Johannes 21:1-25; Handelinge 1:9-11

Is ons sterrekykers of mensekykers?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Iemand het eendag die opmerking gemaak dat ons dikwels, soos die dissipels wat lank en stip na die hemel bly kyk het nadat Jesus na die hemel opgevaar het, Jesus se hemelvaart sien as 'n wegvaart. En dat Christene daarom dikwels, soos die dissipels, geneig is om hemelkykers of sterrekykers te wees.

Want Jesus is mos nou weg, op die aarde is Hy mos nou afwesig. Goed, die twee mans met die wit klere aan het nou wel gesê dat Hy sal eendag weer kom, maar dit is seker e-e-e-ndag. Baie lank vorentoe. En daarom, aangesien Jesus nie meer by ons is nie, en dit nog heel waarskynlik lank gaan neem voordat Hy weer kom, laat ons nou maar rustig voortgaan met ons lewens. Laat ons maar werk en ons kinders grootmaak.

Want al is Jesus nou nie meer by ons nie, het ons darem die herinnering aan Hom, dat Hy vroeër op aarde was, en daarmee saam darem ook die verwagting, die verwagting dat Hy eendag weer sal kom. Maar dan die probleem: so tussen 'n mens se herinnering en verwagting broers en susters, val die geloof dikwels so maklik plat, vervaag dit, bly daar soms niks van oor nie.

En wat gebeur dan? So in die daaglikse sleurgang van ons dagtaak, so saam met die gedagte dat Jesus nie meer by ons is nie — want Hy het mos nou na die hemel opgevaar — begin ons te lewe asof Jesus nie leef nie, asof God nie by ons teenwoordig en in ons lewens teenwoordig is nie. En omdat ons dink Jesus sal eers e-e-e-ndag weer kom, begin ons so maklik vir onsself te leef, en nie meer vir God nie.

Nie dat ons daarmee wil sê dat God nie meer bestaan nie. Nee, God lewe. Kyk maar na die hemel. Kyk maar na die sterre. Hy is iewers daarbo, en eendag sal Hy kom. Tot dan, sal ek maar my lewe leef. Bewus van God, maar nou nie eintlik saam met God nie. Want Hy is mos nie hier nie. En daarom, omdat God nie hier is nie, kan ek eintlik maar lewe soos ek wil, hoef ek nie veel vrug te dra nie, want hoekom dan? Wie gaan dit van my opeis? Wie gaan hier van my rekenskap vra?

Die rekenskap wat God van ons eis, broers en susters, kom dikwels baie gouer as wat ons verwag. Soos die dissipels op die harde manier moes uitvind. Tydens Jesus se aardse omwandelinge was die boodskap van Jesus aan sy dissipels baie eenvoudig (en baie duidelik): julle moet My volg, julle moet vissers van mense wees, julle moet My dien, julle moet ander liefhê soos Ek dit doen, en, gaan na al die nasies toe, en maak die mense my dissipels, doop hulle en leer hulle.

En wat maak hulle toe? Die een oomblik kyk hulle nog na die wolke, en die volgende oomblik, in plaas daarvan om te gaan doen wat Jesus gevra het, om vissers van mense te wees, gaan vang hulle vis. Terug in die ou groef, dit wat hulle gedoen het daar heel aan die begin voor Jesus hulle geroep het, gooi hulle die nette uit. En soos die môre kom, en die nette swaarder en swaarder word kom hulle agter hoe nutteloos hulle inspanning is. Dat hulle niks gaan vang nie.

En dan, meteens, word hulle tot verantwoording geroep: Jesus verskyn aan hulle. Nie dat hulle Hom herken nie. Hulle sou ook nie, want mense wat God nie verwag nie, broers en susters, sal Hom nooit herken nie. `Het julle iets gevang om te eet’, vra Jesus? En die antwoord: Nee Here, want laat ons maar eerlik wees: ons het gedink U is nie meer hier nie, en toe het ons maar gedink dat ons sal voortgaan soos in die verlede. Ons het vergeet dat ons na al die nasies moet gaan, toe kom ons maar hier na Galilea toe om vis te vang.

Dit is hoekom ek sê, broers en susters: tussen herinnering en verwagting val die geloof so maklik plat. As iemand eers 'n sterrekyker of hemelkyker geword het, as iemand eers begin dink (en selfs begin glo het) dat God daar iewers, ver in die hemel is, dan kom daar gewoonlik nie veel van so iemand se geloof in die daaglikse lewe nie. Want as God nie hier is nie, is my lewe 'n lewe sonder God, hoef dit nie 'n lewe vir God te wees nie, kan dit maar 'n lewe vir myself wees.

So ook die kerk, broers en susters, en laat ons maar hier ook eerlik oor onsself wees: as die Here vanaand hier sou opdaag, en sy hand sou uitsteek, wat sal ons kan sê? Kom ek sê vir u wat ek dink ons nie anders sal kan as om te sê nie: nee Here, sal dit kom uit die monde van gemeentelede, uit die monde van kerkrade en sinodes, ons het nie brood vir die hongeriges nie, ons het nie eintlik veel woorde vir die stomgeslanes nie, nie veel redding vir die reddeloses nie, nie hoop om te bied aan die hooploses nie, nie ondersteuning aan die eensames nie.

Want sien Here, ons het gedink u is vir so 'n rukkie weg, en bo alles, eintlik was ons so 'n bietjie baie besig om ons eie dinge in stand te hou en self te oorleef, en daarom was daar nie eintlik tyd oor om aan ander aandag te gee nie. So, ons is regtig jammer, maar soos die dissipels moet ons ook antwoord: ons staan met leë hande, ons het niks om vir U te gee om te eet nie. Ons het regtig nie gedink dat U by ons was of so gou weer sou kom nie.

Die feit van die saak is, broers en susters, en dit weet u, dat God nie alleen nog altyd by ons was nie, maar ook by ons is, en altyd by ons sal wees. En ironies genoeg word dit nêrens duideliker beskryf as juis in Handelinge 1:9-11 nie, 'n gedeelte wat vertel van Jesus se hemelvaart, van Jesus se weggaan. In Handelinge vertel Lukas ons dat Jesus op 'n wolk weggeneem is. En dit doen Lukas nie om dowe neute nie.

Want die wolk, broers en susters, veral in die Ou Testament (en ek dink bv hier aan gedeeltes soos Eks 13:21 en 19:16) is in die Bybel nie 'n teken van God se afwesigheid nie, maar juis van God se magtige teenwoordigheid. Hemelvaart is daarom nie 'n verlaat van die wêreld deur Jesus nie, maar sy troonbestyging in die hemel. Om vandaar oor sy koninkryk op aarde te regeer en dit te bestuur. Om vanaf daar toe te sien dat sy wil, net soos in die hemel, ook op die aarde geskied.

Maar hoe doen Hy dit? Hoe kan Hy in die hemel sit en tog op die aarde regeer? Hoe doen Hy dit? Hy doen dit, broers en susters, as Herderkoning, deur middel van herders op aarde wat die agente van sy liefde moet wees.

Dit, meen ek broers en susters, is wat die res van hierdie gedeelte vir ons wil sê: na elke keer wat Jesus vir Petrus vra of hy Hom liefhet, en Petrus bevestigend antwoord, is Jesus se opdrag: as jy my liefhet, pas dan my skape op. Laat my lammers wei.

Dit is wat Hemelvaart beteken, dit is wat dit beteken dat Jesus op 'n wolk weggeneem is. Dat Jesus weg is, maar tog nie. Dat Hy nog regeer, maar eintlik in 'n sekere sin ook nie. Want nou regeer ons namens Hom. In ons stem moet ander die stem van die ware Herder hoor, en omdat ons hierdie Herder op 'n bepaalde manier volg, moet ander ook die begeerte hê om Hom te volg. Moet ons mense wees wat, in 'n wêreld vol gebrek en baie ander negatiewe dinge, in 'n wêreld waar daar baie skape sonder 'n herder is, vir ander herder wees.

En as herders van die ware Herder is ons opdrag om te kyk waar daar pyn is, waar daar onsekerheid is, broosheid is, waar mense uitgelewer is aan ander se magspel en verontregting. En om dit te kan doen moet ons mensekykers wees, mense wat ander mense raaksien, mense met oop oë en oop harte. En miskien mense met 'n bietjie meer toe oë vir die eie behoefte.

Kom ons stel dit anders: as agente van God se liefde, as die herders van sy skape, sal ons eendag na ons liefde gevra word, van watter kwaliteit dit was, hoe duursaam dit was. En dan nie of ons die Heer geken het, of selfs ons Heer oral herken het nie, maar of ons Hom liefgehad het, werklik liefgehad het. En daar sal ook nie net een maal, twee maal of drie maal na ons liefde gevra word nie, maar sewentig maal sewe toe. Met ander woorde, of ons ook bereid was om ons lewe af te lê vir God se skape.

Die liefde, broers en susters, die ware liefde, triomfeer oor haat en ellende, oor eensaamheid en selfvergenoegdheid, oor eiegeregtigheid en selfsug. Want dit is wat dit beteken om herder vir ander te wees, agent van God se liefde te wees: om vir ander, wat nie dink soos jy nie, wat nie altyd wil doen soos jy nie, wat nie met jou saamstem nie, wat — by wyse van spreke — deel van 'n ander skaapkraal is, te versorg, 'n gasheer voor te wees, ja, doodeenvoudig lief te hê.

Hemelvaart, broers en susters, is nie God se wegvaart nie. Dit is die blywende teenwoordigheid van God. Dit is die voortstap van God se liefde in hierdie wêreld, dit is die aanstap van God se liefde, dit is selfs die een tree verder stap as wat ons normaalweg dink nou ver genoeg is.

Maar om dit te kan doen, om herder te kan wees, om agent van God se liefde te wees, om vir die wêreld te wys dat God nog teenwoordig is, om toe te sien dat God se wil, soos in die hemel, op die aarde geskied, moet ons mensekykers wees, en nie sterrekykers nie.

Watter een van die twee is ons, is u en ek?
Amen