Lukas 23:33-43

Naby aan die kruis - ver van Christus



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Terwyl Jesus Christus aan die kruis gehang het, was daar ‘n taamlike doenigheid by die voet van sy kruis aan die gang. Soldate was besig om te dobbel. En al was ons nie daar nie, broers en susters, kom ons probeer onsself vanoggend voorstel dit wat daardie dag in daardie oomblikke daar gebeur het.

Die soldate sit op hulle hurke in ‘n kring; hulle oë neergeslaan en gefokus op dit wat voor hulle op die grond aan die gang was. Die man in die middelste kruis bo hulle is vergete. Al is hulle besig om te dobbel oor sy klere. Want hier kan immers ‘n bokleed, ‘n mantel en sandale gewen word. Daarom: elke soldaat probeer sy geluk daar op die grond. Wie weet, dalk val die dobbelsteen net so, of dalk trek ‘n man net daardie lootjie dat jy jou klerekas hier ‘n bietjie kan uitbrei. Al is dit ten koste van ‘n gekruisigde timmerman.

Ek het al baie gewonder, broers en susters, hoe hierdie gebeure vir Jesus Christus moes gelyk het. Wat het Hy gedink toe Hy verby sy bebloede voete na die kringetjie dobbelaars afgekyk het? Watter emosies het Hy gevoel? Ons kan nie weet nie. Maar seker was Hy verstom gewees. Want daar is doodgewone soldate, wat die ongewoonste gebeurtenis wat nog ooit gebeur het— God se Seun wat besig is om te sterf — en hulle weet dit nie eens nie.

Nee. Wat hulle betref is die Man aan die kruis maar net nog ‘n misdadiger, en daardie Vrydagoggend maar net nog ‘n Vrydagoggend. Daarom hoor ons die een soldaat vir die nader sê: ‘Komaan, skud op met daardie lootjies, ek wil iets wen. ‘Kry nou klaar’. En ‘n ander wat antwoord: ‘Goed, hierdie is die lootjies. Trek. Hierdie een is vir sy sandale’.

Soldate wat lootjies trek vir Jesus se besittings. Koppe vooroor gebuig. Die oë neergeslaan. Die kruis vergete. Kan u, my broer en suster, die simboliek van dit alles insien? Naby aan die kruis, maar ver van Christus af. By die kruis, maar kyk in die verkeerde rigting. By die kruis, maar hulle sien net hulleself, en ‘n moontlike winsie, raak.

Ons sou dit in ‘n sekere mate broers en susters, ook van ander daardie dag by die kruis kon sê: daar was die volk wat net gestaan en kyk het (vers 35). Hulle het net gestaan. Niks gedoen nie. Die gebeure het hulle nie geraak nie. Hulle is nie enigsins in enige rigting — nader aan Jesus of verder van Hom af weg — aan die beweeg gebring nie.

En dan was daar die raadslede. Hulle het Jesus uitgelag (vers 35 en 36). In plaas daarvan om raak te sien dat God in wese hier besig is om te sterf, is al wat op die spel is hulle eie eer voor die mense. Daarom lag hulle Jesus uit. Hulle spot hom. Hulle verkleineer hom. Want so het hulle, in hulle eie oë, hulleself groter onder die mense gemaak. Want hulle het immers ‘n goeie deel bygedra om ‘n einde aan hierdie man se stories oor ‘n sogenaamde koninkryk te bring.

Dus, net soos die soldate, was die volk en hulle raadslede: naby aan die kruis, maar ver van Christus af.

Hierdie groepe mense, broers en susters, laat my aan ons dink. En hier is ek beslis deel van hierdie ons. Hulle laat my dink aan almal van ons wat sê dat ons in Jesus Christus glo. Aan almal van ons wat aanspraak maak op die erfenis van daardie kruis.

Want ook ons, broers en susters (en as u reken u is nie deel van hierdie ons nie, hoef u nie verder te luister nie), ook ons, speel maar te dikwels speletjies aan die voet van die kruis. Of staan op ‘n afstand en doen eenvoudig net niks. Of lag Jesus Christus as‘t ware met ons lewens uit. Ja, ook ons is soms, of selfs dikwels, naby aan die kruis, maar ver van Christus af.

En kom ek verduidelik: ook ons speel soms speletjies by die voet van die kruis. Ons hoor die wonderlike evangelie van verlossing in Jesus Christus Sondag vir Sondag. Ons hoor dat Hy ons nuut wil maak. Maar ons skarrel om status. Ons spreek verdoeming en oordele oor ander uit. Ons vergelyk. Ons wil beter wees. Ons wil meer hê. Ons ding mee. Selfsug is deel van ons lewe. Te dikwels. Persoonlike gewin bly vir ons belangrik. En so maklik hou ons nie van dit wat ander doen nie. Daarom vat ons die sandaal of bokleed wat ons gewen het, en stap ontstoke weg.

Ja, so naby aan die kruis, maar tog so ver van Christus af. Elke Sondag tydens die verkondiging, elke keer wanneer ons by die tafel die brood in die hand neem en die wyn teen ons lippe druk, ja, elke keer wat ons die Bybel opneem, kom ons tot by die wêreld se ongewoonste gebeurtenis, maar bly ons mense wat in bondeltjies saam hurk en oor lawwe meningsverskille twis.

Verder spesialiseer ons in ‘Ek is reg’-saamtrekke. Elke gesprek is daar dat ander my moet hoor. Ander wil ek nie hoor nie. Ons skryf boeke oor wat ander verkeerd doen. Ons maak skinderpraatjies ons hoofvak, en raak deskundiges daarin om ander se swakhede te onthul. En so gaan ons aan.

En dan sê ons so maklik: ‘Daardie selfsugtige soldate’. En dan glimlag ons selfvoldaan. Want kyk: hulle was so naby aan die kruis, maar is tog so ver van Christus af.

En tog, broers en susters, is ons soveel anders? Nie eintlik nie. Nie altyd nie. Miskien net soms. Maar in die meeste gevalle nie. Ook naby aan die kruis, maar so ver van Christus af. Maar kan ons anders wees, wil ‘n mens vra? En as ‘n mens kan, hoe is of word ‘n mens anders?

‘n Lewe naby aan die kruis en naby aan Christus, broers en susters, begin nie by die doen van die regte dinge, en die nie doen van die verkeerde dinge nie. Dit begin by ‘n verhouding. Dit begin by daardie punt waar ek sê, en dit opreg bedoel, dat ware vreugde, ware vrede, ware sin en rustigheid alleen by God te vinde is. En ek myself dan volkome in God se hande plaas.

Wanneer dit gebeur, broers en susters, beteken dit nie dat ek nou anders gaan voel, of een of ander emosionele ervaring een op die ander sal hê nie. Nee, wanneer dit gebeur, sal dit doodeenvoudig en heel rustig in my lewe so word dat ek nie soos die volk maar net op ‘n afstand sal kan staan en net na die kruis kan kyk nie.

Nee. Daardie kruis sal my laat wegkyk van ander en my laat kyk na myself. Ek sal met myself begin meeding. God het my vergewe, hoe vergewe ek? God het met my so lank geduld gehad, hoeveel geduld het ek met ander, en met myself? God is elke dag met my besig, hoe besig is ek met God? God het soveel vir my gedoen, wat kan ek vir Hom doen?

Wie werklik tot by die voet van die kruis gekom het, wie Jesus Christus werklik daar sien hang het, broers en susters, kan nooit weer dieselfde wees nie. Dit kan tog nie! Want dan het Jesus Christus mos verniet gesterf! En Hy het tog nie!

Ek sluit af: die ooreenkoms tussen die spel wat ons soms speel en die spel van die soldate daar aan die voet van die kruis gespeel het, is soms skrikwekkend. Wat het Jesus gedink toe Hy hulle so gesien het? Wat dink Hy as Hy ons vandag dit sien doen? Die dobbelstene word nog steeds gegooi. Die lootjies word nog steeds in verskillende lengtes gebreek. En dit gebeur aan die voet van die kruis.

Dit gebeur in ons lewens al kom ons gereeld in die kerk. Die gebeur al lees ons God se Woord. Dit gebeur al bely ons totaal anders. Dit gebeur al het ons al hoeveel preke gehoor. Die Here bewaar ons daarvan dat Hy, wanneer Hy eendag weer kom, ons so besig sal vind.
Amen