Matteus 27:45-50

Vraag en Antwoord 44



1.Perikoop afbakening
Die Aland/Metzger (1975) teks maak van 45-56 een perikoop. Die 1983 vertaling kies vir dieselfde indeling. Riekert in Neotestamentica addendum 16(1982) se discourse analysis dui dieselfde eenheid aan as wat ek hier voor gekies het. My keuse vir hierdie afbakening is struktureel en inhoudelik. Myns insiens is die kai idou van vers 51 aanduiding dat die aandag verskuif weg van Golgota na die tempel, die grafte en eindelik weer na Golgota. Inhoudelik loop die gebeure na aanleiding van Jesus se dood uit op 'n belydenis (die soldaat) aangaande Jesus.

Die liturg kan egter ernstig oorweeg om Ps 22 ook te neem as deel van die Skriflesing. Deur die eerste vers van genoemde Psalm aan te haal, (hieroor stem meeste kommentare tot my beskikking saam) pas Jesus die geheel van die Psalm op Homself toe.

2.Teologiese agtergronde
Die vertelling van Jesus se kruisdood geskied teen 'n spesifieke agtergrond. Daar moet daarop gelet word dat een van die temas wat deur Matteus loop, die vervulling van die Skrif is. Dit wat met Jesus gebeur, dit wat Hy doen, vervul beloftes en vooruitwysings van die Ou Testament.

Hiermee saam moet gelet word op die klem op die doen van geregtigheid, die doen van God se wil. Die eskatologiese perspektief dien 'n beter verstaan van Matteus se denke.

'n Aanduiding van OT agtergronde ter sprake:

a.Psalm 22
b.Joël 3:15,16
c.Jesaja 49:7

2.Sake wat bespreek kan word
Daar is verskeie sake wat aandag trek:

a.Die aanhaling uit Ps 22 (wat negatief begin maar positief eindig.)

b.Die rol van duisternis in hierdie gedeelte. Hiermee saam Jesus se interpretasie van hierdie duisternis (waarom het U My verlaat).

c.Jesus wat midde in hierdie Godverlatenheid steeds God aanspreek as my God. Hierdie intieme band van Sy kant af nie in gedrang deur die krisis waarin Hy nou is nie.

d.Die vraag: Is daar 'n band tussen hierdie duisternis wat saam met Jesus se dood gaan aan die een kant en die besondere lig (ster en wyses uit die Ooste) wat saam met Sy geboorte gaan?

e.Waarom word die Aramese aanhaling verkeerd interpreteer?

i.Aan die een kan kan dit wees dat die mense net die eerste paar woorde gehoor het in die geraas, en nie weet wat om daarvan te maak nie. (Romeinse soldate met min kennis van Aramese taal, tog basiese kennis van Jode)

ii.Aan die ander kant kan dit wees dat hulle Jesus opsetlik verkeerd gehoor het. (Jode, Wetgeleerdes en kie)

  1. Hulle verwagting dat Elia eers moes kom, het 'n sekere verstaan tot gevolg gehad. Jesus se dood bewys hulle was reg (volgens hulle). Elia moes kom as aankondiger en voorloper vir die Messias.
  2. Hulle dink aan Jesus se Messias-uitsprake en wonder of Jesus nie Elia roep om te kom sodat Hy Messias kan word nie? Dalk het Elia Jesus in die steek gelaat! Dit hou in dat hulle verstaan dat Jesus Godverlate is en nou wil hulle tot eie vermaak voorgee dat Jesus nou op skepsels begin vertrou in Sy laaste oomblikke.

f.Watter verband tussen hierdie uitlatings en die verheerliking op die berg waar Elia teenwoordig is? (Konteks van Petrus se belydenis en die opneem van die eie kruis Matteus 16,17). Het Elia dan nie tog in 'n sekere sin gekom nie?

g.Wat van die verstaan van Johannes as die voorloper (die Elia wat moes kom)?

h.Die verband tussen hierdie uitroep van Godverlatenheid met Matteus 3:17 wat spreek van God se welbehae: Ons moet hier onderskei tussen Jesus as persoon en die werk van Jesus. Aan die kruis kom Jesus onder die las van al ons sonde en God se afkeur van die sonde word op Jesus gekonsentreer?

i.Jesus bly in beheer, selfs aan die kruis en met 'n harde kreet blaas Hy die laaste asem uit. 'n Vrywillige offer om die mens van sonde te red, 'n daad van hoop en vertroue om ten spyte van die Godverlatenheid tog te mtref vir die mens, in die vertroue dat God Hom sal opwek uit die dood. Daarmee saam die positiewe strekking wat uit Psalm 22 na vore kom!

j.Dit is duidelik uit NGB artikel 21 en Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 44 dat hierdie woorde nie net na hel verwys nie, maar binne die konteks van die verlossing van die mens verstaan moet word.

k.Hoe speel hierdie uitlating in op Chalcedon (Onskeibaar itv ware mens en ware God - Jesus se twee nature) en die Triniteit?

3.Preekskets 1 (Kategimusprediking)
Waar is die hel? Wat is die hel? Ons bely nou wel nie dat ons glo in die duiwel nie, maar ons bely dat ons glo Jesus het neergedaal na die hel. Ons het dit nou-net saam met die ouderling bely. Ek vra weer, waar is die hel en wat is die hel? Meer nog, waarom het Jesus ter helle neergedaal, wanneer het dit gebeur en waarom moes dit gebeur? Kom ons beantwoord hierdie vrae aan die hand van die gedeelte wat ons gelees het en die Heidelbergse Kategismus. Die Kategismus is nie danig dramaties in die manier waarop die geloofsartikel hanteer word nie. Vraag 44 van Sondag 16 stel: ''Waarom volg daar: 'wat neergedaal het na die hel'?'' Die antwoord wat aangebied word, is die volgende: ''Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die helse benoudheid en pyn verlos het. Hierdie verlossing het Hy bewerk deur Sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking wat Hy ook aan Sy siel deur Sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely het.'' Wanneer ons hierdie vraag en antwoord lees saam met die NGB artikel 21, kom 'n paar sake na vore. NGB artikel 21 stel onder andere ''Hy het die verskriklike straf wat ons sondes verdien, ervaar, sodat Sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val en Hy het uitgeroep' My God, My God, waarom het U My verlaat?''' Uit hierdie twee aanhalings is dit duidelik dat Jesus se hellevaart verband hou met ons verlossing, anders gestel, dit is deel van die versoening wat Jesus vir ons aan die kruis bewerkstellig het. Om dit te kan verstaan, moet ons weet wat die verband tussen sonde en straf is, wat die verband tussen straf en hel is en wat Jesus met die hele aangeleentheid te doen het. Dit is nie aangenaam, geliefdes, om daaraan herinner te word dat ons sondaars is nie. Ons weet en bely dat ons nie net sonde doen nie, maar dat ons sondaars is. Ons sukkel om dit te erken. Ons sukkel nog meer om die band tussen sonde en straf te erken of raak te sien. Ons het soveel verskillende maniere waarop ons ons sondigheid en strafbaarheid ontken en probeer weg redeneer dat dit nodig is dat ons net weer hoor dat ons sondaars is en daarom, soos die doopformulier dit stel, onder die oordeel van God verkeer. Dit beteken eenvoudig dat ons in ons huidige situasie deur God gestraf sou moes word, omdat ons dit verdien. Sonde is 'n oortreding teen God, en God kan dit nie toelaat dat ons die 10 gebooie links en regs, wild en wakker oortree en ignoreer nie. Ons gehoorsaam nie eens die eenvoudige gebod van die liefde nie! Hoe kan ons verwag dat God nie sal straf nie? Nou is hierdie straf ook nie in die vorm van weegskaal geregtigheid nie. Ek stamp nie nou my toon seer omdat ek gister iemand gevloek het nie, ek word nie vandag beroof omdat ek eergister 'n rassistiese opmerking gemaak het nie. Dit sou weegskaal geregtigheid gewees het. Dit sou dalk nog kon werk as ons net sonde gedoen het en nie sondaars was nie. God straf deur te onttrek. Hierdie onttrekking van God is die grootste straf denkbaar. Waarom? In hierdie lewe is God altyd met ons, al besef ons dit nie. Maar hierdie lewe kom tot 'n einde. Dan volg die ewigheid, of nie! Net God is ewig, en sonder God kan niemand die ewigheid ingaan nie. God se teenwoordigheid beteken egter ook lig en lewe, sonder God is daar net duisternis en dood. Dit is die hel, gemeente. Die hel is daar waar God nie is nie. Dit is daardie onaangename toestand waar God onttrek en op jou neer frons. Dit is dood, duister, alleen. Dit was ons almal se voorland. Om alleen te wees, sonder God. Tydelik, nie in staat om die ewigheid in te gaan nie. Jesus kom egter tussenbeide en trek God se afkeurende blik weg van ons af en laat God dit op Hom konsentreer. Jesus ervaar die straf wat ons verdien en moes ervaar! Jesus neem ons lyding op Hom! Dit beteken dat Hy al ons straf moes ervaar. Hy moes die volle prys betaal vir ons sondaar-wees. Dit beteken ook dat Hy hel moes ervaar, dat Hy moes voel hoe dit is om dood te gaan, die groot hel ervaar van God wat nie net frons nie, maar ook onttrek van Hom af. Die oomblik toe Jesus roep ''My God, My God, waarom het U My verlaat?'', daardie oomblik het Jesus hel ervaar. Daardie duister oomblikke in die land, was vir Jesus verskriklik. Hy het Sy lewe lank in geregtigheid gelewe, God as 'Abba', Vader aangespreek, en nou, omdat ons sondaars is, moes Hy Godverlate aan die vloekhout hang. Deur dit te doen het Hy ten volle betaal vir al ons sondes. Jesus se hellevaart is met ander woorde ons volle waarborg dat Hy heeltemal alles betaal het vir ons sondes en ongeregtigheid. God kyk nie meer met 'n frons na ons nie, God onttrek nooit van ons nie, Jesus het die hel op Hom geneem. Wat is die hel? Om van God verlate te wees. Waar is die hel? Daar waar God gladnie is nie. Sal ons ooit hel ervaar? Nee, Jesus se kruisdood beteken dat ons nooit hel sal ervaar nie. Is die hel 'n werklikheid? Goddank, vir ons is dit nie! Amen

4. Preekskets 2
Broer en suster, het jy al ooit op die stoep gesit en huis toe verlang? Ons ken die geterg daaroor, die grappies wat gemaak word. Die mense wat sonder rede hartseer voel, alleen voel. Hoe meer jy alleen voel, hoe meer verlang jy na dit wat jy nie weet nie. Verlang jy huis toe terwyl jy op jou stoep sit. Die alleenheid kan so erg word dat jy voel dat jy alleen in die heelal is, met niemand wat omgee nie, niemand wat eens sal wonder wat van jou geword het indien jy nou sou verdwyn. Jy is so alleen dat dit voel asof God van jou onttrek het, asof selfs God jou verlaat het. In die hel van depressie voel dit asof jy maar net sowel kan ophou bestaan. Ons ervaar hierdie gevoelens van tyd tot tyd, in 'n mindere op meerdere mate. Die vraag wat net beantwoord moet word, is die volgende: Is dit werklik so? Wat is die verskil tussen 'n blote gevoel en die werklikheid? Is jy werklik ooit heeltemal alleen? Is daar 'n tyd wat jy selfs Godverlate is? Om hierdie vrae te beantwoord, moet ons gaan na die lyding van die man van Nasaret. Jesus Christus het mens geword, om ons almal te kan red. Dit glo en bely ons! Ons weet Hy het die prys vir ons sonde betaal, maar wat beteken dit vir jou en my? Kom ons stel dit aan die begin, ons voel tot ons skande alleen, maar dit is en kan nie waar wees nie, Jesus se kruisdood beteken vir ons dat ons nooit alleen kan wees nie, dit is 'n saak van onmoontlikheid! Ons gevoel van Godverlatenheid is 'n saak van verbeelding, met geen voet in die werklikheid nie. Dit beteken nie dat hierdie gevoel nie sterk kan wees nie, maar net dat hierdie gevoel nie waar is nie. Jesus se kruisdood het dan juis gemaak dat ons nooit alleen sal wees nie. God se oordeel oor die sonde beteken dat God die sonde straf met dood. God wil niks te make hê met die sonde nie, God onttrek God self van die sonde. Nou weet ons dat Jesus ons sonde op Hom geneem het. Jesus het namens ons die prys aan die vloekhout gaan betaal. Hierdie prys beteken veel meer as net die dood. Dit beteken ook dat God nie net met 'n frons na Jesus gekyk het nie, maar ook van Jesus onttrek het. Hoe verskriklik moes dit nie daar aan die kruis gewees het nie. Jesus, onskuldig tussen twee misdadigers, verneder. Versaak deur vriende, familie, volgelinge! Vir drie uur hang daar 'n duisternis oor die land. Drie lang ure is Jesus alleen aan die kruis, in die donker, helder oordag! In die duisternis van die sonde moet Jesus God se frons aan die vloekhout verduur. Maar dit is nie al nie, die ergste is die angsroep van die man aan die vloekhout, ELI, ELI..... Hierdie man, van wie God by Sy doop sê: Dit is my geliefde seun in wie Ek 'n welbehae het! Hierdie einste seun moet nou roep 'waarom het u my verlaat?' Die man wat Sy Vader in die hemel aangespreek het as ABBA - Pappie - moet nou vra 'waarom het u my verlaat?' Om God se afkeurende blik weg van ons te kry, moet Hy wat sy lewe lank 'n intieme verhouding met Sy Vader gehad het, aan die vloekhout ervaar dat God van Hom wegtrek. Jesus volbring Sy taak, hy hang aan die vloekhout, en Hy sterf aan die vloekhout, Hy betaal die volle prys vir al ons sonde! Nou hoef God nie meer met 'n frons na ons te kyk nie, in Jesus is ons nou geregverdig, in Jesus hoef ons nooit weer die hel van Godverlatenheid te ervaar nie. Nie eens die onkunde van die mense by die kruis kan hierdie werklikheid verander nie. Hulle probeer dit wat Jesus ervaar, af te maak as minder as wat dit is. Kyk, hy roep Elia! Ha-ha. Kom ons kyk of Elia hom sal kom help! Ha-ha. Hulle wil Jesus se lyding minder maak as wat dit is, in ongeloof wil hulle nie aanvaar dat Jesus namens hulle God se oordeel verduur nie. God se frons, God se onttrekking laat Jesus in angs aan die vloekhout hang, maar hulle probeer grappe maak, probeer dit minder maak as wat dit is. Ons weet as gelowiges dat Jesus namens ons die hel van die kruis ervaar het. Ons weet nou dat Jesus seker gemaak het dat God ons nooit weer alleen sal laat nie. Jesus se lyding sluit in die verskriklikheid van die hel! Dit beteken dat ons nooit hel hoef te ervaar nie, nie in hierdie lewe nie, en ook nie in die ewige lewe nie. Broer en suster, as jy so alleen voel, van God en mens versaak voel, moet jy altyd weer onthou, dit kan nie waar wees nie, dit is 'n saak van onmoontlikheid. Jesus se alleenheid aan die kruis is ons waarborg dat ons nooit alleen sal wees nie, maak nie saak wat ons voel nie.