Numeri 14:1-12, 17-24

Dit is dikwels Vrydag — maar Sondag kom!



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
In my besig wees hierdie week om vanaand se preek voor te berei, kom ek op ‘n oordenking af wat handel oor die kruisiging van Jesus Christus. Op grond van een van die gedeeltes in die vier evangelies wat handel oor Jesus se kruisdood, sê hy in die oordenking die volgende: En die skare gryp toe vir Jesus, laai ‘n kruis op sy rug en dryf Hom uit na Golgota. Hulle slaan Hom vas op die kruis en maak Hom dood. Dit was die Vrydag.

Heeltemal bekende woorde, sou ek reken, wat nie eintlik tref nie. Maar dan gaan hy treffend aan: En dit was Vrydag, en ouers en kinders werk op mekaar se senuwees tot barstens toe — maar Sondag kom! Huwelike is onder spanning van al die gewerk en verantwoordelikhede — maar Sondag kom. By die werk gaan dit dol, mense kry swaar onder armoede, die winter is koud, mense het seer, en ongeluk tref ander — maar Sondag kom! Niks van dit alles maak eintlik saak nie, want dit is nou maar net Vrydag, maar Sondag kom!

Wat, gemeente, wou hy hiermee sê? En kom ons luister mooi: Alles wat ooit met ‘n mens kan gebeur word vir die gelowige in perspektief gebring deur die opstanding van Jesus uit die graf! Ja, Jesus sterf op Vrydag. Alles blyk op ‘n einde te wees. Maar Sondag staan Hy op, en Jesus en almal lewe! Vrydag het verbygegaan — Sondag kom!

Iets hiervan sien ons in gebeure in Numeri 14, ‘n gedeelte wat handel oor die tyd (en ‘n bepaalde gebeurtenis) net voor Israel die beloofde land sou binnetrek, ‘n gebeurtenis wat gemaak het dat die volk eers 40 jaar later die beloofde land sou binnetrek. Kom ons kyk daarna.

Soos enige verantwoordelike leier het Moses dinge eers goed beplan voordat hulle die land sou intrek. 12 spioene moes gaan kyk hoe lyk die land. Hulle kom terug met ‘n druiwetros, só groot dat twee mense dit moes dra. Maar, sê hulle, die vyand in die land is net so groot.

Twee van die verspieders sê: Dis ‘n land van melk en heuning, pak op, ons trek! Tien ander sê egter: Wag, dit is ‘n harde land met reuse. Ons bly net hier! Ons is soos sprinkane teen hulle!

En toe begin sake ernstig skeefloop. Die hele volk kerm en kla. En dan kom hulle besluit soos ‘n doodslag vir Moses: Kom ons kies ‘n leier en gaan terug Egipte toe!

Moses, Aäron, Josua en Kaleb is stom van verbasing. Hulle val op hulle knieë, skeur hulle klere, pleit en praat mooi — maar tevergeefs. Die Here is by ons, moenie bang wees nie, sê hulle. Maar tevergeefs. Ons lees dat die hele vergadering gedreig het om vir Josua en Kaleb met klippe dood te gooi (Num 14:10).

Wanneer dit gebeur, broers en susters, wil ‘n mens amper onwillekeurig vra: wat kon God meer doen om sy trou, liefde, en almag vir sy volk te wys? Wat moes God meer doen dat die volk rustig kon weet as hulle die land intrek, dat God werklik vir hulle sou sorg?

  • Meer as om met baie wonderwerke hulle uit Egipte te laat trek?
  • Meer as om duidelik waarneembaar vir die heidene te wys dat Hy mag oor alles het?
  • Meer as om te sê: Kyk na die wolke in die dag, die vuurbal in die nag. Ek is by julle!
  • Meer as sy magtige teenwoordigheid by die tent van ontmoeting — waar hulle kon sien dat die Here by hulle is.

Wat meer moes Hy doen? Nie, broers en susters, dat hulle optrede eintlik nuut was nie. Want dit bly soms eenvoudig net verstommend dat gelowige mense God sien en steeds nie glo nie. Dat ons sien hoe God ons lewens onderhou, maar steeds bly ons maar wonder oor môre en alles en nog wat.

Die volk, lees ons, is swaar gestraf. 40 jaar in die woestyn totdat almal, behalwe dié jonger as 20, en Josua en Kaleb, dood was.

Die tragiese wat die geskiedenis ons egter leer, broers en susters, is dat hierdie sware stryd in die woestyn vir sommiges ook nie genoeg was om te leer dat God werklik sorg nie. Nie die kwartels en manna was vir baie genoeg om te sien dat God werklik sorg nie, nie die water uit die rots nie, nie Jerigo se mure wat val nie. Ja, ook nie eers God self in Jesus Christus aan ‘n kruis kan so baie mense nie laat verstaan dat God ons werklik liefhet en ons nooit uit sy hand sal laat gaan nie.

Maar dit is darem nie al kant van die saak nie. Want ons lees ook van die Josuas en Jesajas, die profete en die apostels, die seuntjie met die brode en vissies, die tronkbewaarder in Filippi, die vrou wat aan bloedvloeiïng gely het, die melaatses en blindes wat genees is en wat Jesus met oorgawe gevolg het. Vir hulle was sy genade genoeg, sy magtige werke genoeg om te besef: Hy is in beheer, Hy is die ware onderhouer, Hy is die Een wat werklik sorg, wat werklik sy woord hou!

Ook ons, broers en susters. Ook ons behoort onder hulle te tel wat gesien, gehoor en geglo het. Want wat het God nie al alles vir ons gedoen nie! Jesus Christus aan ‘n kruis, Jesus Christus uit die graf, die Gees elke dag by ons, sy seëninge, sy genade, sy liefde, sy vergifnis! Tot vanaand in hierdie kerkgebou, in hierdie erediens, was God getrou. Hy hou in stand, Hy red. Vir óns het al die Vrydae met sy worstelinge, kommer en moedeloosheid verbygegaan — en Sondag (die opstandingsdag) het gekom!

Tog, broers en susters, moet ons egter ook hieroor ‘n vermanende woord spreek. Om te glo in Jesus kan so maklik net godsdiens wees, net ‘n stukkie tradisie, ‘n stukkie kultuur, of gewoonte wees. Om te glo is baie meer as dit! Dit is ten minste ‘n verhouding met God, ‘n verhouding wat ‘n mens se lewe diepsinnig bepaal en beïnvloed.

Wanneer is geloof net godsdiens? Ek sê dit versigtig, want dit is hier so maklik om te oorvereenvoudig. So maklik vergeet mense van God as die reuse voor hulle opdoen. Ja, party is nog besig om die lekker druiwe te proe, die melk en die heuning op die tong te laat gaan, en dan is hulle klaar moedeloos oor alles en nog wat. So asof alles net Vrydag is, en Sondag nooit gaan aanbreek nie.

Die verhaaltjie oor die klompie spioene leer ons een groot les: Kyk na God — onthou die kruis, onthou Vrydag, maar onthou ook die leë graf — Sondag kom.

En as ons val? ‘n Kind van God val nooit plat nie. Ja, ons val dalk terug. Maar ons staan ook op om verder te groei. Ja, en ons sal dalk weer val. Maar dan staan ons op en groei weer verder.

Numeri 14 wil sê: Daar is hoop vir God se wêreld, want die wêreld is God se wêreld! In elk geval: die enigste rede eintlik waarom ons vanaand hier bymekaar is, is omdat Jesus uit die dood opgestaan het. Wie dit glo, vir so iemand kan en sal enige deel van ons lewe nie maar net dieselfde kan bly nie.

Want al is dit elke week Vrydag, Sondag kom!
Amen