Matteus 26:46-56; 6:22-23; 2 Konings 6:15-17

Ontdek goud in die vullis



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons manier van kyk na gebeure en mense rondom ons bepaal in ‘n baie groot mate hoe ons leef. Skerper gesê: dit bepaal dikwels wat ons is. Baie vroeg in sy lewe het Jesus hierdie beginsel van kyk na die lewe baie skerp gestel: ‘Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie’.

Die Boodskap (die meeste van ons ken dit), wat ‘n vrye vertaling/parafrase (vertaling met interpretasie), vertaal die gedeelte soos volg: ‘Mens se oë is ook soos ‘n lig. Die manier waarop jy daarmee na ander mense kyk, kan een van twee dinge in jou lewe tot gevolg hê: dit kan alles in jou lewe pikdonker maak, of dit kan jou lewe helder verlig. Oppas hoe jy na ander mense kyk. Gee jou oë vir God sodat Hy dit op die regte dinge kan instel. Laat Hy jou leer om net na dit te kyk wat Hy wil hê jy moet raaksien. Dan word jou hele lewe verlig sodat jy God kan grootmaak in alles wat jy doen’.

Jesus, broers en susters, het egter baie meer gedoen as om maar net hierdie beginsel uit te spel. Hy het dit uitgeleef. En dit wil ek vanoggend aan u probeer verduidelik deur saam met u te gaan kyk na die gedeelte wat ons in Matteus 26 saamgelees het.

Die episode van Jesus se inhegtenisneming het seker nie langer as 15 minute geneem nie. Tog bevat dit boosheid wat ‘n mens nie in boeke sal kan beskryf nie. Nie ‘n enkele mens in die vertelling het een goeie ding gedoen nie. Al wat ons raak lees is bedrog en verraad. Wat sien ons wanneer ons na hierdie toneel kyk?

Eerstens sien ons Jesus se onbeantwoorde gebed raak. So pas het Jesus, sê Matteus, beangs/doods-benoud uitgeroep: ‘My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by my verbygaan’. Nog nooit, wil ‘n mens amper sê, het daar so ‘n dringende versoek van die aarde af opgeklink nie. En nog nooit, wil ‘n mens dadelik byvoeg, het die hemel ooit dawender geswyg nie. Sal God, wat met ‘n vee van die hande berge kan verskuif, iets van sy geliefde Seun weghou? God hét daardie nag. Met die gevolg: Jesus moes met ‘n onverhoorde gebed saamleef.

Maar dit was maar net die begin. Judas daag daar op moet ‘n klomp woedende mense. Mense waarvoor Hy gekom het om te kom red, hulle kom nou om Hom te arresteer. Die Griekse woord wat hier gebruik word om die mense te beskryf wat saam met Judas daar opgedaag het, is die woordjie speira, dus afdeling soldate. Met ander woorde, dit was amper twee honderd soldate wat Judas aan sy sy gehad het. Voeg hierby waarskynlik ‘n hele aantal toeskouers, en jy het ‘n skare mense wat daar saam met Jesus in die tuin was.

Was daar nie een onder hulle wat vir Jesus kon opkom nie? Wat van al sy preke? Wat van die mense wat al die pad agter Hom aangeloop het? Hulle wat aan sy lippe gehang het? Hulle wat gesond gemaak is? Kon nie maar net een uitroep: maar hierdie mans is onskuldig nie? Maar nie een het nie. Dus, naas die onverhoorde gebed waarmee Jesus moes saamleef, moes Hy ook saamleef met die gedagte dat sy hele lewe, al sy diens, al sy preke, al sy genesings, geen diens/reaksie opgelewer het nie.

Maar ook dit was nog niks. Want in vers 56 lees ons: ‘toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop’. Net ‘n rukkie tevore het Petrus bondig verklaar: al moet ek saam met U sterwe, ek sal U nie verloën nie. En, lees Matteus 26:35, al die ander dissipels het ook so gesê. Almal het trou gesweer, maar almal het ook weggehardloop.

Dus, wat sien ons as ons vanuit hierdie hoek kyk na die gebeure die aand in Getsemane? Verraad, net verraad en bedrog. Geen antwoord uit die hemel nie. Geen hulp van die skare nie. En helaas, geen lojaliteit van sy vriende nie.

Dit is egter nie wat Jesus gesien het nie, broers en susters. Hy het iets heeltemal anders gesien. Nie dat Hy onbewus was van al die ellende nie, Hy het net nie toegelaat dat sy omstandighede Hom inperk nie. Wat, het Jesus gesien?

Eerstens, broers en susters, het Hy die goeie in die slegte raakgesien. Mens sou seker ver soek om iemand slegter as Judas te kry. Party sê wel dat hy eintlik ‘n goeie man was met ‘n plan wat net skeefgeloop het. Die Bybel is oor die karakter van Judas egter baie duidelik. Hy was ‘n skelm. Hy was ‘n dief. Op ‘n manier het hy dit reggekry om in Jesus se teenwoordigheid te leef, sy wonderwerke te aanskou, en tog onveranderd te bly. Eerder as om ‘n vriend te wees, het hy besluit om Jesus vir dertig silwer muntstukke te verraai. Hy was dus ook skynheilig, saam met die feit dat hy ‘n dief en skurk was.

Hoe kan ‘n mens hom anders sien as wat hy was? Dit is dan so duidelik? Ek weet nie, maar Jesus het. Want Hy doen twee dinge: van aangesig tot aangesig sê Hy vir Judas vriend. Vriend, doen wat jy gekom het om te doen. Wat meer is, en dit is die tweede ding wat Jesus doen, hy plaas nie al die blaam op Judas nie. Want in Lukas 22:53 lees ons het Jesus ook gesê: nou dat die tyd vir duistere magte daar is, het julle ‘n kans. Met ander woorde, Jesus sien dat Judas ‘n slagoffer is van ‘n gevalle wêreld vol sonde. Judas was dus nie onskuldig nie, maar het volgens Jesus ook nie alleen opgetree nie.

Jesus gaan egter nog verder. Hy sien nie alleen die goeie in die slegte raak nie, Hy sien ook raak wat die doel van alles is wat met Hom aan die gebeur was: die Skrif moet vervul word wat gesê het hierdie dinge sal gebeur. Dus: Jesus het gekies om die onmiddellike gebeure en stryd te sien as deel van God se groter plan. Getsemane was vir Hom niks anders as deel van die plan, die drama van God nie.

Dit is hoe Jesus gekies het om hierdie storm in sy lewe te sien, hierdie gebeure in sy lewe te beoordeel: dit was alles noodsaaklik vir die plan van God. Daarom, waar ander net grys lug en donker wolke gesien het, het Jesus ‘n goddelike plan gesien. Hy het besef: sy lyding was nodig om die profesieë te vervul, sy offer was nodig om die wet te vervul.

Waar ons ‘n onverhoorde gebed sien, het Jesus ‘n verhoorde gebed gesien. Waar ons God se afwesigheid sien, het Jesus God se plan gesien. Let veral op vers 53: Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir my meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel. Miskien, broers en susters, die belangrikste vers in hierdie hele gedeelte. Jesus het, in sy omstandighede, sy Vader gesien. Gesien dat sy Vader teenwoordig was in sy probleem en situasie.

Moet ons nie ook probeer, broers en susters, meer dikwels probeer, om na ons wêreld en omstandighede te kyk soos Jesus dit gesien het nie? Dat ons ook sal sien wat Hy gesien het, sal sien dat God by ons is, dat ons nog deel van God se plan is. Dat alles nie buite beheer is nie?

Dalk sal u sê: ja, ek sal graag wil. Maar ek kan nie. Want onthou, Jesus was God. Hy kon die onsienlike sien. Hy was tot hierdie dinge in staat, maar ek is nie. Want ek is nie God nie.

As u so sou redeneer, broers en susters, moet u net een ding nie buite rekening laat nie. Moet nie God se krag onderskat nie. Moenie die feit dat God ons kan verander, kan verander hoe ons kyk, onderskat nie. En kom ek noem u net een bewys.

Ons het die gedeelte in 2 Konings 6:15-17 saamgelees. Wat het daar met Elisa se slaaf gebeur? Hy en Elisa was in Dotan toe ‘n woedende koning ‘n sterk mag gestuur het om hulle uit te wis. En toe die slaaf die leër van die koning sien, het hy verskrik geword, want al wat hy gesien het was al die perde en strydwaens. Elisa het egter gebid dat die Here die slaaf se oë sal oopmaak. Wat toe ook gebeur het: hy het op die berge rondom hulle God se perde en vuur gesien. Gesien God is by hulle, al sien hy dit tog nie.

God, broers en susters, het ons nie belowe dat Hy ons van ons probleme sal bevry nie. Hy belowe egter wel om die manier waarop ons daarna kyk, te verander.

Paulus sê dit pragtig in Romeine 8. Lyding, benoudheid, gevaar, kommer, die swaard, naaktheid, geweld, in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur God. Ons sou dit anders verkies het, broers en susters, kom ons wees eerlik. Ons so wou hê God moes sê: nie in hierdie dinge nie, maar behalwe hierdie dinge, of weg van hierdie dinge af, of, sonder hierdie dinge. Maar God praat nie so nie. God sê: in hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars. Want in hierdie dinge is God met ons besig, met ons aan die werk. Ons moet dit net sien.

Ek sluit af: In Eksodus 4:11 vra God: Wie maak siende of blind? en dan antwoord God self: Is dit nie Ek, die Here nie?

God het vir Bileam die engel laat sien. Vir Elisa en sy slaaf het Hy die leërmag laat sien. Vir Jakob het Hy die leër na die hemel gewys, en aan Paulus het Hy Homself sigbaar gemaak.

Net so het baie van God se kinders al na God gegaan met die woorde van die blinde in Markus 10: Rabboenie, wat ek wil hê is om te kan sien. En menigeen het daar weggegaan met ‘n helder visie. Oor die lewe. Oor waarheen God met hulle op pad is. Wie sê God kan dit nie vir u en vir my ook doen nie?
Amen