Psalm 110 en HK Sondag 12

Christus en die Christen



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Dit is vir ons doodgewoon om te sê dat ons in Jesus Christus glo, en dat ons daarom Christene is. Het ons egter al so 'n bietjie gaan stilstaan by die vraag hoekom Jesus, die Seun van God, Jesus Christus genoem word, en, in die tweede plek, wat die verband sou wees tussen die feit dat Jesus Christus genoem word, en ons daarom Christene? Aan hierdie twee sake wil ek vanaand aandag gee. Dit wil sê: hoekom word Jesus Christus genoem, en ons Christene.

As vertrekpunt om bietjie oor hierdie twee sake na te dink, wil ek vanaand begin by die Heidelbergse Kategismus (Sondag 12) wat hierdie twee sake soos volg beskryf, en kom ek lees vir u die twee betrokke vrae en antwoorde uit die Kategismus (ek vereenvoudig die antwoorde so effens ter wille van ons doel):

Waarom word Jesus die Christus genoem? Omdat Hy deur God met die Heilige Gees gesalf is tot profeet, tot Hoëpriester en tot Koning. En, tweedens: Hoekom word ons Christene genoem? Omdat ek deur die geloof deel het aan sy salwing, en daarom sy naam kan bely, myself as offer aan Hom kan gee, en teen die sonde kan stry.

Uit hierdie twee vrae en antwoorde, broers en susters, is ek van mening dat ons hier drie sake het wat ons aandag verdien: eerstens, dat Jesus gesalf is, tweedens, dat Hy daarom die amp van profeet, priester en koning het, en derdens, dat hierdie ampte van Jesus ook in 'n sekere sin deur ons beklee en uitgeleef moet word.

Kom ons gee eerste aandag aan Jesus se salwing deur God deur middel van die Heilige Gees. Of, in kort, wat beteken dit dat Jesus gesalf is deur God se Gees?

Die hele saak rondom salwing vind ons die eerste keer in die Ou Testament, veral as dit gekom het by die ampte van profeet, priester en koning. So het God byvoorbeeld aan Moses die opdrag gegee dat, wanneer iemand onder die volk een van hierdie drie ampte moes beklee, so 'n persoon gesalf moet word deur salfolie op sy kop uit te giet sodat dit afloop op die soom van sy klere.

Hierdie salwing het veral op twee sake gedui: eerstens, dat so 'n persoon deur God georden word om sy werk te doen, en tweedens, dat God so 'n persoon bekwaam sal maak om sy werk te doen. Dus: Jesus se salwing deur die Gees dui daarop dat Jesus deur God self aangestel is om die verlossing te bring, en tweedens, dat God Hom bekwaam gemaak het om hierdie verlossingswerk te volbring. Deur die salwing (doop) met die heilige gees, word Jesus dus God se gevolmagtigde gestuurde om God se werk te kom doen.

Tweedens, het ons gesien, word Jesus gesalf tot profeet, priester en koning. Hoekom tot profeet? Want, broers en susters, soos die profete van die Ou Testament die opdrag gehad het om God se wil aan die volk bekend te maak, was dit Jesus se opdrag om God se wil van die redding van die sondaarmens aan die wêreld bekend te kom maak. Met ander woorde, sy opdrag was om God se verborge raad en wil ten opsigte van die mens se redding te kom verkondig.

En was Jesus nie profeet by uitstek nie, broers en susters? Nooit het iemand weer gepreek soos Jesus kon nie. Dink maar net aan sy gelykenisse, sy strydgesprekke met die godsdienstige leiers van sy tyd. Om nie eers te praat van sy lewe as voorbeeld nie. Dat Hy selfs kon sê: wie my sien, sien die Vader, soos ek optree, so is die Vader.

Tweedens, het ons gesien, was Jesus gesalf tot hoëpriester. Nou weet ons dat die priesters in die Ou Testament diegene was wat deur die bring van offers versoening tussen God en mense daargestel het. Jesus is egter nie net priester nie, maar hoëpriester, omdat Hy nie maar net geoffer het nie, maar Homself as offer gegee het om God met die mens te versoen.

En hier moet ons ook die ander verskille tussen Jesus en die priesters van sy tyd raaksien: hulle offers was tydelik, het gegeld vir bepaalde sondes, moes herhaal word. Sy offer was egter Homself, eenmalig, volkome, en hoef nooit weer herhaal te word nie.

Derdens is Jesus tot die amp van koning gesalf. Nou 'n koning, weet ons, is iemand wat 'n koninkryk het, en wat regeer (dink maar aan Saul, Salomo of Dawid). Die koninkryk van Jesus is egter nie gekoppel aan bepaalde grense of tyd nie. Ook is dit nie 'n wêreldse koninkryk nie, maar 'n geestelike. En ook regeer Jesus nie deur septer en mag nie, maar deur woord en Gees.

Wat beteken dit alles vir ons, broers en susters? Kom ek probeer dit eenvoudig stel: Jesus is gesalf deur die Gees, en so het Hy profeet, priester en koning geword. Deur die gawe van die geloof het ons deel aan sy salwing, en daarom is ook ons profete, priesters en konings. Wat sou dit beteken?

Ons is profete in die opsig dat ook ons God se wil en verlossing aan die wêreld moet verkondig. En nie net deur die spreek van die woord nie (dit is juis hier waar ons dikwels die fout maak en daarom meen ons hoef nie te verkondig nie), maar veral deur die daad. Deurdat ons so sal lewe dat ons lewens toon dat ons verlostes is, dat ons verlossing by ons 'n bepaalde lewensingesteldheid kweek (bv dat ons nie lewe soos mense sonder hoop nie, dat ons blymoedig ons lewenstaak verrig, dat ons 'n bepaalde verhouding met ons naaste nastreef).

Verder is ons ook priesters: priesters wat offers aan God moet bring. Offers wat ons, eintlik, onder net twee hoofde kan saamvat: die eerste offer moet onsself wees, ons hele liggaam, ons menswees, ek, om dit so te stel. Waar ek voor God staan en sê: Here, hier is ek, ek is tot u beskikking. Gebruik my net soos U wil, waar U wil en hoeveel keer U wil. Wat sal beteken, indien ons dit bedoel, ons elke dag verskeie offers aan God sal bring: offers van tyd, ondersteuning, vergifnis, liefde (om maar net 'n paar te noem).

Derdens is ons ook konings. Konings wat moet regeer en heers. Waaroor: veral oor die sonde en ook die gebrokenheid van die lewe. Met ander woorde, dat ons oor die sonde sal heers en nie die sonde oor ons nie, en dat ons beheer sal neem oor ander se lewens, waar nodig, veral daar waar ons deur verskillende soorte offers ander se lewens kan verbeter.

Dus: wie sê `ek glo in Christus’, sê daarmee dat Jesus Christus profeet, priester en koning is. Wie sê `ek glo in Christus’ sê daarmee dat hy/sy Christen is. En daarom ook profeet, priester en koning.

Mense wat God se regterhand in hierdie wêreld is, soos Psalm 110 dit stel. Mense wat sy Woord verkondig deur woord en daad, wat offers aan God bring, wat dit ook al mag wees, mense wat oor die sonde regeer.

Ons het almal deel aan Christus, broers en susters. Want soos Jesus met die Heilige Gees gesalf is, so het ons die Gees ontvang toe ons tot geloof in Jesus Christus gekom het. Die vraag is egter: besef ons dat dit ook ons profete, priesters en konings maak? En verder: is ons bereid om hierdie ampte wat ons ontvang het so uit te leef dat sy koninkryk nie net staande bly nie, maar ook uitbrei? Hoe vaar ons wat dit betref? Is ons tevrede, of dink ons ons kan beter?
Amen