Hebreërs 5:7-9; Matteus 26:36-39

Opregte woorde



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die Evangelies vertel ons dat die dag waarop Jesus gekruisig is, verskeie mense teenwoordig was. Daar was die soldate wat Jesus gekruisig het, daar was Simon van Sirene wat Jesus se kruis ‘n entjie gedra het, daar was die priesterhoofde, skrifgeleerdes en familiehoofde (asook die mense wat daar verbygeloop het) wat Jesus gespot en gelaster het, daar was die twee misdadigers aan die kruis, en daar was die vroue wat Jesus reeds so vroeg as vanaf Galilea gevolg het.

Maar daar was ook nog ‘n baie spesiale groep daardie dag aanwesig wie se rol baie belangrik was. Hulle het nie veel gesê nie, maar hulle was daar. Baie min het hulle daardie dag daar raakgesien, maar dit is nie verbasend nie. Want hulle aard is juis so stil dat hulle dikwels misgekyk word. Trouens, die evangelieskrywers verwys skaars na hulle.

Hierdie toeskouers, broers en susters, het egter veel meer gedoen as om maar net die Goddelike gebeure daardie Vrydag aan die kruis te aanskou, hulle het dit wat daar gebeur het uitgedruk. Hulle het Petrus se wanhoop ten toon gestel, Pilatus se skuldgevoelens verraai, Judas se sielesmart onthul, Johannes se verwarring oorgedra en Maria, die moeder van Jesus, se deernis weergegee.

Wie was hierdie toeskouers, broers en susters? Wie beskryf ons hier? U sal dalk verstom wees om te hoor. Trane. Daardie klein druppeltjies menslikheid. Daardie balletjies wat by jou oë uitpeul, teen jou wange afkruip en op die hart se vloer spat.

Ja, hulle was daardie dag daar waar Jesus gekruisig is. Want hulle is soos miniatuur-boodskappertjies wat gereed staan om in te spring waar kreupel woorde nie kan gaan nie. Hulle drup, val en vloei uit die siel en dra saam met hulle die diepste emosies waaroor ‘n mens beskik. Hulle stroom oor ons gesigte en kondig aan die heerlikste vreugde of die donkerste wanhoop wat mense kan beleef. Want ons weet mos, broers en susters: daar waar opregte mense leef, daar is dit maar so dat wanneer woorde op hulle leegste is, daar is trane op hulle raakste.

‘n Traanvlek op ‘n brief sê meer as die som van al die woorde daarin. ‘n Traan wat op ‘n kis val, sê wat ‘n vaarwel in woorde nooit sou kon sê nie. En ‘n traan wat pa of ma se bors van trots laat swel, sê iets wat woorde nooit sou kon uitdruk nie. Ja, waar woorde faal, sê trane dikwels soveel meer.

So ook, broers en susters, glo ek, het woorde daardie dag gefaal toe ons Verlosser gesterf het. Want watter woorde kon immers oor so ‘n Goddelike gebeurtenis gesê word? Watter woorde sou kon uitdruk presies wat daar gebeur het?

Wat doen ons, broers en susters, wanneer woorde nie wil kom nie? Wanneer al die pragtige selfstandige naamwoorde, byvoeglike naamwoorde en werkwoorde te kort skiet? Waarmee kommunikeer ons dan? Wanneer selfs die mees hoogdrawendste stellings struikel, wat doen ons dan? Miskien is ons van een van die gelukkiges wat nie skaam is om trane te laat oorneem waar woorde nie meer oor ons tong kan kom nie. Want ons weet mos, broers en susters: ‘n mens kan so gelukkig wees, ‘n mens kan so trots op jou kind wees, dat jou oë begin water en jou keel toetrek. En net so weet ons dat in hartseer tye dat trane wat loop daardie knop in jou keel kleiner laat word.

Maar miskien, broers en susters, is ons van hulle wat ons trane ‘n ander koers laat loop, en ons trane net toelaat om na binne te val. Want baie van ons is nie goed om ons gevoelens te wys nie. Ja, ons kon raas en skree en baklei, ons kan wys ons is kwaad. Dit doen die meeste van ons goed. Maar trane? Nee, dit los ons vir ander!

Maar nie hulle daardie dag by die kruis nie, broers en susters. Ek kan my voorstel hoe hulle wat daar was, in aanskoue van hierdie Goddelike daad, gelyk het:

  • Petrus. Die frisgeboude visserman, sterk genoeg om ‘n net vol vis uit die see te sleep. Dapper genoeg om die kwaaiste storm op see aan te durf. Die man wat ure vroeër die moed gehad het om sy swaard teen die hele Romeinse wag te lig. Maar kyk hoe lyk hy nou. Hy huil. Hy snik. Eenkant op ‘n hopie grond. So erken hy sy fout. So smeek hy om vergifnis. So sê sy oë wat in sy hart aangaan.
  • En Johannes. Ook hy het trane in sy oë. Trane wat nie iets sê van ‘n gebrek aan hoop en moed nie. Trane wat sê dat hy geweet het wat daar aan die gebeur was.

En dan ook Jesus se trane. Sy trane het in die tuin gevloei. Dit vertel al die evangeliste ons. God was besig om sy pad met sy Seun, ter wille van ons, te stap. Jesus, vertel Matteus, het doodsbenoud geword, hoe nader sy dood gekom het. En in daardie doodsbenoudheid, in daardie totale eensaamheid, praat ook Hy met trane. Hebreërs 5:7 sê dit mooi: Hy het daar voor God gesit ‘met gebede en harde geroep en trane’. In sy diepste lyding voor sy dood, het Hy so met sy Vader in die hemel gekommunikeer. Gehoorsaam, gewillig, getrou aan dit wat die Vader vir Hom, ter wille van ons, opgelê het. Trane wat, broers en susters, en ons kan maar net raai, heel waarskynlik aan die kruis ook geval het.

Wat is die punt, broers en susters, wat ek vanoggend wil maak: Dit: dit gaan nie net oor ons trane nie, maar oor dit wat ons trane verteenwoordig. Ons trane verteenwoordig ons hart, ons gees, ons siel. Soos dit met Jesus die geval in die tuin en aan die kruis was.

Daarom, om ons emosies agter slot en grendel weg te steek, is om deel van jou beeld wees van Christus te ontken. Veral op ‘n dag soos hierdie. Veral op Goeie Vrydag. Veral hier waar ons vandag weer by die kruis op Golgota staan.

Want ‘n mens kan nie, broers en susters, net met jou kop, sonder jou hart, na hierdie kruis kom nie. Dit kan nie so werk nie. Wat Golgota is nie maar net ‘n stukkie geskiedenis of ‘n intellektuele oefening nie. Dit is nie — en mag God gee dat dit nooit by ons so sal wees nie — ‘n koue teologiese beginsel nie.

Nee. Dit was ‘n uur van hartverskeurende emosie. Daarom wil ek amper vandag by u pleit, broers en susters. Moet nie dat ons vanoggend hier weggaan, hier wegstap, onaangeraak nie. Moet nie as u hier uitstap maar net keel skoonmaak en u das regtrek nie. Moenie uself toelaat om so koel soos ‘n komkommer van Golgota af te kom nie.

Asseblief. Kom ons raak net weer vir ‘n oomblik stil. Kom ons kyk weer na die spykers wat daardie hande deurboor het. Kyk mooi. Dit is God wat daar hang. Vir jou en vir my. Dit is ons, die mensdom se hele sonde wat Hom daar laat beland het. Dit is vir ons sonde wat Hy daar hang. Petrus het dit geweet. Johannes het dit geweet, Maria het dit geweet. Selfs die Romeinse offisier, nadat Jesus sy laaste asem uitgeblaas het, het dit geweet.

Hulle het almal geweet watter prys betaal word. Hulle het geweet wie dit eintlik was wat sy sy laat deurboor het. Hulle het ook op een of ander manier geweet dat die geskiedenis van die wêreld daar besig was om herskryf te word. Dit is hoekom hulle gehuil het. Want hulle het die Verlosser gesien.

Ek vra nie, broers en susters, dat ons vanoggend moet huil nie. Maar laat ons nie maar net vanoggend naby aan die kruis kom, maar tog so vêr van Christus af bly nie. Mag ons nooit so ‘geleerd’ wees, mag ons nooit so ‘volwasse’ wees, en bo alles, mag ons nooit so ‘godsdienstig’ wees, dat ons sonder emosie, sonder trane, aan Jesus Christus se lyding en kruis dink nie.

Kom ons laat vir ‘n slag toe dat dit ons raak. Dat die trane vlak onder die oë kom sit, omdat ons besef hoe lief God ons het, so lief dat Hy dit vir ons gedoen het. En laat Sy doen ons doen word. Laat Sy lewe ons lewe word.

Nie omdat ons moet nie, maar eerder omdat ons nie anders kan nie. Al moet ons oor ons eie sonde huil. Al moet ons hartseer word oor ons elkeen se eie lewe. Al moet ons doodsbenoud word omdat ons besef hoe anders ons is as dit wat God wil hê ons moet, en kan wees.

God, broers en susters, sien ons trane. Selfs die wat na binne val. Want op ‘n keer was sy trane ook al woorde wat Hy kon spreek. God ken ook ons harte. Hy weet, en net Hy weet, met watter emosies, met watter gedagtes, met watter gevoel ons vanoggend hier gaan opstaan en van sy kruis gaan wegstap. Of sy kruis ons werklik geraak het.
Amen