Psalm 42 en 43

Verlang ons nog na God? (‘n Preek vir die Sondag wat volg op Hemelvaart)



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Dit is deel van ons lewe om te verlang. Ons verlang dikwels na ons kinders, veral as hulle ver of weg van die huis is, ons verlang na ons geliefdes, ons verlang na daardie mense wat op 'n tyd deel van ons lewens geword het, wat ons lewens verryk en gevul het, en dalk nou ver is, of oorlede, juis omdat ons hulle graag by ons sou wou hê.

Maar verlang ons ook, broers en susters, na mense wat deur misverstand, deur rusie of ongelukkigheid van ons geskei is? Dat ons met hulle hierdie sake kon regmaak? Maar nog meer: verlang ons nog na God? Wanneer laas, broers en susters, het u en ek heimwee gehad, gesmag, gehunker, verlang na God se nabyheid, sy bystand, sy hand wat ons weer op die regte pad druk, na sy teenwoordigheid in ons lewens? Is hierdie verlange nog deel van ons lewens, of het dit eerder die geval geword van: ek sal op my plek wees, en God op syne. En wanneer dit werklik nodig word, kan ek en God maar ontmoet?

Die verlange na God, broers en susters, interessant, was vroeër wesenlik deel van gelowiges en van die kerk se lewe. Dit was so ‘n algemene saak dat daar selfs 'n spesifieke Sondag afgestaan is om aan hierdie saak aandag te gee, naamlik verlang-Sondag. 'n Dag wat gevier is op die Sondag tussen Jesus se hemelvaart en Pinkstersondag.

Op die dag het die kerk gedink aan die paar dae, na Jesus se hemelvaart, toe die dissipels die onsekerheid en die vrees van Jesus se afwesigheid ervaar het. Hy het wel opgestaan en leef dus, het hulle geweet. Maar nou het hy opgevaar, is nie meer by hulle nie. Hy het die Gees belowe, maar die het nog nie gekom nie. En nou dat hulle, so alleen, Hom die nodigste gehad het, was Hy nie meer by hulle nie.

Op hierdie Sondag, broers en susters, het die kerk vir eeue dwarsoor die wêreld Psalm 42 en 43 gelees. En dit is heel begryplik, want hierdie twee psalms wat sommiges meen 'n eenheid vorm), is 'n aangrypende psalm van ver­lange. Wanneer dit vir die skrywer voel of God afwesig is, wanneer spotters boonop vra ‘Waar is jou God nou?’, wanneer die skrywer die vroeëre dae onthou toe hy ervaar het God naby aan hom was, roep hy 'n noodlied van verlange in hierdie twee psalms uit. En interessant: nie alleen sug hy na die verlange om by God te wees nie, maar ook om by die ander mense van God te wees. Soos 'n wildsbok in die woestyn smag na water, sê hy, so smag ek na God, en na die saamwees met die skare wat met 'n gesing optrek na die tempel, God se huis.

Dit, sê hy, is sy grootste verlange, behoefte in sy krisis.

Is dit by ons ook so, broers en susters? Lewe dit wat die skrywer in verse 2 en 3 sê, ook in ons harte? Ek dink nie altyd nie. Miskien ook nie eers soms nie. Want ons lewe, broers en susters, nie in 'n verlang-wêreld nie, ons leef in 'n begeer-wêreld. In die plek van verlange na God en na mekaar het die begeerte na dinge en na onsself gekom. In plaas van te verlang na God en ons naaste, begeer ons goed, eer, sukses, en veral ons eie belang.

Dit is waarop ons verlange gerig is: op onsself en ons gode. Ons afgode, het Luther gesê, is die dinge waaraan ons ons harte hang, die dinge waarvan ons droom en waarna ons hunker. Dit is daardie dinge wat aan ons lewens sin gee, wat vir ons belangrik is bo alles. Dit is die goed waaraan ons dink as ons gaan lê en wanneer ons opstaan.

Interessant, broers en susters, is dat dit wil lyk uit literatuur dat dit vroeër in die kerk nie so was nie. Sekere tye in die geskiedenis van die kerk spreek van mense wat gesug/verlang het na God. Augustinus se bekende uitspraak is hiervan 'n goeie voorbeeld: God het ons vir Homself gemaak, en daarom bly ons harte onrustig totdat dit rus vind in Hom.

Woorde wat in die verlede sterk aanklank in die kerk gehad het. Dit het iets vertolk van die verlange, die hunkering wat vroeër in mense se harte in die kerk geleef het. Ek wonder egter regtig, broers en susters, of hierdie soort lewensgevoel, hierdie soort geestelike ingesteldheid, waar gelowiges voortdurend bewus is van en konsentreer op die nabyheid van God, iets vreemds in ons tyd geword het nie. Dat dit iets is wat ons nog skaars ken. Ja, ons ervaar soms nog dieselfde onrus, die hunkering en soeke na dit wat saak maak en sin maak in die lewe — maar ons het miskien ongemerk en onbewus die voorwerp daarvan verplaas, van God en ons naaste, na iets anders: na al die belange en besittings waarmee ons ons lewe probeer vul. En so het begeerte na dinge in die plek van verlange na God en ons naaste gekom.

'n Lewenshouding, broers en susters, wat baie maklik heel spesifiek aanduibaar is. Die wêreld van die psalm, wat ons as 'n verlang-en-opsoek-wêreld kan beskryf, word 'n wegvlug-of-onttrek-wêreld. Ons word weggaan-mense, mekaar-agterlaat-en-alleenlaat-mense. Onbetrokke mense. Afsydige mense. Geleerdes praat al hoe meer van die groeiende individualisme in ons tyd. Hoe mense toenemend hulle lewens los van ander begin leef.

Ons is nie meer beskikbaar vir ander nie. Want daar is eenvoudig te veel goed wat ons lewens vul. Dinge waarmee ons onsself kan besig hou en onsself mee kan vermaak. Verder het ons ook te veel dinge waaruit ons kan kies om te doen.

Die slegte van alles hier is, broers en susters, dat in hierdie proses mense hulle naaste as 'n bedreiging eerder as 'n verryking begin ervaar. Naastes word mededingers. Ons vind hulle lastig, want hulle maak te veel aansprake op ons: ons tyd, ons energie, ons kragte, ons besittings. Hulle is in ons pad. Ons lewe is eenvoudig te gejaagd agter baie dinge aan dat ons nie meer beskikbaar is nie. En, in plaas daarvan om na hulle te verlang, wens ons hulle was nie in ons pad nie. En word ons meesters in die aanleer van alle strategieë om hulle te kan ontwyk sonder 'n skuldige gewete.

Dat ons dikwels nie meer so vurig na God en ons naaste verlang nie, broers en susters, word dan ook later sigbaar in die armoede van ons geestelike lewe, hoe ons voor God leef, aan ons gebrek aan gemeenskap met mekaar, onderlinge omgee en sorg in ons kerk en gemeentes, selfs tussen Christene.

Juis daarom, broers en susters, moet die kerk dit dalk oorweeg om weer iets te begin maak van die verlange-Sondag wat vroeër in die kerk geleef het. Maar ook meer van sy Gees. Want dit is hier, waar ek meen, waar ons miskien nog te kort skiet. Dat ons te min oor die Gees en die werking van die Gees praat. Maar ook, dat ons te min raaksien en aanleer wat dit beteken om in die Gees te wandel.

Dit is alleen die Gees, broers en susters, wat 'n mens se verlange na God en ons naaste kan wakker maak en versadig. Want die Gees kom woon in ons, onder ons en tussen ons. So verbind die Gees ons aanmekaar in die een kerk, deur die een doop, die een Here, die een hoop op die ewige lewe.

Daarom, as ons miskien weer begin sug om in die Gees te wandel, as ons God bid om ons elke dag opnuut met sy Gees te vul, dat Hy ons deur sy Gees sal lei, dat sy Gees elke oomblik die vinger op die plekke sal sit wat in ons lewens skort, en ons luister na die Gees, ons volg die Gees, dan broers en susters, sal ons nie alleen nader en nader en naby God begin leef nie, maar sal hierdie woorde van die psalmskrywer in ons harte leef: Ek smag na God, ek dors na God.

Wat meer is, broers en susters, is dat daar by ons dan ook minder vertwyfeling oor die lewe en die toekoms sal wees. Dit wat die psalmskrywer hier ervaar juis omdat hy voel dat hy nie naby genoeg aan God leef nie. Want om naby God te leef, beteken om veilig te leef. Versorg te voel. Behoue te voel. Te weet: alles is in plek. En omdat dit vir my so is, ek dit vir ander ook so wil hê.

'n Oog vir ander, broers en susters, begin egter altyd by 'n oog vir God. Verlang ons, of begeer ons? Verlang ons na God, of begeer ons na dit wat ons meen sin sal gee? Nogal 'n heel belangrike vraag hierdie, sou ek meen, 'n vraag wat almal van ons tog miskien op keer rustig en eerlik by homself of haarself moet beantwoord.
Amen