Matteus 5:14-16

Hoe gee ons lig?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Julle weet mos dat wanneer dit hier by ons reën, dit dikwels gepaard gaan met weerlig en donderweer. Soms is die weerlig en donderslae so erg dat ons bang word, en dan nie alleen in ons kamers wil wees nie. Maar wat die weerlig soms ook doen, is dat dit ons huise se krag/elektrisiteit uitslaan. En dan is alles baie skielik donker, en kan ons niks sien nie.

Wat maak ons dan? Ons steek ‘n kers aan, sodat daar lig kan wees. Dit het dikwels al met my ook gebeur. Maar dit wat die laaste keer gebeur het toe ek ‘n kers gaan haal het om aan te steek, sal julle nie glo nie. Maar kom ek vertel julle wat gebeur het.

Soos dit gebeur, het die weerlig die krag uitgeslaan. Omdat ek besig was om te lees, het ek opgestaan, my flits aangeskakel om darem te sien waar ek loop, om gou ‘n kers te gaan haal in die kas waar die kerse gebêre word. Gekom by die kas, het ek dit oopgemaak en my hand uitgesteek om die eerste en beste kers te vat. Maar toe gebeur daar ‘n snaakse ding.

Met die kers in my hand, hoor ek toe ‘n stem wat sê: ‘Hallo vriend, waarheen vat jy my?’ ‘Wie het nou gepraat?, het ek hardop gesê’. ‘Ek het’, het die antwoord gekom. ‘Wie is ek’, het ek gevra? “Ek is die kers in jou hand’, het die stem geantwoord.

Toe ek met die flits na die kers lig, sien ek toe dat die kers ‘n gesiggie het, en dat dit dié gesiggie is wat met my praat. En wat sê die gesiggie? ‘Moet my asseblief nie uit die kas haal nie’. ‘Wat?’, het ek verbaas gevra. ‘Jy kan mos nie vir my sê wat ek met jou mag maak nie?’, en terwyl ek dit sê, het ek begin om die kers uit die kas te haal.

Waarop die kers toe antwoord: ‘Is jy doof, ek het jou gesê dat jy my nie uit hierdie lekker snoesige kas moet haal nie!’. Nou het ek begin om myself so bietjie te vererg. ‘Wat bedoel jy ek moet jou nie uit die kas haal nie? Jy is ‘n kers. Dit is jou werk om lig te maak. Jy weet mos net so goed soos ek dat dit pikdonker is. Ek het jou nodig. Daarom haal ek jou nou uit die kas!’

Waarop die kers toe antwoord: ‘Jy kan my nie uithaal nie, want ek is nog nie gereed om lig te gee nie. Ek het nog so bietjie tyd nodig om myself voor te berei om lig te gee. Ek is so bang as jy my aansteek, dat my liggie nie mooi sal wees nie. Of dalk sal my liggie nie helder genoeg skyn nie. Ek is bang ek maak ‘n fout. Ek het nog tyd nodig. Ek wil nog so bietjie dink. So, asseblief, los my eers uit’.

Toe besluit ek: ek het nou genoeg van hierdie kers gehad. Wat se voorbereiding wil die kers nog doen? Wat se storie is hierdie van nog nie gereed wees nie? En dat die lig nie mooi genoeg sal wees nie? Of dat ‘n kers ‘n fout kan maak? Lig is mos lig, en dit is ‘n kers se werk om lig te maak. Daarom, ek is klaar met hierdie kers. As hy nie wil nie, daar is nog baie ander kerse in die kas.

Maar wat gebeur toe ek die kers neersit om die ander te vat? Julle sal my nie glo nie! Soos ‘n koor kom die stemme uit die kas: ‘moet my nie nou vat nie, ek dink nog eers of ek regtig ‘n kers wil wees!’. En ‘n ander kers sê: ‘Ook nie vir my nie, daar is nog baie ander kerse in die kas. Vat een van hulle’. Ek is nog eers besig om my lewe in orde te kry. En nog een sê: ‘Ek is ‘n dame, en eintlik is ek ‘n sanger — ek is nie gemaak om lig te gee nie. Maar ek sal graag vir die ander kerse sing!’

En toe het ek genoeg gehad. Deurmekaar kerse? Waar het jy nou al daarvan in jou lewe gehoor? Kerse wat nie lig wil gee nie, wat nie wil doen waarvoor hulle gemaak is nie, kerse wat liewer wil sing? Kerse wat wonder of hulle kerse is? En dikmond maak ek die kasdeur toe. Kan jy dit glo? En wat gebeur toe ek my dogter daarvan vertel? Julle sal my nie glo nie! Haar antwoord was: ‘Haal daardie kerse nou regtig al weer hulle streke uit!’

Liewe jongmense, natuurlik is hierdie ou verhaaltjie nie waar nie. Dit kan nie waar wees nie. Maar dit vertel ‘n groot waarheid. En kom ek verduidelik. ‘n Boom is tog ‘n boom. Dit kan tog nie iets anders as ‘n boom wees nie. En ‘n pad is ‘n pad. Dit is gemaak om daarop te ry. En ‘n stoel is gemaak om ‘n stoel te wees, om daarop te kan sit. Dit is tog logies.

Net so, sê die Here vir ons in sy Woord, is ons die lig van die wêreld. Jy kan tog nie ‘n stad op ‘n berg bou, en dink niemand gaan dit sien nie. En net so steek ‘n mens nie ‘n lamp op, en dan sit jy dit onder ‘n emmer dat die lig nie almal kan help sien nie. Dit sal tog dom wees!

Maar God sê ons doen dit soms!. Ons is soos die kerse in die kas wat teëpraat en nie kerse wil wees nie! Ons wil nie ons lig laat skyn nie. Ons wil so dikwels so maklik nie God se kinders wees nie, al is ons dit!

God het ons sy kinders deur Jesus Christus gemaak. So het Hy ons nie alleen die ewige lewe gegee nie, maar ons ook nuut gemaak sodat ons nou kan weet hoe om elkeen hier te lewe. Sodat ons kan weet, sê ons gedeelte uit die Bybel vanaand, hoe om vrugte te dra, reg te lewe, sodat almal kan sien dat God ons liefhet en dat ons Hom daarom ook liefhet.

Maar wat maak ons? Wanneer maatjies van mekaar skinder, ander beledig, of so optree dat ons weet dit is nie wat God van ons vra nie, dan bly ons dikwels stil. Of ons skinder saam. Of ons is saam lelik stout. Ons laat nie ons liggies so skyn dat ander kan sien ons behoort regtig aan Jesus nie? En hoekom doen ons dit?

Ons maak soos die kerse in die kas. Ons sê: los my in die kas, ek is nog nie gereed om ‘n kers te wees nie, al is die kers klaar ‘n kers. Ons sê: ek is nog nie gereed om aangesteek te word nie, al het ek as kers reeds ‘n pit. Of ons sê: gebruik die ander kerse, ek is nie bereid om aangesteek te word nie. Ek moet nog eers dink of ek wil, en het nog so bietjie tyd nodig om myself voor te berei, en sal eers later, nie nou nie, en so kan ons al die verskonings opnoem wat ons so dikwels gebruik.

Dit, terwyl ons klaar God se kerse is. Kerse wat aangesteek moet word sodat almal kan sien. Dat almal kan sien hoe om te lewe, dat almal kan sien hoe lief God my regtig het. Dat almal kan sien dat ek aan God behoort. Dat almal kan sien dat ek nie net sê ek glo nie, maar regtig glo deur te lewe soos God van my vra?

Hoe is ons God se kerse, God se ligte? Deur ander te help as hulle my nodig het, deur altyd vriendelik te wees, deur nooit iemand te beledig of te beskinder nie, deur nie afgunstig teenoor ander te wees nie, deur nie jaloers te wees nie, ja, deur ander lief te hê soos ek myself liefhet. As ons so lewe, wys ons ander dat ek regtig met die Here ‘n verhouding het, ‘n verhouding wat saak maak.

Ek sluit af: dink maar volgende keer, as julle besef dat ek nou hier my lig vir God kan laat skyn, aan die verhaaltjie van die kerse in die kas. ‘n Kers kan tog nie iets anders as ‘n kers wees nie. ‘n Stad kan nie op ‘n berg weggesteek word nie. Met ander woorde, as ons nie God se ligte wil wees nie, sien mense dit ook.

En dan besef hulle: hierdie kers wil nie ‘n kers wees nie. Hierdie kind van die Here wil nie eintlik kind van die Here wees nie. En dit wil ons tog nie hê ander mense van ons moet sê nie!
Amen