Matteus 10:5-20; 26-31

Ons is meer werd as mossies



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Een van die moeilikste vrae om te beantwoord is die vraag of God alles voorsien. Anders gesê: is alles wat oor my pad in die lewe kom so omdat God lankal vooraf so besluit het?

Die Heidelbergse Kategismus (Vraag 27) stel hierdie vraag so: ‘ Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?’ en antwoord dan so: lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede, ja alles, ontvang ons nie per toeval nie, maar al hierdie dinge kom uit God se hand.

As die Kategismus so antwoord, broers en susters, praat dit natuurlik geloofstaal: as gelowiges aanvaar ons dat God in beheer van alles is, en daarom kom niks toevallig oor ons nie, maar kom alles uit die hand van God.

Maar tog: wanneer die boer se skape blêr en daar is geen druppel water nie, wanner iemand na aan ons sinneloos vermoor word, wanneer iemand sinneloos ‘n klomp mense met ‘n selfmoordbom dood, wanneer die diagnose sê ongeneeslik, dan is dit wat die Kategismus oor God se voorsienigheid sê ewe skielik nie meer so duidelik, verstaanbaar en aanvaarbaar nie. Dan word God se toelating maklik toeval, en word die eerste tree gegee in die rigting van noodlot, toeval en twyfel.

Dan duik die vraag op: maar waar is God? Anders gevra: maar as daar ‘n God is, het Hy dit dan werklik so beplan dat my vrou so sinneloos vermoor moes word?

Kortom: is alles wat met die mens gebeur direk terug te voer na ‘n beplande handeling en doelbewuste aksie van God? Is alles wat oor my lewe kom so omdat God dit so wil? Of word God se planne soms maar net lamgelê deur byvoorbeeld mense wat ander sinneloos vermoor?

Moeilike vrae, broers en susters. Maar wesenlike vrae, belangrike vrae. Verder: ek glo dat alle mense in sekere tye van hulle lewens hierdie soort vra vrae, want wanneer ‘n mens hierdie soort vra vrae, is jy eintlik maar net besig om te probeer verstaan wat soms met hulle gebeur. Dit is vra wat onbewustelik vra na die sin van die lewe, dit is eintlik ‘n soeke na ‘n doel in die lewe, dit is ‘n soeke na die patroon/plan agter alles wat met my en die wêreld gebeur.

Wanneer ons as mense hierdie soort vrae vra, broers en susters, vra ons eintlik, ten diepste, na twee dinge: ons vra geborgenheid (om veilig en rustig te voel) en ons vra na die waarde van ons elkeen se bestaan. Sien God my raak? Sorg God regtig vir my? Weet God regtig van my? Weet God wat met my gebeur? En het God regtig alles onder beheer?

Of kom ons sê dit anders: Ons almal, broers en susters, het ‘n behoefte na persoonlike aandag, na liefde en die ervaring van menswaardigheid. Nie een van ons wil alleen, en net niks wees nie. Ek wil iets wees, ek wil vrede ervaar, en wil goed oor myself voel, ek wil nie bang vir die lewe wees nie. Meer nog: ek wil nie voel of ek aan die lewe uitgelewer is nie, ek wil nie voel soos ‘n pion wat maar net met willekeur op die skaakbord van die lewe rondgeskuif word nie. Kan God dit vir my waarborg?

Ons teksvers, Matteus 10:29, broers en susters, meen ek gee vir ons ‘n antwoord op al hierdie vrae wat ons soms so onrustig maak: nie een van hulle (die mossies) sal op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.

Wat is interessant van hierdie vers? Dat wat met mossies gebeur, en dus met ons wat tog baie meer werd is as ‘n mossie, gekoppel word aan die wil van God. Aan dit wat God met ons wil, wat Hy met die wêreld wil.

Wat beteken dit? Party sê dit beteken eenvoudig dat God vir almal reeds lank voor so iemand gebore is ‘n sekere lewe beplan het, ‘n sekere lewenspad beplan het. Met ander woorde, Koos se lewe sal so wees, en Hanlie se lewe so. Dit sal met Koos gebeur, en dit met Hanlie. Alles is vooraf beplan, en alles sal so uitwerk.

Hiermee, broers en susters, kan ek egter nie saamstem nie. Want dit sou beteken dat alles wat elke dag met ons gebeur, uit die hand van God kom. Ook ons sonde. En dit kan tog nie. God kan tog nooit as die outeur van die sonde gesien word nie. Verder sou dit beteken dat die wêreld, soos dit is, maar net sy pad stap. En ons kan niks daaraan doen nie. Want alles is so beplan. So, ons kan nie armoede omkeer nie, ons kan nie die verwoesting van God se skepping en God se mense omkeer nie. Ons moet maar net leef en die pyne vat soos dit kom.

Nee, broers en susters, ek oordeel dat die sleutel van die verstaan van Matteus 10:29 opgesluit lê in Matteus 10:7: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom’. Met ander woorde: God het naby julle gekom, God is by julle. En hoe is God by ons? By wyse van ‘n wonder, ‘n ongelooflike wonder!

Siekes word gesond, dooies staan op, melaatses word gereinig, en bose geeste word oorwin. Alles tekens daarvan dat God in beheer is, dat God mag het oor die bose en ellende van hierdie wêreld, alles teken van God se heil, van God se redding, tekens van lewe. Soos Johannes 10:10 dit stel: ‘ Ek het gekom dat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed’.

Wat kan ons hieruit aflei? God se wil, God se plan staan in noue verband met ons heil/verlossing in Jesus Christus. God se voorsiening is sy verlossing. God red, God is besorg oor sy skepping en sy skepsele, sy mense.

Kom ons sê dit eenvoudig: Die God van Matteus 10 is nie iemand wat in die hemel sit en rekenaarspeletjies speel met die mens se lotgevalle nie. God is nie ‘n wrede koning wat in sy paleis sit en regeer met ‘n vooraf beslote plan nie. Nee. Die God van Matteus is die God wat bemoeienis maak met siekes, dooies, melaatses, met mense in ellende. Hy regeer nie soos ‘n marionette baas nie.

Inteendeel. God regeer met ‘n boodskap van vrede. Wens die mense vrede toe, sê Hy in Matteus 10:12. Sê vir hulle die koninkryk het by hulle gekom. In kort: die vraag is nie of God ‘n plan het nie, die vraag is of God ‘n hart het.

Wat nie beteken, broers en susters, dat God nie ‘n raadsplan het nie. God se plan met jou en my en met die wêreld is egter nie gemik om elke stukkie detail van ons lewens te bepaal nie, maar om ons met elke stukkie detail van ons lewe bewus te maak van sy nabyheid in ons lewe. Sy nabyheid wat vrede waarborg.

Vrede nie alleen tussen mense nie, maar veral tussen God en sy mense. Dit is ‘n vrede wat beteken dat die vyandskap tussen God en sy mense verruil is vir vriendskap. Vrede, vriendskap en versoening is daarom die woorde waarmee God se wil verstaan moet word.

Daarom: die antwoord op die vraag ‘wat is God se wil?’ is heil, verlossing. God wil verlossing, vergifnis, versoening, nuwe lewe, ewige lewe. Daarom ook, broers en susters, moet heil en voorsienigheid altyd met mekaar saamgelees word, gesien word as die vertrekpunt van God se bemoeienis met ons. In plaas daarvan dus om alles wat met ons gebeur te probeer verklaar, moet ons eerder gaan soek na God se heilsmotief in sy handelinge: Hy wil vir ons die heil bewerk. Sy wil, sy heil is om ons heel te maak.

Matteus 10:29-31 wil daarom ‘n bepaalde emosie by mense besweer, naamlik vrees. Jesus is in hierdie gedeelte besig om sy dissipels voor te berei op die moeilike taak van dienslewering, getuienis en verkondiging. Want mense wat God se wil verstaan as heil, kan nie maar net handjies gevou sit nie. Mense wat dit verstaan is mense wat nie gestel is op goud en silwer in hulle beursies, of klere wat aangetrek moet word nie (vers 9). Nee. Mense wat verstaan dat God se plan die verlossing van mense is, is nie opgaarders nie, maar luidsprekers van God se plan, God se heil.

Die wat dit doen, sê Jesus, stap tussen wolwe in, en daarom sal daar swaarkry en lyding wees. Maar hulle moet nie vrees nie. Hulle moenie mense en die lewe vrees nie (soos ons dikwels maak). Want God is in beheer. Hy is die een wat gevrees moet word.

Juis daarom behoort die vraag nie te wees of God die mossies laat val nie, maar eerder of ek bereid is om die heil wat ek ontvang het, te gaan leef en uitleef. Terwyl ek weet: niks gebeur sonder die nabyheid van God nie.

Jesus wil ons hier aanspoor om te gaan verkondig, omdat ons weet Hy is teenwoordig. Jesus wil ons nie oproep om kitsoplossings vir alles uit te dink en verklarings vir alles te vind waarmee gelowiges byvoorbeeld vir mekaar kan sê ‘hierom of daarom het jy siek geword of dit met jou gebeur nie’. Nee. Jesus roep ons eerder op om onverskrokke te verkondig dat sy plan ons heil is.

Ek vat saam: God se voorsienigheid het te make met ons heil, ons verlossing. Alles wat met ons gebeur het te make met hierdie heil. God wil ons vrede gee. Dit is sy plan. Hierdie vrede behoort egter nie net aan ons nie. Ons kry dit verniet, en moet daarom verniet uitgedeel word (vers 8). Ons moet hierdie verlossing en vrede leef, uitdeel. En wanneer ons dit doen, moet ons nie bang wees vir mense en die wêreld nie. Want God is altyd by ons. Nie eers ‘n mossie sal sonder sy wil val nie.

En in die uitleef van hierdie plan van God kan ons ten minste drie dinge weet:

  • God weet persoonlik van my. Lukas 12:7 (die parallelle gedeelte van Matteus 10:26-29) sê duidelik: nie een van julle sal vergeet word nie. Wat eenvoudig beteken: God ken my. Hy weet van my. En al verstaan ek nie altyd alles nie, God is by my teenwoordig.
  • God is vir ons daar. God is daar waar ons moet leef as sy kinders. Soos Matteus 10:19 dit stel: moenie bekommerd wees oor hoe julle God se vrede gaan leef en uitdra nie, want God sal dit vir julle gee wat julle moet doen en sê.
  • En derdens: weet dit is die Vader wat in beheer is. Nie ‘n God sonder ‘n hart nie. Nie maar net ‘n God wat ‘n koue plan het nie. Eerder ‘n God met deernis, liefde en empatie teenoor sy mense.

Ek sluit af: Voorsien God alles? Nee. Want die bose is werksaam in hierdie lewe. En soms maak mense deur hulle eie toedoen hulle lewens stukkend.

Voorsien God in alles? Ja. Want God ken my persoonlik, Hy is in beheer, en Hy is my Vader. Daarom hoef ons nie meer bang te wees nie. Nie eers vir ellende of swaarkry nie. Ons hoef nie meer bekommerd te wees nie. Want selfs ons hare is getel. Ons is meer werd as mossies, en selfs hulle sal nie eers op die grond val as dit nie God se wil is nie.

Maar waaroor ons wel bekommerd moet wees is dat ons nie by God se plan wil inskakel nie, dat ons nie sy luidsprekers wil wees nie. Dat ons eerder na ons eie reissakke kyk, eerder op ons eie pad deur die lewe konsentreer as om ander se paaie met God se plan van heil te laat kruis.
Amen