Handelinge 1:(7)9-11; Lukas 24:4-9; Markus 16:5-7

Nie kyk nie, doen



Tema: Hemelvaart: nie kyk nie, maar doen
Die preek wat gevolg is gebou op twee eksegetiese insigte: eerstens die feit dat die skrywer van Lukas-Handelinge Lukas afsluit met ‘n vertelling rakende die hemelvaart van Jesus en Handelinge feitlik begin met ‘n vertelling oor Jesus se hemelvaart. Tweedens word dit duidelik dat, wanneer Handelinge 1:7-11 met perikope soos Markus 16:4-7 en Lukas 24:4-9 vergelyk word, ‘n bepaalde patroon na vore kom: vrees en skok, gevolg deur vertwyfeling, verskyning met ‘n opdrag, 'n opdrag om te gaan verkondig dat Jesus lewe.

Die volgende eksegetiese opmerkings het tydens die groep se werksessie van 15 Mei 2001 gedien:

  1. Die Lukasevangelie en Handelinge is ‘n eenheid. Lukas se evangelie begin in Galilea en eindig in Jerusalem, en Handelinge begin in Jerusalem en eindig in Rome. Lukas-Handelinge bied die `heilsgeskiedenis’ dus in twee fases aan: voor-pase/die verkon­diging van Jesus (Lukas) en na-pase/die verkondigde Christus/die kerk (Handelinge).
  2. Een aspek van die teks van Lukas-Handelinge wat die eenheid tussen die twee geskrifte in die besonder beklemtoon, is die vertelling oor Jesus se hemelvaart. Lukas eindig met ‘n beskrywing van Jesus se hemelvaart (Luk 24:50-53), en Handelinge begin feitlik met ‘n beskrywing van die hemelvaart van Jesus (Hand 1:9-11).
  3. Die feit dat Lukas die twee berigte oor die hemelvaart van Jesus so aanbied, is dus nie ‘n toevalligheid nie, en kan (moet?) as ‘n teologiese konstruk van die evangelis verstaan word. Hierdie teologiese konstruk kan soos volg beskryf word: dit wat Jesus tydens sy aardse lewe gedoen en kom doen het, vind sy hoogtepunt in die hemelvaart van Jesus (Lukasevangelie), 'n hoogtepunt wat nie einde beteken nie, maar eerder 'n begin: die begin van die kerk. In Handelinge dan (waarin die verhaal van die vroegste kerk vertel word) word daar met die hemelvaart begin, en dan volg die begin en voortgang van die kerk, die gemeente in Jerusalem.
  4. Lukas-Handelinge bied Jesus se hemelvaart dus as ‘n draaipunt in die geskiedenis van God se liefdevolle bemoeienis met die sondaarmens aan: dit is die hoogtepunt en einde van Jesus Christus se aardse lewe, maar ook die beginpunt van 'n ander lewe, die lewe van die kerk, die verhaal van die kerk, 'n beginpunt wat maak dat ons vandag kan wees wat ons is, kerk van Jesus Christus.
  5. Hierdie draaipunt in die geskiedenis kan, volgens Lukas-Handelinge, nie verstaan word los van die gawe en werking van die Heilige Gees nie. Die feit dat Lukas-Handelinge die twee berigte oor die hemelvaart van Jesus `toebroodjie’ met ‘n vertelling oor die belofte van die uitstorting van die Gees (Hand 1:1-8) beklemtoon die verband wat Lukas-Handelinge tussen die hemelvaart en die werking en gawe van die Gees daarstel.
  6. Die `heilsgeskiedenis’ wat Lukas-Handelinge aanbied sou dus ook, met in ag genome wat onder die vorige punt gesê is, soos volg beskryf kan word: Lukas is die tydperk van Jesus, die verkondiger. Die hemelvaart van Jesus beteken dat Jesus nie meer die verkondiger kan wees nie, maar nou, met die hulp van Gees, die verkondigde van die kerk word (Handelinge). So verstaan, kan die hemelvaart beskou word as die ‘aflosstokkie’ tussen die verkondiging van Jesus en die verkondiging van die kerk.
  7. Wat betref die gedeelte Handelinge 1:9-11 in die besonder, die volgende opmerkings: Lukas vertel ons in Handelinge 1:10 dat, terwyl of dan nadat Jesus na die hemel opgevaar het, die dissipels stip na die hemel bly staan en kyk het so asof hulle aan Jesus wou vasklou. En terwyl hulle so kyk, verskyn daar ewe skielik twee mans in wit klere by hulle wat sê: Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Die verstaan van hierdie gedeelte, myns insiens, word duidelik wanneer dit met twee ander gedeeltes soortgelyk aan Handelinge 1:9-11 vergelyk , te wete Markus 16:4-7 en Lukas 24:4-9. In Markus 16:4-7 kom die vroue by die graf van Jesus aan, en skrik groot omdat die graf leeg is. Daar is dus vertwyfeling by hulle. Voordat hulle egter nog kan dink wat om te doen, verskyn daar 'n man met wit klere aan hulle en gee aan hulle 'n opdrag: gaan vertel vir Petrus en die ander dissipels dat Jesus opgestaan het, dat Hy lewe. Dus: 'n opdrag wat behels om te gaan verkondig en te getuig dat Jesus lewe. Dieselfde vind ons in Lukas 24:4-9: die vroue kom by die graf, vind dit leeg en weet nie wat om te doen nie, dus, weer eens vertwyfeling oor wat nou gedoen moet word. Dan verskyn daar skielik twee mans met wit klere aan hulle met min of meer dieselfde boodskap: Jesus het opgestaan, waarop die vroue dit dan aan die dissipels en baie ander gaan vertel. Dus dieselfde opdrag: gaan getuig en verkondig dat Jesus opgestaan het, dat Hy lewe.

    In beide gevalle is daar vrees, skok en vertwyfeling, en ‘n opdrag om te verkondig dat Jesus lewe. Alles nie tot 'n einde gekom het nie, alles het eintlik nou eers begin. Min of meer dieselfde vind ons in Handelinge 1:9-11: Jesus is weg, daar is vrees, daar is vertwyfeling, die dissipels staan en kyk na die hemel en wonder wat hulle nou moet doen. En dan die opmerking: moenie na die hemel staan en kyk nie, word aan die dissipels gesê. Julle is Galileërs, met ander woorde, julle is my dissipels, my dissipels wat Ek in Galilea geroep het. Moenie net staan nie, maar gaan. Moenie maar net kyk nie, reik uit. Wees/word waartoe ek julle geroep het: my dissipels. Gaan doen wat Ek in Galilea gedoen het. Ook behoort daar nie by hulle twyfel te gewees het oor die moontlike sukses van die opdrag nie. Want so pas (Hand 1:7-8) het hulle gehoor: julle sal my getuies wees in Jerusalem, Judea, Samaria tot in die uithoeke van die wêreld.

Hemelvaartdag het die weeskind het in baie opsigte die weeskind van ons kerklike feesdae geword. Die wyse waarop ons die hemelvaart van Jesus Christus vier, het iemand baie onlangs gesê/geskryf, laat hemelvaart soos 'n obskure, alledaagse fesie altyd so in die middel van die week lyk. Verskeie redes kan hiervoor aangevoer word: die ontstaan en historiese wortels van 'n Hemelvaartsfees in die kerk is totaal onbekend is (die gebruik in die Kerk om Hemelvaart te vier kan nie teruggevoer tot byvoorbeeld die kreatiwiteit van 'n persoon of amptelike besluit van 'n kerk, konsilie of sinode nie); ons het baie min getuienis van Jesus se hemelvaart in die Bybel (in die briewe van Paulus is daar maar karige verwysings [ook net indirek] na Jesus se hemelvaart, Matteus, Johannes en Markus [indien ons aanvaar dat Markus by Markus 16:8 eindig] verwys nie na Jesus se hemelvaart nie en Lukas en Handelinge wy onderskeidelik net 3 versies daaraan); en Jesus se hemelvaart is van die begin af deur sommiges negatief geïnterpreteer (Jesus Christus is nou weg, Hy het ons verlaat, ons is nou weeskinders).

Hierteenoor kan bogenoemde eksegese dan aangebied word om aan te toon dat Jesus se hemelvaart nie einde beteken nie, maar begin, dat Jesus Christus se hemelvaart opdrag beteken. Die eenheid van die Lukas-handelinge vertelling moet hier duidelik aan die orde kom om aan te toon dat ons deel van die kerk is met die opdrag om die Verkondiger Verkondigde te maak. Die hemelvaart van Jesus Christus is nie einde nie, maar ‘n beginpunt, 'n beginpunt wat aan ons 'n nuwe lewensruimte skep, 'n nuwe tydperk bied, 'n nuwe opdrag gee: om deur woord en daad te verkondig dat Jesus lewe.

In die laaste gedeelte van die preek kan die rol van die Gees in hierdie getuienistaak van die gelowige aangespreek word, of daar kan besluit word om, in terme van die prediking op Pinkstersondag, bogenoemde preek in die prediking op Pinkstersondag te laat oorloop.

MOONTLIKE PREEK OOR HANDELINGE 1:(7)9-11
Tema: Hemelvaart: nie kyk nie, maar doen

Votum en Seën
Lofsang: Gesang 162:1, 2, 3 & 5
Na wet: Psalm 25:2
Na belydenis: Gesang 198:1-2
Gebed
Skriflesing: Handelinge 1:9-26; Lukas 24:4-9, 50-53; Markus 16:5-7
Sang: Gesang 163:1 & 4

Prediking
Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:
Hemelvaartdag, broers en susters, en die viering van die hemelvaart van Jesus Christus, het in baie opsigte die weeskind van ons kerklike feesdae geword. Dink maar net hoe vier ons Kersfees (en veral dit wat voor Kersdag self gebeur), of byvoorbeeld Pinksterdag en die pinkstergebeure (waar sommige kerke byvoorbeeld 'n week se aanderedienste aan die pinkstergebeure afstaan).

Hierdie aandag, broers en susters, en kom ons wees maar eerlik, kry die viering van hemelvaart nie altyd nie. Inteendeel. Die wyse waarop ons die hemelvaart van Jesus Christus vier, het iemand baie onlangs gesê/geskryf, laat hemelvaart soos 'n obskure, alledaagse fesie altyd so in die middel van die week lyk. En wat meer is, en dit weet ons almal, is die feit dat hemelvaart — in terme van die sekulêre staat waarin ons nou woon — dit sogenaamd nie as 'n vakansiedag gemaak het nie.

Verder, broers en susters, kan daar ook ander redes aangevoer word van hoekom die hemelvaart van Jesus nie so 'n prominente plek in die kerk inneem nie. En ek wil hier drie sake aanraak.

In die eerste plek is dit so, en dit is baie interessant, dat die ontstaan en historiese wortels van 'n Hemelvaartsfees in die kerk totaal onbekend is. Met ander woorde, ons kan nie bepaal waar hierdie gebruik in die kerk vandaan kom nie, juis omdat dit nie teruggevoer kan word aan byvoorbeeld die kreatiwiteit van 'n persoon of amptelike besluit van 'n kerk, konsilie of sinode nie. Die gebruik is bloot maar net daar.

Tweedens is dit ook so dat ons baie min getuienis van Jesus se hemelvaart in die Bybel het: in die briewe van Paulus is daar maar karige verwysings (ook net indirek) na Jesus se hemelvaart, Matteus het niks daarvan nie, ook nie Markus nie (indien ons aanvaar dat Markus by Markus 16:8 eindig), Johannes het ook niks daarvan nie. Lukas, wat wel van die hemelvaart vertel, wy 3 versies daaraan aan die einde van sy evangelie, en 'n verdere 3 versies daaraan aan die begin van Handelinge.

Derdens meen baie verder dat die hemelvaart van Jesus Christus van die begin af in die kerk baie negatief geïnterpreteer is. Want Jesus Christus is dan nou weg, Hy het ons verlaat. Ons is nou weeskinders. En al wat ons nou kan doen is om te treur en maar net hoop, want die skeiding tussen ons en Christus het gekom, 'n skeiding waarvan hemelvaart die teken is.

Persoonlik, broers en susters, wil ek egter ernstig van hierdie negatiwiteit oor hemelvaart, en ook die van mening dat dit maar net so 'n alledaagse fesie sonder betekenis is, verskil. Wat meer is, is dat ek van die diepste oortuiging is dat die hemelvaart van Jesus Christus 'n besondere — en baie belangrike — betekenis vir ons as gelowiges het en dus behoort te hê. Of anders gesê: as ons verstaan waaroor dit gaan in die hemelvaart van Jesus Christus, sal ons besef dat Hemelvaartdag alles behalwe die weeskind van ons kerklike feesdae mag wees. En kom ek verduidelik.

As ons sou aanvaar — en hieroor is breë konsensus — dat Lukas die Lukasevangelie en Handelinge geskryf het, dan moet ons raaksien dat Lukas nie maar net om dowe neute, aan die een kant, sy evangelie afsluit met die berig oor Jesus se hemelvaart, en, aan die ander kant, Handelinge feitlik met die berig oor die hemelvaart laat begin nie. Met ander woorde: ons moet raaksien dat die Lukasevangelie eindig met 'n berig oor die hemelvaart, en Handelinge begin met 'n berig oor die hemelvaart.

Wat wou Lukas hiermee sê/bereik? Die volgende: alles wat Jesus op aarde gedoen en kom doen het, kry sy hoogtepunt in die hemelvaart van Jesus (Lukasevangelie), 'n hoogtepunt wat nie einde beteken nie, maar eerder 'n begin. Watter begin? Die begin van die kerk! Want in Handelinge (waarin die verhaal van die vroegste kerk vertel word) word daar met die hemelvaart begin, en dan volg die begin en voortgang van die kerk, die gemeente in Jerusalem.

Miskien moet ons dit anders sê: vir Lukas is die hemelvaart 'n draaipunt in die geskiedenis van God se liefdevolle bemoeienis met die sondaarmens: dit is die hoogtepunt en einde van Jesus Christus se aardse lewe, maar ook die beginpunt van 'n ander lewe, die lewe van die kerk, die verhaal van die kerk, 'n beginpunt wat maak dat ons vandag kan wees wat ons is, kerk van Jesus Christus.

'n Beginpunt, broers en susters, wat aan ons die volgende skenk: 'n nuwe lewensruimte, 'n nuwe tydperk, maar ook 'n nuwe opdrag. En wel 'n opdrag in die sin van die woord: God het iets gedoen in Jesus Christus, Hy is weg, en nou moet ons iets gaan doen omdat Jesus weg is. Wat is hierdie iets wat ons moet gaan doen? Kom ons antwoord dit as die laaste deel van die prediking.

Lukas vertel ons in Handelinge 1:10 dat, terwyl of dan nadat Jesus na die hemel opgevaar het, die dissipels stip na die hemel bly staan en kyk het so asof hulle aan Jesus wou vasklou. En terwyl hulle so kyk, verskyn daar ewe skielik twee mans in wit klere by hulle wat sê: Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Wat, broers en susters, moet ons hiervan verstaan?

Ek meen dat Markus 16:4-7 en Lukas 24:4-9, waar ons twee ander soortgelyke vertellings kry, ons hier kan help. Wat gebeur in hierdie gedeeltes in Markus en Lukas? In Markus 16:4-7 sien ons kom die vroue by die graf van Jesus aan, en skrik hulle groot omdat die graf leeg is. Daar is dus vertwyfeling by hulle. Voordat hulle egter nog kan dink wat om te doen, verskyn daar 'n man met wit klere aan hulle en gee aan hulle 'n opdrag: gaan vertel vir Petrus en die ander dissipels dat Jesus opgestaan het, dat Hy lewe. Dus: 'n opdrag wat behels om te gaan verkondig en te getuig dat Jesus lewe.

Dieselfde vind ons in Lukas 24:4-9: toe die vroue by die graf kom, dit leeg vind en nie weet wat om nou te doen nie, dus weer eens vertwyfeling oor wat nou gedoen moet word. Dan verskyn daar skielik twee mans met wit klere aan hulle met min of meer dieselfde boodskap: Jesus het opgestaan, waar die vrou dit dan ook aan die dissipels en baie ander gaan vertel. Dus dieselfde opdrag: gaan getuig en verkondig dat Jesus opgestaan het, dat Hy lewe.

In beide gevalle is daar dus vrees en skok, daar is vertwyfeling en dan kry die vroue dus 'n opdrag, 'n opdrag om te gaan verkondig dat Jesus lewe. Dat alles nie tot 'n einde gekom het nie, maar dat alles eintlik nou eers begin het. In hulle vrees en houding van `wat moet ons nou doen' kom die Here hulle tegemoet: deur sy boodskappers korrigeer en leer hy hulle, bemoedig Hy en leer Hy. Moenie bang wees nie, moenie wonder wat nou nie, gaan en vertel, gaan en vertel aan die hele wêreld. Spring aan die werk. Verkondig dat die Here opgestaan het!

Presies dieselfde, broers en susters, gebeur in Handelinge 1:7-11: Jesus is weg, daar is vrees, daar is vertwyfeling, hulle staan en kyk na die hemel en wonder wat hulle nou moet doen. En dan die opmerking: moenie na die hemel staan en kyk nie, word aan die dissipels gesê. Julle is Galileërs, met ander woorde, julle is my dissipels, my dissipels wat Ek in Galilea geroep het, en so pas het Ek mos vir julle gesê julle sal my getuies wees in Jerusalem, Judea, Samaria tot in die uithoeke van die wêreld.

So moenie net staan nie, maar gaan. Moenie maar net kyk nie, reik uit. Wees/word waartoe ek julle geroep het: my dissipels. Dit is wat julle moet gaan doen: julle moet die evangelie gaan verkondig. Ek is weg, julle het nou 'n nuwe lewensruimte/lewenstydperk, 'n opdrag. Moenie treur nie, moenie die Lewende onder die dooies soek nie, moenie maar net na die hemel staan en kyk nie. Kom aan die gang, doen wat Ek gesê het julle moet doen.

Want my weggaan is sowel die hoogtepunt van My aardse lewe, maar ook die begin van die kerk, die kerk waarvan julle lede is, die kerk wat moet verkondig dat Ek lewe, dat Ek by die Vader is, en dat mense daarom ook kan/sal lewe en eendag by die Vader sla wees!

So verstaan, broers en susters, is die hemelvaart van Jesus Christus nie onbelangrik en daarom sogenaamd maar die weeskind van ons kerklike feesdae nie. Nee. Want hemelvaart beteken nie net einde nie, maar ook einde en begin, dit is as 't ware God se aflosstokkie aan ons, 'n opdrag aan ons dat ons moet begin werk. Nie deur maar net na die hemel te staan en kyk nie (deur byvoorbeeld met hartstog te wil uitwerk wanneer die wederkoms nou sal plaasvind, of die wêreld te versaak, op te hou lewe en net te dink aan die dinge wat daarbo is nie), maar op aarde te begin verkondig met woord en daad dat Jesus lewe en weer sal kom om te oordeel of vry te spreek.

Daarom is dit miskien goed, broers en susters, in 'n sekere sin, dat ons op Hemelvaartdag moet werk. Dat ons op Hemelvaartdag tussen ander is, en tussen ander met woord en daad kan verkondig. Want dit is die opdrag van hemelvaart, nie om jou van die wêreld te onttrek nie, nie te wonder maar wat nou nie, maar om te gaan en te gaan verkondig.

Eintlik is alles wat die afgelope jaar of wat rondom Hemelvaart as 'n vakansiedag of nie afgespeel het daarom ontsettend ironies. 'n Kerklike feesdag, voel ons, word van ons weggeneem, maar juis in die wegneem daarvan kom die boodskap van hierdie dag na vore: die opdrag om na die wêreld te gaan en te gaan verkondig! God werk inderdaad op vreemde maniere.

Ek sluit af: Die pynlike aspek van die hemelvaart is dus nie dat ons nou sogenaamd sonder God is nie, dat ons nou maar net of moet hoop of vrees op die wederkoms nie, dat hierdie dag van ons as Christene weggeneem is nie. Nee, die pynlike van die hemelvaart is die opdrag om met die boodskap van hemelvaart konsekwent na die wêreld te gaan. Jesus lewe, Hy is by die Vader. Want wie dit werklik wil doen, sal gou vind dat dit nie maklik is nie.
Amen

Dankgebed
Slotsang: Gesang 155:2
Slotseën