Markus 15:33-41

Die kruis is genade



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
My naam is Claudius Andronicus. Ek is 'n offisier in die Romeinse weermag. En vanoggend wil ek julle graag vertel van iets wat gebeur het toe ek in die jaar 30 NC in die provinsie Palestina gestasioneer was.

Maar kom ek vertel julle eers iets van myself. Ek is gebore in 'n klein dorpie net buite Rome in Italië. Ek is gebore as 'n Romeinse burger en het al die voordele van Romeinse burgerskap geniet. Soos die meeste jong manne, het ek by die Romeinse leer aangesluit nadat ek eers 'n goeie opvoeding ontvang het.

Na my opleiding, is ek uitgeplaas na verskeie dele van die Romeinse Ryk, en is later bevorder tot die rang van centurio, of dan offisier, wat beteken het dat ek in bevel van honderd manskappe geplaas is.

Ek en my manne het opdrag gekry om na die provinsie Palestina toe te gaan. Ons was nie juis baie opgewonde oor hierdie skuif nie, aangesien almal geweet het dat dit maar baie onstuimig was in Palestina. Dit was die land van die Jode, of dan die Judeërs, en sommiges van hulle het aanhoudend in opstand gekom teen die Romeinse regering se bewind.

Die Judeërs was 'n vreemde volk. Anders as al die ander volke waarmee ek te doene gekry het, soos die Romeine, die Grieke en al die ander volke in die Midde-Ooste, glo die Judeërs in net een God. Hulle het ook glad nie beelde wat hulle aanbid nie. Hulle aanbid hulle een God in ‘n tempel wat in Jerusalem staan. Hierdie plek is vir hulle geweldig heilig, en sekere tye van die jaar trek almal op na hierdie tempel om te aanbid. Dit is veral dan wanneer opstande en moeilikheid aan die orde van die dag is.

Terwyl ons daar in Jerusalem gestasioneer was, het ons gehoor van 'n nuwe groepering wat ontstaan het. Hierdie mense was die volgelinge van Jesus. Hulle was 'n baie vreedsame groep, glad nie gewelddadig soos byvoorbeeld die Esseners of Makkabeёrs nie. Hulle leier, Jesus, het mense gesond gemaak, verkondig dat die koninkryk gekom het, en het selfs mense uit die dood opgewek. Hy het van vrede, liefde, omgee en vergifnis gepraat. Daar is selfs vertel dat Hy op ‘n keer met net 'n paar brode en vissies 'n skare van 'n hele paar duisend mense laat eet het! Hulle was rustige mense wat nie moeilikheid gemaak het nie, maar om een of ander rede kon die Joodse godsdienstige leiers hierdie Jesus glad nie verdra nie.

Meer en meer mense het na Hom toe begin stroom en net nou die dag, toe Hy ook vir die jaarlikse fees na Jerusalem toe gekom het, het dié saam met Hom en baie van die inwoners van Jerusalem Hom soos 'n koning behandel. Hulle het palmtakke en van hulle klere voor Hom uitgesprei soos hulle met 'n koning sou maak – maar Hy het nie juis baie koninklik gelyk nie, Hy het dan daar aangery gekom op 'n ou donkietjie!

Ek dink dat die Joodse godsdienstige leiers toe besef het dat hulle plan sou moes maak met hierdie Jesus, want Hy was besig om gans en al te gewild te word. En toe maak hulle hulle plan.

Laat een aand, het ek opdrag gekry dat ek en 'n klompie van my manne saam met 'n klomp van die Joodse priesterhoofde moes gaan om hierdie Jesus in hegtenis te gaan neem. Ek het nie geweet hoekom nie, of wat die klag kwansuis was nie, maar bevele is bevele.

Saam met die priesterhoofde, is ons toe na middernag na 'n tuin buite die stad, 'n tuin met die naam Getsemane. Daar het een van Jesus se eie volgelinge vir ons gewys presies wie dit is wat ons moet arresteer, deur Jesus op sy wang te soen. In die geharwar van die arres en bakleiery met Jesus volgelinge, het ek gesien dat daar werklik iets besonders aan dié Jesus was. Hy het kalm gestaan en wag dat ons Hom moet arresteer. Hy het Hom nie verset nie, so al of Hy geweet het wat gaan gebeur en wou gehad het dat dit moes gebeur.

Die priesterhoofde het nog dieselfde nag hierdie Jesus verhoor en daarop aangedring dat Hy volgens hulle godsdienstige wette skuldig was. Nog die goewerneur Pilatus, nog Herodes, wat deur my keiser as koning van Palestina aangestel is, wou die verantwoordelikheid vat om Jesus te veroordeel. Ek en my manne moes bontstaan, want die Judeërs het erg opstandig begin word toe Pilatus nie vir Jesus ter dood wou veroordeel nie, soos die Joodse leiers aangedring het moet gebeur nie.

Toe ons amper nie meer die skare kon beheer nie, het Pilatus vir die Jode voor 'n keuse gestel. Dit was die gebruik om tydens die Joodse paasfees een Joodse gevangene vry te laat. Pilatus het gesê dat hulle moet kies : Of hy laat vir Barabbas, 'n veroordeelde moordenaar vry, of hy laat vir Jesus vry. En Die skare het geskreeu dat Barabbas vrygelaat moet word en dat Jesus gekruisig moet word.

Pilatus het toe maar gehoor gegee aan die skare se geskree en aan my en my manskappe die opdrag gegee om toe te sien dat Jesus gekruisig word. Die skare se geskreeu het 'n slegte uitwerking op my manne gehad. Hulle is meegesleur deur die woede van die skare en hulle het ook vir Jesus gespot. Hulle het Hom geslaan met swepe, hulle het op Hom gespoeg en Hom verder verneder deur Hom soos 'n kamma koning te behandel. Hulle het vir Hom 'n pers mantel aangetrek soos 'n koning sou dra, hulle het 'n kroon van dorings op sy kop gesit, hulle het vir Hom 'n stok in plaas van 'n koninklike staf in die hand gestop. Ek het hulle maar laat begaan.

Ons het Jesus, soos die gebruik was, self die dwarsbalk van sy kruis laat dra deur die strate van Jerusalem, op pad na die plek waar Hy gekruisig sou word. Op 'n stadium het Hy inmekaargesak – en ek het toe een van die omstanders gekommandeer om Jesus se kruis verder te dra.

Buite die stad was daar 'n koppietjie wat hulle Golgota genoem het. Dis waar die mense gekruisig is. Ek gaan julle die detail van die kruisiging spaar, want dis een van die wreedste maniere om iemand tereg te stel wat ek ooit aanskou het. Genadiglik mag ons as Romeinse burgers nooit gekruisig word nie – dis 'n straf wat net nie-Romeine kan tref!

Dié Jesus het 'n paar goed gesê terwyl Hy daar aan die kruis hang. Die laaste ding wat Hy gesê het, onthou ek baie goed. Hy het gesê : ‘Dit is volbring’ en toe het sy kop vooroor gesak en Hy het sy laaste asem uitgeblaas. Ek onthou dit, want dis so al of dié Jesus wou sterf. Hy is dood na net 'n paar ure op die kruis – dit het meestal 'n paar dae gevat voor iemand wat aan 'n kruis hang, doodgegaan het.

Toe Jesus sy laaste asem uitblaas, het dit skielik baie donker geword, daar was aardbewings en hulle het my later vertel dat 'n groot gordyn in die Jode se tempel middeldeur geskeur het. Alles wat ek van hierdie Jesus gesien het, alles wat ek Hom hoor sê het, alles wat rondom sy dood gebeur het, het ‘n geweldige indruk op my gemaak. Ek het daar aan die voet van die kruis gestaan en ek, Claudius Andronicus, centurio van die Romeinse Leer, het bely: ‘Hierdie man was werklik die Seun van God!’ Baie ander daar het dit gesê, maar ek het dit geglo. Want wat daar gebeur het, was anders. Hierdie man was anders. En ek kon sien, al het Hy eintlik daar gehang, Hy was nie werklik alleen nie.

Broers en susters, ek het die naam Claudius Andronicus sommer maar net opgemaak. Ons weet nie wie die offisier, wat so bely het, was nie. Ek het dié storie maar so vertel sodat ons 'n baie bekende verhaal hopelik 'n bietjie vanuit 'n ander oogpunt kan sien.

En nou is die vraag, op Goeie Vrydag is, wat maak ons met hierdie verhaal, wat beteken dit vir ons? Ek wil die vraag vanoggend op ‘n anderste manier probeer antwoord. Die bekende digter Jeanne Goosen, het, na haar pa se dood, ‘n gedig oor sy dood geskryf, getiteld ‘Bibberende Piet’. Haar pa het in ‘n motor gesterf, en net na sy dood het diewe ingebreek en sy lyk besteel. Sy noem haar pa ‘Bibberende Piet’ omdat sy klere gesteel is en hy, menslik gesproke, nakend voor God sou verskyn.

Maar hy was ook om ‘n ander rede bibberend: al was hy gelowig, was hy baie krities teenoor die kerk van sy tyd. Toe die familie iemand soek om hom te begrawe, kon hulle geen predikant kry om dit te doen nie. Ook by die kerk het hy 'n koue skouer gekry. En nou skryf Jeanne Goosen ‘n gedig, wat eintlik 'n brief aan die Here is, ‘n brief waarin sy die Here wil help om haar pa te erken. Sy skryf:

Hy stap effens mank en lyk nog goed vir sy jare
Die begrafniskunstenaar het hom mooi gemaak vir u poorte
Sy mond en wange bloei soos jong rose
En hy dra 'n wit jurk
Here, U sal hom erken aan sy oё
Dié het hul blou vrae behou
Is dit u opdrag dat u herders hom nie moet begrawe nie
Omdat hy nooit tuis in u huis gevoel het nie?
Here
U wat oordeel uitspreek en verdoem
U wat trooswoorde gee en hulle ook wegneem
Beloof my
As Bibberende Piet by U aandoen
Maak u genade aan hom duidelik....

Ons wat glo, broers en susters, weet wat God se genade is. Hy het dit aan ons duidelik gemaak daardie dag op Golgota. So duidelik, dat selfs die Romeinse offisier dit kon sien, daardeur aangeraak is. Genade wat so geweldig is, dat dit ‘n mens aangryp, en ja maar net kan staan en sê: Waarlik, Hy is die Seun van God!

Genade wat so geweldig en omvattend is, dat alle skeiding op hierdie dag weggeneem is tussen God en ons. En is daar vir ons plek gereed in die huis van ons – vir almal wat weet en waaragtig glo dat Hy die weg en die waarheid en die lewe is.

Met hierdie kruis het Hy vir ons plek gereed gemaak by sy Vader. Vir 'n Claudius Andronicus, vir 'n Bibberende Piet, vir jou, en vir my. Dit is immers waarom ons vandag Goeie Vrydag noem.
Amen