Lukas 23:33-43

Ons het ‘n eindbestemming!



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Al wat vreemder aan die versoek van die misdadiger daar aan die kruis self was, het iemand eendag gesê, is dat sy versoek deur Jesus toegestaan is. Net om ‘n mens die prentjie te probeer voorstel, is genoeg om jou totaal te verwar. ‘n Misdadiger, met geen respek vir lewe of wat, wat die Seun van God ewe skielik om die ewige lewe vra. Dit is al vreemd genoeg. Maar om jou te probeer voorstel dat Jesus dit sommer so toestaan, grens aan die absurde.

So ongehoord as wat dit egter mag lyk, broers en susters, dit is presies wat gebeur het. Die een wat die hel verdien, het die hemel gekry. Sommer net so. So skielik. Op grond van een wanhopige versoek. Wat wou Jesus Christus ons hiermee leer? Wat het God vir ons probeer sê deur hierdie geharde misdadiger so onvoorwaardelik te vergewe — iemand wat waarskynlik in sy hele lewe nie eers een tafelgebed opgesê het nie, wat niks gedoen het om enige genade te verdien nie, laat staan nog die respek wat hy vir ander se lewens gehad het.

Ek wil hierdie vraag begin beantwoord, broers en susters, deur wat ons (en ander mense) dikwels doen te vergelyk met dit wat God hier aan die kruis gedoen het. Ons sê wat Jesus Christus daar gedoen het darem baie vreemd was, dit druis in teen alles wat logies is, maar tog gebeur sulke onlogiese dinge elke dag voor ons oë in ons eie wêreld. Net ‘n paar voorbeelde:

  • die verkoopsman wettig sy onwettige praktyke deur die opmerking: ‘’n Mens moet darem nou nie besigheid en etiek met mekaar verwar nie’. En ons sê niks.
  • die kabinetslid van ‘n land wat betrap word dat hy/sy met diamante smokkel. Sy kabinetsposisie? Minister van Justisie! En almal lag maar net daaroor of skud maar net die kop!
  • Die kind word vir moord op sy ouers aangekla, net omdat hulle hom nie wou toelaat om vir die aand uit te gaan nie.

Voorbeelde, broers en susters, wat kom uit ons eie wêreld. Dinge wat ons hoor, wat ons soms maar net die skouers oor optrek, en eenvoudig by ons laat verbygaan. Al is dit hoe onlogies. Tot God sogenaamd iets onlogies doen. Dan vra ons vra, dan verpoos ons oor byvoorbeeld die gebeure daar aan die kruis. Hoekom doen ons dit? Waar lê die probleem?

Ons waardes, broers en susters, het heeltemal verward geraak. En ‘n mens hoef nie ‘n filosoof van formaat te wees om uit te werk hoekom die mens so begin lewe het nie. Dit het alles begin toe iemand ons oortuig het dat die mensdom nêrens heen op pad is nie. Dat die mens geen eindbestemming het nie. Dat ons bestaan maar net ‘n siklus is. Dat die mens vasgevang is in ‘n lewe wat op ‘n armsalige eenrigtingpad nêrens heen lei nie. Dat alles sonder doel of betekenis is. En daarom eintlik niks meer saak maak nie.

Die tweede versie van dit waarvan ons oortuig geraak het, broers en susters, is egter nog erger. Want, omdat ons daarvan oortuig geraak het dat die lewe geen eindbestemming het nie, dan, in wese, het ons reeds besluit dat die mens ook geen plig het nie. Geen verpligtinge, geen verantwoordelikhede. Want as die lewe maar net op niks uitloop nie, as hierdie lewe nie ‘n sinvolle einde het in die wederkoms van ons Here nie, dan kan ons mos maar doen wat ons wil. Dan maak dit wat werklik reg is en dit wat eintlik verkeerd is, mos nie regtig saak nie. As God nie sal kom om te oordeel nie, dan is alles mos eintlik toelaatbaar. So, gaan ons lewe maar voort net soos ons wil.

Hierdie soort lewenshouding, broers en susters, het egter ‘n verdere, baie belangrike konsekwensie. Kom ons dink mooi. Logies, as die mens geen eindbestemming het nie, daarom geen plig het, beteken dit in wese dat die mens ook geen waarde het nie. Want as die mens geen bestemming/toekoms het nie, is die mens nie veel werd nie. Hy is, om die waarheid te sê, min of meer soveel werd as ‘n boom of ‘n klip.

Dat ons soms werklik so begin voel, broers en susters, ken ons aan ons eie lyf. Ons voel nutteloos en niks werd nie. Ons speel speletjies. Ons skep valse waardestelsels. Ons sê byvoorbeeld as jy mooi is, is jy iets werd. Ons sê jy is alleen iets werd as jy kan uithaal en wys. As jy uitermatig suksesvol is. As jy bo-gemiddeld in sport presteer. As jy ‘n titel voor jou naam kan skryf. As jou salaris per jaar ses syfers is en jy ‘n baie duur motor ry.

En so begin ons, soms onbewustelik, waarde volgens twee maatstawwe te meet: voorkoms en werkverrigting.

Eintlik ‘n baie streng stelsel, nie waar nie? Want waar laat dit die verstandelik en liggaamlik gestremdes? Die bejaardes? Die sogenaamde onaansienlikes en ongeletterdes?

Gelukkig, broers en susters, is hierdie waardestelsel die mens s ’n, en die mens s ’n alleen. Dit is nie God se waardestelsel nie. Want in God se boek, is die skepping, en die wat Hy geskep het, op pad iewers heen. Vir sy kinders is daar ‘n verstommende eindbestemming. Ons word voorberei om eendag in die kerkpaadjie af te stap en Jesus Christus se bruid te word. Ons gaan by God woon. Ons gaan sy troon met Hom deel. Ons gaan saam met Hom heers. By God tel ons. By God is ons meer as net iets werd. Meer nog: by God is ons waarde aangebore.

As daar een ding is, broers en susters, wat Jesus daar aan die kruis, toe Hy hierdie man vergewe het, wou hê ons almal moet verstaan, is dit juis dit: vir God is die mens iets werd bloot omdat hy ‘n mens is. Juis daarom het Jesus Christus mense behandel soos Hy het. Die onreine melaatse vra om genees te word, hy ontvang genesing. Die blinde wat ‘n laspos van homself maak en skree om hulp, Jesus gee vir hom wat hy vra. Selfs die lam man by die Siloambad, wat homself in sy selfbejammering verknies het, selfs hy word deur Jesus gerespekteer.

Soos die man aan die kruis. As iemand al ooit verdien het om te sterf vir sy lewe, was dit seker hierdie man. As daar al ooit ‘n nikswerd was, was dit seker hierdie man. As iemand al ooit, in ons terme, ‘n niksnuts was, was hierdie vent seker baie naby boaan die lys. Miskien daarom, broers en susters, dat Jesus juis hierdie man as voorbeeld gekies het om aan ons te wys wat Hy van die mensdom dink.

Miskien het hierdie man vroeër die Messias iewers hoor praat. Miskien was hy teenwoordig toe hy kon sien hoe lief Jesus alle mense gehad het. Of miskien nie. Of, miskien was die enigste wat hy van hierdie Messias gesien en geweet het dit wat hy nou gesien het: ‘n vernederde, gegéselde wat aan spykers hang. En dit alles terwyl Hy onskuldig is.

Of, broers en susters, het iets vir daardie misdadiger gesê dat hy nog nooit in beter geselskap was nie. En op een of ander manier het hy besef dat, alhoewel hy nie juis ‘n paar voorbeelde van gebed tot sy beskikking gehad het nie, hy uiteindelik die Een ontmoet het tot wie Hy sy gebede kon rig.

Daarom sê hy vir Jesus daar aan die kruis (en ek vertaal dit baie vry): enige kans, meneer, dat jy vir my ‘n goeie woordjie sal kan doen? En hoe antwoord Jesus? Met plesier. Meer nog: beskou die saak as afgehandel.

Hoekom, broers en susters, het Jesus dit gedoen? Wat op aarde kon Hy bereik, wil ons vra, om aan hierdie woesteling ‘n plek in die hemel toe te ken? Wat kon hierdie booswig in elk geval doen om Jesus daarvoor te vergoed? Niks, want hy was dan besig om te sterf. heeltemal niks, want sy minute van lewe het baie min geword. Net mooi niks!

En dit is presies die punt, broers en susters, wat Jesus hier wil maak. Luister mooi hoe ek dit uitdruk. God se liefde vir ons hang nie af van dit wat ons vir Hom doen of kan doen nie. In God se oë het jy waarde bloot omdat dit God self is wat jou gemaak het. Vir God hoef jy nie mooi te lyk of baie goed te presteer nie. Want jou waarde is aangebore. Punt.

Dink gerus later vandag, broers en susters, aan hierdie groot waarheid. Vir God is jy kosbaar net omdat jy bestaan. Nie oor wat jy gedoen of nie gedoen het nie, maar bloot omdat jy jy is. Onthou dit. Onthou dit altyd. Onthou dit wanneer iemand in die toekoms jou ‘n nikswerd wil maak, net omdat jy nie bereid is om sy waardestelsel te aanvaar nie. Onthou dit volgende keer wanneer jy voel daar is nie vir jou ‘n eindbestemming nie, dat jy niks werd is nie, en dat niks in die lewe eintlik meer saak maak nie.

Vir God maak u en ek saak. Al verdien ons dit nie. Want ons verdien nie regtig God se liefde nie, broers en susters. Nie een van ons nie. Waarop dit eintlik neerkom is dat ons geen bydrae kan lewer dat God ons lief moet hê nie. Ons almal — selfs die heiligste onder ons — verdien die hemel net so min soos daardie misdadiger aan die kruis.

Maar tog gee God ons dit. Sy onvoorwaardelike liefde. En daarom het ons ‘n eindbestemming, ons het ‘n toekoms — saam met Jesus Christus. Daarom het ons waarde. Maar daarom ook pligte. Om te gaan lewe soos Hy gelewe het!
Amen