Klaagliedere 3:1-22

'n Vergadering oor die toekoms



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Veronderstel u sou eendag u posbus leegmaak, en soos u die briewe oopmaak, is daar een brief tussen die ander van 'n vriend met so effens snaakse uitnodiging in: `Jy word genooi om Sondagmiddag saam met ons te kom gesels oor die toekoms’.

Daar gearriveer, maak jou vriend die deur oop met 'n somber gesig. Baie saaklik sê hy jy moet maar instap, hulle is reeds besig. Gekom in die vertrek waar hulle besig is, sien jy dat daar nogal 'n hele aantal mense teenwoordig is. 'n Hele paar bekendes ook. Daar is 'n paar van jou vriende, kennisse uit die verlede, jou buurman en 'n hele paar van jou medelidmate van die gemeente waaraan jy behoort. `Kom sit’, sê hulle, `ons praat oor die toekoms.’

Een van jou ouer vriende aan die oorkant van die vertrek begin te praat. Hy sit kop onderstebo en 'n mens moet mooi luister om te hoor wat hy sê. `Hoe kan ek nog glo as dinge lyk soos dit lyk? Toe sê my? Toe ek laas na 'n koerant gekyk het, was dit net geweld en korrupsie. Dinge lyk vir my maar donker, ek sê julle. Daar is nie vir ons hoop oor nie. Ek sien nie lig vorentoe nie, ek weet nie van julle nie. Dit lyk vir my net of God vir ons alles donker maak. By die dag donkerder’.

Hy het skaars sy laaste donker woord uitgespreek of jou buurman oorkant die straat begin te praat. `Ek sal vir julle sê hoe ek oor hierdie dinge voel. Dit is vir my asof ek vasgekeer is tussen 'n klomp omstandighede wat net te groot en te veel vir my geraak het om te hanteer. Ek het laas week my werk verloor. Dit was nie my skuld nie. Sommer net op 'n dag gehoor hulle rasionaliseer. Ek sit vasgevang. Ek bid my malle verstand af vir uitkoms, maar die Here hoor my nie. Dalk is dit Hy wat my so toegebou het, wie weet?’

'n Jonger vriend van jou val hom driftig in die rede. `Ja, ek voel kompleet of ek die Here se teiken geword het. Alles wat verkeerd kan loop, gebeur met my. Die mense in die straat spot al met ons, sê ons is gebore ongeluksvoëls’.

'n Paar stoele van jou af sit 'n vriendin van jou wat jy nie vroeër opgemerk het nie. Toe sy begin praat, skrik jy. Jy kan die bitterheid in haar stem hoor. `Die lewe is vir my galbitter. Waarvoor lewe ek nog? My enigste kind is deur rowers doodgeskiet. Dit was nie sy skuld nie. Hy was maar net 'n polisieman wat sy werk wou doen. En as ek moet glo dat niks buite God se wil om gebeur nie, moet ek mos glo dat dit God self is wat Hom doodgemaak het. Dit is dus God wat my so laat klippe kou. Soos ek sê: waarvoor lewe 'n mens nog? Watter toekoms is daar vir my oor so alleen sonder my enigste kind?’

En terwyl jou mond nog oophang van al die bitterheid en pessimisme, staan jou vriend op en sê: `Ou Jan, ek ken jou mos nou al lank as 'n verstandige soort van mens, so sê 'n bietjie vir ons: wat sê jy van die toekoms? Hoe ervaar jy die lewe?’ Wat, broers en susters, as ons ou Jan was, sal ons antwoord wees?

Maar voor ons antwoord, broers en susters, laat ek weer voor begin. Hierdie denkbeeldige vertelling waarmee ek begin het, is nie so denkbeeldig nie. Want wat die mense daar in die donker sitkamer kwytgeraak het, is lankal reeds in die Bybel, en in die besonder in Klaagliedere 3:1-17, opgeteken. En onder net sulke haglike omstandighede.

Die man aan die woord in ons gelese gedeelte praat namens God se volk, sy uitverkorenes, sy gunstelinge. Maar dit lyk nie of hulle meer God se gunstelinge is nie. Hulle sit in ballingskap, weggevoer van hulle land, huise, en hulle plek van aanbidding. En vir 'n Israeliet was dit soos die dood. Want hulle het letterlik alles verloor wat vir hulle saak gemaak het. Ja goed, hulle lewe nog, maar dit is maar al. En ook maar net-net.

Want die vyand het hulle land gevat, hulle kinders is dood in die oorlog, hulle tempel is verwoes, hulle het nie meer 'n koning nie (hulle is dus sonder enige politieke mag), hulle is aan vreemdelinge uitgelewer, aan mense wat hulle bo alles nou nie juis goedgesind is nie, aan mense wat hulle kultuur in die grond in trap. Daarom is die vrae wat in hulle koppe maal aan ons bekende vrae: waarvoor lewe ons? Wat hou die toekoms in? Is daar ooit iets soos 'n toekoms oor? Kan 'n mens nog hoop? Of, soos vers 18 dit stel: `Ek het gedink dit is klaar met my, en met my hoop op die Here’.

Klaar met hoop op die Here. Seker die ergste wat met 'n gelowige kan gebeur, meen ek, broers en susters. Dit is eintlik 'n wanhoopskreet. Want gewoonlik, broers en susters, kan 'n mens 'n groot klomp teenspoed en druk verdra. Maar dan gaan jy op jou knieë en jy kry net weer die versekering van God se teenwoordigheid en genade in jou lewe, en jy sien weer kans vir die pad vorentoe. Maar as 'n mens die dag begin dink, en jy glo dit werklik ook, dat dit klaar is met die hoop op die Here — dan is dit so te sê die einde van die pad. Dan is die kamer donker, dan glimlag niemand meer nie, en dan heers die dood in enige atmosfeer. Want dan is die dood in die harte van mense, al lewe hulle nog.

As 'n mens Klaagliedere 3:1-20 lees, broers en susters, voel dit inderdaad of alles verlore is. Want daar is vir die gelowige tog niks meer te sê as 'n mens nie meer op die Here kan hoop nie. Want as God nie meer daar is nie, wat help dit dan om voort te worstel? Dan is die kerk mos ook nie meer juis van enige hulp vir die skrywer van Klaagliedere en sy mense, en vir jou buurman en ander vriende daar in die donker sitkamer nie.

Want een van die werklikhede in die lewe, broers en susters, wat seker die mees verlammende is, is dat 'n mens gedane sake en afgehandelde omstandighede nouliks kan verander. Gedane sake het geen keer nie. Ons ken mos die spreekwoord. En as 'n mens jou toekoms moet bou op die mislukkings en teleurstellings van die verlede, is 'n mens dikwels maar niks anders as doodeenvoudig toekomsloos nie. Tensy, broers en susters, tensy daar 'n wonder gebeur.

Interessant is dat hierdie wonder in ons gelese gedeelte wel gebeur, wel gebeur wanneer die skrywer tog iets vind om ter harte te neem, tog iets vind wat 'n klein vlammetjie helder laat flikker. Want, sê hy, ten spyte van al ons ellende, ongeluk en ons baie moeilike omstandighede, is daar 'n ander feit wat ons nie uit die oog moet en mag verloor nie: `Deur die liefde van die Here’, sê hy `het ons nie vergaan nie’.

Ons lewe nog. En waar daar lewe is, is daar hoop. Want 'n mens wat lewe is 'n mens wat aan môre kan dink. En oor môre kan droom. En sy môre en oormôre aan God kan toevertrou. Iemand wat nog lewe en daarom nog kan hoop, broers en susters, is iemand wat kan sê — en behoort te kan sê — dat God se liefde elke môre nuut is. Dat sy liefde my dra van dag tot dag. Al is dit net 'n dag, 'n uur, of selfs 'n minuut op 'n keer.

Want God se liefde, broers en susters, dra ons ten spyte van ons omstandighede, en aan sy liefde is daar geen einde nie. Al dink ons nie nou so nie, al glo ons dit selfs dalk op hierdie oomblik nie. En al is dit soms hoe moeilik, broers en susters, om dit te kan sê, om in my moeilike omstandighede te kan sê God se liefde dra my, moet ons dit kan sê. Want as Jeremia, in sy omstandighede, wat heel waarskynlik baie erger is as wat ons s'n in ons tyd is, dit kon sê, kan ons ook.

Hoe, sal u vra, het hy dit reggekry? Was dit nie dalk sommer maar net woorde nie? Dalk was dit maar net praatjies. Of, sal u dalk wil sê, die dominee is maar net weer besig met vroom kanselpraatjies.

Nee, broers en susters, ek dink nie Jeremia se uitspraak was sommer maar net vrome woorde of maar net praatjies nie. Hoekom nie? Want sy woorde het met perspektief te make. So algaande deur die Bybel is daar talle mense wat met hom saampraat. Vanuit ander, en selfs moeiliker, omstandighede. Dink maar aan Amos, Hosea, die gelowiges van wie ons in Efesiërs lees, of selfs die gelowiges in die Hebreërbrief. Telkens wanneer 'n mens na hulle verhale luister, kom jy agter dat dit oor perspektief gaan.

Die manier waarop jy na dinge kyk. Die plek wat jy inneem. Dit is die fout met die mense in die donker sitkamer. Hulle perspektief was verkeerd. Hulle het gesê hulle praat oor die toekoms, maar eintlik het hulle niks anders gedoen as om oor die verlede te tob nie. Hulle het met hulle gesigte na die donker verlede gesit, en daarom het die toekomslig vir hulle verlore geraak. Ja, hulle het selfs vir God beoordeel vanuit die lelike dinge in die verlede.

Maar nie die skrywer van Klaagliedere nie. Nee, hy het hom vir 'n oomblik van die werklikheid van sy omstandighede losgemaak en gewaag om vorentoe te kyk. En vorentoe het hy vir God gesien, en daarom lig gesien. Hy het lewe gesien. Hy het begin dink aan môre. Hy was bereid om vir God 'n kans te gee. En daarom het hy begin droom van 'n beter môre.

Maak nie saak wat ons omstandighede is nie, broers en susters, maak nie saak wie ons daarvoor die skuld gee nie, daar is een feit waarby ons nie kan verbykom nie: God was nog altyd daar, Hy het vir ons, in die verlede, dag vir dag die lewe gegee, Hy het ons met sy liefde gedra, sodat ons nie vergaan het nie.

En juis omdat God ewig is, sal Hy altyd daar wees, en sal Hy ons altyd met sy liefde so dra dat ons nie sal vergaan of ondergaan nie. Selfs nie in die dood nie. En daarom hoop ek. En, so op die kantlyn broers en susters, dit sou my antwoord wees as ek ou Jan was.
Amen