Lukas 7:1-10

Ons moet meet, nie weeg nie



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Ons herdenk vandag Hervormingsondag, die dag waarop Martin Luther in 1517 sy 95 stellings teen die deure van die Slotkerk in Wittenberg vasgespyker het, en so die Kerkhervorming in die 16de eeu begin het.  Om iets te herdenk, broers en susters, beteken om met dankbaarheid en vreugde aan iets terug te dink, om met vreugde weer iets te onthou (nagmaal as herinneringsmaaltyd is hiervan ‘n goeie voorbeeld).

Om terug te kom by Hervormingsondag.  Dit wat ek graag vanoggend saam met u met vreugde wil herdenk, is nie dit wat daardie tyd gebeur het, of wat mense gedoen het nie.  Nee.  Dit waaraan ek met vreugde wil dink is die sentrale boodskap van die Hervorming.  En ek doen dit inderdaad met ‘n groot stuk vreugde, omdat ek uit my hart glo dat die sentrale boodskap van die Hervorming ook die hart van die evangelie van Jesus Christus is.  En daarom ‘n boodskap vir alle Christene is, ‘n boodskap wat strek oor alle grense van tyd, streek, land, verdeling, haat, liefdeloosheid, of wat ook al heen.

Die kernboodskap van die Hervorming is baie eenvoudig, maar ongelooflik ingrypend.  Want dit sê vir ons alles oor die mens se verhouding met God, en as byproduk die mens se verhouding met sy medemens.  Want, en ek hoef dit skaars te sê, hoe ‘n mens met God omgaan, bepaal ook die wyse waarop jy jou medemens benader.

Wat, broers en susters, is die boodskap van die Hervorming, dit wat die hart van die evangelie is?  Kom ek antwoord dit so: die heel belangrikste saak in ‘n mens se verhouding met God is dit wat die mens van homself dink, hoe ‘n mens jouself beoordeel (herhaal).  Ek weet, broers en susters, dit klink na ‘n baie moeilike saak.  Maar dit is nie.  En om te maklik te maak, gaan ek nou saam met u kyk na die gedeelte wat ons saamgelees het.  Want hierdie verhaal sê vir ons presies waaroor dit gaan in ‘n mens se verhouding met God: dit wat die mens van homself dink, hoe ‘n mens jouself beoordeel.  Kom ons kyk na die gedeelte.

‘n Romeinse offisier se slaaf ‘n siek.  Hy het Jesus nie geken nie, maar wel van Jesus en van sy wonderdade gehoor, en wou graag hê dat Jesus hom met sy slaaf moes help.  Hoe nou gemaak?  Vra mense wat jy ken wat Jesus ken om as tussenganger op te tree.  Om namens jou met Jesus te praat.  Om in jou plek Jesus te vra om jou te help.

Na wie toe gaan hy?  Lukas sê dit vir ons baie mooi: hy vra Joodse kennisse wat familiehoofde was.  Die Ou Vertaling noem hulle ouderlinge.  In die Latynse vertaling word hulle seniores genoem, senior burgers.  En uit die Grieks lei ons af hulle was die belangrikes in die samelewing, gemeenskapsleiers, hulle wat ‘n mens regtig kon help.  Manne met aansien en invloed wie se woord gewig gedra het.  Dus: hy kies sy tussengangers met oorleg.

Die Joodse oudstes stem onmiddellik in om te help.  Hoekom?  Want die man wat hulle hierdie gunsie vra, se CV lyk glad nie sleg nie - hier is nou ‘n man wie se dade toon dat hy aanspraak kan maak op voorkeurbehandeling.  Hy is ‘n Romein, maar tog het hy die Jode lief.  Hier is ‘n man met deernis, met ‘n hart van goud, ‘n man wat goed doen aan ander.  Hy het byvoorbeeld gesorg dat daar vir die Jode in Kapernaum ‘n sinagoge gebou word.  Meer nog: hy het alles self betaal.  Al was hy ‘n Romein.

Nee.  Hierdie man is geen skaamtelose bedelaar wat maar net gunsies soek sonder om iets terug te doen nie.  Hierdie man het homself bewys.  Hy is baie beter as die meeste mense wat hulle ken.  Hy mag voorkeurbehandeling kry.  Sy balansstaat klop.  Sy deugde is genoeg om Jesus se hulp te verdien.  Hy het sy kant gebring, daarom mag hy maar vra en gehelp word.  Hy verdien dit.  En daarom hulle woorde aan Jesus: Here, help asseblief hierdie man, want ‘hy is dit werd dat U dit vir hom doen’.

Die woordjie ‘werd’ wat hulle hier gebruik is ‘n woord wat van ‘n Griekse werkwoord afgelei is wat beteken ‘om te weeg’, ‘om te balanseer’, ‘om in ewewig te bring’.  Met ander woorde, hulle het hierdie man geweeg, en hy is nie te lig bevind nie.  Hulle het ‘n weegskaal gevat, en op die een kant die gewiggie gesit van hoeveel Jesus se hulp werd is.  En op die ander kant van die skaal het hulle al sy goeie dade en eienskappe gesit, sy deugde en sy verdienste, en toe?  Die skaal het gelyk getrek.  Ander sal dit nie maak nie, maar hy maak dit. Sy versoek het meriete.  Sy CV lyk goed genoeg, is goed genoeg.  Daarom: Here, help hom, hy is dit werd.  Ons jok nie Jesus, ons het dit nagegaan.  Hy verdien dit regtig.  Sy saak het meriete.

Hoe reageer Jesus?  Hy sê nie ‘n woord nie.  En sonder enige kommentaar begin Hy aanstap na die offisier se huis.  En terwyl Jesus so aanstap, kom ‘n tweede afvaardiging van Joodse leiers by hom aan, weer met ‘n boodskap van die offisier.  Here, hierdie man sê u moet asseblief nie verder moeite doen nie, want hy is dit nie werd dat u in sy huis ingaan nie.

En nou die interessante, broers en susters.  Die Griekse woord wat hier met werd vertaal is, is nie dieselfde as die woord wat die Joodse oudstes hierbo gebruik het nie.  Die Griekse woord wat hier gebruik word beteken ‘om opgewasse te wees’, ‘om groot genoeg te wees’, ‘om geskik te wees’.  Dus, wat sê hierdie hoofman?  Stop Here!.  Ek is nie groot genoeg om u in my huis te ontvang nie.  Ek is te nietig, ek is te klein, ek haal dit nie, ek skiet tekort.

Ja, in die oë van ander is ek ‘n goeie mens.  Miskien beter as al die mense wat hulle ken.  Maar wanneer ek my teen dit wat U is meet, maak ek dit nie.  Gemeet aan u, is ek onwaardig.  Gemeet aan u, verdien my goeie deugde en menswees nul punte.  Eintlik Here, is al wat ek voor u het my nood.

Deur homself so te meet, broers en susters, het hierdie hoofman – om dit so te sê – sy sonde leer ken.  Hy het homself as sondaar ontdek.  Soos Petrus by geleentheid: ‘Gaan weg van my Here, want ek is ‘n sondige mens’.  En ook soos die verlore seun gesê het: ‘Vader, ek is nie werd om u seun genoem te word nie’.

En dan die verrassende: al beskou hierdie hoofman hom nie werd genoeg om deur Jesus gehelp te word nie, hou hy egter nie op om Jesus te vra om hom te help nie.  Hy hou vol met sy versoek.  Hy bly vra.  Maar hy vra nie soos sy Joodse maters nie.  Nee.  Hy doen alleen ‘n beroep op Jesus se onverdiende guns, hy pleit vreesloos en in vetroue alleen op Jesus se vrye genade:  Here, sê maar net ‘n Woord.  Ek vra niks meer nie.  Niks meer as ‘n Woord nie.

Wat hier gebeur, broers en susters, is presies dit wat die kernboodskap van die Hervorming en die evangelie van Jesus Christus is.  Wat in die mens se verhouding met Jesus Christus tel is nie menslike prestasie, goeie deugde of verdienste nie, maar die vrye genade van God, die abnormale genade van God.  Waar God net ‘n woord spreek, ‘n woord wat vryspraak en heil beteken, maar ook vergifnis en vernuwing.

Die gelowiges van die Hervorming het ontdek wat die Romeinse offisier ontdek het, dit wat die Joodse oudstes nie verstaan het nie.  Om vir God se genade te kwalifiseer, moet ‘n mens gestroop word van jou eie prestasies, grootheidswaan, die sogenaamde waarde wat jy in jou eie het.  Jy moet ophou weeg.  Jy moet ophou om jouself met ander te vergelyk, jou teen ander te weeg en so te oordeel dat jy darem nie te sleg is nie.  En daarom dalk tog iets uit God se hand verdien.

Jy moet jouself begin meet.  Meet aan God.  Aan dit wat God is, en wat jy is.  Aan dit wat God van jou vra, en hoe jy dit lewe.  Want hoe meer jy meet, jouself aan God meet, hoe kleiner krimp jy, hoe meer en meer besef jy jou eie onwaardigheid, dat jy eintlik niks verdien nie.  Tot jy by die punt kom waar jy soos ‘n hulpelose bedelaar voor God staan en maar net een ding durf vra: Here, spreek maar net ‘n woord!

Wanneer dit gebeur, broers en susters, het ons te make met die wonder van egte geloof.  Jesus sê dit self van hierdie man in vers 9.  Die besef van die eie onwaardigheid, die verloëning van jouself, saam met ‘n volhardende vertroue.

En so, broers en susters, vat ons dan ook die drie kernspreuke van die Hervorming saam: alleen deur die geloof, alleen deur die genade, alleen deur die Woord.  Alleen so word die mens se bestaan voor God geregverdig.  Nie ons nie, maar God.  Nie ons wat ook al nie, maar God se genade.  Moenie weeg nie, meet.

Ek wil afsluit: op die oog af, broers en susters, lyk hierdie na ‘n maklike boodskap.  Maar in die praktyk is dit nie so maklik nie.  In elk geval nie vir my nie (en u moet maar vir uself oordeel).  Ek kan maar net vir myself praat, en miskien is u ervaring soos myne.

So dikwels verkies ek maar om eerder te weeg as om te meet.  Dit laat my tog goed voel om hier en daar ‘n gewiggie of twee op die skaal te kan sit.  Genade is goed en wel, maar verdienste tel darem ook so bietjie.

Dit is so menslik om so te dink.  Ons wil graag hê dat ons op meriete beoordeel sal word.  Maar, al is dit so menslik, die evangelie sê dat in ons verhouding met God dit nie wys is nie.  Om die waarheid te sê, in ons verhouding met God is dit fataal.

Want God bestudeer nie ons CV nie - hy slaan alleen ag op ons geloof.  Hy hou nie boek van ons verdienstes nie – Hy vra alleen of ons sy Woord van redding gehoor en dit geglo en geleef het.  God deel nie pryse en pluimpies uit nie – wat Hy uitdeel is genade in oorvloed.  God ken nie medaljes toe nie – Hy skeld ons ons skulde kwyt.  Hy vra dat ons sal meet, en nie sal weeg nie.

Alleen deur die geloof, alleen deur die genade, alleen deur die Woord.  Dit is die evangelie, dit is die boodskap van die Hervorming.   En dit is die enigste manier waarop die mens sy bestaan voor God kan regverdig.  Nee.  Laat regverdig.

Dankie vir die geleentheid, vanoggend, broers en susters, om in vreugde saam met u vanoggend Hervormingsondag te kon herdenk.  Dit het my weer herinner aan God se evangelie van vrye genade en onverdiende guns.  Ek het weer besef dat dit beter is om te meet as om te weeg wanneer jy jou eie waarde wil bepaal, wanneer jy jouself beoordeel.  En ek het weer besef dat ware vrede oor jouself net by een plek te vinde is: in die genadige hande van ons Here Jesus Christus.
Amen