Psalm 73

Ons enigste troos



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

U het dalk ook al die storie gehoor van die skatryk man wat op ‘n sonderlinge wyse begrawe wou word - in ‘n lang, blink en slap motor kompleet toegerus met leerbekleedsel, die beste motorradio en vergulde buffers: ‘n wyse van begrawe wat nie afbreek sou doen aan sy lewe van oorvloed toe hy nog gelewe het nie. Op die dag van die begrafnis het die omstanders met gemengde gevoelens toegekyk hoe die miljoenêr in sy peperduur doodskis met ‘n hyskraan in sy graf laat sak word. Met die opmerking van een van die grafgrawers: “Man, dit is mos nou die lewe!”

Hierdie skatryk man, broers en susters, het sy keuse gemaak. Maar watter keuse maak ons? Wat dra ons deur lewe en dood? Wat is die finale fondament waarop u en ek vertrou wanneer ons doodstyding ontvang, ons ons in die operasieteater bevind, ons ons in die lewe oënskynlik vasgeloop het, wanneer daar vir ons geen uitweg meer blyk te wees nie, of dalk self in die graf moet ingaan? Wat is dan ons finale fondament?

Is dit ons aardse besittings, dit wat ons in die lewe bymekaargemaak het, ons lewensfilosofie, ons vriendekring, ons oorlewingsdrang, dit wat ons in die lewe bereik het, of dalk selfs ons sogenaamde geloofsprestasies? Wat dit ook al mag wees, en dit moet ons elkeen maar self oor oordeel, wat is dit iets waarop ‘n mens werklik kan terugval in tye van nood, en tye van grootste nood?

Want dit is nou eenmaal eenvoudig so, broers en susters: ‘n Mens se God is tog dié Een of iets wat jy as die bron van alle goed beskou en wat jou enigste toevlug in tye van nood, swaarkry en verdriet is. Dié dinge waarop jy geheel en al vertrou, die Een aan wie jy jou siel verknog en jou hart aan verpand, dit is tog in werklikheid jou heer en meester, jou God of afgod.

Psalm 73, broers en susters, vra na hierdie diepste dryfvere en mees verborge motiewe van ons bestaan. Dit vra na dit wat ‘n mens laat tik - om ‘n Engelse uitdrukking sinvol te probeer vertaal.

Wanneer ons na die Psalm kyk, sien ons dat hierdie skrywer aanvanklik nie antwoorde op hierdie vrae nie, dat hy daaroor twyfel. Om die waarheid te sê: hy is ontnugter, hy bely selfs dat hy totaal koers in die lewe verloor het (vers 4), dat hy verbitter en verontreg gevoel het, dat hy gehandel het soos ‘n redelose dier (vers 21), en dat hy dom en sonder insig is (vers 22). Hoekom?

Omdat hy homself aanvanklik blind gestaar het teen die goddeloses in die lewe. Want kyk, sê hy, hulle wat God nie het nie, hulle wat laster teen die hemel, hulle wat God spot deur te sê “Hoe sal God dit uitvind? Hoe sal die Allerhoogste dit weet?”, hulle wat kwaad stig en geweld stook, wat links en regs op aarde beledig, hulle het oënskynlik alles in die lewe wat ‘n mens kan begeer.

Hulle ken geen teenspoed nie, hulle is eerder sterk, gesond en sonder sorge. En wat meer is: hulle leef in weelde, gaan ongehinderd voort om rykdom op te hoop, leef van die vet van die land, en is voorspoedig. Só voorspoedig soos enigiemand maar net kan begeer om te wees.

En ek?, vra-kla die digter. Ek wat God het, wat Hom dien en wat vashou aan die belydenis dat God goed is vir die wat rein van hart is? Ek wat in leer en lewenswandel onbesproke probeer wees, wat altyd probeer om die kwaad te vermy? Wat het ek? Elke nuwe dag bring vir my teenslae en elke nuwe more bring vir my straf - dit is wat ek het!

Dus: êrens klop die dinge nie, êrens maak iemand ‘n bespotting van my godsdiens. Want dit blyk dat hulle wat God nie het nie, alles het in die lewe, terwyl ek wat die Here dien, niks het nie - net twyfel, bitterheid en vrees.

Maar dan sien ons, broers en susters, kom daar vir die digter van Psalm 73 ook ‘n ander insig die oomblik toe hy sy vrae en aanklagte uitstort, nie voor mense nie, maar voor God. Want toe hy voor God met sy vrae gaan staan, toe kom hy agter dat die voorspoed van die goddelose skyn is, dat hulle voorspoed verbygaan, dat hulle op gladde plekke loop, dat hulle in ‘n oogwink ten gronde gaan, dat hulle voorspoed so gou verdwyn soos ‘n droom wat ophou.

Want al besit hulle alles in terme van aardse maatstawwe, het hulle eintlik niks nie, want hulle kort die belangrikste van alles in die lewe: God. Daarom getuig hy met oorgawe: toe ek in die heiligdom van die Here ingegaan het, het ek dit alles verstaan. Hulle wat God het, het alles, al het hulle niks. Want God is genoeg!

Ná hierdie ontdekking maak die digter dan ook een van die aangrypendste belydenisse wat ons in die Bybel vind: Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie. Al is ek afgetakel na liggaam en gees. God is my sterkte – aan Hom behoort ek vir altyd en ewig. Dus: in lewe en in sterwe.

Wat, broers en susters, is u enigste troos in lewe en sterwe. So vra die Heidelbergse Kategismus (vraag en antwoord 1) op die man af, en gryp so ook na die diepste van die evangelie, en die betekenis van Goeie Vrydag, die dag waarop Jesus vir ons gekruisig is, die dag wat ons vandag vier.

As dit sou gebeur - en dit kan, al dink ons nie altyd so nie - dat u soos hierdie digter ontneem sou word van alles in u lewe, ontneem word van u werk, gesondheid, vriende, inkomste, prestasies, of wat ook al, wat sal u dan troos? As dit sou gebeur - en dit gaan beslis met ons almal gebeur - dat jy jou lewe verloor, en jy in die graf moet gaan, wie en wat gaan dan saam?

Wat antwoord die Kategismus? My troos is dat ek in liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Behoort: in hierdie woordjie lê ons ware troos. Nie in wat aan my behoort nie, maar aan Wie ek behoort. Nie dat ek aan myself behoort nie, maar aan ‘n Ander, die getroue God - vir altyd, in lewe en in sterwe.

Nêrens anders as op Goeie Vrydag, broers en susters, die dag van die kerklike jaar wat ons vandag vier, die dag waarop Jesus vir ons aan die kruis gehang het blyk dit so duidelik dat God ons liefhet, dat God ons teen sy bors wil druk en sê: Jy is myne, nie. Jy behoort aan my.

Nêrens anders as in Jesus aan die kruis, broers en susters, sien ons dat die heelal, en ook ons elkeen se lewe, nie maar net koud en leeg is nie. Maar eerder dat ons lewens gevul word met ‘n hart, warm Vaderhart.

En is die waar nie, broers en susters, dat die mens eers rus vind as hy/sy God gevind het nie? En die rus dan in God vind nie? En is dit nie maar dit waarna ons almal soek nie? Rus en vrede. Vrede met God, vrede met onsself, vrede met ons lewens?

En hierdie soeke geld vir almal, broers en susters, al wil almal dit nie erken nie. Dit geld vir die goddeloses, die grotes in hierdie lewe, die sterkes, die wat op ander neersien, die wat ander met minagting behandel, die magtiges, die sogenaamde onafhanklikes.

Goeie Vrydag handel oor ‘n man aan ‘n kruis. Dit handel oor die vrede wat daar tussen ons en God gekom het. Dit handel oor aan wie ons in hierdie lewe en in sterwe behoort. Of dan: kan behoort. Dit handel oor ons enigste troos in hierdie lewe.

Dit sê ook dat dit nie saak maak hoe en saam met wat ek in die graf ingaan nie, of ek in weelde ingekatrol word of net maar op ‘n eenvoudige manier begrawe word nie. Nee. Goeie Vrydag sê dat ek in lewe en in sterwe aan God, deur Christus aan die kruis behoort. Dat wie aan God behoort, niks meer nodig het nie. Ja, dat al het ‘n mens niks, dat jy alles het.

Dat ons alles het wat nodig is vir ware lewe, want, sê Johannes in 1 Johannes 5:12: Wie die Seun het, het die lewe. En dit is mos die lewe!

As ons egter meen dat die lewe, die ware lewe, meer as dit is, of selfs iets anders is, moet ons maar vir onsself gaan afvra wat ons dryfvere in die lewe is. Wat dit is wat ons laat tik - om die uitdrukking weer te gebruik. En of ons verstaan wat Goeie Vrydag werklik beteken. En, as ons sê ons verstaan waaroor dit gaan, of ons dit werklik glo. As dit so is, sal daar vrede wees tussen ons en God, ons en ander, ons en onsself. En dit, meen ek, is die lewe!
Amen