Genesis 3:8-15

Die dag toe hoop gebore is



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Wanneer 'n mens betrokke is by ander mense, of dan meer spesifiek, ander in hulle nood en teenspoed bystaan, voel 'n mens soms totaal magteloos en onbeholpe. Juis omdat 'n mens dikwels ander se seer en rou nood wil verlig, maar weet dat woorde nou en hier nie eintlik veel daaraan kan doen nie.

Wat 'n mens egter nog meer magteloos laat voel, broers en susters, is wanneer mense iets sê soos: `Nee wat, dit is verby. Ek is klaar. Daar is nie meer hoop oor nie. Moet tog nie vir my kom vertel dinge sal regkom nie.'

'n Mens wat sê dat daar geen hoop oor is nie, broers en susters, is 'n sterwende mens. Want so iemand het — op grond van een of ander probleem — die lewe self vaarwel toegeroep. Hy/sy het die deur na die toekoms toegemaak en toegesluit. En die ergste van alles is dat so iemand 'n leuen glo.

Want daar is altyd hoop. Nie noodwendig hoop wat te make het met die kry van wat jy verloor het, of te make het met volkome herstel na een of ander terugslag of siekte nie. Nee. Want hoop kan ook beteken om met die verliese en die seerkry agter jou met vertroue die toekoms in te beweeg.

Daarom kan ons ook sê: Hoop beteken 'n verbete vashou aan die lewe, om te weier om die lewe los te laat. Want die lewe is die kosbaarste gawe wat God aan ons gee, dit is die een ding wat 'n mens nie sommer maar net wil verloor nie.

Natuurlik, broers en susters, is die omstandighede wat 'n mense se lewe inkleur, bepaal en vorm belangrik. Maar bokant al ons omstandighede en probleme is daar die feit dat ons lewe. 'n Mens se omstandighede kan verbeter of versleg, maar jy bly lewe. Jy kan voorspoed of teenspoed belewe, en om dit te kan belewe, moet jy lewe.

En juis daarom, broers en susters, moet 'n mens, solank jy lewe, iets met die lewe doen. Jy moet dit benut. Jy moet dit leef. Met vrede en vergifnis in jou hart, maar ook met die wete dat die toekoms nooit sonder God is nie. En juis daarom is daar hoop. Vir elkeen wat in God glo. En kom ek verduidelik wat ek hiermee bedoel.

Die woordjie hoop, broers en susters, was seker nie deel van Adam se woordeskat nie. Want waarvoor sou Adam tog kon hoop? Dat die volgende week moes reën sodat die koring kon groei. Dat die aandelemark en die inflasiekoers vir 'n slag in die regte rigting koers kry. Of dat hy hierdie jaar 'n stewige salarisverhoging sal kry? Want waarvoor sal 'n mens hoop as jy alles in die lewe het, as alles volmaak is?
Of het Adam dalk in die tuin geloop en tob oor 'n vrou. Ek wens darem dat die Here vir my 'n vrou wil gee. Nee, broers en susters, Adam het nie. Want net so min as wat hy die woordjie hoop geken het, het hy die woordjie vrou geken. Dit is eerder God wat hom met 'n vrou verras het. Dink gerus maar weer daaraan: hy het nie eers gehoop om 'n vrou te kry nie, wat nog te sê 'n mooi en goeie vrou, en wat gee God: Adam kry die volmaakte vrou.

En so was alles in sy lewe volmaak: 'n volmaakte verhouding met God, 'n volmaakte verhouding met sy medemens, en 'n volmaakte verhouding met die skepping/natuur.

Maar toe kom daar 'n beroering. Want daar was iemand wat nie van mooi en volmaak gehou het nie. Wat meer is: hy kom en hy kom leer die mens lelike woorde wat hy nooit geken het nie: woorde soos `egbreuk', `diefstal', `moord' en `valse getuienis'. Maar ook dinge soos begeerte, slegte begeerte, om ongehoorsaam te wees aan God. Om vir God nee te kan sê in plaas van ja.

En bo alles kom gee Satan vir die mens 'n droom wat later vir baie in 'n nagmerrie sou ontaard: die droom om soos God te kan wees. Maar dan nie as 'n edel bedoeling uit bewondering gebore nie, broers en susters. Nee. 'n Droom wat gebore word uit die smag na mag.

'n Begeerte om te kan besit wat God alleen besit, om te kan doen wat God alleen kan doen, om aan ander te kan doen wat God aan my kan doen. Die begeerte om in volle beheer van sake te wees. Om self te kan bepaal wat kan, mag en moet gebeur. Dit, broers en susters, het vir die mens baie begeerlik geklink. (nie dat dit vandag minder begeerlik klink nie, kom ons wees maar eerlik.)

Om baas van die plaas te wees. Klink dit darem nie te lekker nie. Ja, dit klink lekker, maar dit beteken ook: verset teen God. Afstand tussen my en God. Ongehoorsaamheid. En voor die mens agterkom leer hy in 'n kort tydjie sommer ewe skielik teen die spoed van lig 'n hele paar nuwe woorde aan: selfsug, eiebelang, eersug, hebsug.

Met die resultaat: 'n totale breekspul tussen mens en God. Die sondeval, hartseer, skuld, straf, uit die paradys. Uit die atmosfeer van die volmaakte. Geen vroegoggend en laatmiddagstappies meer langs die see en die natuurtuin nie. Geen heerlike, spontane meer met God in die tuin nie. Nie meer vanselfsprekend bymekaar ingehak, in volkome harmonie met mekaar nie.

Want skielik het die lewe 'n stryd geword. 'n Geswoeg om den brode elke liewe dag, sonder ophou. Met 'n eenvoudige reëlmaat wat eenvoudig net nie wil ophou nie. Ja, dit, nadat die mens alles gehad het. 'n Mens wil amper vra: is dit nie ongelooflik dat die mens se lewe so kon verander nie. Dit waarna hy nou met sy hele wese smag, volmaakte lewe en geluk, dit het hy eens gehad, maar wou dit toe nie hê nie.

Maar dan kom God, broers en susters, en kom leer Hy gelukkig vir die mens ook 'n ander woord: die woord hoop. En klink dit nie vir ons vreemd nie. Dat die paradysverhaal die mens se eerste hoop op hoop kan wees.

Daar waar die mooiste ding ooit verkeerd geloop het en op niks anders as 'n onbegryplike breekspul uitgeloop het nie. Die stukkie verhaal wat ons vanaand in Genesis gelees het, vertel nie naastenby die hele storie nie. Want kan ons ons voorstel dat die mooiste wat God ooit gemaak het, daar so afgetakel is? Kan 'n mens jou die teleurstelling en hartseer van God voorstel toe die mens willens en wetens teen God vir die bose gekies het? Soos swart rookmis wat oor 'n stad lê en alles besoedel, het die sonde daar oor die skepping toegesak. Alles was hopeloos. Alles was eintlik nou verlore. Almal was uit God se tuin, die tuin van lewe en vreugde.

Maar, soos ek gesê het, tog nie heeltemal hooploos en hopeloos nie. Want God kom toe en kom leer die mens die woordjie hoop. Lees weer mooi: die woord hoop staan nie daar in genesis nie. Maar dit word beskryf. Dit word breedvoerig gedefinieer. Hoekom? Want in Genesis staan daar 'n belofte.

Heel eerste die belofte dat die een wat dit durf waag het om God se skepping in 'n breekspul te laat verander,self eendag finaal gebreek sal word. Want iemand sal sy kop verbrysel. Iemand sal weer lewe kom gee deur hierdie agent van die sonde dood te maak. Daar is dus hoop. Want God gaan eendag iemand stuur, Hy gaan uitkoms gee. En ons weet mos dat God hierdie belofte gehou het. Want Jesus het gekom.

Met ander woorde, broers en susters, God se beloftes is in wese die mens se hoop. Maak nie saak wat ook al deur die sondebesoedeling besmet word nie, maak nie saak hoe ons die lewe opbreek en hoe ons God se skepping deurmekaarkrap nie. Maak nie saak hoe onvoorspelbaar dinge lyk nie.

Want God is altyd daar. Die een wat die slang se kop kom verbrysel het, is altyd daar. Gee Hom net 'n kans. Hy is ons hoop. Hy is by ons. En wanneer Hy by ons is, is daar altyd hoop. Al dink ons nie so nie. Waar God teenwoordig is, is daar lewe. Of dit nou in hierdie lewe is of in die lewe hierna. Hy is en bly ons hoop.

Wie dus sê daar is nie meer hoop nie, beweer dus eintlik dat God nie meer bestaan nie. Dat Hy ons nie meer liefhet nie. Dat Jesus vergeefs aan die kruis gesterf het.
Amen