Psalm 121

Tussen geloof en gemors, halleluja en ‘Here, help my!’



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Op die drumpel van die tempel in Jerusalem staan ‘n Israeliet. Agter sy rug is die tempel waar hy so pas saam met ander in rustigheid feesgevier het. Waar hy saam met ander gesing het: ‘Hoe lief het ek U woning, Here!’. Waar hy die lof van God besing het. Waar hy veilig gevoel het. Waar daar nie veel bekommernis was nie.

Voor hom, egter, lê die pad huis toe. Dit is ‘n pad van gevaar, tussen die berge en klowe deur. Daar waar die rowers en misdadigers wag. Maar ook al die ander gode. Vir die Israeliete was die berge godewêreld. Elke hoogte het sy heilige paal gehad. Elke vallei sy offerplek. Dit is die plek waar die son jou kan bykom, waar die maan jou kan steek. En elke skuilplek en donker hoekie sy moontlike gevare.

Maar hy moet daar deur. Hy het nie keuse nie. Die pad moet gestap word, want dit is al pad om by sy huis te kom. Hy moet dus die veilige tempel verlaat, en die noutes in. Hy moet die steiltes uit, die donker plekke deur. Hy staan dus, broers en susters, tussen geloof en gemors, tussen halleluja en ‘Here, help my!’.

Ook ons, broers en susters, het al dikwels in ons lewens daar saam met daardie Israeliet gestaan. Om die waarheid te sê, baie van ons staan daar elke dag. So op die drumpel tussen geloof en gemors. En ook ons moet maar net eenvoudig daardeur. Ons het nie ‘n keuse nie.

Ons kan môre in ons huise deur rowers oorval word. Ons weet nie of dit vir ons wag nie. Kanker kan ons môre uit de bloute tref. Hoe sal ons weet dit gaan nie ons wees nie? ‘n Roekelose bestuurder kan môre in my vasry, of my kind van sy fiets afry. Iets wat ‘n mens nie sommer maar net kan kies of nie kan kies nie. Dood kan my huis môre tref. Iets wat die nietige mens geen keuse oor het nie. En dan moet ons maar daardeur. Ons moet berge toe. Ons het nie ‘n keuse nie. Die steiltes moet ons uit, die donker klowe moet ons deur. Want die lewe gaan aan.

Of kom ek stel, broers en susters, dit anders: ons weet meestal nie hoe weerloos ons is, hoe hard die wêreld kan wees nie. Totdat die gebroke lewe en wêreld ons skielik as ‘t ware met ‘n voorhamer tussen die oë tref. En die diepste seer in ons harte gaan sit, en net deur ons nat oë gewys kan word. Dit is dan wanneer ‘n mens voel om saam met Boerneef te sê:

‘... die aarde is ‘n vangkraal
en uitkomkans is min
dit is maar altyd sukke tyd
jy moet die noute in

styfrug en holrug maak help niks
soebat en bangoog kyk help niks
niemand en niks help niks
jou voorland is die noute in
want die aarde is ‘n vangkraal
en uitkomkans is min’

Ja, broers en susters. Kom ons wees maar eerlik. Baie van ons was al baie kere by die punt van ‘niemand en niks help niks’, by die besef ‘uitkomkans is min’, by die wete ‘my voorland is die noute in’. Dan, broers en susters, dan verstaan ‘n mens miskien vir die eerste keer hierdie psalmskrywer se benoude vraag: ‘waarvandaan sal daar vir my hulp kom?’

Ek wil hê, broers en susters, dat ons elkeen vanaand hierdie vraag vir onsself sal beantwoord. Maar voor ons dit doen, kom ons kyk hoe die psalmskrywer self hierdie vraag beantwoord het. Sy antwoord is kort en kragtig: ‘My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het’. ‘n Eenvoudige antwoord, maar ‘n antwoord met geweldige betekenis. Want wat wil hy eintlik met hierdie antwoord sê? Wat hy wil sê is dit: Ja, daar kom oomblikke in ‘n mens se lewe, oomblikke van gemors, van verwarring, van swaarkry, en in daardie oomblikke gee God soms aan ons die verrassendste hulp en uitkoms. Hulp van God wat ons in verwondering laat.

Want God is oral. Hy het die hemel en die aarde gemaak. Daarom is Hy ook tussen die berge, op die rand van die afgrond, ook in die noutes van hierdie lewe. Ja, ons is soms miskien weerloos en broos in hierdie vangkraal van die lewe, maar ons is nooit hulpeloos nie.

Maar, impliseer hy, en hierdie is baie belangrik om te verstaan. God se hulp aan ons is nie opgesluit net in hierdie soort oomblikke nie. Van die begin af, van die skepping van die hemel en die aarde, was en is God by ons. Gaan lees maar weer Genesis 2: God het sy hande in die klei ingedruk om ons te maak. Hy het, soos Barth sê, sy hande vol modder gemaak, vuil gemaak, om ons te maak. En van toe af was God nog nooit gesteld op skoon hande nie.

God steek sy hande in ons gemors in om ons oor te maak en ons nuut te maak. Om ons lewens nuut te maak. Want, sê Psalm 121, die aarde en alles daarop, die hele wêreld en almal wat daarin woon, dit alles behoort aan die Here. Daarom, bange bergkykertjie, moenie bekommerd wees nie, ook dit behoort aan die Here. Daarom my kind, jy wat in die vangkraal van die lewe vasgevang is, wat die noute moet in en voel jy kan nie daardeur nie, jy is nie alleen nie. Want alles behoort aan my, sê die Here, ook jy en jou situasie.

Hoekom, broers en susters, ervaar ons so dikwels in die lewe dit anders? So asof God veraf is, asof God, om Barth se beeld te gebruik, nie sy hande wil vuilmaak met my lewe nie? Ek wil ‘n antwoord waag. Verwarring verlam ons. Gemors in die lewe maak ons besluiteloos. Dit druk ons vas. Ons kan niks anders sien as net dit nie. So menslik, so menslik, word ons en ons probleem alles. Dit is al wat ons sien.

Met die gevolg? Ons vergeet aan wie die aarde (en ons!) behoort! Die aarde, lyk dit vir ons wanneer ons swaarkry, behoort aan die sterkes. Aan hulle wat die hardste kan slaan en die vinnigste kan gryp. Die aarde is ‘n skatkis wat geplunder moet word, eerder as om ‘n vertoonvenster te wees van die heerlikheid van God. Waar net die sterkes oorleef.

So, as jy swakhede het, moet dit net nie wys nie. En onthou, weerloosheid is gevaarlik, dit kan maak dat mense op jou trap. So vermy dit. Vermy ook enige poging om jou lewe op liefde en die gee van liefde te waag. Want liefde laat jou verloor. Onthou, jy is in ‘n vangkraal, en in ‘n vangkraal moet jy eerder slagter as skaap wees.

Maar dit kan mos nie vir ons so wees nie, broers en susters? Dit kan tog nie! Hoekom nie? Want ons is tog God se mense. Mense wat, danksy ongelooflike genade, in God glo. En geloof, broers en susters, opregte geloof, maak ‘n mens weerloos. Dit maak dat jy bereid word om alles wat jy van God ontvang, aan ander uit te deel. En jy doen dit, nie as goeie werke nie, nie as prestasie voor God en mense nie. Nee, jy doen dit omdat jy weet: die hande wat die heelal gemaak het, daardie hande hou my vas, en daardie hande sal elke dag na my gryp, al word daardie hande vuil. Ja, al moes daardie hande op ‘n keer aan ‘n kruis deurboor word, moes daardie hande op ‘n keer vuil word van bloed, om dit vir ons moontlik te maak.

God, broers en susters, het nie die aarde gemaak en toe gaan slaap nie. Dit sê vers 4 vir ons baie duidelik. As ons dit wat die Psalm hier vir sy tyd wil sê, moes oorvertaal in ons tyd in, sou ons kon sê: God sit nie iewers in ‘n strandhuis en blokkiesraaisels invul, terwyl ons swoeg en sweet nie. God tree nie af nie. Ons doen dit, want ons raak soms moeg. Ons moet gaan slaap, want ons kan nie sonder rus nie. En ons kan gaan slaap, want God slaap nooit nie. Die mens is weerloos wanneer hy slaap, want hy weet nie van al die gevare nie. Maar ons kan maar gaan slaap, want God is ons beskermer.

Meer nog. Ons kan maar waag om weerloos te wees, die swakkere te wees. Ons kan maar die moed hê om te waag met die liefde teenoor ander, omdat God sy oog nie van ons afhaal nie.

Ek sluit af: die sosioloog Peter Berger skryf dat wanneer ‘n ma haar kind in die nag hoor huil, haar kind optel en vashou met die woorde: ‘Alles is reg, my kind, alles is reg’ Dan sê Berger: of die ma is besig om vir haar kind te jok, of sy het rede om te sê dat alles reg is, al weet sy alles is nie reg nie. Wat is hierdie rede? Geloof. Geloof in God wat ons altyd in sy hande vashou. Geloof dat God alles gemaak het.

Ons het daarom nodig, broers en susters, om telkens weer en weer oor die drumpel van die kerkgebou te stap om in die geloof God te kom prys. Om hallelujas tot eer van God te kom sing. Om hier herinner te word aan die feit dat ons hulp net van die Here kom.

Maar ons kan nie in die kerkgebou woon nie. Ons moet weer hier uit, ons moet oor die drumpel stap. Ons moet eenvoudig die vangkraal met sy noutes in. Ons het nie ‘n keuse nie.

En wanneer ons tog gaan, en ons wil, deur te oorleef, liewers slagter as skaap wees, liewer die sterkeres wees as die weerloses, liewers die liefde terughou as om daarmee te waag, moet ons onsself ernstig afvra of ons antwoord op die vraag ‘waar kom my hulp vandaan’, soos die psalmskrywer s’n, kan wees: van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

Maar ons kan ook die noutes in met die vaste geloof dat ons net in God se hande is. Dat net Hy ons hulp is. Dat Hy ons so lief het dat Hy sy Seun nie gespaar het nie. Sulke mense, broers en susters, wat dit werklik glo, ken ek baie van. Hulle is nie sonskynoptimiste wat net die lekker van die lewe ken nie. Hulle kan soms ook ophou bid, soms voel God hoor nie. Maar dan begin hulle maar weer bid, en druk in die noutes van die lewe in. Terwyl hulle vaster en vaster klou aan die hulp wat van die Here af kom. Dit is geloof.
Amen