Jeremia 32:1-14; Hebreërs 11:7-10

Wat van môre?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Stel uself voor, broers en susters, dat 'n hewige orkaan besig is om alles in sy pad te verwoes, en die mense wat woon in die volgende plek wat getref gaan word, vlug in hulle hordes uit daardie gebied, en terwyl almal oor mekaar se voete val om uit die gebied te kom, ry u rustig in daardie selfde plek rond op soek na 'n huis wat u met u lewenslange spaargeld wil koop.

Of, as gevolg van een of ander natuurversteuring daar 'n geweldige kragtige fratsgolf op pad is wat reeds menige kusdorp verwoes het, en u bespreek rustig vir u 'n vakansieplekkie juis in die dorpie wat in die middel van hierdie fratsgolf se pad lê. Mense sal, broers en susters, met alles respek, sê u is mal. Dat u u kop moet laat lees.

Dit is presies, broers en susters, wat ook met Jeremia hier in ons gedeelte aan die gebeur is. Dit is 587 v C. Die leër van Nebukadnesar het reeds om Jerusalem stelling ingeneem. Berigte het reeds ingestroom. Die land is verwoes, 'n bloedspoor loop waar Nebukadnesar se leër geloop het. 'n Gewone daaglikse lewe was daar nie meer nie. Mense het reeds begin kos opgaar. Wantroue het onder mekaar begin kop uitsteek. Die politici was senuweeagtig. Dit was 'n tyd van oorlewing.

Wat meer is, Jeremia, die enigste oorblywende stem teenoor koning Sedekia, sit in die tronk. Juis omdat die koning nie van sy boodskap gehou het nie. Want terwyl almal planne probeer maak om uit die krisis te kom, en die politici hulp soek by ander volke om weerstand teen Nebukadnesar te probeer bied, was Jeremia se boodskap doodeenvoudig: hierdie dinge kom oor ons omdat die volk ongehoorsaam teenoor God gelewe het en bly lewe. Verander julle weë, dan sal God red. Maar gaan daarin voort, en julle sal vernietig word.

In hierdie krisis dan, sien ons, kom God na Jeremia met 'n opdrag, 'n opdrag wat, indien Jeremia dit sou uitvoer, almal inderdaad sou laat sê: maar kyk, hierdie man is regtig van sy kop af. Hy is nie lekker nie. Want wat is dit wat Jeremia doen?

Hy gaan koop n stuk grond. 'n Stuk grond wat, volgens hulle, verseker deur Nebukadnesar ingepalm sal word. Twee honderd gram silwer, wat Jeremia beslis in die water gaan gooi.

'n Evaluering, broers en susters, van God se opdrag en Jeremia se uitvoering daarvan, uit die oë, die perspektief van mense. Maar nie, broers en susters, 'n evaluering daarvan vanuit die perspektief, die plan van God nie.

Want in hierdie opdrag van God, broers en susters, en Jeremia se uitvoering daarvan, lê 'n geweldige diep stuk verkondiging. En nie alleen vir die mense van Jeremia se tyd nie, maar ook vir ons, in ons tyd. Want in hierdie opdrag wat God aan Jeremia gee, in sy opdrag dat Jeremia 'n volledige koopkontrak moet opstel, dit moet seël, en dit in 'n kleipot moet wegbêre, lê 'n kragtige boodskap. 'n Boodskap waarmee God wil sê:

In die krisisuur, gaan voort met julle gewone handelinge. Koop en verkoop. Lewe jou lewe nou voluit in die geloof. Want wat nou, elke dag in die geloof gedoen word, is nooit nutteloos nie. Trouens, die werklike betekenis van wat jy nou, in die krisisuur doen, sal eers later duidelik blyk.

Daarom, sit die kontrak in 'n kleipot. Sorg dat dit lank hou. Want daar sal 'n tyd kom, tye kom, waar dit sal lyk of God nie meer by jou is nie. Jy sal begin twyfel of God nog van jou weet. Maar onthou dan: daar is 'n koopkontrak, daar is seël daarop geplaas, en daar is 'n kleipot. Want God is getrou. Wat Hy doen, bly geldig. Eendag, wanneer alles weer normaal word, wanneer mense weer sal koop en verkoop, sal jou kontrak nog daar wees. Eintlik: sal alles vir jou reeds in plek wees, want dan sal jy reeds gekoop het.

Om moed te hou, broers en susters, waar dit lyk of dit nie meer die moeite werd is nie, om te bly glo en hoop waar almal opgehou het om te glo en hoop, het geweldige konsekwensies vir 'n mens se lewe en toekoms. Twee voorbeelde:

Noag begin op 'n dag 'n ark aanmekaar te timmer. Op droë grond. Vêr van enige water. Almal lag hom uit. Almal sê hy is gek. Ja, hyself verstaan nie alles mooi nie, maar hy doen soos God vra. En wat gebeur? Wat hy toe gedoen het, die waarde daarvan, het eers later baie duidelik geblyk.

Abraham, in 'n tyd toe dit baie gevaarlik was om vêr te trek (want die mense het toe nog geglo dat die wêreld iewers ophou en jy van die rand sal afstort in jou dood in), trek. Almal sê hy is van sy kop af. Maar hy trek, want sien, God sê hy moet. Later, sien ons, word Abraham weer platgeslaan. Hy moet sy enigste seun gaan offer. Maar hy gaan, want sien, God sê hy moet. En wat leer Abraham daaruit? Wat leer hy, eers baie jare daarna daaruit?

Wat ware geloofsvertroue en geloofsvolharding werklik beteken. Wat die waarde daarvan is om teen alles in, God op sy woord te neem. En natuurlik: hoe meer opdraande die pad is, hoe hoër jy moet klim, hoe moeiliker die pad is, hoe beter word jou insig in wat God se genade en versorging werklik beteken.

'n Boodskap soos hierdie, broers en susters, roep nie ‘vrede vrede’ nie. 'n Boodskap soos hierdie bring nie goedkoop troos nie. 'n Boodskap soos hierdie se uiteinde vind gewoonlik ook nie netnou of môre plaas nie. Juis daarom God se opdrag aan Jeremia: plaas die kontrak in 'n kleipot, dat dit lank kan hou. Want dalk sal jou hartseer en lyding lank wees, en op hierdie pad sal jy dalk aan God begin twyfel, maar onthou dan: die koopkontrak is nog daar, die kleipot is nog daar. Dit is God se belofte dat Hy nog steeds hierdie pad met jou stap.

Het ons so 'n kontrak, broers en susters? Natuurlik. Jesus Christus aan die kruis. Daar, aan daardie kruis, het God met ons 'n kontrak gesluit, het God vir ons eens en vir altyd gesê Hy het ons lief, Hy wil ons by Hom hê.

Is hierdie kontrak nog geldig, 2000 jaar nadat dit gesluit is? Ja, honderd keer ja. Want vanaand kan u en ek gaan, ons verwoeste, bekommerde, uitgedroogde lewens voor God se voete plaas, en maar net weer hoor: dit alles is jou vergewe. Kyk, Ek maak jou weer nuut. Jy kan weer van voor af begin. Jy kan weer My pad begin stap daar waar jy dit verlaat het. Ek is nog steeds daar.

Soek u 'n bewys hiervan? Jeremia het nie tevergeefs gewag nie. Na dekades het die volk uit ballingskap teruggekeer. En eeue daarna is Jesus vir ons gebore. Daarna, op 'n dag, het daardie Seun van God ons aan 'n kruis met God versoen. En daarna, op Pinkster, het sy Gees oor almal gekom wat glo. En is sy Gees vandag nog onkeerbaar aan die werk in die lewens van mense, volke en die wêreld.

Laat ons daarom, broers en susters, hier so op die draai van die eeu, met alles wat voorspel word, met so baie dinge wat nie rooskleurig lyk nie, met soveel onsekerhede in ons eie gemoed, doen soos baie voor ons. Laat ons, omdat ons glo, in geloofsvolharding en geloofsvertroue ons pad saam met God stap.

Dit sal natuurlik nie alles maanskyn en rose wees nie. 'n Lewe in die geloof maak nie dat ons minder pyn het nie. Dit gee ons nie minder kommer, swaar tye en finansiële bekommernis nie. Ons sal ook nie, wanneer ons oud geword het, en God ons kom haal, ons noodwendig met minder moeite laat sterf nie.

Maar ons lewe sal anders wees. En deur ons woorde en dade sal ander sien dat dit die moeite werd is om te lewe. En laat ons altyd onthou dat God self gesê het: Wanneer die laaste dinge gebeur, sal Ek nog die Here wees.
Amen