Romeine 5:1-5; 2 Petrus 3:8-14

Ons hoop is nie vasgevang in ‘n vierkant nie, maar tog is dit ook!



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Iemand het een dag gesê dat ‘n mens die lewe kan sien as bestaande uit ‘n aantal vierkante. Elke dag van ons lewe is ‘n vierkant, ‘n raampie met oop spasie aan die binnekant.

Hierdie spasie aan die binnekant, broers en susters, weet ons egter is baie min oop. Want dit word gevul met afsprake, verpligtinge, dinge wat gedoen en afgehandel moet word, Mense wat ons moet bel, dinge wat ons moet reël. Om dan nie eers te praat van al die ander dingetjies wat ons sommeer so vinnig tussenin doen nie. En so vind ons maar elke dag ons vierkante: te vol, te min spasies oop, te veel dinge om te doen.

Verder leef ons hierdie vierkante een op ‘n keer. Die vier strepe wat die vierkant vorm is die mure van tyd wat vandag my lewe beperk en organiseer. Alles wat ek vandag wil doen, moet ek eenvoudig in daardie vierkant inpas. Oor die strepe kan ek nie gaan nie. Ja, ek kan my miskien oor die vierkant van môre bekommer, maar ek kan dit vandag nie lewe nie.

Verder, broers en susters, het elke vierkant ‘n onsigbare deur wat na die volgende vierkant lei. Kom ons noem dit maar die nag, of wat ook al. So stilweg gaan elke vierkant se deur oop, en word ons amper soos ‘n magneet in die volgende vierkant ingetrek. Om maar net, as ons wakker word, of ons oë uitvee, te besef ons is in die volgende vierkant en dat dit geleef moet word.

En eendag, broers en susters, sal ons almal in ‘n laaste vierkant instap wat nie ‘n deur het nie. Daar sal geen onsigbare deur wees na die volgende vierkant toe nie. Ek sal nie kan oorstap na die volgende vierkant nie, want dit sal my laaste vierkant wees. Watter een dit sal wees, weet ons nie. ‘n Mens sou dalk so min of meer kon skat hoeveel vierkante jy heel waarskynlik oor het. Maar eintlik kan ons ook nie.

Belangriker egter is om te weet wat met ‘n mens in daardie laaste vierkant gaan gebeur. En wat daar gaan gebeur, broers en susters, glo ek, is net een van twee moontlikhede: die eerste moontlik is dat ons, wanneer ons in daardie laaste vierkant instap, die een sonder die deur, dat ons sal versmoor. Dat die mure van die vierkant op ons sal inval en dat ons sal verstik. Hoekom? Omdat ek in al die vierkante wat verby is so geleef het dat hierdie laaste vierkant vir my donker is. Omdat ek in al my vorige vierkante nie in die lig van God wou leef nie, daarom ervaar ek in hierdie laaste vierkant ook nie die lig van God nie.

Die tweede moontlikheid, broers en susters, wat met ‘n mens in daardie laaste vierkant kan gebeur is dat ons kan agterkom waarom daar nie ‘n deur in daardie laaste vierkant is nie: die vierkant het nie mure waarin daar ‘n deur kan pas nie. Want daardie vier onbeweegbare strepe wat my in al my vorige vierkante gehou het, een vir een, daardie vier strepe is van hierdie laaste vierkant uitgevee.

Hoekom? Want daardie laaste vierkant blyk om die eerste vierkant van ‘n nuwe lewe te wees. Nou is ek vry, want die mure van elke vierkant wat my tyd gereël het, is weg. My laaste vierkant het nie ‘n einde nie. Dit is nie toe nie. Dit is oop. Want dit is die nuwe lewe.

Die Christelike hoop, broers en susters, waarvan Paulus in Romeine 5:5 praat, berus op die belofte dat hierdie tweede moontlikheid, wanneer ons in die laaste vierkant in sal stap, vir ons waar sal wees. Dat ons laaste vierkant ons sal lei na ‘n lewe waar, soos 2 Petrus 3:13 dit stel, ‘die wil van God sal heers’.

Hoe lyk ‘n wêreld, broers en susters, waar ‘die wil van God heers’? Ek dink ons sal ten minste die volgende kan sê: dit sal ‘n wêreld wees (as ons kyk na Jesus Christus se uitspraak oor die wil van God ten opsigte van die wet), dat die liefde daar sal regeer. Daar sal geen afguns, haat en nyd wees nie. Ons sal selfs kan sê: alles wat in hierdie lewe verkeerd is, sal daar reg wees.

Tweedens, glo ek, sal daar ware vrede wees. Vrede in die Bybelse sin van die woord. ‘n Lewe gevul met vreugde en geen bekommernis. Die dood sal daar nie meer wees nie. Vyandskap met die sonde sal daar nie wees nie. Vyandskap met God, van die mens se kant af, sal daar nie wees nie. Vyandskap tussen mense sal daar nie wees nie. Ook nie ‘n vrees vir die laaste vierkant wat nog moet kom nie.

Dit is wat ek glo die Bybel onder vrede verstaan. En dit is waarop ons as Christene hoop. En omdat hierdie hoop in ons lewe, lewe ons positief in ‘n wêreld waarin ons weet alles dikwels nie reg is nie. Maar tog leef ons asof alles reg is, omdat ons weet dat eendag alles reg sal wees. Dit belowe God.

Wie nie bereid is, broers en susters, om in hierdie lewe krampagtig aan hierdie hoop vas te hou nie, kan so maklik in hierdie lewe sinloos en rigtingloos begin lewe. En juis daarom die vraag vanaand: lewe hierdie hoop nog in ons? Stel dit ons in staat om ons lewe hier sinvol te lewe? Party sal sê ja, en ander weer sal dalk sê nee. En ander weer sal dalk sê: ek wil so graag vanuit hierdie hoop lewe. Maar hoe doen ek dit? Sê tog vir my. Vertel my, prakties, as ek so wil lewe (want ek wil) hoe doen ek dit? Hoe lewe ek dat hierdie hoop in my elke dag brandend lewe? Ek wil hierdie vraag vanaand probeer antwoord, broers en susters. En daarmee ‘n stukkie van myself weggee. Want om te hoop is altyd maar ‘n persoonlike saak. Nie een van ons doen dit presies dieselfde nie. Nie een van ons se persoonlike verhouding met ons Skepper is dieselfde nie. Daarom: ek kan eintlik u maar net nooi om te deel in my ervaring, my belewenis. Maar kom ons probeer.

Wanneer ‘n mens hoop, broers en susters, glo ek dat daar altyd drie sake teenwoordig is: begeerte (want ons wil iets hê wat ons nie het nie), geloof (ons moet glo dat dit wat ons hoop moontlik is) en twyfel (ons vrees dat dit wat ons hoop, nie bewaarheid sal word nie).

Kom ons kyk eerstens na hoop as begeerte. Ons wil iets hê wat ons nog nie het nie. Om maar net te glo dat bepaalde dinge eendag sal gebeur is nie om te hoop dat dit wel so sal gebeur nie. Ons glo almal dat Jesus Christus eendag weer sal kom, soos 2 Petrus 3 dit beskryf. Maar miskien wil ons soms hê dit moet net nie nou gebeur nie. Ek wil eers dit klaarmaak, of dat klaar maak. Met ander woorde, ons glo dit sal gebeur, Jesus Christus sal weer kom, maar ons hoop nie dat dit te gou gebeur nie. Eers wanneer ons regtig wil hê dat Jesus Christus nou weer sal kom, nou sal kom en ‘n einde aan ‘n wêreld sal maak waarin so baie verkeerd is, eers dan hoop ons werklik. Want dan begeer ons. Dan lewe hoop werklik in ons.

Tweedens, om te hoop is om werklik te glo. Mense glo alleen in iets wat hulle reken werklik moontlik is. Dan hoop ‘n mens. As ek nie glo dat my kanker genees kan word nie, kan ek nie hoop nie. Maar as ek glo dat God my tegemoet kan kom, dan hoop ek. Om te hoop, beteken dus ook dat ek moet glo dat wat ek begeer, ‘n moontlikheid is.

Derdens, broers en susters, twyfel ons soms ook juis oor dit waaroor ons hoop. Soms kan ons nie help om te twyfel nie, omdat n mens doodgewoon nie seker van alles kan wees nie. Daarom is twyfel altyd die derde dimensie van hoop. As dit moontlik is dat ek met iets kan slaag, is dit net so moontlik dat ek met iets kan faal. As dit moontlik is dat my kind gesond kan word, is dit net so moontlik dat dit nie kan gebeur nie. Hoop hou dus altyd ‘n risiko in.

Maar broers en susters, dit is alleen moontlik wanneer ‘n mens eintlik maar net so in die algemeen hoop. En algemene hoop verskil dramaties van die Christelike hoop. Veral wat betref die aspek van twyfel. En kom ek verduidelik.

Christelik hoop is nie maar net om te glo in die moontlike nie, dit is om sekerheid te hê dat by God alles moontlik is. Christelike hoop is om seker te wees van daardie dinge wat God belowe het. Dat wat Hy belowe het, Hy werklik sal gee. En juis omdat ons weet dat God onveranderlik is, en dat Hy doen wat Hy beloof (Heb 10:23), sê Paulus in Romeine 5:5 dat ‘die hoop nie beskaam nie’. Of, soos Hebreërs 6:19 dit stel: hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker. Want by God se beloftes is twyfel nie ‘n faktor nie. Want as God belowe het, praat God nie maar net van moontlikhede nie, nee, Hy praat van sekerhede, van dinge wat Hy sal laat gebeur of sal laat kom of sal gee.

En juis om hierdie rede, broers en susters, is die Christelike hoop niks anders as ‘n genadegawe nie. Want baie sê (en hoor ons dit nie dikwels nie!): het julle genoeg bewyse om hierdie dinge wat God belowe het te glo? Julle kan God nie eers sien nie. Nee wat, julle hoop beteken eintlik nie iets nie. Want al wat julle het is ‘n belofte. ‘n Belofte wat sê dat God eendag (wat julle nie eers weet wanneer dat sal wees nie) ‘n nuwe hemel en aarde daar sal stel.

Is dit al wat ons het, broers en susters? Net ‘n belofte? Is hierdie mens reg? Nee, want ons het meer. Want die belofte van God, dat Hy die wêreld liefhet en vir al sy skepsels sal sorg, het op ‘n keer lyf gekry, in die gedaante van ‘n mens aan ons verskyn. Daarom weet ons dat God sy beloftes hou. Maar meer nog: daardie mens wat gekom het, God self, Jesus Christus, se hele lewe het een ding uitgespel — daar wag ‘n beter wêreld. Hy het siekes genees, dooies opgewek, mense se omstandighede verbeter, almal se menswaardigheid erken. Alles tekens van wat nog gaan kom, tekens van hoop (soos ek dit ‘n vorige keer beskryf het). En wat wil ons nog meer hê?

God het selfs, broers en susters, in Christus vir ons daardie laaste vierkant van sy angel ontneem. Vrees vir die laaste vierkant hoef daar nie meer te wees nie. Want Christus is daar deur. Hy het die strepe uitgevee. En toe het God aan ons, deur die gawe van die geloof, ware hoop gegee dat dit so sal wees. Ja, die beloftes van God is genoeg, want God hou sy beloftes. Nie alleen in Jesus Christus nie, maar ook in ons elkeen se lewens. Ons moet miskien op ‘n keer hieroor meer sê, vanaand is daar egter nie tyd daarvoor nie. Maar miskien net dit: gaan kyk gerus maar na u verlede, en gaan besluit self hoeveel kere God al in u lewe soveel van sy beloftes waar gemaak het.

Wat kan ons sê, broers en susters, is die slotsom van alles wat ons vanaand gehoor het? Kom ons stel dit so: omdat God ons ‘n onbeweeglike hoop oor daardie laaste vierkant gegee het, kan ons nie anders as om, uit blote dankbaarheid, die vierkante wat God elke dag aan ons gee, sinvol te vul en met oorgawe uit te leef nie.

Ja, al lyk ons vierkante nie altyd so mooi nie. Al is hulle soms gevul met dinge wat ons nie wil hê nie. Dit mag nie vir ons saak maak nie! Want as die ware Christelike hoop werklik in ons leef, sal liefde en vrede deel van ons lewens wees. En sal ons dit deel van ons wêreld maak!
Amen