Romeine 8:14-23

Om te sug, hoop en te werk



Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus

Hoop, het iemand eendag gesê?, is dit wat Christene anders maak as ander mense, veral ongelowiges. En in 'n sekere sin is dit waar. Want dit is maar net hoop wat maak dat ons anders as baie praat oor byvoorbeeld die toekoms, oor die chaos rondom ons, oor al die negatiewe dinge wat deesdae ons totaal oorspoel. Dat 'n mens nog kan sê, teen alles in, dit kan beter, dit kan regkom. Al wonder 'n mens self. Maar tog hoop ons. Dit maak ons anders as ongelowiges.

As Christene enige rede het om te hoop, dan doen hulle dit veral op grond van Romeine 8. Want daar is seker min ander hoofstukke in die Bybel wat soveel beloftes bevat soos Romeine 8 dit vertel ons van God se ongelooflike genade vir ons Christus, dat ons in Christus die ware lewe het in hierdie woeste lewe, hoe die Gees ons vrymaak van die oordeel oor die sonde en die wet, dat in Christus God vir ons is en nie teen ons nie, dat ons vrygespreek word van enige oordeel, dat niks, nie eers die dood, ons kan skei van die liefde van God vir ons in Christus nie.

Tog, broers en susters, sê Paulus hier van vers 18 af 'n paar dinge wat 'n mens laat wonder oor die hoop wat in ons behoort te lewe. Want ewe skielik begin hy te praat van lyding, van swaarkry, verlange en pyne. Wat 'n mens veral opval is die sugte waarvan hy praat, sommer so drie keer na mekaar.

Ons weet sê hy, dat die hele skepping sug oor die pyne van verwagting. Maar nie net die skepping nie, sê Paulus, ook ons sug, die gelowiges, ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe, as 'n deposito op die lewe hierna. En dan slaan Paulus die uitklophou. Voor ons kan dink dat die sugte van die skepping en ons sugte maar net bloot die gevolg is van al die sonde, swakheid of ongeloof, kom hy en sê: selfs die Gees van God sug . En wat meer is, die Gees van God sug die meeste, sug die swaarste van almal, want die Gees se sugte, sê Paulus, is onuitspreeklik.

Met ander woorde, broers en susters, op die eerste lees af maak Paulus se woorde hier nie veel sin nie: eers vertel hy vir ons dat ons kan hoop, kan hoop omdat ons soveel dinge van God ontvang wat enige omstandigheid die moeite werd maak, en dan ewe skielik kom hy, wil ons amper sê, met 'n ander storie: alles moet sug, die skepping, die mens, en selfs God. Hoe moet ons dit verstaan?

Miskien moet ons hierdie vraag beantwoord deur te begin deur te vra: wanneer sug 'n mensê Kom ons dink mooi, wanneer sug ons oor dinge? Ons sug, meen ek, wanneer ons aanvoel dat daar 'n spanning/teenstelling is tussen hoe dinge nou is, en hoe ons weet dinge moes of kon gewees het. 'n Mens sug tog nie, broers en susters, oor dinge waaraan jy niks kan doen nie, wat jy nie kan verander nie. Byvoorbeeld: die Eskimo's by die Noordpool sug tog nie oor die koue nie: dit is deel van hulle lewe. Maar ons sug byvoorbeeld swaar as die winter ekstra koud, nat of swaar is, want ons weet dit kan anders wees, dat dit al anders was. Met ander woorde, broers en susters, hoe groter die spanning/teenstelling tussen hoe ons situasie is en hoe anders dit kon/moes gewees het, hoe swaarder word die sugte.

As ons dit verstaan, is Paulus se skielike omswaai van hoop na sugte in ons gedeelte nie so vreemd op die oor nie. Want ons weet mos van die geopende graf, die uitstorting van die Heilige Gees, dat mense nuut kan word, dat mense daarom, onder leiding van die Gees gehoorsaam, ordentlik moreel en eties kan lewe, dat dit sake soos korrupsie, diefstal, moord, haat of wat ook al eintlik nie deel van ons lewe behoort te wees nie.

Maar dit is. Daar is soveel ongeregtigheid, daar is soveel oneerlikheid/onversoendheid/geweld, daar is so min van die lewe van die nuwe mens sigbaar in die wêreld. Juis daarom sug ons, sug ons omdat ons weet dat dinge baie anders kan wees soos dit nou is. Dat die lewe baie anders kan wees as wat ons elke dag ervaar en beleef.

Daarom, sê Paulus, sug ons en sug die skepping. En sug ons en die skepping presies om dieselfde rede: die sonde wat ons so verslaaf het dat dit nie alleen die mens van koers af gedwing het nie, maar ook die skepping. Want wanneer die mens aan die sonde verslaaf is, verwoes jy nie alleen jouself en jou medemens nie, jy verwoes ook die skepping.

Want alle sonde het maar altyd een gemeenskaplike kenmerk: in die soeke en najaag van die eie wil, eie genot en eie behoeftes buit dit nie net die medemens uit nie, maar ook die skepping. In ons sonde vermink ons dus nie net ander nie, ander vermink ons, maar ook die plek waarop die ander en ons leef, die skepping.

Juis daarom, sê Paulus in verse 21 en 23, verlang ons en die skepping na dieselfde ding, sug ons oor dieselfde ding, wag ons op dieselfde ding: dat God ons en die skepping van hierdie verganklikheid sal bevry.

Maar sug ons ook: sug ons omdat hoe dinge nou is, eenvoudig net nie kan opweeg oor hoe dinge kan wees nie, hoe dinge kan wees omdat die Gees mense nuut wil maak nie, of hoe dit eendag by God sal wees nie. Daarom sê Paulus, broers en susters, is daar sugte (sugte oor lyding, siekte, dood) want waar daar 'n verwagting is na iets beter, daar moet altyd sugte wees.

Om te sug , broers en susters, is egter nie om te berus nie . Laat ons dit baie duidelik vir mekaar vanaand sê. Dat om te sug maar dieselfde is om te berus, is 'n geweldige vergissing. Want ons wat weet van die nuwe lewe in Christus, wat weet van die liefdevolle God, wat weet hoe Jesus tussen, teenoor en onder mense opgetree het, vir ons kan siekte, pyn, hartseer, ongeregtigheid, onredelikheid Ä om nie eers te praat van die geweld wat soos 'n sweer om ons oopgebars het en dreig om alles in te sluk nie Ä nooit die normale wees nie. En daarom berus ons nie maar net nie, ons sug, want ons weet, dit is nie wat God vir ons en die skepping bestem het nie. Nie hierdie chaos, liefdeloosheid, geweld, diefstal of wat ook al nie.

Om te sug , daarom , broers en susters, is eerder om deur God geleer te word om te bid en te werk vir die koms van die/sy koninkryk. Hoekom sê ek so? Want Paulus sê: ons en die skepping is nie die enigstes wat sug nie, God sug ook. En as ons wil weet hoe swaar God sug oor die gemors wat die sondaarmens van sy skepping gemaak het, kan ons maar net weer dink aan Jesus se woorde aan die kruis: My God my God, waarom het U My verlaat? want in hierdie woorde hoor ons die diepste van Jesus, en dus ook God, se nood.

Die ongelooflike wonderlike, broers en susters, is egter die feit dat hierdie noodkreet van Jesus ook swanger was aan oorwinning, swanger was aan die oomblik dat Hy sou kon uitroep: Dit is volbring! Die sonde en die dood is oorwin. Dinge kan nou anders wees. Ek gebruik die woord swanger hier, broers en susters, nie sommer maar net of verniet nie. Want dit is Paulus se woord. Dit is die woord wat hy hier gebruik, en wat die 1953-vertaling dan ook vertaal het deur te sê die sugte van die Gees is soos die sugte van 'n swanger vrou, 'n vrou in barensnood. Barensnood, broers en susters, sal baie u kan vertel, is 'n besonderse soort nood, 'n besonderse pyn en stuk swaarkry, maar tog draaglik, juis omdat die uiteinde daarvan niks minder as nuwe lewe is nie. Daarom was Jesus se sugte aan die kruis, sê Paulus, iets soos dit, want dit het gelei tot nuwe lewe.

Daarom, broers en susters, as Paulus hier sê dat ons en die skepping saam met God sug, mag ons sugte nie maar net 'n weeklaag, 'n alledaagse klaery, wees nie. Nee. Ons sugte moet lei na nuwe lewe. Ons sugte moet sugte wees omdat ons dinge anders wil h? as wat dit nou is. Wanneer dit sal gebeur, weet ons nie. Of dit ooit sal gebeur, weet ons ook nie. Ja, ons weet eendag sal God alles self kom nuut maak, maar of ons wêreld anders en beter sal word voor dit, kan ons nie sê nie. Ons kan maar net sug en hoop.

Daarom, sê Paulus, moet ons bid. Al weet ons nie waarvoor ons moet bid nie. Want die Gees, wat saam met ons sug, sal ons leer wat om te bid. En as ons weet wat om te bid, broers en susters, sal ons ook weet wat om te doen. Want wie bid sonder om te doen, het nog nie die sugte van die Gees sy eie gemaak nie.

En wie die sugte van die Gees sy eie gemaak het, berus nie maar net nie. Nee. Hy/sy doen. Doen wat die hand vind om te doen. En dan ook en veral die kerk. Ook die kerk moet deel word van God se redding en die herstel van God se goedgemaakte skepping. En dit beteken, myns insiens, die volgende: die kerk moet getuig, teen wêreld en owerheid in, dat die geweld, die onveiligheid, uitbuiting, korrupsie, moorde, diefstal nie is waartoe God hierdie skepping bestem het nie. En dit moet die kerk sonder ophou doen, meer en meer. Soveel meer dat ander later nie meer die sugte van kerk sal wil hoor nie, juis omdat dit hulle aankla.

Ek sluit af: wie leer om te sug soos Paulus sugte hier beskryf, leef nie langer swaarmoedig of sonder hoop nie. Want om so te sug deel nie alleen in die swaarkry oor hoe dinge nou is nie, maar lewe ook in die verwagting dat God dinge kan verander, wie weet, maar beslis eendag, wanneer Hy weer kom, alles sal verander.

Om te sug is dus om swaar te kry (oor hoe dinge nou is), maar ook om te hoop (oor hoe dinge moet of kan wees), en bo alles, om te werk (om dinge te kry soos hulle behoort te wees).
Amen