Lukas 23:13-25

Goeie Vrydag, nie amper Goeie Vrydag



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die woordjie amper is seker een van die hartseerste woorde in ons woordeskat. Want die woordjie amper val in dieselfde klas as die woordjies ‘byna’, ‘volgende keer’, ‘as ek maar net’, en ‘min of meer’. Dit is ‘n woord wat iets sê van verspeelde kanse, halwe pogings en verbroude geleenthede. Dit is soos eerbare vermelding, onderkap¬tein, op die reserwebank sit, tweede kom in die resies en verbrande koekies.

Amper praat van daardie grote wat aan die hoek weggekom het, die slag wat amper geslaan was, die waagstuk wat so hittete uitgewerk het. Want dit was amper. Dit was darem wraggies so naby. So amper. Ek was amper die vin¬nigste. Dit was amper, of ek het dit reggekry.

So lank as wat daar mense op aarde is, broers en susters, so lank is daar al ampers. Mense wat amper die stryd gewen het. Wat amper die berg uitgeklim het, wat amper die Comrades klaargemaak het. Wat amper die skat onder op die see se bodem gevind het.

En, broers en susters, glo dit as u wil, een van die bekendste en beroemdste ampers vind ons in die Bybel. Pilatus is hierdie amper se naam. Maar sy amper was nie maar net nog ‘n amper nie. Nee. Sy amper was belangriker as enige ander amper in die geskiedenis van die hele wêreld.

Want Pilatus, broers en susters, het amper die grootste genadedaad uitgevoer wat die allergrootste in mensegeskiedenis sou wees. Want hy het amper die Seun van God vrygelaat. Hy het amper besluit om Christus vry te spreek. Hy het die mag gehad. Die keuse as syne. Hy het die seëlring van mag gedra. Die keuse was syne om Christus vry te laat. En amper het hy dit gedoen.

Amper. Hoeveel keer, broers en susters, vind hierdie vyf lelike letters hulle weg nie na wanhopige grafskrifte nie?

Hy het hom amper reggeruk;
Sy het amper besluit om dit nie te doen nie;
hy het amper weer probeer;
sy het amper haar probleme uitgestryk;
ja, hy het amper ‘n Christen geword.

Wat is dit, broers en susters, wat amper so ‘n lelike en magtige woord maak? Hoekom is daar so ‘n groot gaping tussen ‘hy het amper’ en ‘hy het’? In Pilatus se geval hoef ons nie ver te soek vir ‘n antwoord nie. Want Lukas se kommentaar en opmerkings in Lukas 23 verstrek die redes vir sy amper baie duidelik.

Eers het Pilatus die priesterhoofde, familiehoofde en lede van die Joodse Raad byeengeroep en gesê: ek vind geen grond vir die aanklag wat julle teen hierdie man inbring nie. Ek sal Hom dus laat gesel en dan loslaat. Amper, laat hy dus vir Jesus gaan.

Maar toe begin die skare te skree. ‘Weg met hierdie Jesus van Nasaret, laat Barabbas los!’ Maar omdat Pilatus Jesus wou loslaat, sê vers 20, het hy weer met hulle ge¬praat. Amper laat hy dus vir Jesus gaan.

Maar weer skree die skare: ‘Kruisig Hom, kruisig Hom!’ En ‘n derde keer laat Pilatus vir Jesus amper gaan: Watter kwaad het hierdie man gedoen? Ek kan niks kry wat die doodstraf regverdig nie. Ek sal Hom dus laat gesel en Hom dan loslaat. Amper, dus, weer ‘n keer, laat Pilatus vir Jesus gaan.

Maar toe, sê Lukas, het die geskree van die skare die oorhand gekry. En, as gevolg hiervan, het Pilatus se trots en eer, die sug om gewild by die massas te wees, die oorhand gekry. En Jesus word veroordeel.

Nie, broers en susters, dat die stemme van die massas die enigste stemme was wat Pilatus daardie Vrydagoggend gehoor het nie. Inteendeel. Hy het Jesus se stem ook gehoor. Vyf keer het Pilatus sy besluit tot vonnis uitgestel met die hoop om die massas met geseling en mooi woorde tevrede te stel. Maar Jesus is telkens na hom toe teruggestuur. Drie keer het hy van aangesig tot aangesig gekom met die gesig van die gebroke maar indrukwek¬kende Nasarener wat gekom het om niks anders as die waarheid te openbaar nie. Wat is die waarheid, het Pilatus gevra. Jesus se stilswye was die antwoord. Maar Pilatus het nie geluister nie.

Hy het sy vrou se stem ook gehoor. Sy het by hom gepleit om hierdie onskuldige man te laat gaan. Maar Pilatus wou nie hoor nie.

Of, hy kon seker na sy eie stem ook geluister het. Ek is oortuig daarvan broers en susters — dit is immers hoekom hy Jesus elke keer wou laat gaan — dat Pilatus regdeur die hele lieg- en bedriegspul van Ananias en Kajafas en die Joodse Raad gesien het. Hy het presies geweet waar hulle belange gelê het, en dat hierdie Man reglynig in die pad van hulle belange gestaan het. Sy gewete moes hom tog sekerlik daarom aangespreek het. Daar is tog niks verkeerd met hierdie man nie. Maar hy het ook nie na sy eie stem geluister nie.

Hy het amper. Maar hy het nie. Inteendeel. Satan, die bose, se stem het die oorhand gekry. Daardie stem wat gesê het: wees liewers gewild. Beskerm liewer jou politie¬ke posisie. Luister eerder na die massas.

Satan, broers en susters, die bose, se stem kry dikwels oorhand in ons lewens. Dink maar net hoe dikwels hy ons die hof maak:

Ag kom man, een keer sal nie kwaad doen nie;
wie sal ooit weet, niemand sien jou tog nie;
die mens kan tog nie sondeloos wees nie;
God sal jou mos vergewe;
komaan man, ander mense doen veel erger dinge as dit; of selfs
as jy dit doen is jy ten minste nie so skynheilig soos al die ander nie.

Die retoriek van die bose, al sy argumente, hou nooit op nie. Die vader van die leuen, soos die Bybel hom duidelik noem, bekoor en belieg die mens soos ‘n rondreisende smous, hy belowe jou die maan, maar bring oor jou rampspoed. ‘Moenie op jou laat wag nie’, fluister hy jou in die oor, ‘proe my brousel van plesier en vleeslikheid. Op stuk van sake, wie weet wat die dag van more vir jou inhou?’

By die soort van misleiding, broers en susters, het Jesus Christus Hom nooit laat betrek nie. Toe die Satan aan Hom die hele wêreld wou gee, was Hy nie bereid nie. Toe die Satan Hom weer en weer versoek het, in die woestyn, het Hy Hom nie daarby laat betrek nie. Nee. Vir Hom was daar nie ampers nie. Net volle gehoorsaamheid aan die Vader. Dit is al wat Hy bereid was om te gee. Al sou dit beteken dat Hy aan ‘n kruis moes sterf.

Met die gevolg? Dat ons vandag Goeie Vrydag kan vier. Met respek gesê: nie amper Goeie Vrydag nie, maar Goeie Vrydag. Want vir Christus was amper nie ‘n moontlikheid nie. Volle gehoorsaamheid aan die Vader, dit was die enigste moontlikheid. En daarom kan ons vandag met vreugde Goeie Vrydag vier, nie maar net nog ‘n Vrydag wat amper anders was nie.

En ons, broers en susters, is ons nie dikwels so anders as Christus, veral wat hierdie saak van gehoorsaamheid betref nie? Ons reaksies is dikwels so wisselend. Soms besluit ons summier vir Christus, soms weer nie. So dikwels leef ons binne trefafstand van Satan en sy misleidings. Met die verskoning: ons is darem binne hoorafstand van God se stem ook. Ek is darem vanoggend in die kerk. En dikwels kry ons dit amper, so amper, reg om met oorgawe gehoorsaam te lewe aan God en sy gebod.

Pilatus, broers en susters, het op die harde manier geleer dat hierdie houding van amper niks ander as selfmoord is nie. Die ander stemme, as ons hulle kans gee, oor en oor kans gee, sal weldra wen. Want hulle lokstem is sterk.

Pilatus het egter ook geleer dat daar geen donkerder hel is as die een van selfverwyt nie. Om jou hande ‘n duisend keer te was, sal jou nie van die skuldgevoelens bevry nadat verkeerd gedoen is of ‘n kosbare geleentheid om te doen wat reg is, verspeel is nie. Want dit is een ding, broers en susters, om vergifnis te aanvaar daar waar jy iets verkeerd gedoen het. Maar dit is ‘n ander ding om jouself te kry om vergewe te voel daar waar jy nagelaat het om goed en reg te doen.

Jesus Christus, broers en susters, het dit geweet. Hy het geweet dat daardie Vrydag Goeie Vrydag moes word. Ge¬hoorsaamheid tot aan die kruis was die enigste opsie. Amper was nie goed genoeg nie. Sou nie goed genoeg wees nie. Vir ons eie beswil het Hy absolute gehoorsaamheid gegee. En daarom, broers en susters, mag Hy dit ook vra.

In sy woordeskat was daar nog nooit plek vir amper nie. In ons woordeskat mag daar ook nie plek voor wees nie. Jy is óf vír Hom, óf téén Hom. By Jesus Christus moet ‘byna’ ‘sekerlik’ word, ‘partykeer’ moet ‘altyd’ word, en ‘as ek maar net’ moet ‘kom wat wil’ word. En ‘volgende keer’ moet ‘nou’ word.

Amper, broers en susters, het nog nooit plek gehad in God se woordeskat nie. Nou nog nie. Vandag nog nie. So, ons kan vandag hier uitstap en sê: kom wat wil, ek wil en sal gehoorsaam wees. Die nuwe lewe, wat Christus op daardie Goeie Vrydag vir my moontlik gemaak het, daardie nuwe lewe gaan en sal in my lewe sigbaar word en wees. Want Hy het my tot aan ‘n kruis liefgehad.

Of, broers en susters, ons kan hier uitstap en sê: die Woord wat ek vanoggend gehoor het, die wyse waarop die Gees van God hierdie woord oor daardie Goeie Vrydag op my oor laat val het, het my darem amper beweeg, amper gebring, om weer ernstig na my lewe en gesindhede te kyk.

Onthou dan net, my liewe broer en suster, dat by God die woordjie ‘amper’ presies dieselfde as die woordjie ‘nooit’ beteken.
Amen