staan of laat wegstap het. Almal was geraak.

So, broers en susters, was dit ook die geval met Paulus. Ons almal ken die verhaal van Paulus se bekering, daar in Handelinge 9. Met ‘n sak vol briewe, as nougesette Fari¬seër was hy op pad na Damaskus toe om die Christene daar te gaan vervolg. Selfs dood te maak as dit nodig was, soos inderdaad met Stefanus gebeur het. Hy wou mos in hierdie Messias glo.

Maar toe gryp God hom daar op daardie Damaskuspad. Die Jesus wat gekruisig is, het Paulus besef, lewe, Hy het waarlik opgestaan! En ook Paulus, broers en susters, was nooit weer dieselfde nie.

Want in Romeine, as voorbeeld, lees ons dat Paulus homself aan die Christene in Rome bekend stel as ‘n apostel van Christus, afgesonder vir sy evangelie, die blye evangelie van die kruis en die opstanding. Ek is geroep, sê Paulus, om aan Christus te behoort. En ek kon nie anders nie. Want toe God my op daardie pad na Damaskus gegryp het, was my lewe daarna nooit weer dieselfde nie.

Daar het die waterskeiding gekom. Van Fariseër, vyand van die evangelie, het ek apostel van Christus geword, afgesonder vir die evangelie van God. Want as jy met die kruis gekonfronteer word, kan jy nie anders as om te kies nie. Soos daardie dag in Jerusalem met al die mense daar, so was dit ook met my. Ek is geroep, en ek kon nie anders nie.

En vandag, broers en susters, twee duisend jaar later, is dit nog so. Die kruis van Christus bring ‘n waterskeiding in die lewe van elke mens. Jy is óf aan die een kant, óf aan die ander. Jy moet kies. Geen draadsittery is hier moontlik nie. Die kruis laat dit nie toe nie. Dit is een luukse wat God, in sy geweldige genade, nie toelaat nie.

Hoe kies u en ek, broers en susters? Aan wie se kant is ons? Kajafas of Josef van Arimatea? Nikodemus of Pilatus? Natuurlik aan die kant van Josef en Nikodemus! Hoekom is ons dan hier vanoggend?

Die skerp vraag vanoggend, broers en susters, is inderdaad baie skerp. Dit sny seer soos ‘n stomp mes. As ons werklik vir die kruis gekies het, waar is die nuus wat soos ‘n veldbrand versprei? Daardie massas mense wat saamgedrom het, strate vanaf die plek waar daardie ontploffing as, waar was hulle daardie volgende Sondag?

Meer nog: God, sê Paulus vir die Christene in Rome, het julle lief. So lief as wat julle aan daardie kruis gesien het. Maar nie net vir hulle nie. Ook vir ons. Ook julle, sê Pau¬lus, is hierby inbegrepe. Ook julle is geroep om aan Jesus Christus te behoort.

As dit waar is, broers en susters, waar is dan die liefde van die kruis? Is dit sigbaar in ons lewens? Versprei dit soos ‘n veldbrand onder ons en tussen ons? Jaag die wind (Gees) dit onbeheersd voort en vernietig die vuur van ons liefde vir mekaar alle onkruid van haat en nyd meedoënloos? Versprei ons liefde vir ons medemens, omdat ons Messias ons tot aan ‘n kruis liefgehad het, soos ‘n veldbrand? Praat almal daaroor? Is dit die nuus van die dag?

Dit hoef nie, broers en susters, as die kruis maar net nog ‘n gebeure was nie. Maar dit was nie. Nie vir u en vir my nie. Anders was ons nie vanoggend hier nie. Of is ons hier om verkeerde redes. En dit is tog nie waar nie. Ons is hier omdat ons God liefhet. Omdat ons nie anders kan nie. Omdat, soos met Paulus, God ons gegryp het, en ons Hom nie kan los nie. Ons Hom nie wil los nie.

Ons kan egter, broers en susters, nie met die kruis doen net wat ons wil nie. Dit is nie genoeg om maar net weer van die kruis te hoor nie. Dit is ook nie genoeg om die geskiedenis daarvan na te vors nie. Of om die teologie daarvan te bestudeer nie, al is dit hoe belangrik.

Ons moet kies. Ons moet kies om die liefde van hierdie kruis, soos Paulus, en baie na hom, soos ‘n veldbrand te laat versprei. Want is daar groter nuus, was daar ooit groter nuus, dat God vir ons mens geword het, dat God as mens vir ons kom sterf het?

Ons lewens, ons liefde vir mekaar, wat soos ‘n veldbrand sal voortwoed, of stadig maar seker sal uitsterf, sal toon hoe belangrik hierdie kruis vir ons is! Of dit ons regtig raak!
Amen