Jeremia 18:1-17

God bly met ons besig



1Geliefdes van ons Here Jesus, die teksvers vir hierdie prediking kom uit Spreuke 13 vers 13: “Wie hom nie aan die woorde van die Here steur nie, sal die gevolge dra; wie eerbied het vir sy gebooie, sal die goeie vrugte pluk.”

Ag, broers en susters, wie van ons het nie al gedink dat ons lewens nie juis uitgedraai het soos wat dit veronderstel was om te wees nie? Ja, ek is seker as ons almal so bietjie nadink oor alles wat ons al in hierdie lewe aangepak en vermag het, sal party van ons dalk moet erken dat ons ook al baie drooggemaak het. Ja, hoeveel van ons het nie al gesê dat as jy weer ’n kans kan kry, sal jy die situasie heeltemal anders aanpak nie? Die ergste van alles is dat ons nou niks meer daaraan kan doen nie ... dit is water by die meul verby! Ja, en hoeveel van ons het nie dalk vandag daardie onsekerheid in jou binneste en voel dalk self soos mislukkings nie?

Dalk is daar mense wat vanoggend kan sê dat hulle oor niks in hulle lewens spyt is nie. Wel, as daar van julle is wat só oor julle lewens voel, moet julle maar die res van ons verskoon. Wie van julle kan nog onthou hoe julle as kinders met klei gespeel het? Onthou julle nog: Ons het feitlik enigiets uit daardie klei gemaak ... ons kreatiwiteit het geen perke geken nie. Maar ek is seker dat julle ook sal kan onthou van die kere wat jy so kwaad geword het vir jou eie misvormde skeppings, dat jy die klei sommer weggegooi het en jouself belowe het dat jy nooit weer met klei gaan speel nie. Ag, later het jy tog weer daarmee gespeel. Maar ek dwaal nou heeltemal van my storie af. Ek wil hê ons moet so bietjie op reis gaan. Ja, kom ons gaan op reis na ’n klein dorpie met sy nou straatjies, iewers in Palestina.

Gemeente, kom ons verbeel ons dat ons deel van ’n toergroep is, wat die Midde-Ooste besoek. Op een van ons reise het ons in ’n baie nou straatjie van ’n klein dorpie iewers in Palestina, so ses eeue voor Christus, rondgeloop. Ons vergaap en verkyk ons aan al die mense se straatstalletjies - amper soos ons eie vlooimarkte - en al hulle gewerskaf. Skielik gaan staan ons toerleier voor een van die stalletjies in die straat. Ons sien ’n man wat besig is om by ’n pottebakkerswiel te sit en met klei te werk. Hy neem ’n groot homp klei uit ’n mandjie, gooi dit op die wiel en begin om dit stadig te knie. Nadat hy die klei goed geknie het, begin hy met sy een voet ’n pedaal trap wat die wiel in die rondte laat draai. Hy druk sy hande in ’n bak water, en stadig begin hy met sy duime en hande iets uit die bol klei vorm. Ja, werklik, uit die stuk klei begin ’n pragtige pot vorm aanneem. Ons bly vasgenael staan, want hierdie pottebakker het werklik baie talent. As ons so na die rakke agter hom kyk, dan sien ons allerlei soorte potte, panne, kruike, borde en vase. Sjoe, ’n mens kan amper nie glo dat die pottebakker dit alles uit ’n stuk vormlose hoop klei gemaak het nie.

Skielik vang ons oog ’n beweging by die pottebakkerswiel ... ag nee, die pragtige pot waarmee die pottebakker besig was, het gebreek ... dit is stukkend! Jy sien sommer die teleurstelling op sy gesig. Al sy moeite verniet ... die pot is ’n mislukking! Ons hoor selfs hoe party mense in ons toergroep openlik lag, tot groot verleentheid vir die pottebakker. Wel, dink jy by jouself, hy gaan seker nou maar die verfrommelde hoop klei weggooi.

Jy sien hoe die pottebakker sy voet van die pedaal afhaal, en hoe hy die wiel met sy twee hande rem. Jy wou net begin wegloop, toe jy sien dat hy nie die klei weggooi, soos jy gedink het, nie, maar dat hy weer daardie mislukte pot tot ’n vormlose hopie klei knie. Sjoe, vol verwondering sien ons hoe hy weer van vooraf begin. Hy maak weer sy hande nat, en stelselmatig begin hy weer met sy duime en hande iets vorm. Hy maak egter nie weer ’n pot nie, maar iets groot wat soos ’n vrugtebak lyk. Stadig gly ons oë weer terug na die rakke agter hom. Nou vra jy vir jouself die vraag af: Hoeveel van daardie mooi en pragtige kleiware was die eerste keer ’n sukses gewees? Ja, en hoeveel van daardie goed het nie eers na vele probeerslae iets moois en bruikbaar geword nie? Stadig begin die toergroepie verder stap, en net toe jy wil wegdrentel, sien jy ’n skaam en sensitiewe jongman met trane in sy oë na die pottebakker kyk.

Jy stap nader ... ja, werklik ... dit is Jeremia. Jy vra hom hoekom hy dan huil, en sy antwoord aan jou is dat die Here God met hom gepraat het. Nuuskierig vra jy aan hom wat die Here dan kon gesê het dat hy so huil. Terwyl die trane oor sy wange loop, vertel hy jou wat God vir hom gevra het: “Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel? Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in my hand, Israel.” Ja, toe Jeremia die mislukte pot sien, het hy onmiddellik gedink aan al die gemors wat God se volk aanvang. Toe hy sien hoe hierdie pottebakker die klei - amper hardhandig en moedeloos verder knie - het hy gedink aan God se woorde en wette wat aan die volk bekend gemaak is. Tog, die volk sê: “Dit help nie. Ons wil lewe soos ons wil, elkeen wil sy eie koppige, slegte lewe lei.” Ai, in plaas daarvan dat hulle vir God dien, het hulle agter die ander volke en nasies se afgode aangehardloop. En God wou so graag gehad het dat sy volk, hierdie pragtige “pot” wat Hy uit ’n hopie vormlose klei gemaak het, iets moes wees waarop Hy, en ander, trots kon wees. Ja, God het baie tyd en geduld aan hulle bestee om hulle te kry waar Hy hulle wou hê, maar die klei het ge-“flop” in die verwagtinge!

Geliefdes van ons Here Jesus, julle moet besef dat Jeremia het ’n baie moeilike roeping gehad. Hy moes die oordeelsaankondigings van God aan die volk gaan oordra. En nadat hy dit verkondig het, het die volk gevra waar hierdie oordele dan bly. Die volk het geglo dat, as ’n profeet werklik deur God gestuur is, en hy kondig God se oordeel aan, moet dit onmiddellik gebeur. Ook Jeremia het daarin begin twyfel. Maar op die pottebakker se wiel sien hy iets anders: die pottebakker se werskaf met die klei bring vir hom twee boodskappe.

Eerstens, as die klei op die wiel geword het wat dit veronderstel was om te wees, en soos wat die pottebakker dit aanvanklik bedoel het, word dit nie stukkend gebreek nie. Nee, al is die aanvanklike vorm so bietjie skeef en krom, hou die pottebakker aan om daaraan te werk. Ja, solank as wat die pottebakker nog iets daarmee kan doen en daaraan kan verander, werk hy geduldig daarmee. O, hy kon dit miskien al oorweeg het om daardie krom en skewe pot weer tot ’n hopie klei te knie, maar hy werk geduldig voort met sy gereedskap in die hoop dat dit wél op die ou end iets moois en goeds sal word. Net so kon God ook al vir hierdie hardkoppige volk vernietig het, maar Hy doen dit nie. Nee, God gaan geduldig voort om hulle met al die instrumente tot sy beskikking, onder andere die profete, te bearbei. As die volk hulle sal bekeer en sal toelaat om deur hierdie profete verander te word, sal God hulle nie vernietig nie.

Máár, tweedens, Jeremia sien ook ’n ander kant van die pottebakker raak. Ja, hy sien ook ’n pottebakker wie se geduld opgeraak het met daardie stuk klei wat aanhou en aanhou breek, en ’n skewe vorm aanneem. En as die pottebakker uiteindelik met daardie pot moed opgee, dan breek hy dit op en knie dit weer tot ’n hopie vormlose klei. Dan gooi die pottebakker weer water by, knie die klei sag en begin van vooraf met iets anders. Net so sal God met die volk ook doen! Al dink Israel dat hulle God se volk is, en dat Hy met hulle tevrede is, kan God altyd anders besluit. As Hy sien dat hierdie “Israel-pot” nie gaan uitkom soos wat die aanvanklike bedoeling was nie, sal Hy dit vernietig tot ’n hopie patetiese groep mense, daarna sal Hy weer van vooraf met hulle begin werk. Die keuse of daar voortgegaan moet word op die ou pot, en of daar opnuut van voor af begin moet word met ’n nuwe pot, lê nie by die klei nie, maar by die pottebakker.

Ja, broers en susters, die boodskap van hierdie gedeelte is duidelik: Juda loop die gevaar dat die Pottebakker hulle, as die halfgevormde voorwerp op die pottebakkerswiel, kan vernietig en inmekaar kan druk. In verse 11 en 12 lees ons baie duidelik dat God sê Hy is besig om hierdie drastiese stap te oorweeg. Tog, die Pottebakker vernietig nie sommer vir die plesier nie. Immers, Hy werk darem al lank aan hierdie “Israel-pot” van Hom. Hy sou veel eerder wil sien dat hierdie pot tot iets moois moet kom, as wat dit vernietig moet word. En hoewel Jeremia iets slegs gesien het in die handeling van die Pottebakker, sien hy nou ook die sonstraaltjie in die donkerte. Jeremia sien hoe die bedorwe klei in ’n nuwe voorwerp verander word. Die pottebakker gooi nie die bedorwe klei weg nie, maar vorm iets nuuts uit die ou klei. Die positiewe boodskap wat Jeremia hier kry, is dat God se oordeel oor Juda nie bedoel is om te vernietig nie, maar om te herstel.

En as Jeremia so wegstap agter die toergroepie aan, is dit jy wat hierdie keer trane in die oë kry. Nie omdat jy in die hopie vormlose klei jou eie mislukking en vernietiging raaksien nie, maar omdat jy ook die blye boodskap van die evangelie van Jesus Christus op die pottebakkerswiel raaksien. Ja, God gooi jou nie weg as die wentelende wiel van die lewe jou stukkend breek, en jy nie uitkom soos wat jy veronderstel was om uit te kom nie. Dit maak nie saak hoeveel keer jy al misluk het nie; dit maak ook nie saak of dit as gevolg van sonde was, of omdat dit bloot die noodlot was nie, maar God gooi jou nie weg nie! Dít is die wonderlike boodskap van Jesus Christus! Dit gebeur wel soms dat God jou so bietjie moet afbreek omdat jy hardkoppig en eiewys is. Maar weggooi? Nooit nie! Hy sal weer van vooraf met jou begin werk. En as Hy die eerste keer nie ’n pragtige en mooi “pot” van jou kon maak nie, dan sal Hy die volgende keer probeer om van jou ’n pragtige en mooi “vrugtebak” te maak.

Gemeente, ek sluit af deur julle ’n staaltjie uit die annale van die bekende en beroemde komponis Ludwig von Beethoven te vertel. Wel, in sy negende simfonie het hy een van die Duitse digter, Friedrich von Schiller, se gedigte getoonset. In hierdie gedig word vertel hoe God die voëls gemaak het. Hy het vir die voëls die pragtigste vere gegee om na te kyk; Hy het vir hulle die mooiste stemme gegee om na te luister, maar ... God het nie vir hulle vlerke gegee nie. Hulle kon dus op daardie stadium nog nie vlieg nie. Toe maak God vir hulle vlerke, maar Hy sit dit op die grond neer, en sê vir die voëls: “Dit is julle laste, dra dit!”

Wel, die voëls het toe so gemaak, hulle het die vlerke opgetel en orals saam met hulle gedra. Mettertyd het hierdie laste aan hulle borste vasgegroei en toe kon hulle vlieg! Die storie agter die storie is heel eenvoudig: Hulle aanvanklike laste het uiteindelik vir hulle vleuels gebring.

En al wat hierdie staaltjie vir ons wil sê, is dat dit presies dieselfde is wat ons in daardie smal straatjie in Palestina gesien het: God gooi nie bedorwe klei weg nie ... nee, Hy maak daarvan wat Hy kan. En daarom moet ons ook besef dat ons nie mislukkings is nie! God maak nie mislukkings nie, want terwyl jy nog dink dat jy ’n mislukking is, is God steeds besig om aan jou te werskaf. Al waarin God belangstel, is die eindproduk, daarom is Hy geduldig. Intussen moet jy, as ’n halfgevormde pot, maar daardie dinge, wat jy glo mislukkings of laste is, saam met jou saamdra. Gebruik dit egter tot jou voordeel. Ja, dalk word dit later vir jou ook nie meer laste nie, maar vleuels.

Broers en susters, die les wat ons uit hierdie gedeelte moet leer, is dat God in ons, en ons in onsself, nog baie in die toekoms teleurgesteld gaan wees. Tog, as jy voel jy het in iets misluk of gefaal, moet jy bo alle twyfel weet dat die Here jou beslis nie sal verwerp nie, maar dat Hy steeds geduldig met jou sal werk in die hoop dat jy uiteindelik in iets goed en mooi sal ontwikkel. Ja, God is steeds besig om deur middel van sy instrumente, sy Woord en die blye evangelie, aan jou te skaaf en te vorm. Ja, God wil van jou iets maak waarop nie net Hy nie, maar die ganse mensdom en die hele skepping op trots kan wees. Hoekom? Omdat dit tot die eer van sy Naam sal strek!
Amen