Johannes 20:19-25

Onthou



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Die kerk van Jesus Christus het met ‘n klompie bang mans iewers in ‘n bokamer in Jerusalem begin. Hoewel hierdie mans, Jesus se naaste dissipels, vir drie jaar saam met Hom geloop het, het hulle nou gesit — baie bang. Bang en sprakelose boodskappers. Hulle dapperste daad was om op te staan en die deur te sluit.

Waaraan het hulle gedink toe hulle daar gesit het? Ons kan maar net raai. Miskien was voorop in hulle gedagtes al die beloftes wat hulle aan die Here gemaak het, maar toe sou maklik verbreek het. Ja, het hulle dalk besef: al hulle spoggery, al hulle bravade, al hulle verklarings van toewyding het nou stukkend eb verstrooi by die hek van die Getsemane-tuin gelê. Wat toe die soldate vir Jesus gevat het, het hulle gemaak dat hulle wegkom.

Ons weet nie, broers en susters, waarheen hulle gevlug het nie, maar ons weet wat hulle met hulle saamgevat het: ‘n herinnering. ‘n Ontstellende herinnering van ‘n Man wat Homself nie minder as God in die vlees genoem het nie, ‘n Man wie hulle eenvoudig net nie uit hulle gedagtes kon kry nie, maak nie saak hoe hulle probeer het nie. Want elke keer as hulle ‘n melaatse man gesien het, het hulle aan hierdie Man se barmhartigheid gedink, as hulle ‘n storm gesien het, het hulle gedink aan die keer toe Hy een stilgemaak het, as hulle ‘n kind op straat gesien het (een van die baie wat in hulle tyd uit die huis gegooi is), het hulle gedink aan die dag toe Hy een vasgehou het. Ja, elke keer as hulle die dominees van die tyd op die straathoeke sien bid het, het hulle gedink aan die Man wat nie geskroom het om skynheiligheid en oneerlik van reg van voor af aan te vat nie.

Nee. Hulle kon Hom nie vergeet nie. Daarom het hulle teruggekom. Weer saamgekom. En daarom het die kerk van die Here met ‘n groep bang mans iewers in ‘n bokamertjie begin.

Die tragiese is, broers en susters, dat dinge nie baie in twee duisend jaar verander het nie. Want hoeveel gelowiges bevind hulle nie nog maar bang iewers in ‘n bokamer nie? Ja, hulle het genoeg godsdiens in hulle om te sê hulle glo, om Sondag na Sondag saam te kom, maar daar is nie genoeg geesdrif om uit te gaan nie. Die deure is nie regtig gesluit nie, maar dit kon net sowel maar gewees het.

Onder hulle is goeie mense, moenie ‘n fout maak nie. Met baie idees, en goeie voornemens. Met baie woorde en baie beloftes aan God. Maar terwyl dit bestaan, bly die dure gesluit, en die evangelie soms nêrens sigbaar waar hulle woon en werk nie. Hulle draai nie hulle rug op Christus nie, maar draai eintlik ook nie na Hom toe nie. Hulle vloek nie sy naam nie, maar loof en prys dit eintlik ook nie met hulle lewens nie. Hulle wil iets vir die Here doen, maar is nie seker wat nie.

Bokamer bangheid. Verwarde kinders agter geslote deure. Wat sal nodig wees om die deur vir hulle oop te sluit? Wat sal hulle, wat sal ons, laat uitgaan om met oopgebarste en borrelende oorgawe te gaan leef met woord en daad dat God lewe, dat God by sy mense is? Dat God ‘n nuwe wêreld kan gee, dat God alles anders kan maak?

Presies dit wat die apostels laat uitgaan het. Wat gemaak het dat hulle die deur van die bokamer oopgesluit het en na buite gestap het. En begin verkondig het met woorde en dade. Wat was dit wat hulle dit laat doen het? Kom ons antwoord die vraag deur kortliks na die gedeelte te kyk wat ons saamgelees het.

Stel jouself die toneel voor wat Johannes vir ons in hierdie gedeelte skets: Daar sit hulle, Johannes, Jakobus, Petrus en die ander dissipels. Omdat hulle staatgemaak het op die gekheid dat die put van God se vergifnis tog ‘n paar druppels oorgehad het, omdat hulle gehoop het dat God tog op een of ander manier iets sou laat blyk van wat hulle nou moes doen. En net toe een van hulle mompel ‘dit help tog niks nie’, hoor hulle ‘n stem: ‘vrede vir julle’.

En daar staan Jesus. Die graf kon Hom nie vashou nie. Ook nie die deur van die bokamer nie. En wat bring Hy? Dit wat hulle die nodigste gehad het: vrede. Vrede as gawe sonder verwyte. Verstommend. So verstommend dat Petrus ‘n paar weke later in dieselfde Jerusalem waar Jesus gekruisig is in die openbaar verkondig het: God het hierdie Jesus wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak! En drie duisend het tot geloof gekom!

Wat, broers en susters, het hulle daardie deur laat oopsluit? Wat het die deure van hulle harte oopgesluit? Die antwoord is eintlik eenvoudig. Hulle het Jesus gesien. Hulle het daardie aand die opgestane Christus ontmoet. Hulle sondes het met die Verlosser gebots, en die Verlosser het gewen. Die Een wat verraai is het teruggekom om sy verraaiers te vind, nie om te oordeel nie, maar om uit te stuur. Nie om hulle te veroordeel omdat hulle Hom vergeet het en weggehardloop het nie, maar om hulle die opdrag te gee om Hom te onthou. Te onthou dat Hy wat dood was lewe, en dat hulle wat skuldig was, vergewe is, en nou ook kon lewe!

Maar ook dit, broers en susters, is nie nuut nie. Soos ons soms ook, soos die dissipels daardie aand, iewers bang en verlam in ‘n bokamer sit, so het ons mos ook al die Here gesien. Of altans, so hoop ek! Hoe, waar en wanneer het ons al die Here gesien, sal u vra?

Elke dag, broers en susters. Elke dag wanneer ons vir ‘n slag gaan stilstaan tussen al die malle gejaag en raaksien wat God alles vir ons gee. Dan sien ons die Here. Wanneer ons na ons kinders en geliefdes kyk, wat God vir ons gegee het om ons lewens te vul, dan sien ons die Here. Telkens wanneer ons dankbaar is dat ons gesond is en kan werk, dan sien ons die Here. Ja, elke keer wanneer ons sy Woord opneem en dit lees, en die Gees in ons lewens werk om ons nuut te maak, sien ons die Here.

Maar ook op baie ander maniere. Daar waar my man van sy kanker herstel, sien ons die Here. Daar waar my kind met al die pype in sy lyf, met ‘n liggaam gekneus en gebreek na daardie motorongeluk sy/haar oë in die intensiewe afdeling oopmaak, sien ons die Here. Daar waar twee mense, wanneer hulle voor die kansel ewige trou aan mekaar belowe omdat God hulle vir mekaar gegee het, sien ons die Here. Ja, daar waar dit donker, donker nag in ons lewe was (om watter rede of gebeure ook al), en ons ewe skielik die lig sien, begin voel hoe ons weer lewe, weer die wip in ons stap voel, en besef dat alles eintlik reg is, sien ons die Here. En as ons die Here so nie sien nie, kyk ons dalk net verkeerd.

In wat miskien die laaste brief is wat Paulus geskryf het (2 Timoteus), pleit Paulus by Timoteus om nie te vergeet nie. Daar waar Paulus sit en skryf, miskien binne hoorafstand van die skerpmaak van die lem waarmee hy onthoof sou word, pleit hy by Timoteus: Onthou Jesus Christus. Onthou hom altyd. Onthou dat jy Hom al op so baie maniere in jou lewe gesien het. As mense nie luister nie, onthou vir Jesus. As die trane loop, onthou vir Jesus. As teleurstelling gedurig by jou is, onthou vir Jesus. As vrees tent in jou voortuin en maag opslaan, onthou vir Jesus. As die dood opdoem, as woede skroei, as skande swaar word, as jy die ken nie meer opkry nie, onthou vir Jesus.

Onthou die siekes wat deur sy hande genees is. Onthou die dooie wat Hy met ‘n Galilese aksent uit die graf geroep het. Onthou die oë van God wat mensetrane gehuil het. Onthou dat Hy wat God was, mens geword het, vir ons kom ly het, veral sodat ons in ons lyding en swaarkry nooit weer sonder God sou wees nie. Dat ons Hom sou kon sien daar waar ons swaarkry.

Sien ons die Here so in ons lewens, broers en susters? Kan u en ek nog onthou daar waar Hy by wyse van spreke reg voor ons in ons lewens kom staan het en alles nuut gemaak het. Daar waar ons byvoorbeeld bevlek was van sonde, niks verdien het nie, en in plaas van oordeel die woorde gehoor het: ‘vrede vir jou!’. En al die ander kere wat God by ons was. In ons ellende, in ons vreugde, in ons diepste oomblikke van menswees, maar ook in ons blyste oomblikke?

Hoe kort is ons geheues egter nie, geliefdes? Hoe vinnig vergeet ons soms nie? Soveel gebeur met ons deur die jare. Soveel dinge verander binne onsself. Soveel dinge verander rondom os. En êrens langs die pad verlaat ons Hom. So subtiel, dat ons dit dikwels nie eers agterkom nie. Ja, ons draai nie weg van Hom af nie, ons neem Hom egter net nie saam met ons nie. Opdragte kom. Bevorderings kom. Begrotings word opgetrek. My werk word meer. Kinders word gebore. En Christus? Hy word vergeet.

Wanneer laas, broers en susters, het ons soos Tomas prontuit die begeerte uitgespreek: ek wil die Here sien? Wanneer laas het ons net vir ‘n oomblik gaan staan en ons verwonder aan God se onbeskryflike Goddelikheid, en ons te maar maklik beskryfbare menslike sondigheid? En dat HY, in sy Goddelikheid, mens geword het en juis kom ly het dat ons kan lewe?

As dit lank laas was, moet ons vanaand weer hoor: Hy is nog daar. Hy het nie weggegaan nie. Tussen al die papiere, agendas, dik dagboeke, vol programme, verwarde oomblikke, moedelose minute en besluitlose dae, sal ons Hom vind. Want Hy het mens geword en tussen ons sy tent kom opslaan, om ons nooit weer alleen te laat nie.

Ek sluit af: iemand wat die Here in sy of haar lewe ontmoet het, op watter manier ook al, kan tog nooit weer dieselfde wees nie. Die mens wat op dieselfde oomblik sy of haar totale verlorenheid en God se onwankelbare genade gesien het, moet tog weet en glo dat die lewe ware lewe kan wees.

Maar om te wanhoop sonder om God se genade raak te sien, dit is noodlottig. Dit maak van ons mense met vrees iewers in ‘n bokamer opgesluit. Dit verlam ons. Dit verlam ons vir die lewe. Dit verlam die kragtige getuienis wat van hierdie gemeente in die gemeenskap kan uitgaan. Dit verlam ons in ons verhoudings met ander. Dit laat ons glo dat ons in ons swaarkry alleen is. En dat alles en almal teen ons is.

Om egter wanhoop en genade te sien, dit is bekering. Dit is om te glo, te lewe, met oortuiging, dat alles reg is, al is alles nie reg nie. Dit is om te glo, te weet, te ervaar: ek het gister, vandag gaan ek, en môre sal ek die Here sien. En daarom sal ek nooit vergeet nie: Hy het nie verniet kom ly nie. Hy het kom ly om ons almal God se mense te kom maak. Wie dit onthou, sal altyd lewe!
Amen