Psalm 24

Preekskets met die oog op die ingebruikneming van die nuwe Liedboek van die Kerk op Hervormingsondag



1. EKSEGETIESE OPMERKINGS
Die Psalm bestaan waarskynlik oorspronklik uit drie dele wat redaksioneel saamgevoeg is as ‘n himne met die oog op liturgiese gebruik tydens die viering van die koningskap van God. Antieke liturgiese materiaal is gebruik en saamgevoeg tot ‘n fyn literêre struktuur.

Die drie dele van die Psalm val soos volg uiteen:

verse 1-2 begrond die koningskap van God in die skepping en die onderwerping van die chaosmagte van die waters;
verse 3-6 spel die voorwaardes uit vir diegene wat God wil aanbid en dien;
verse 7-10 besing die koningskap van God in militêre taal, met gebruikmaking van assosiasies van die ark wat die teenwoordigheid van God simboliseer.

Die Psalm is ‘n stuk poësie waarin die digter gebruikmaak van mitologiese taal en simbole in die Kanaänitiese Baälaanbidding. Hy transformeer hierdie mitologiese taal om aan te toon dat God se koningskap nie soos Baäl se koningskap berus op die oorwinning van die chaosmagte in die waters nie, maar op die skepping waardeur God orde in die chaos gebring het. Die motiewe in die eerste twee verse is orde teenoor chaos. In die volgende verse word dit, in die konteks van aanbidding, getransformeer in morele konsepte van goed (rein, suiwer) en sleg (vals, bedrog). Die berg van die Here word die plek wat die orde in die skepping en God se koningskap simboliseer. Dit is heilig (heiligdom) en goed. Wie mag daarheen gaan? Slegs hulle wat goed, wat rein is. Dit vra morele integriteit van beide die hart en die hand. Die antwoord in vers 6 dui nie op absolute reinheid en morele regverdigheid nie, maar dit is ‘n verklaring dat die potensiële aanbidders bewus is van die implikasies van hulle begeerte om God te aanbid, daarom vra hulle na sy wil en soek hulle sy aangesig. Alhoewel daar ‘n gebrek is aan absolute geregtigheid, begeer hulle dit, hulle soek daarna in God se teenwoordigheid. Daar is die bewussyn en die verwagting dat dit deels aan hulle geskenk sal word in die nabyheid van God, omdat hulle deel is van die geslag van Jakob.

Die koningskap van God is in die Ou Testament ‘n sentrale tema. Omliggende volke het ook aan hulle gode die rol van konings toegeken. God se koningskap is gegrond in die skepping, maar kom ook na vore in die gang van die geskiedenis, omdat God sy volk telkens van hulle vyande bevry het. Dit bevestig sy koningskap. Die ark van God het sy teenwoordigheid in die oorlog gesimboliseer. Die koningskap van God word hier liturgies verbind met die terugbring van die ark na Jerusalem. In die poësie van getransformeerde mitologie beskryf die digter God as die koning op grond van die skepping en sy voortdurende oorwinning oor die vyande van sy volk in die geskiedenis. Hy is teenwoordig in die tempel!

Die Psalm wil ‘n antwoord gee op ‘n dilemma. God die koning het orde gebring met die skepping. Historiese ervaring, soos gekarakteriseer deur oorlog en konflik suggereer ‘n ander werklikheid, naamlik dat die wêreld nog steeds deur chaos gekenmerk word. Die Psalm bied ‘n antwoord. Dit is God die Skepper van orde, wat ook tegelyk vir Israel veg en hulle bevry het van militêre bedreigings (chaos) wat hulle bestaan bedreig het. Orde in die skepping en oorwinning oor die chaos in die menslike bestaan is deel van dieselfde konsep: God is Koning! Die erkenning van die koningskap van God mond uit in aanbidding en lof. Aanbidding vra en skenk morele integriteit. Daar kan nie skeiding kom tussen die skepping, bevryding in die geskiedenis en morele integriteit nie – waar dit wel geskei word, ontstaan daar chaos.

In die liturgiese geskiedenis van die Christelike kerk is Psalm 24 gewoonlik gebruik met die viering van Hemelvaart. Dit bevestig die oorwinning van Christus oor die dood en antisipeer sy wederkoms as die Oorwinnaar en die Koning.

2. Eksegetiese skopus
Eksegeties sou ‘n mens die skopus kortliks soos volg kan formuleer:
God is koning. Die erkenning daarvan roep die mens op tot lof en aanbidding. Dit vra van ‘n mens morele integriteit.

3. Homiletiese meditasie
Die Psalm wil die indikatief proklameer dat God die ewige Koning is. Dit word duidelik in die skepping, maar ook in die geskiedenis. Die besef daarvan bring die mens in beweging om sy nabyheid op te soek en in sy teenwoordigheid te leef. Die wete dat ‘n mens slegs in die teen-woordigheid van die heilige God van orde kan kom as daar by jou morele integriteit is, maak ‘n mens huiwerig en bang. Die begeerte om sy wil te doen, gedra deur die belofte en die verwagting dat jy in sy teenwoordigheid dit deelagtig sal word, bring tog die begeerte en vrymoedigheid om sy teenwoordigheid op te soek. Dit loop uit op liturgiese viering! Die lewe in God se teenwoordigheid bring orde in die chaos en morele integriteit.

Binne die konteks van Hervormingsondag en die ingebruikneming van die nuwe Liedboek open dit vir my bepaalde homiletiese perspektiewe. In die ontwerp van die liturgie het ek juis gepoog om weer by mense die huiwering, maar tegelyk met verwondering te laat ontdek dat ons naby die ewige Koning mag kom. Teologies gesien sluit dit ook aan by Hervormingsondag. Dit was immers die brandende vraag van Luther: ‘Hoe kry ek ‘n genadige God?’. Hoe kan ‘n sondaarmens dit in die teenwoordigheid van God waag? Die Roomse praktyke van bieg, aflaat, askese, sakramentele heilsbemiddeling en priesterlike absolusie het nie die vraag beantwoord nie. Uiteindelik het hy, deur sy bestudering van veral die Romeinebrief, tot die bevrydende ontdekking gekom dat ‘n mens slegs uit genade deur die geloof in Jesus Christus gered word. Elke mens kan, op grond van die versoeningswerk van Jesus Christus, sonder bemiddeling van ‘n priester dit in die teenwoordigheid van God waag! Die genade van God in Jesus Christus, maak egter nie ons lewe voor God en die opsoek van sy teenwoordiheid in die erediens, minder gewigtig as die gewyde atmosfeer en liturgiese spanning van Psalm 24 nie. Die elemente van die votum en groet, skuldbelydenis en genadeverkondiging wil juis die vrymoedigheid bring om te deel in die liturgiese viering. Ons liedere wil die draers van hierdie verootmoediging, aanbidding, belydenis en dank wees.

Ons moderne mense kan ons verwonder, en word deur die media meegevoer, om iets te beleef van die gelaaide atmosfeer wat met koninklike, of presidensiële besoeke gepaardgaan. Militêre parades, die nasionale saluut, kanonskotre, orkeste, verbyvlug van vliegtuie, optogte deur die strate in koetse of oop motors, is simboliese handelinge en rituele wat iets tot uitdrukking probeer bring van die besondere gebeure. Ons mense vergaap hulle daaraan, waarskynlik omdat hulle iets ervaar van die mistiek wat hooggeplaastes omring. Kerklike simbole en liturgiese handelinge wil ons ook iets laat ervaar van die uitsonderlike gebeure om by die koms van die ewige Koning teenwoordig te mag wees.

Die doel vir die prediking en die liturgie van die Sondag sal ek soos volg wil verwoord: om deur die liturgiese elemente en die prediking die gemeente uit te nooi om in die teenwoordigheid van God, die ewige Koning, te kom. Hulle moet aan die hand van Psalm 24 iets ervaar van die grootsheid van die geleentheid, die huiwering oor my eie onwaardigheid, maar tegelyk die vrymoedigheid van die geloof om voor God te lewe. Dit alles moet kulmineer in lofprysing en aanbidding. Die lewe in die teenwoordigheid van God bring orde in die chaos en morele integriteit!

4. Konsepliturgie
4.1 Ter voorbereiding van die erediens
Liturg

In Psalm 24 staan daar:’Die aarde en alles daarop behoort aan die Here, want Hy het die fondamente daarvan in die seë gelê en dit stewig gevestig in die waters’. Dit is hierdie Skepper Koning wat ons in die erediens wil ontmoet. Kom ons besing sy lof. Een of meer van die volgende liedere word gesing: Gesang 184; 192; 196; 199; 464.

4.2 Votum
Liturg: ‘Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom staan?’ (Psalm 24:3)
Gemeente: Psalm 24:2

4.3 Seëngroet
Liturg: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus.
Gemeente: Psalm 24:3 en 4.

4.4 Wet van God
Voorleser: Wat vra God van ons? God se wet eis liefde van ons. Hoor hoe som Jesus die wet vir ons op in Matteus 22:35-40

4.5 Skuldbelydenis
Gemeente: Gesang 238:1, 3, 4 en 5.

4.6 Genadeverkondiging.
Voorleser: Lees Romeine 10:9 en 10.

4.7 Geloofsbelydenis.
Gemeente: Gesang 259 of 260.

4.8 Skriflesing.
Liturg: Psalm 24:5-10
Gemeente: Psalm 24:5, 6 en 7

4.9 Epiklese-gebed
Liturg: Kom ons smeek God om deur sy Heilige Gees ons ontvanklik te maak vir sy woord.
Gemeente: Gesang 257:1, 2 en 3.

4.10 Prediking
Liturg: In die prediking word gehandel oor Psalm 24, maar in die besonder die betekenis van die woorde van vers 8: ‘Wie is hierdie magtige koning?’
(Vir preek, kyk punt 5 onder)

4.11 Gebed
Liturg

4.12 Slotsang
Gemeente: Gesang 165:1 en 2.

4.13 Seën
Liturg: Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees, sal by julle almal wees.
Gemeente: Gesang 312.

5 Preek
‘n Amptelike staatsbesoek van ‘n koning of president aan ‘n ander land gaan met ‘n groot seremonie en ophef gepaard. Reeds by so ‘n hooggeplaasde se aankoms op die lughawe word die rooi tapyt uitgerol. ‘n Militêre erewag, kanonskote, die nasionale saluut en ‘n orkes wat die lande se volks-liedere speel, verleen luister aan die gebeure. Dit word gewoonlik opgevolg deur ‘n swierige staats-banket waarheen slegs ‘n klein klompie uitgesoekte gaste genooi word. Die publiek is hoogstens toeskouers by sulke geleenthede. Hulle kan by die lughawe, of langs die strate in afgesperde ge-biede die gebeure aanskou. Die mistiek wat sulke geleenthede omring hou selfs vir ons moderne mense ‘n groot bekoring in. Skares drom langs die strate saam, of sit vasgenael voor hulle televisie-stelle. Die simbole en rituele wat met so ‘n geleentheid gepaardgaan laat mense iets ervaar van die belangrikheid en gesag van die besoeker.

Dit het deesdae in die internasionale werêld mode geword dat wêreldleiers lande besoek waar daar politieke onrus, oorloë en geweld is. Hulle poog om deur hulle gesag en invloed die chaos tot ‘n einde te bring. In sulke gevalle skep die besoek van so ‘n hooggeplaasde nog meer verwagtings by mense.

Psalm 24 kondig ook die besoek van ‘n koning aan. ‘Wie is hierdie magtige koning?’ Die psalmdigter beskryf die mag van hierdie koning in poëtiese taal. Hy is koning van die hele wêreld, alles behoort aan Hom. Sy koningskap bestaan nie slegs daarin dat hy met militêre mag sy vyande verslaan het nie. Hy oefen nie net mag uit solank as wat Hy daarin kan slaag om sy teenstanders te oorheers nie, nee- sy mag geld vir ewig. Hy het sy almag gevestig vanaf die skeppping toe Hy die fondamente van die aarde stewig in die waters gevestig het. Met hierdie beeldryke taal verwys hy na die mites van sy tyd, naamlik dat die chaosmagte wat alles bedreig onder die waters van die see gesetel was. Aan sommige afgode van die tyd, soos Baäl is die titel van koning toegeken, omdat hy volgens die mite die chaosmagte in ‘n geveg oorwin het. Die koning van Psalm 24 het nie slegs tydelik die chaosmagte oorwin nie. Hy heers oor alles, selfs oor die chaosmagte van die begin af, daarom kon Hy die fondament van die aarde in die waters lê omdat hy oor hulle heers. Hy het orde gebring in die chaos wat mense bedreig. ‘Wie is hierdie magtige Koning?’ Hy is die God wat oor alles heers. Maar is dit werklik so? Die werklikheid van die geskiedenis bewys tog dat die chaosmagte telkens weer kop uitsteek. Die volk Israel het dit ervaar dat hulle deur vyande bedreig was. Hulle was slawe in Egipte, was verslaan deur hulle oorheersers. Waar was die magtige koning toe? Die digter antwoord hulle deur hulle daaraan te herinner dat hierdie magtige Koning telkens sy volk bevry het en hulle vyande verslaan het. Hy is ‘… die Here, sterk en geweldig, die Here, oorwinnaar in elke stryd’. Vanaf die skepping, maar ook in die geskiedenis het Hy telkens bevestig dat Hy die Heerser, die Oorwinnaar, die Koning is, want Hy het sy volk elke keer weer verlos!

Dit is hierdie almagtige ewige Koning wat ons kom besoek! Deur die eeue heen het die kerk ook bepaalde seremonies en rituele ontwikkel om aan die besoek luister te verleen. Die gewyde orrelspel, ons lofsange voor die erediens, ons stilgebed wil iets tot uitdrukking bring van ons lof en aanbidding. Die Koning het ons gegroet met die aanvang van die erediens. Hy is hier teenwoordig. Wie mag in sy teenwoordigheid kom? Wie is genooi? Is dit slegs ‘n klompie uitgenooide hoog-geplaasdes? Moet die res maar agter die versperring op ‘n afstand die gebeure aanskou? Wat is die voorwaardes om teenwoordig te wees? Daar is inderdaad voorwaardes! Die Koning is die Koning van orde. In sy teenwoordigheid eis Hy ook orde en reg. Die vereiste is dat ‘n mens rein van hande en suiwer van hart moet wees. Hy duld geen valsheid en onreg nie. Hy stel nie titels, status of aansien as voorwaarde nie. Hy vra na meer as die uiterlike. Hy vra na mense se innerlike motiewe, na wat in hulle harte leef. Hulle harte moet rein en sonder valsheid wees, maar hulle moet dit ook uitleef deur nie bedrog te pleeg of vals te sweer nie. Hy vra morele integriteit. Dit is al voorwaarde!

Dan kwalifiseer niemand om teenwoordig te wees nie. Die vereiste is te hoog! Die digter laat reeds iets deurskemer van die genade van die Koning. Niemand is volkome rein en regverdig nie. Maar mense wat na sy wil vra en Hom wil dien, hulle wat deel is van sy volk – hulle is welkom! Hy het begrip vir die feit dat ons nie volmaak is nie, dat die sonde en die chaos ook in ons lewe ons verlei, maar as ons gesindheid so is dat ons voortdurend na sy wil vra en Hom wil dien, mag ons teenwoordig wees. Wat meer is, daar is die belofte dat ons in sy teenwoordigheid sy seën sal ontvang. Hy is die Redder wat aan ons reg sal laat geskied.

In die Ou Testament is daar gepoog om aan hierdie vereiste van reinheid te voldoen deur offerandes. Met die nodige reinigingsoffers kon iemand kwalifiseer om in die heiligdom van die tempel in te gaan, maar dan ook nie tot in die allerheiligste, waar die ark, die simbool van God se teenwoordigheid was nie. Hierdie voorreg was net die hoëpriester beskore en dan ook net een maal per jaar op die Groot Versoendag. Christus het met sy koms dit alles radikaal verander. Met sy kruisiging is die voorhangsel in twee geskeur. Deur sy offerande aan die kruis het Hy ons rein gewas van al ons sonde. Mense het nou vrye toegang tot God.

In die geskiedenis van die kerk is hierdie vrye toegang tot God telkens weer verswaar. Dit het uitgeloop op allerlei dwalings. Ekstra vereistes is gestel. Askese, die bieg, die absolusie, selfs die aflaat het as voorwaardes gegeld. Luther, die groot Kerkhervormer, het besef dat dit nie vir ‘n mens genade by God en toegang tot God kan verseker nie. Deur sy worsteling met die Bybel het hy weer tot die bevrydende ontdekking gekom dat ‘n mens net deur die genade van God en net deur die geloof in Jesus Christus gered kan word. Dit is die boodskap van die kerkhervorming: net deur genade alleen, net deur die geloof in Jesus Christus het ons vrye toegang tot God.

Ons het in die wet van God gehoor dat Hy van ons liefde vra. Ons is nie volkome en rein nie! Daarom het ons ons skuld voor Hom bely. Tog kon ons in die genadeverkondiging hoor dat Hy ons op grond van ons geloof in Jesus Christus uit genade vryspreek. Ons kon weer deur die belydenis van ons geloof die gesindheid van ons hart bekend maak dat ons in Hom glo en Hom wil dien. Dan is ons welkom in sy teenwoordigheid. Ons hoef nie agter ‘n versperring as toeskouer toe te kyk nie, ons is genooi om hier te wees. Later sal ons genooi word om na sy banket toe te kom as dit weer nagmaal is. In sy teenwoordigheid ontvang ons sy seën en laat Hy aan ons reg geskied. Hy herstel die onreg in ons lewe. Waar mense na sy wil vra en dit nastreef bring Hy weer orde in ons bestaan.

Dan verander jou aanvanklike huiwering in vrymoedigheid! Dan juig en sing jy saam met die digter en gelowiges deur eeue heen. ‘Verbly julle poorte, wees bly eeu-oue deure, want die magtige koning wil ingaan!’ Die digter gebruik hier die beeldspraak van die terugbring van die ark na Jerusalem en die tempel. Selfs die poorte en die deure van die tempel moet hulle verbly oor die koms van die Koning. Dit is ‘n magtige gebeure – almal wat dit meemaak word meegevoer om te sing en juig. Die nuwe Liedboek is ‘n poging om dit moontlik te maak dat ons almal, oud en jonk, in ons eie taal, met oorgawe kan sing van ons geloof en vreugde, van ons skuld en ons verlossing, van ons hoop en sekerheid dat ons God die ewige koning is, wat oor alles heers en orde in die chaos gebring het.

Hoekom is ons eredienste dan dikwels koud en vervelig? Daar kan baie redes daarvoor wees. Miskien is dit omdat ons nie meer die verwagting koester dat ons die ewige Koning hier sal ontmoet nie. Dalk is dit omdat ons nie meer werklik glo dat Hy die heerser oor alles is wat ook in die chaos van ons lewe nuwe sin en betekenis kan gee nie. Luister weer mooi na die Woord van God; ‘Wie is Hy hierdie magtige Koning? Die Here, die almagtige, Hy is die magtige Koning’.
Amen