Psalm 88; Markus 15:33-34

God, hoop en wanhoop



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus

Die boek Psalms is seker een van die rykste en aangrypendste boeke in die Bybel. Die betekenis van die meeste Psalms kan nie werklik gepeil word deur dit net te lees nie. Die Psalms behoort eintlik gebid te word, juis omdat dit so is dat daar in die Psalms, anders as in die ander boeke van die Bybel, nie baie oor God gepraat word nie, maar veel eerder met God gepraat word.

Die Psalms is daarom lewende en egte gebede waarin die bidders alle maskers afgooi en reguit, uit die hart, met God praat. Die Psalms leer ons dat ons in die gebed na God kan kom net soos ons is. En juis daarom kry ons in die Psalms feitlik die hele spektrum van menslike emosies en gesindhede waarin iemand na God kan gaan: sommige Psalms vertel van ongekende blydskap en vreugde, ander van die verwondering oor God se skeppingsmag (Ps 8; 19; 89), ander besing die lof die lof en heerlikheid van God (Ps 100; 150), en ander weer is treffende skuldbelydenisse (Ps 51).

Dan is daar ook Psalms - soos Psalm 88 - wat van 'n ander, tipiese, menslike ervaring praat, naamlik die van totale moedeloosheid en wanhoop. In Psalm 88 sien ons sien die skrywer van die psalm in geen stadium van sy gebed enige lig nie. Hy gaan as 't ware onder in sy wanhoop en moedeloosheid. Daar is talle ander Psalms in die Bybel waarin die skrywers daarvan ook van hulle moedeloosheid en wanhoop praat - Psalms soos Psalm 74, 79 en 82 - maar nêrens in hierdie Psalms sien ons breek die lig tog vir die skrywers daarvan deur, iewers kry die donker wolk sy silwer randjie en kom daar uitsig en hoop.

Maar nie hier in Psalm 88 nie. Want hierdie man het geen hoop nie. Aan die einde kom daar geen hoop nie, trouens, die slotwoorde van die psalm is seker die somberste van die hele psalm: “die duisternis van die dood is my geselskap”. Met ander woorde, sy gebed is 'n gebed van onverbloemde wanhoop, moedeloosheid en verlatenheid - feitlik ongeëwenaard in die Bybel, maar beslis in die Psalmboek.

Wat, broers en susters, kan 'n mens so moedeloos en vol wanhoop maak? Baie meen dat, veral op grond van verse 4-6 waar die skrywer sê dat sy swaarkry vir hom te veel geword het en dat hy tussen die grafte en dooies leef, dat hy vir sy bekendes afskuwelik geword het (vers 9) en dat sedert sy jeug al wegkwyn (vers 16), dat die skrywer aan een of ander ernstige siekte gely het - moontlik melaatsheid. Indien dit waar is, kan 'n mens jou net voorstel watter vorme van intense pyn wat hy moes verduur (in 'n wêreld waar daar nog nie moderne pynstillers was nie), en hoe dit moes gevoel het om deur almal verwerp te word, omdat hy onrein sou wees, en letterlik tussen die grafte moes lewe, juis omdat hy nêrens elders welkom sou wees nie. Heeltemal alleen, sonder sy geliefdes, net met sy pyn en eensaamheid. En kom ons wees maar eerlik, broers en susters: almal van ons wat al te make gehad het met terminaal siek mense met baie pyn, weet hoe pyn en eensaamheid 'n mens so kan aftakel dat jy alle waardigheid en selfrespek - soms jou ganse persoonlikheid - kan verloor.

Hoe kom 'n mens deur so 'n krisis? Mense wat al iets beleef het van werklike fisiese en geestelike lyding - soos totale wanhoop en moedeloosheid - wys gewoonlik op drie dinge wat hulle deur so 'n krisis gedra het: die herinnering aan beter dae in die verlede, die onderskraging van familie en vriende, en die hoop op God en sy genadige uitkoms, al is dit anderkant die graf. Sonder hierdie drie sake, sê baie, sou hulle nie deur hulle krisis kon kom nie.

Die skrywer van die psalm het egter niks van hierdie gehad om hom te ondersteun nie: uit vers 16 blyk dit dat hy geen herinnering aan beter en vroeër dae gehad het nie, want daar sê hy dat hy van sy jeug al af wegkwyn en swaarkry. Ook het hy geen vriende of familie naby aan hom gehad wat hom kon ondersteun nie. Dit lees ons in verse 9 en 19: “U laat my bekendes ver van my af staan en maak my vir hulle iets afskuweliks”, en “U laat my vriende en my bure ver van my af staan”.

Maar ook God het hy nie gehad nie. Want kyk wat sê hy: “dit is asof ek al tussen die dooies is...die aan wie U nie meer dink nie en van wie U u hand teruggetrek het” (vers 6); “U het my onder in die put laat beland, in diepe duisternis. U gramskap rus swaar op my, U laat al u golwe oor my breek” (verse 7-8); en “U toorn rus op my, U tref my met skrik en vernietig my. Dit bedreig my heeldag soos vloedwater, dit sak op my toe van alle kante af” (verse 17-18). En hierdie is dan ook juis die dieptepunt van sy wanhoop en moedeloosheid. Nie dat hy sonder goeie herinneringe is of sonder sy vriende en familie nie, maar sonder God. Dat hy voel of God hom verlaat het.

Die interessante is egter, broers en susters, en glo dit as u wil, dat self hierdie - die feit dat hy voel God hom verlaat het - nie vir die skrywer die ergste van alles was nie. Nee. Wat erger was is die feit dat hy van God praat as die een wat die direkte oorsaak van al sy ellende, wanhoop en moedeloosheid is, as die een wat hom nie alleen in die steek gelaat het nie, maar as die een wat hom aktief en aanhoudend pynig.

Nou kan 'n mens hierop reageer deur te sê dat sulke amper godslasterlike vermoedens oor God seker maar opkom by 'n onbekeerde hart wat hom nie in erns werp op die God van genade en al sy beloftes van heil nie. Maar tog, hier het ons nie met iemand te make wat sy hart verhard het en hom van God afgekeer het nie. Want hierdie man weet van God. Hy weet dat God 'n God is wat veronderstel is “om altyd te help” (vers 2). En hy bid tot God “ek roep na U om hulp, Here...waarom verstoot U my, waarom trek U U van my af terug?” (verse 14-15). Met ander woorde, die God van genade en hulp wat hy ken, het vir hom die God van oordeel en verdoemenis geword, die God wat nie help nie maar hom neerwerp in die duisternis en dood.

Was ons al hier, broers en susters? In sulke dieptes? Het ons al werklik so gevoel? En as ons nie het nie, kan ons ons iets so afgrysliks voorstel? Dat ons, soos hierdie Psalmskrywer, werklik voel dat ons sonder alles is - nie alleen sonder goeie herinneringe en die bystand van geliefdes nie, maar selfs sonder God? En dit nie alleen voel nie, maar werklik glo, soos ons in God glo? Dit moet verskriklik wees.

Die feit van die saak is egter, broers en susters, dat die boodskap van die evangelie is dat God, al lyk dit nie altyd vir ons so nie, en al dink hierdie Psalmskrywer nie so nie, ons nooit alleen laat nie. Dat God in die diepste van die mens se nood by hom is. Hoekom kan ek dit met soveel stelligheid sê?

Ek sê dit, broers en susters, want as ons mooi dink, sal ons besef dat wat aan die kruis met Jesus gebeur het, niks anders is as die verhaal van die God wat die noodkrete van Psalm 88 gehoor het, en in sy Seun langs ons kom staan het in ons magteloosheid - en ons magteloosheid, moedeloosheid en wanhoop in ons plek kom dra het nie.

Die God van die Bybel is nie 'n lewensvreemde God wat Hom eenkant hou en dan skielik ingryp en al ons angs, droefheid en wanhoop laat omslaan in vreugde nie. Nee. God is, al klink dit miskien vir u hoe vreemd, die menslike God. Want in Christus toon God nie alleen sy alwetende Goddelikheid nie, maar ook en veral sy egte en opregte menslikheid. Want in Christus aan die kruis kom deurworstel hy al ons vrae, ons almal se somse gevoel van moedeloosheid en wanhoop, en kom vra Christus namens ons almal, saam met die skrywer van Psalm 88; “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Hierdie is die vraag van Psalm 88, en dit is ook die vraag van Jesus aan die kruis.

Wat meer is, broers en susters, is dat die evangelie van die kruis verder ook al die onbeantwoorde vrae van die skrywer in Psalm 88 antwoord. Want kyk wat vra hy: “Sal u met die dooies 'n wonder laat gebeur?”; “Word daar in die graf vertel van u troue liefde?”; en “Sal u wondermag ondervind word in die duisternis van die dood?”

Aan die kruis word al hierdie onbeantwoorde vrae beantwoord. Want aan die kruis sien ons twee dinge gelyktydig: wanhoop en uitkoms, magteloosheid en oorwinning, dood en lewe. Kom ons sê dit anders: aan die kruis sien ons aan die een kant die mens in al sy wanhoop, lyding, swaarkry, magteloosheid en angs. Maar ons sien aan die ander kant ook die oorwinning, die uitsig, die lewe.

Of kom ons sê dit nog anders: die kruis sê vir ons dat droefheid, pyn, dood, sorge en wanhoop deel van die lewe van 'n Christen is en sal bly. Hierdie dinge sal ons bly treiter. Dit sal altyd by ons wees. Dit is deel van die lewe. Deur aan Christus te behoort, of dan, deur vir Christus aan die kruis te kyk, beteken nie dat hierdie dinge in 'n oomblik in ons lewens uitgewis word nie. Maar deur na die kruis te kyk sê vir ons dat Jesus hierdie dinge alles namens en vir ons kom ly en deurleef het, en kom oorwin het. Niks sal vir ons te erg en te veel wees nie. Nie eers die dood nie.

En dit word aan ons gewaarborg. Sy leë graf is daarvan die versekering. Sy leë graf sê vir ons dat die dood nie, soos vir die skrywer van Psalm 88, ons permanente metgesel sal bly nie. Nee, God is nou, na die kruis, die Metgesel wat die lewe leefbaar maak, ook in ons angs, moedeloosheid, pyn en wanhoop, tot in die dood, en daarna.

Die geloof in God, broers en susters, in die Jesus wat saam met ons is in al ons swaarkry, is dus nie 'n uitweg uit die lewe nie, maar 'n wonderlike uitweg in die lewe. Geloof in die God beteken dus nie dadelik al die antwoorde op al ons vrae, angs, ellende of moedeloosheid nie, maar dit beteken dat die lewe werklik draaglik en leefbaar word.

Dit bewaar ons van die ondergang aan ons sorge en leed, soos met die skrywer van Psalm 88 gebeur het. Dit bring vir ons die bevrydende wete dat selfs die dood vir die gelowige nie die einde is nie, maar die begin, en dat die graf nie maar net 'n toegegooide gat met grond is nie, maar iets wat weer kan en sal oopgaan. Maar ook dat die genadige trou van God ons elke dag sal dra in ons feitlik daaglikse belewing van menslike ellende en bekommernis.

Salig is hulle wat hierdie kruisevangelie werklik so glo, want hulle sal werklik kan lewe in hierdie lewe. En as ons mooi dink, is dit eintlik baie eenvoudig.
Amen