Johannes 19:17-24; Lukas 23:38-43

Waarom is hierdie Vrydag Goeie Vrydag?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
God aan die kruis tussen twee misdadigers op Kopbeenplek. 'n Gebeure waaroor daar al baie gepraat, geskryf en selfs geskilder is. Selfs mense wat maar min weet van Christus, weet van hierdie drie mans aan die kruis. Ek wil amper sê: feitlik almal in die wêreld — gelowiges en ongelowiges, outeurs en geskiedskrywers — het 'n bepaalde siening oor wat daardie dag daar gebeur het.

Maar kom ons gaan vanoggend, broers en susters, en kom ons gaan kyk vir 'n slag vanuit 'n ander hoek na hierdie gebeurtenis. Eerder as om op die grond te staan en op te kyk, kom ons stel ons langs God in die hemel en kyk af ondertoe. Wat sien God? Wat is die hemelse perspektief?

Sien God die kruis en die spykers? Sien God die mense wat spot, die soldate wat sy klere verdeel en die een misdadiger wat Jesus as 't ware uittart of uitdaag?

Verseker sien God dit. Maar Hy sien ook baie meer. Hy sien ook sy Seun omring deur sondaars vol sonde. 'n Skaduwee van veroordeling wat oor hulle siele hang omdat hulle nie wil glo nie, maar spot. Die skare bejammer hulle wat aan die kruis hang, maar God uit die hemel ween oor die toestand van hulle siele.

Ek het al dikwels gewonder, broers en susters, of ons ooit die impak wat die sonde op God het, sal kan begryp. Miskien lees ons iets daarvan in Openbaring 3:16, waar God van die mense in Laodisea sê dat Hy hulle, omdat hulle so louwarm, diensbaarloos lewe, uit sy mond sal spoeg. En die werkwoord wat hier gebruik word, broers en susters, beteken letterlik `om te vomeer’. Hulle sonde dus, met respek gesê, maak God naar.

Wat eintlik nie 'n vreemde gevoel by ons is nie, broers en susters. Want het nie ook ons al soms so gevoel nie? Dink maar gerus hoe u voel wanneer u hoor dat 'n pa sy kind aan die brand gesteek het, of wanneer iemand sy hele gesin uitwis, of wanneer kinders so klein as babas gemolesteer word.

So iets, broers en susters, maak 'n mens nie alleen kwaad nie, dit walg 'n mens eintlik. Dit maak dat 'n mens sommer iets kragdadig sal doen as jy so iemand in die hande kan kry. Daarom, broers en susters: as ons, as sondaars, so reageer, hoeveel te meer nie die heilige God nie? Want per slot van rekening is dit sy wet wat verbreek word. Dit is sy kinders wat mishandel word, dit is sy Woord wat geïgnoreer word. Sy heiligheid wat aangetas word.

Daarom, broers en susters, is die vraag nie: `sou God die sonde kan vergewe?’, maar eerder `hoe op aarde is vergifnis enigsins moontlik?’ Die vraag is nie waarom God dit moeilik vind om te vergewe nie, maar hoe Hy dit hoegenaamd regkry om dit te doen.

Uit God se oogpunt, broers en susters, is die tragedie van die twee misdadigers wat langs Jesus hang nie dat hulle op die punt is om te sterf nie, maar dat hulle besig is om te sterf met onopgeloste, onvergewe sonde. Dat hulle hierdie aarde gaan verlaat as vyande van God, mense wat God en sy gebod geminag het. Want sonde, broers en susters, is nie 'n ongelukkie wat 'n mens miskien kon verhelp het of 'n daadjie waaroor 'n mens spyt is nie. Nee, wat die hemel sien as sonde is 'n gesindheid van opstand teen die heilige God.

Met dit as agtergrond, broers en susters, kom ons kyk na wat daar op Golgota, volgens Lukas, gebeur het. Lukas vertel ons dat die eerste misdadiger die opskrif bo Jesus se kop gelees het, en gehoor hoe Jesus vir die bid wat Hom kruisig. En dit oortuig hom dat hy in die teenwoordigheid van God is.

Die ander skelm het egter 'n ander opinie gehad. Ons lei dit duidelik af uit sy woorde: `Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en red ons ook’, tart hy Jesus. Maar dan antwoord die eerste misdadiger: Is jy nie bang vir God nie? In ons geval is ons dood regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade, maar hierdie man het niks gedoen nie.

Uiteindelik, wil 'n mens amper sê, broers en susters, is daar iemand wat Jesus verdedig. Petrus het gevlug. Die dissipels het weggekruip. Die Jode het beskuldig. Pilatus het sy hande gewas. Niks positiefs oor Jesus nie. Maar nou tog wel, en dit uit die mond van 'n misdadiger. Daarom dan ook sy versoek: `Jesus, dink aan my wanneer U in die koninkryk kom’. Waarop Jesus antwoord: `Dit verseker Ek jou: vandag sal jy saam met my in die paradys wees’.

Vir diegene aan die voet van die kruis was hierdie gesprek tussen Jesus en die eerste misdadiger seker verregaande, of dalk baie vreemd of eienaardig. Hulle kon seker nie glo wat hulle hoor nie. Want hoe is dit vir 'n misdadiger moontlik om in die paradys te kom? Hoe kan 'n siel, deurtrek en bevlek van die sonde, in die hemel kom?

Al kon hulle dit nie sien nie, broers en susters, weet ons hoe dit moontlik is. Die sonde van die misdadiger het hom verlaat en na Jesus beweeg. En nie net die foutjies in sy lewe hier en daar nie. Nee, alles, al sy sonde. Sy geskreeu en gevloek. Elke bose gedagte. Elke verkeerde daad. Elke verkeerde gesindheid. Sy hebsug. Sy sonde.

Dit alles het nou op Jesus gekom, Hom totaal bedek. Ja, dit wat God naar maak, broers en susters, het nou op Jesus kom lê.

En op daardie selfde oomblik het iets anders ook gebeur. Jesus se reinheid, sy sondeloosheid, dit het op die misdadiger gekom. Dit het hom oordek. Soos die pa vir sy verlore seun 'n kleed omgehang het, so klee Jesus nou hierdie misdadiger. Nie met 'n skoon kleed nie, maar met Homself!

Met ander woorde: die een sonder sonde word nou vol sonde, en die een vol sonde word sondeloos. Hierdie, broers en susters, is myns insiens die ewigheid se mees onverstaanbare uitruiling. Paulus het dit in Galasiërs 3:13 soos volg beskryf: ‘Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek vervloekte te word’.

Ek weet Johannes vertel dat Jesus self sy kruis na die Kopbeenplek gedra het, broers en susters, maar Hy het nie. Want Hy het daar ons kruis gedra. En wat meer is: die enigste rede hoekom Hy die kruis gedra het, was vir ons, die diewe en skelms. Dit was daarom ook nie sy dood wat Hy gesterwe het nie, maar ons dood. Nie vir sy sonde nie, maar vir ons sonde. Soos Paulus dit in 2 Korintiërs 5:21 stel: ‘Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel, sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees’.

Dit wat Paulus hier sê, broers en susters, dit wat die kruisdood van Jesus vir ons beteken, laat my dikwels dink aan die bekende projek `Reik na jou droom’. Miskien weet u onmiddellik waarvan ek praat, maar indien u nie, kom ek verduidelik vinnig. Hierdie organisasie spits homself veral daarop toe om kinders wat of outisties is, terminaal met kanker lê, verlam geword het, of wat ook, se grootste droom te verwesenlik. Of dit nou is om te vlieg, hulle sportheld te ontmoet, oorsee te gaan of wat ook al.

Een aand op die TV was daar tydens die nuusberig die verhaal van een so 'n kind, wat baie graag mej Suid-Afrika wou ontmoet. Tydens die ontmoeting het die betrokke persoon die kind se hand gevat, haar ander arm om haar gesit, en haar gesoen. En die siek kind het gestraal.

Glo dit as u wil, broers en susters, maar hierdie gebeurtenis het my onmiddellik aan hierdie verhaal van Lukas oor Jesus en die twee misdadigers aan die kruis laat dink. Die name verskil, maar daar is geweldige ooreenkoms. In plaas van die skoonheid wat handel, handel Jesus in ons gedeelte. In plaas van 'n siek dogtertjie, kyk ons na 'n misdadiger aan die kruis. In albei gevalle word liefde bewys. In albei gevalle tree een teenoor 'n ander op dat dit 'n mens werklik raak.

Maar net daar, broers en susters, hou die ooreenkomste op. Want die skoonheid het net 'n soen gegee, en toe sy opstaan om te gaan, het sy haar skoonheid met haar saamgeneem. Die dogtertjie was steeds siek, haar situasie was niks anders nie.

Maar nie met Jesus nie. Jesus het ook gehandel, maar toe Hy wegstap (by wyse van spreke) het hy nie sy heiligheid met Hom saam geneem nie. Inteendeel. Hy het sy heiligheid agtergelaat en 'n ander se sonde met Hom saam weggedra. Die misdadiger se verminking en sonde het Hy op Hom geneem, en die ander een heilig agtergelaat.

Presies soos Jesaja 53:3-4 dit beskryf: `Toe het Hy ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra….Oor ons oortredings is Hy deurboor, oor ons sondes is Hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

Dit alles, broers en susters, het Jesus nie gedoen deur maar net vir ons as siek mense, siek van al die sonde, te kom kuier en vinnig 'n soen uit te deel nie. Nee, Hy het homself prys kom gee. Om so vir ons die nuwe lewe moontlik te maak. Dit is die boodskap van Goeie Vrydag. Hy sterf dat ons kan lewe. Hy stap weg onder die kruis van ons sonde, sodat ons na God as heiliges kan gaan. Daarom noem ons hierdie Vrydag vir ons Goeie Vrydag.

Verstaan ons werklik wat daar gebeur het, broers en susters? As ons werklik verstaan, sal dit uit, in en deur ons lewens sigbaar wees!
Amen