Lukas 22:47-51; 23:13-18, 23-25, 44-49

Geraak deur die kruis of nie?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Wanneer ons die evangelies lees, en in besonder die gedeeltes rondom die kruisiging van Jesus, sien ons dat twee soorte mense deur die kruisdood van Jesus geraak is: hulle wat gekies het om daardeur geraak te word (diegene wat Jesus van die begin af gevolg het soos Maria en die ander vroue), en diegene wat toevallig daardeur geraak is. Onder hulle tel veral die minder bekende karakters in die evangelies, die terloopses, mense soos Malgus, Barabbas, en die Romeinse offisier wat die lyding van Jesus aan die kruis, asook die oomblik van sy dood aanskou het. Aan hierdie drie karakters wil ek vanoggend aandag gee, om dan so uit te kom by dit wat die kruis van Jesus Christus aan ons gedoen, of nie gedoen het nie, tydens die Paasfees wat so pas verby is.

Kom ons kyk eerste na Malgus. As slaaf van die hoëpriester het hy bloot sy werk daar in die tuin van Getsemane gaan doen. As hy egter nie so vinnig gekoes het nie, sou hierdie roetine-inhegtenisneming van ‘n soge­naamde opstandeling die laaste taak van sy lewe gewees het. Heel waarskynlik het die fakkels net genoeg lig verskaf sodat hy die swaard sien flits het. Hy het sy nek uit die pad van Petrus se swaard geruk, en genadiglik het net sy oor in die slag gebly. Jesus het Petrus aangepraat, Malgus se oor aangeraak, en alles was verby. Die kort gebeurtenis was verby, so vinnig as wat ons dikwels oor en verby dit lees.

Dit was egter, broers en susters, nie so vinnig vir Malgus verby nie. Was dit nie vir die bloed die volgende oggend op sy klere nie, sou Malgus seker gedink het dat hy maar net ‘n nare droom gehad het. Daar word egter vertel dat Malgus later onder die gelowiges in Jerusalem getel het. Ons weet dit nie vir ‘n feit nie. Maar wat ons wel weet was dat Malgus van daardie aand af nie minagtend gelag het wanneer mense gepraat het van die Timmerman wat uit die dood opgestaan het nie. Want hy het maar net aan sy gesonde oor gevat en geweet: daardie Man was waarlik die Seun van God.

Die gebeure rondom Barabbas se vrylating, broers en susters, moes vir Barabbas seker net so verrassend en vinnig gewees het. Want die een oomblik het hy nog in daardie sel gesit en wonder watter dag sy teregstelling sou wees, en die volgende oomblik het iemand sy seldeur oopgesluit met die woorde: jy is ‘n vry man, jy mag maar gaan. Hulle gaan die Nasarener in jou plek teregstel. Iemand wat jy nog nooit gesien het, wat niks te make het met al die onreg wat jy gepleeg het nie, gaan jou plek inneem. So, jy kan maar gaan.

Sover ons weet, broers en susters, het Barabbas die lewenslyn wat na hom uitgegooi is, met albei hande aangegryp. heel waarskynlik het hy sy paar besittinkies daar in die tronksel bymekaargeskraap, en homself so gou as moontlik uit die voete gemaak. Sover as moontlik van daardie tronk af. Want kan ons ons indink, broers en susters, dat Barabbas sou gesê het: ag nee wat, maar dankie in elk geval, ek stel nie belang nie. Ek sal liewers hier toegesluit sit en wag vir my dag van teregstelling.

Dan was daar die Romeinse offisier, broers en susters. Al wat hy gedoen het was om te sien hoe Jesus Christus aan daardie kruis gely en gesterf het. Hy het heel waarskyn­lik Jesus nooit hoor preek nie, nie een van sy gelykenisse aangehoor nie, nooit gesien hoe Hy daar op die Galilese platteland mense gesond gemaak het nie. Hy het heel waarskynlik ook nie aanskou hoe Jesus die brood en vis vermeerder het, of die storm stilgemaak het nie. Nee, al wat Hy gesien het, was hoe Jesus Christus gesterf het. Maar dit was al wat vir hom nodig was om te kon uitroep: Waarlik, hierdie Man was onskuldig, waarlik, Hy was die Seun van God!

Hierdie drie persone, broers en susters, al was dit nie bewustelik hulle plan nie, was al drie geraak deur die gebeure rondom die kruisdood van Jesus. En nie een van hulle se lewens was daarna dieselfde nie. Die een was genees en het daarom geglo, die was vry, en die ander was nie skaam om openlik te bely dat daardie Man aan die kruis God self was nie.

En ons, broers en susters? Wat van ons? Ons het so pas Paasfees gevier. Vir die afgelope twee maande, om die waarheid te sê, het ons weer in die verkondiging gehoor van Jesus Christus se lyding en sterwe. Van sy opstanding. Dat Hy lewe. Meer nog: elke Sondag bely ons, saam met die gemeente, dat Jesus gely het, gekruisig is, en opgestaan het. Wat, as ons werklik eerlik moet wees, het dit, en doen hierdie waarhede oor ons Verlosser aan ons?

Kom ons noem ‘n paar moontlikhede. Barabbas, het ons gesien, het, toe hy gehoor het hy is vry, sy vryheid met ope arms ontvang. Sy geskenk van verlossing het hy aangegryp, dit nie probeer ontleed, daaraan getwyfel, of probeer om daarvoor te betaal nie. Nee, hy het dankie gesê en dit aanvaar.

Wat maak ons egter, broers en susters, so dikwels met die verlossing deur genade wat ook aan ons gebied word. Want ook met ons is dit soos dit met Barabbas was: ons sit in die tronk van sonde, in die tronk van verlorenheid, in die tronk van verdoemenis. En die klagstaat teen ons, wat in die hof gelees gaan word, is onmenslik lank. Daar is, en ons weet dit, geen manier, geen prokureur, geen tegniese punt van die wet, wat ons sal help om nie skuldig bevind te word nie. Dit is met ons, as dit kom by God, verby.

Maar dan kom die boodskap. Jy kan gaan. Die Nasarener gaan in jou plek boet. Jou klagstaat is skoon, jy is vry. En wat maak ons dan so dikwels, broers en susters? Dit is so tragies. Ons ontleed eers hierdie vryspraak, en wonder heimlik of dit regtig waar is dat ons vry is. Al staan die seldeur wawyd oop. Of ons sê: goed, ek aanvaar dit, maar ek kan nie maar net gaan nie. Ek sal so ‘n maand of wat die ander gevangenes oppas, of vir hulle kos maak. Of, laat ek eers vir ‘n maand of twee die tronk elke dag skoonmaak. En as ek voel ek het dit verdien, dan sal ek my vryheid aanvaar.

Hoekom is dit vir ons so moeilik, broers en susters, om te aanvaar dat ons uit genade gered is? Hoekom is daar altyd in ons een of ander vreemde drang om op God se gratis verlossing te reageer deur wette, moets en moenies, stelsels en regulasies die een na die ander op mekaar te stapel? Dat ons daarmee darem seker kan maak dat ons ons geskenk van verlossing werd sal wees?

Hoekom doen ons dit? Die enigste rede waaraan ek kan dink is ons trots. Om genade te aanvaar, beteken in wese om die noodsaak van genade te aanvaar. En die meeste van ons hou nie daarvan om te hoor dat ons iets kry wat ons nie eintlik verdien nie. Want ons weet: om genade te aanvaar, is om te sê dat ons totaal afhanklik van God is, dat ons uit onsself niks kan doen nie. En daarvan hou ons nie ‘n bietjie nie.

Maar nie Barabbas nie, broers en susters. Hy het van beter geweet. Hulpeloos in sy dodesel, was hy nie bereid om die opskorting van sy doodsvonnis te weier nie. Hy het die nie verstaan nie, hy het dit nie verdien nie, maar hy het dit ook nie geweier nie. En daarom sy vryheid aange­gryp. Hoekom party van ons kies om in die tronk van verlorenheid te bly terwyl die seldeur oop is, is daarom ‘n raaisel wat die moeite werd is om oor te dink.

Ook, broers en susters, is ons dikwels in ons geloof alles behalwe ‘n Malgus. Wanneer ons in ‘n krisis kom, wanneer ons wanhoop begin beleef, wanneer ons begin twyfel of daar uitkoms gaan wees, word ons so maklik vergeetagtig. Plaas dat ons maar net soos Malgus maak, en spreekwoor­delik aan ons gesonde oor vat: waar ons gerus maar kan terugdink aan al daardie kere, toe ons ook krisisse beleef het, God ons uitgered het. God vir ons goed was. God ons omstandighede en harte gesond gemaak het. Hy die eensaamheid weggevat het. Die oplossing vir wat ook al gegee het.

Om dan te weet: ek het die tasbare bewyse dat God my nie hier in die steek sal laat nie. Hy het die dood oorwin, en daarom kan niks my in hierdie lewe oorval nie.

Wat, ten slotte, broers en susters, het gemaak dat daar­die Romeinse offisier bely het dat Jesus wat gesterf het die Seun van God was? Heel waarskynlik het hy raakge­sien dat Jesus Christus, in sy donkerste uur van nood, in die diepste punt van sy lyding, nie sy gesig van se hemelse Vader weggedraai het nie. Inteendeel. Dat Jesus, toe Hy sy laaste asem uitgeblaas het, gesê het: Vader, in U hande gee Ek my gees oor. U bly my laaste uitweg.

Heel waarskynlik het hy gesien dat geloof eers op die harde pad van teenspoed en swaarkry ‘n werklikheid word. Dat die egtheid van iemand se geloof in tye van pyn eers werklik sigbaar word. Want dit is eenvoudig so, broers en susters: geloof is nie op sy helderste sigbaar hier in die erediens, tydens kerkuitstappies of in tye van voorspoed nie. Nee, dit is daar langs die hospitaalbed, in die kankersaal, daar in die begraafplaas by die oop graf van ‘n geliefde, waar geloof die sigbaarste word.

Dalk is dit wat hierdie geharde soldaat geroer het. Die kalmte waarmee Jesus gely het. Daardie woorde aan die kruis wat nie van wanhoop en opstand teen God gespreek het nie. Daardie aanvaarding dat sy hemelse Vader in beheer was, dat sy hemelse Vader die doel agter alles verstaan het.

Wat, broers en susters, het die kruis hierdie Paasfees met u gemaak? Is ons bereid om eenvoudig te aanvaar dat ons vry mag uitgaan? Is ons bereid om in tye van nood terug te kyk na die pad wat God nog altyd met ons gestap het? Meer nog: het ons God deur sy Seun aan die kruis tydens hierdie Paasfees weer so ontmoet dat ons bereid is om ook in alle omstandighede ons geloof te laat blyk?

Glo ons werklik dat ons vry is, soos Barabbas? Glo ons dat God ons werklik aangeraak het, soos Malgus? Glo ons dat God ook in alle omstandighede by ons is, dit wat daardie Romeinse offisier gesien het terwyl Jesus Christus aan die kruis gehang het?

Of, broers en susters, is ons nog presies dieselfde? Dan het die kruis van hierdie Pase vir ons niks beteken nie. Dan moet ons ook mooi dink wanneer ons volgende keer saam met die gemeente wil bely dat Jesus gely het, gekruisig is en opgestaan het.

Feit is: dit bly ongelooflik dat die deur van die sel vir ons oopgaan, maar ons bly binne sit. Hoe swaar moet so lewe nie wees nie!
Amen