Johannes 21:15-19

Volg My!



Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Maak nie saak van uit watter hoek ons na die huwelik kyk nie, die huwelik en liefde gaan hand aan hand. Omdat twee mense vir mekaar lief word, trou hulle later. As die liefde iewers verlore raak – om watter rede ook al – raak die huwelik ook verlore. Maar as die liefde bly, staan die huwelik sterk. Hiermee, glo ek, sal ons almal mee saamstem.

Waaroor ons almal egter nie sal saamstem is nie, is wat hierdie liefde is waarvan ons praat het. Is dit ‘n emosie, en niks meer as ‘n emosie nie? Is dit iets wat ek bly voel net omdat my huweliksmaat aan my verwagtinge voldoen? Maak soos ek wil hê hy of sy moet maak? Of is die liefde – soos ons in so baie liedjies hoor – maar net ‘n “fairy tale”: almal praat daarvan, hemel dit op, almal sing daaroor, maar eintlik is dit iets wat nie werklik bestaan nie. Miskien soms, maar nie altyd nie. Miskien aan die begin, maar darem nie altyd nie.

Hoekom, N en N, praat ons soms so vaag oor die liefde? Hoekom is die liefde soms so vaag sigbaar in ons lewens? Omdat ons nie werklik weet wat dit beteken nie. Omdat ons soms so dikwels die woord liefde oor die tong stoot, sonder om te besef watter betekenis God daaraan toeken.

Wat, sê God, is die liefde? In hierdie kort gedeelte waar Jesus met Petrus praat, sê God dit baie duidelik. Drie keer vra Jesus  vir Petrus: “Het jy myl lief?” Drie keer sê Petrus: “Here, U weet dat ek U liefhet”. En drie keer sê Jesus vir Petrus wat dit dan beteken as Petrus sê dat hy Hom liefhet: laat dan my lammer wei, pas dan my skape op, gee hulle dan kos.

In kort: om iemand lief te hê, sê Jesus, is om daardie persoon se herder te wees. En wat doen ‘n herder? Dit vertel die Bybel ook vir ons: Omdat Jesus ook herder is, maak hy mense gesond wanneer hulle siek is, vergewe Hy, leer Hy, akkommodeer Hy, lei Hy, voed Hy, versorg Hy, ontferm Hy – en gee selfs sy lewe weg.

En kom ons hoor weer mooi: Hy maak gesond, vergewe, leer, lei, voed, versorg, ontferm, gee sy lewe weg. Nie dinge wat Jesus voel of dink nie. dinge wat Hy doen. Dus: om lief te hê, sê Jesus, is om te doen. Vir ander te doen, al is dit soms tot jou eie nadeel.

Die Bybel, N en N, sê hierdie ding van liefde as dade op baie plekke (die liturg gebruik die volgende tekste om liefde as dade te verduidelik):

  • Johannes 13:1-2
  • 1 Johannes 3:18
  • 1 Korintiërs 13
  • 1 Johannes 4:7

Sluit af: Nadat Jesus drie keer vir Petrus gevra het of hy Hom liefhet, Petrus drie keer bevestigend geantwoord het, en Jesus drie keer hom die opdrag gee om daarom herder vir ander te wees, sluit Jesus sy opdrag aan Petrus af met die woorde: “Volg My”.

En hierdie woorde van Jesus is baie belangrik. Vir julle vandag, maar ook aan almal van ons. As ons regtig wil liefhê, moet ons Jesus volg. Daar lê die fokus. Ons hoef nie eerste lief te hê nie. Wat ons eerste moet doen is om Jesus te volg. En dan? Dan kom die res vanself. Kom die herder-wees vanself. Dan kom die liefde as dade self.

N en N: God se opdrag vandag aan julle is eenvoudig. Gaan wees mekaar se herders. Gaan sorg vir mekaar. Gaan gee om vir mekaar. Dan is julle liefde ware liefde. Want ware liefde, leer die Bybel ons, is iets wat sigbaar is. Dit is iets wat jy doen. Gaan doen aan mekaar, dan sal julle gelukkig wees.

Ons almal bid julle God’s rykste seën toe. Ons bid sy teenwoordigheid in julle lewens elke dag af. Ons bid dat julle sy liefde sal ervaar. Ons bid dat julle Hom sal beleef as die goeie Herder. Want dan sal dit vir julle maklik wees om ook mekaar se herders te wees.
Amen