Eksodus 12:1-11; Numeri 9:1-14

Goeie Vrydag moet elke Vrydag word



Broers en susters in onse Here Jesus Christus
Ons vier vandag, saam met al die Christene regoor die wêreld, Goeie Vrydag, die dag waarop Jesus aan die kruis gesterf het. Die vraag hoekom Jesus aan die kruis gesterf het, broers en susters, kan op verskillende wyses beantwoord word.

Natuurlik sal een van die antwoorde moet wees dat Jesus aan die kruis gesterf het om ons, sondaarmense, met God te versoen. As offer in ons plek. Ook sal ‘n gedeelte van die antwoord moet wees dat God dit so bestem het, dat dit God se wil was, soos ons byvoorbeeld baie duidelik uit Efesiërs 1:1-13 kan aflei.

Hoe God dit alles tot uitvoering gebring het, broers en susters, en watter rol die mense in die tyd van Jesus gespeel het ten opsigte van sy dood, is egter nie so maklik te beantwoord nie. Kom ons formuleer dit so: God gebruik soms mense, in hulle gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid, om sy pad met mense en die wêreld te stap. So ook met die dood van Jesus: dit was God se wil, dit was God se liefdesdaad van versoening, en op een of ander wyse het mense, en die dade van mense, ‘n rol gespeel in die plan van God met die wêreld.

Wat ons wel egter baie stellig oor die mense in die tyd van Jesus kan sê (en hier verwys ek spesifiek na die Fariseërs, die Sadduseërs, die skrifgeleerdes, die tempelowerhede en die familiehoofde [die Joodse leiers]) is dat een van die redes waarom hulle Jesus gekruisig het, die wyse was waarop Jesus die wet geïnterpreteer het.

Die wyse waarop die Joodse leiers in die tyd van Jesus die wet geïnterpreteer het, was baie rigied en baie duidelik. God was net teenwoordig by Israeliete, nie by heidene of ander vreemdelinge nie. En dan ook nie by alle Israeliete nie. Vroue en kinders mag nie in die tempel gekom nie. Ook nie mans met bepaalde gebreke (soos lammes, blindes en melaatses) nie, want mense soos hulle was gereken as sondaars. Alleen hulle wat volledig voldoen het aan al die reinheidsmaatreëls (soos om jouself op die regte tye en regte plekke met die regte hoeveelheid water te reining, borde en bekers reg te was, nie aan onreines of lyke te raak nie) was die mense wat in die mog kom, was die mense by wie God teenwoordig was. Hulle was die kinders van God, en alle ander mense was uitgesluit.

Jesus, broers en susters, het hierdie wette van sy tyd egter radikaal anders geïnterpreteer. In die eerste plek het Jesus verkondig dat God by alle mense teenwoordig was, Israeliet of nie. Verder het Jesus verkondig dat alle mense voor God gelyk was, nie alleen wat herkoms betref nie, maar ook wat betref geslag en ouderdom. God was, volgens Jesus, baie alle mense teenwoordig, ingesluit die sogenaamde sondaars van sy tyd, dié met allerhande gebreke. Volgens Jesus was die enigste wet die wet van die liefde: liefde tot God en die naaste.

Hierdie interpretasie van die wet, broers en susters, het Jesus in ernstige konflik met veral die tempelowerhede gebring. ‘n Konflik wat geëskaleer het tot op ‘n punt waar ‘n misdadigers in die plek van Jesus vrygelaat is, en Jesus aan die kruis moes sterf.

Die interessante van dit alles, broers en susters, en eintlik ook die stuk ironie agter dit alles, is dat Jesus se interpretasie van die wet nie so nuut was nie. Hoekom sê ek so? Want ons vind dit reeds in die Ou Testament, en meer spesifiek, in die twee gedeeltes wat ons saamgelees het.

In Eksodus 12 sien ons gaan dit oor die instelling en die vier van die Paasfees. Die Paasfees, broers en susters, was vir Israel baie belangrik, en wel om drie redes. Eerstens was die hou van die Paasfees ‘n viering van hulle verlossing uit Egipte, dit wil sê, dit was ‘n fees van bevryding uit slawerny. Tweedens was die fees vir hulle belangrik omdat die vier van hierdie fees hulle identiteit bepaal het, wie en wat hulle was. Die volk van God, bevry uit slawerny. Derdens was die fees belangrik omdat dit ‘n fees van troos en bemoediging was. Die fees was ‘n herbevestiging van die feit dat God ‘n pad saam met sy volk stap, en dat Hy sy volk nooit in die steek sou laat nie.

Die voorskrifte vir die vier van die fees was baie duidelik: op die eerste maand van die jaar, die tiende dag, moes teen laatmiddag ‘n jaaroud rammetjie sonder gebrek per gesin geslag word. Nog dieselfde nag moes die lam haastig geëet word, gaar gebraai, saam met ongesuurde brood en bitter kruie.

Wanneer ‘n mens nou na Numeri 9 blaai, broers en susters, sien ons dat die voorskrifte rondom die vier van die Paasfees dit egter vir sommige mense onmoontlik gemaak het om aan die Paasfees deel te neem. Drie soorte/groepe mense is uit die Paasfees uitgesluit: hulle wat onrein was (wat bv aan ‘n lyk geraak het omdat hulle bv ‘n geliefde moes begrawe), hulle wat ver op reis was (en dus nie saam met die gesin die Paasfees kon vier nie), asook die vreemdelinge onder die volk (hulle wat nie van Israelitiese afkoms was nie, maar tog in die God van Israel geglo het).

Dus: wette het verhinder (soos in die tyd van Jesus) dat mense kon deelneem aan die diens aan God nie. Moses, sien ons, het daarom, nadat hy (heel waarskynlik in gebed) God geraadpleeg het, ander voorskrifte daar gestel wat dit ook vir hierdie mense moontlik gemaak het om aan die fees deel te neem. Op die veertiende dag van die tweede maand, het Moses beveel, mag hierdie mense ook die geleentheid kry om die fees te vier. Ook hulle moes die geleentheid hê om by wyse van hierdie besondere fees God te loof en prys vir verlossing uit slawerny. Wette, het Moses by implikasie geleer, mog mense nie van God en diens aan God weghou nie.

Presies dieselfde boodskap, broers en susters, wat ons vind in die verkondiging van Jesus. God, het Jesus geleer, was teenwoordig by alle mense. En geen menslike wet mag maak dat die mens nie met verhouding in God kan tree nie.

Wat, broers en susters, sê dit alles vir ons wat betref Goeie Vrydag, die Paasfees wat ons vier? Ek dink ‘n mens sou in die eerste plek baie maklik kon aantoon hoe ons viering van die Paasfees aansluit by die viering daarvan in die Ou Testament: hulle het hulle bevryding uit Egipte gevier, ‘n bevryding van slawerny. Ons vier met Paasfees ons bevryding uit die slawerny van sonde en die dood. Meer nog: ook vir ons is hierdie fees ‘n fees van troos en bemoediging. Jesus aan die kruis is ons troos in lewe in sterwe, ons is met God versoen. Jesus aan die kruis, Jesus die een wat ly, moedig ons aan om in tye van eie lyding ook ons kruis op te neem en selfverloënende te volg. Ook: Goeie Vrydag, en die vier daarvan, bepaal ons identiteit, dit sê: deur hierdie kruis het ons God s’n geword, God se kinders geword, deur hierdie kruis is ons met God versoen, word ons nou God se kinders genoem.

Vier ons dit egter nog so, broers en susters? Of kom ek vra anders: vier ons dit nog enigsins? In die Ou Testament was diegene wat ver op reis gegaan het, aanvanklik van die fees uitgesluit. Wat maak ons? Ons gaan dikwels tydens hierdie fees self ver op reis, en sluit onsself so van hierdie fees uit. Paasfees het vir baie, ek wil amper sê, vir die volk, Paasvakansie geword. Waar ons ons orals bevind behalwe as in die kerk. Kyk maar gerus, broers en susters, na ons viering van Kersfees. Dit val ook in die vakansie, maar daar is nie plek vir ‘n muis in die kerk nie. Kom Goeie Vrydag, en daar sit amper net muise in die kerk.

Wat meer is, ook ons het maar nog ons mensgemaakte wette wat onsself en ander soms van hierdie fees, en die betekenis van hierdie fees uitsluit. Kom ek noem u ‘n paar voorbeelde: een van die eerste betekenisse van Goeie Vrydag is dat Jesus vir ons sondes aan die kruis gesterf het. Anders gesê: na die kruis kan ons ons sonde voor God lê, met berou, en dit word ons vergewe. En, omdat God vergewe, moet ons ander ook vergewe.

Wat maak ons egter? Ons sê: maar hierdie een het iets aan my gedoen, so geweldig, met sulke omvang, dat ek hom/haar nie kan vergewe nie. ‘n Mens kan alles vergewe, maar dit kan nie. Wat maak ons dus: ons stel ‘n mens¬gemaakte wet bo die wet van die liefde. Dan broers en susters, sluit onsself uit hierdie fees uit.

Gepraat van die liefde. Jesus aan die kruis is God se liefdesverklaring aan die mens. Na die kruis hoef ons nooit weer te twyfel of God ons regtig liefhet nie. Dit is die boodskap van Goeie Vrydag. Daarom vier ons hierdie fees. Maar ons moet dit ook elke dag vier deur aan ander die liefde te gee wat God aan ons bewys het. Dus: wanneer ons dit nie doen nie, kruisig ons vir Jesus net weer en weer, maak ons sy kruisdood tot niks. Sê ons: hierdie of daardie persoon het nie ons liefde, in wese God se liefde, nodig nie. Hy/sy is dit nie werd nie. Waarmee ons eintlik sê: Jesus se liefde aan die kruis het my nog nie aangeraak nie. Dit het nog nie my lewe so verander dat ek met daardie selfde liefde ander se lewens wil verander nie. En so sluit ons hulle van die betekenis van hierdie fees uit, elke dag van ons en hulle lewens.

Goeie Vrydag, broers en susters, die betekenis van Goeie Vrydag, word nie alleen gevier deur op hierdie dag hier te kom sit nie. Dit moet elke dag gevier word. So gevier word in ons verhoudinge met dié rondom ons, dat ons dit elke dag, in almal se lewens, Goeie Vrydag maak. Die liefde van God aan die mens wat op hierdie dag sigbaar gemaak is, moet elke dag aan alle mense gegee, gedoen en geleef word.

As ons dit nie doen nie, is ons terug by Eksodus 12. Is ons terug by die Joodse leiers se interpretasie van die wet. Waar sommiges van God se liefde afgesny was. Omdat mense geoordeel het, met al hulle wette, dat sekeres nie God se liefde waardig is nie.

Jesus het dit kom verander. Hy het sy lewe daarvoor gegee om dit te verander. Al wat Hy vra is dat ons, deur te lewe, deur die liefde te lewe, ook ander se lewens sal verander. Omdat Jesus Christus ons lewens verander het.

Wanneer ons mekaar troos en bemoedig, aan mekaar, aan alle mense, die liefde van die kruis uitdeel, word die lewe een stuk fees: ‘n fees waarin Paasfees elke dag leef. ‘n Fees wat sê: God is by almal, vir almal. Mag ons, broers en susters, dit so doen, dat elke Vrydag vir die rondom ons Goeie Vrydag word, dat elke dag vir hulle Goeie Vrydag word. Want daarmee sê ons, daarmee bely ons, dat Jesus nie verniet aan die kruis gesterf het nie.
Amen