Matteus 27:32-44

Die grootste wonder van almal



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die wonder van die kruis is onder andere dat die verhaal oor wat op goeie Vrydag gebeur het, afspeel op ‘n doodgewone dag en dat daar doodgewone mense by hierdie gebeure betrokke was.

As Jesus wou, kon hy natuurlik hierdie dag, in die oë van die teenwoordiges, ‘n besondere dag gemaak het deur byvoorbeeld sy grootste wonderwerke vir hierdie dag te gebêre het. Hy kon byvoorbeeld die skrifgeleerdes en priesterhoofde, toe hulle gesê het `laat Hy nou van die kruis afkom dan sal ons glo dat hy is die koning van Israel’, hulle woorde laat sluk het en hulle vir altyd stilgemaak het. Want Jesus kon as Hy wou, maar, Hy het nie.

Net so, broers en susters, was Jesus se laaste week op aarde in baie opsigte in die oë van die wat iets daarvan beleef het, 'n gewone week. Daar was wel 'n feestelikheid in die lug, maar dit was te danke aan die jaarlikse Paasfeesviering van die Jode en het niks te make gehad met Jesus se bediening op daardie stadium nie.

Goed, Jesus het wel in sy laaste week op aarde twee wonderwerke gedoen, maar hulle het amper ongesiens verbygegaan, en baie min het dit gesien. Baie min het heel waarskynlik die verdroogde vyeboom raakgesien (wat nog te sê die simboliek van hierdie wonder van Jesus), en selfs die episode van die afgekapte oor van Malgus wat deur Jesus genees het, is nie deur baie aanskou nie.

Daarom: in baie opsigte was dit 'n doodgewone week, die week voor Jesus se kruisiging. Daar was geen aanduiding dat die grootste wonder van alle tye op die punt was om te gebeur nie. Nie eers die dissipels het dit vermoed nie. Hulle het miskien raakgesien dat daar 'n verandering in miskien die gemoedstoestand van Jesus was, maar dit was so onopvallend dat ons niks daarvan in die tekste lees nie.

Selfs Jesus het niks gesê of gedoen wat daarop kon dui dat dit 'n besonderse tyd sou wees nie. Selfs God die vader het die een dag in die ander laat oorgaan sonder enige teken van wat sou kom. Ja: daar was niks wat die mense in Jerusalem daardie laaste week van Jesus se lewe laat besef het dat God self in hulle midde was nie. En daarom, broers en susters, het die meeste van hulle Hom nie eers raakgesien nie.

Hoekom, broers en susters, moet ons dan nou seker vra, gee Jesus geen aanduiding van dit wat gaan gebeur nie? Hoekom hang Hy so stil en ongemerk aan die kruis dat niemand besef dat Hy eintlik besig is met die grootste wonder wat nog ooit plaasgevind het nie, naamlik, dat Hy daar aan die kruis besig is om die hele wêreld se sondes weg te neem?

Omdat, broers en susters, die Here God ons net hier waar ons in die wêreld is, roep om Hom te volg. En wanneer God ons roep, en dink maar mooi oor wat ek nou sê, gebruik Hy nie allerhande groot wonders om met ons te kommunikeer nie. Want God is in die eerste plek nie maar net 'n towenaar nie.

Nee, Hy is die Skepper van die heelal, Hy is u en my Skepper, en daarom is Hy in hierdie wêreld teenwoordig, asook in jou en my lewe. En praat Hy elke dag met ons waar ons ook al is en waarmee ons ook al besig is.

Daarom, broers en susters, moet dus nie te opgewonde raak wanneer ander van hulle bonatuurlike ervarings praat nie. Natuurlik kan God so met mense praat — maar dit kan natuurlik ook deur ander dinge veroorsaak word. En juis daarom is dit baie belangrik om te onderskei tussen die stem van God en die stemme van die wêreld.

Dus: luister net mooi, en jy sal sy stem in die alledaagse hoor, en wat meer is, dan sal jy selfs begin beleef dat die onmoontlike moontlik kan word:

  • wil jy hê God moet jou opnuut van sy liefde en sy sorg verseker? Kyk dan môreoggend na die nuwe dag wat breek wanneer die son opkom;
  • wil jy graag weer sy krag sien? Neem dan 'n boek uit wat jou verduidelik hoe die menslike liggaam werk;
  • wonder jy soms of die Bybel regtig die Woord van God is? Maak dan gerus 'n lys van al die beloftes van God in sy Woord wat al in jou lewe tot vervulling gekom het.

Met ander woorde, broers en susters, ons moenie dieselfde fout maak as daardie mense in Jerusalem wat, toe Jesus aan die kruis gehang het 'n wonderwerk wou sien om te glo dat Hy werklik God was nie. Omdat hulle 'n wonderwerk wou sien, het hulle teleurgesteld omgedraai.

Omdat hulle 'n wonderwerk wou sien, het hulle niks indrukwekkend gesien nie — ook nie die wonder dat 'n mens aan die kruis kan hang om alle ander mense se sondes weg te neem nie. Om mense met God te versoen nie. Sodat sondaarmense nooit weer sonder God se teenwoordigheid sou wees nie. Ja, dat selfs hulle sonde nie God by hulle nie-teenwoordig sou maak nie.

Wat ons bring by Jesus se woorde aan die kruis: ‘My God, my God, waarom het U my verlaat?’ As u mooi gaan dink, broers en susters, behoort hierdie woorde 'n mens te ontstel. Hoekom? Want, en gaan maak maar vir uself seker, tot dusver het Jesus hoofsaaklik gepraat in woorde van teerheid, sorg en omgee. Wat meer is: Jesus het gewoonlik nie vrae gevra nie. Nee. Hy het eerder ander se vrae geantwoord, Hy het geleer, beveel, getroos en bemoedig.

Wat meer is: het Jesus regtig bedoel wat Hy gesê het toe Hy hierdie vraag gevra het Hy is dan God self! En God kan mos nie verlaat word nie? Of kan Hy? En dit is tog net sondaarmense wat verdien om gestraf te word, wat verdien om regtig aan hulleself oorgelaat te word. So iets kan mos nie met God self, die Koning van alle konings, die Lam van God gebeur nie!

Om hierdie vrae te antwoord, broers en susters, kom ons luister weer mooi wat Johannes (in Joh 1:29) van hierdie Lam van God sê: `Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld sal wegneem’.

In hierdie woorde van Johannes, broers en susters, lê die antwoord op ons vrae opgesluit. En om die antwoord in hierdie woorde van Johannes raak te sien is nie maklik nie, en juis daarom lees ons dikwels so maklik oor die geweldige waarheid wat in hierdie paar eenvoudige woorde opgesluit lê.

Wat meer is, ons aanvaar soms sommer so maklik dat Jesus die sonde laat weggaan het soos Hy byvoorbeeld van duiwels en demone in sy tyd ontslae geraak het. Ons dink soms dat Hy die sonde beveel om uit ons te gaan wanneer ons ons sonde bely, en daarmee is dit vir ons afgehandel.

Daarom verstaan ons nie altyd wat dit beteken wanneer Johannes sê dat die Lam ons sondes sal wegneem nie, dit wil sê, ons verstaan nie hoe Jesus dit gedoen het en hoe diep dit Hom geraak het nie.

Kan ons ons enigsins indink, broers en susters, hoe daardie oomblikke van Godverlatenheid vir Jesus moes gevoel het? Hoe dit vir Hom, wat sonder sonde was, moes gevoel het om met die hele wêreld se sonde besmet te wees? As ons iets hiervan wil verstaan, broers en susters, dink maar net hoe daardie tye was wat u en ek gedink het dat God nie meer by ons was nie, dink maar net aan daardie tye toe u en ek skaam, gebroke en neergevel voor God met ons sonde moes staan .

Verstaan u dan, broer en suster, hoekom Jesus van God verlate was? Omdat Hy u en my angs beleef het, omdat Hy met al ons sonde voor God moes gaan staan, maar met een groot verskil: Hy het dit nie verdien nie, ons verdien dit. En hoewel Hy onskuldig was, het Hy u en my sonde op Hom geneem, was Hy verlate sodat ons vry kan uitgaan.

Waar kry 'n mens 'n groter wonder as dit?

  • 'n Wonder, broers en susters, wat ons ook sal miskyk wanneer ons nie die woorde van God wat ons vandag en in sy Woord hoor, wil glo nie;
  • 'n wonder, broers en susters, wat ons ook sal miskyk wanneer ons voor God gaan staan, ons sonde bely en nie wil glo dat dit vergewe is nie;
  • 'n wonder, broers en susters, wat ons sal miskyk wanneer ons soms glo God is nie meer by ons nie;
  • ja, 'n wonder, seker die grootste wonder ooit, wat ons miskyk wanneer ons meen dat vandag, Goeie Vrydag, maar net nog 'n dag soos alle ander dae is, juis omdat dit maar lyk soos nog net een van alle ander dae.

Mag u en ek nie die fout maak soos hulle daar in Jerusalem gemaak het nie. Want wie God in alles in sy of haar lewe raaksien, sal opstaan en lewe soos Jesus opgestaan het en lewe.
Amen