Johannes 14:1-14

Hemelvaart beteken afskeid, maar ook harde werk



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:
Hemelvaart is sekerlik die aspoestertjie van al ons kerklike feesdae. Ons sien dit eerstens in die feit dat dit dié kerklike/Christelike vakansiedag is wat nie meer 'n openbare vakansiedag is nie, maar ook in die feit dat baie gelowiges nie werklik weet waaroor dit gaan as dit kom by die hemelvaart van Jesus Christus nie. Juis daarom is Johannes 14 vir ons vanaand 'n baie gepaste teks, omdat dit nie alleen direk handel oor die hemelvaart/weggaan van Jesus nie, maar ook aan ons baie duidelik uitspel hoe die gelowige Jesus se hemelvaart behoort te verstaan, en watter troos daar vir die gelowige in die hemelvaart van Jesus opgesluit lê.

Die begrip afskeid, broers en susters, sê baie is waaroor dit gaan in die hemelvaart van Jesus. En nou weet ons maar te goed dat dit nie altyd te maklik is om van ander mense afskeid te neem nie. Veral nie as dit 'n geliefde(s) is wat 'n mens graag na aan jou wil hê nie. Verder: Wanneer mense naby aan jou net vir 'n tyd weggaan, is dit nog moontlik/makliker om dit te aanvaar, maar wanneer jy permanent afskeid van iemand na aan jou moet neem byvoorbeeld as gevolg van die dood, is dit nooit maklik nie.

En dit sien ons juis hier by die dissipels van Jesus. Kort tevore (Joh 13:31-38) het Jesus aangekondig dat Hy weggaan. En hierdie skeiding, lees ons, is vir die dissipels ondenkbaar. Hulle het dan alles verlaat om Jesus te volg. Hy was vir hulle alles. Daarom: as Hy nou weggaan, wat sal van hulle word? In die lig hiervan kan 'n mens dan ook Petrus se reaksie in Johannes 13:30 verstaan: hy is bereid om enigiets te doen, solank hy net nie van Jesus geskei word nie. En Jesus se reaksie hierop, naamlik dat Petrus Hom sal verloën, tesame met die verwarring oor die verraad wat Judas sou pleeg, het die dissipels se ontsteltenis sekerlik nie verminder nie. Want ewe skielik het hulle besef: hier gaan iets finaals gebeur, iets waaraan hulle niks kan doen nie.

Die interessante is, broers en susters, en dit kan ons aflei uit Jesus se antwoord aan hulle in Johannes 14, is dat die dissipels se ontsteltenis oor Jesus se weggaan/hemelvaart geleë is in die feit dat hulle nie raakgesien het dat hierdie afskeid van Jesus nie maar net 'n gewone afskeid is nie. Dat dit 'n andersoortige afskeid is. Want anders as alle ander afskeide is hierdie een nie triestig en finaal nie. Jesus se afskeid is nie 'n koue toekeer van die rug op sy volgelinge nie. Hulle is Jesus nie kwyt as gevolg van die dood nie. Want Jesus se afskeid, sê Hy, is nie 'n einde nie, maar juis 'n nuwe begin.

Hoekom, broers en susters? Want, sê Jesus, hy gaan weg om veral drie redes:

  • omdat dit in die belang van die dissipels is, met ander woorde, dit is tot hulle beswil/voordeel;
  • omdat Hy hulle liefhet; en
  • sodat Hy weer kan kom.

Kom ons kyk vinnig na hierdie drie redes vir Jesus se weggaan. Eerstens dan: Hy gaan weg omdat dit in hulle belang is, tot hulle voordeel. Ek gaan, sê Jesus, om vir julle plek gereed te maak. Daar is dus 'n doel agter my weggaan. Met 'n doel het Ek na die aarde toe gekom: om vir julle sondes te kom sterf. Met 'n doel het Ek gesterf: om vir julle die graf te oorwin. En daarom, ook met 'n doel, gaan Ek nou weg: om vir julle plek by die Vader gereed te maak. Sodat, wanneer ook julle eendag hierdie wêreld verlaat, daar vir julle 'n plek by die Vader sal wees.

Tweedens: Hy gaan weg omdat Hy hulle liefhet. Die liefde van Jesus Christus vir sondaarmense, broers en susters, sou 'n mens op verskillende maniere kon uitdruk. Ons teks sê: Die liefde van Christus vir die sondaarmens is daarin geleë dat Hy vir ons die weg, waarheid en die lewe is (Joh 14:6). Die weg/manier waarop Jesus, in sy lewe, vir God sigbaar gemaak het, was om vir ons iets te kom wys van God se liefde vir die sondaarmens. In sy handelinge met die mense wat op sy pad gekom het, het Jesus getoon wat die weg van die liefde is: vergifnis, empatie, meelewing, geduld, en so kan ons aangaan. Verder: die liefde dien altyd die waarheid, soos Paulus dit vir ons so pragtig in 1 Korintiërs 13 uitdruk. En: die liefde maak vir ons die lewe, die ware lewe oop. Slegs deur die liefde, leer die Woord ons op so baie plekke, kan die mens waarlik lewe. Of, slegs deur die liefde lewe 'n mens, anders is jy dood.

Of, broers en susters, om dit totaal anders te stel: Slegs wanneer 'n mens in en deur die liefde lewe, het jy gemeenskap met God. Op aarde het Jesus, omdat Hy elke oomblik in gemeenskap met God gelewe het, onbeperk liefgehad. En nou, omdat Hy die dissipels, en ons, liefhet, gaan Hy na die Vader toe om te sorg dat ons eendag in volle gemeenskap met God sal kan lewe.

Derdens: Hy gaan weg, sê Jesus, omdat alleen sy weggaan dit moontlik sal maak dat Hy eendag weer sal kom. As Hy dus nie weggaan nie, sal Hy nie weer eendag kan terugkeer om ons volledig by God te neem nie. As ons na God toe wil gaan, moet Hy dit eers doen. Met ander woorde: ons sal eendag die graf oorwin, net omdat Jesus dit vir ons en voor ons gedoen het. Net so: ons sal eendag alleen by die Vader kan wees, as Jesus eers vir ons soontoe gegaan het.

Dus, broers en susters: die troos van Jesus se weggaan lê vir sy dissipels, en natuurlik ook vir ons, in die feit dat dit nie 'n permanente skeiding is nie. Hy het opgevaar na die hemel toe omdat Hy ons liefhet, omdat dit tot ons beswil is, en omdat sy weggaan juis die hereniging moontlik maak. Sy weggaan beteken dus belofte en verwagting. Wat dus na 'n ramp lyk, is eintlik 'n baie groot seën. Want nou sit Jesus aan die regterhand van die Vader. Om veral vir ons by die Vader te pleit. Sodat ons gebede by die Vader kan uitkom. Juis daarom bid ons altyd net in die Naam van Jesus. En kan ons weet, ons Vader hoor ons.

Nou is dit egter ook so, broers en susters, dat die betekenis en die boodskap van Hemelvaart nie maar net mag wees: nou moet ons net sit en wag nie. Die troos van Hemelvaart lê met ander woorde nie maar net in die feit dat Jesus eendag weer gaan kom, en dat plek vir ons gereed gemaak is nie. Inteendeel.

Die hemelvaart van Jesus is iets wat ons situasie, terwyl ons op Hom wag, radikaal verander. Hoekom sê ons so? In Johannes 14:12 sê Jesus dat, toe Hy op aarde was, sekere dinge gedoen het. Een daarvan, lei ons af uit Johannes 14:9, was om God sigbaar in die wêreld te maak. Want wie my sien, sê Jesus, sien die Vader. En wat Ek gesê het, is dit wat die Vader ook sê.

Maar nou, sê Jesus, omdat Ek na die Vader toe gaan, sal julle nog groter dinge as dit doen. Hierdie groter dinge waarvan Jesus hier praat, broers en susters, glo ek kan net na een saak verwys: Dat ons moet voortsit wat Jesus begin en gedoen het. Hy het die Vader kom sigbaar maak. Hy is nou weg. En nou moet ons dit doen. Nou het ons die opdrag om te gaan doen wat Jesus gedoen het. Nou is ons God se verteenwoordigers, want die eintlike verteenwoordiger, Jesus, is nie meer by ons nie.

Dus, broers en susters: Hemelvaart beteken eintlik opdrag en nie afskeid nie. Ja, Jesus is weg, maar Hy is alleen weg sodat Hy weer kan kom. Hy is weg omdat Hy ons liefhet, Hy is weg tot ons voordeel. Maar Hy is weg eers nadat Hy aan ons 'n baie duidelike opdrag gegee het: Nou moet julle begin doen wat Ek gedoen het. Nou moet julle die Vader begin sigbaar maak deur julle woorde en dade.

Nou moet julle, met ander woorde, soos Ek julle in gemeenskap met die Vader gebring het, ander in gemeenskap met die Vader bring. En dit kan julle alleen doen, nie maar net deur te wag tot Ek weer kom nie, maar te gaan doen en lewe, te gaan doen en lewe tot eer van God alleen.

Hemelvaart, broers en susters, beteken dus vir u en my twee dinge: dit is vir ons 'n troos, want Jesus het gegaan sodat daar vir u en my eendag plek by God sal wees. Maar dit beteken ook om te gaan werk. Want Jesus is nie meer by ons nie. Hy het die Vader sigbaar gemaak. Nou moet ons. En ons sal kan. Ons moet net toelaat dat God se Gees ons elke dag lei.
Amen