2 Timoteus 2:1-13

Ons lewens moet wys wat ons glo en bely



Geliefdes van ons Here Jesus, die teksvers van ons prediking kom uit ons gelese gedeelte: “Wat jy my voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om dit ook aan ander te leer” (2 Tim 2:2).

Boers en susters, jongmense en kinders, wie van julle het al ’n oom of tannie gesien wat stofsuiers verkoop? Hulle loop mos van deur tot deur, en dan klop hulle by huise en vra die mense of hulle nie graag wil sien hoe werk hierdie wonderlike stofsuiers nie. En as hulle op die ou end alles, wat hierdie stofsuiers kan doen, vir die mense gewys het, dan eers vertel hulle jou wat die goed kos - amper ’n plaas se prys! Ja, hierdie mense verkoop mos gewoonlik daardie duur soort stofsuiers, dié wat ’n mens nie by Game, of Hyperama, of Dions te koop kry nie. Wie van julle weet wat daardie stofsuiers se name is?

[Gee geleentheid vir die kinders om so ’n paar name te noem, bv Kirby, ens.]

Wel, wie van julle sal graag so ’n werk wil hê? Ja, wie van julle wil eendag van deur tot deur loop en stofsuiers verkoop? Kom, steek so bietjie julle hande op!

Weet julle wat? Ek het eendag ook ’n jongman geken - sy naam was Jannie du Toit. Hy het só ’n droom gehad ... eendag het Jannie daar by my by die pastorie aangekom, en vir my vertel dat hy baie graag stofsuiers wil verkoop. Sy ouers was natuurlik baie daarteen gekant. Immers, hulle wou gehad het Jannie moes verder gaan leer het. Ek het toe met hulle mooi gaan praat en hulle oortuig dat Jannie sy eie keuse moet maak. Ek wil julle nou uitnooi om te luister na Jannie se verhaal as stofsuierverkoper, en dan moet julle vir my sê wat hy verkeerd gedoen het.

Ek wil eers vir julle vertel dat Jannie du Toit nie ’n dom kêrel was nie. O nee, hy het baie goed gedoen op skool ... hard geleer en goeie punte gekry. Maar hy wou van kleins af sy eie besigheid hê! Moenie vir my vra waar hy aan die idee gekom het van stofsuiers verkoop nie, want dan sal ek moet jok. Miskien het hy eendag ’n advertensie iewers gesien, en gereken dat daardie ouens baie geld maak, of dalk het hy gehou van die feit dat hy sy eie baas kon wees, of dalk het hy daarvan gehou om met mense te werk. Ek weet nie, maar wat ek wel geweet het, was dat Jannie stofsuiers wou verkoop.

Ek en hy het so bietjie rond gebel en uitgevind hoe dit werk. Daar is toe vir hom gesê dat hy eers sy eie stofsuier moes koop, en alles van daardie masjien moes leer, alvorens hy dit aan ander mense kon gaan verkoop. Jannie het toe die geld uit sy spaarrekening gaan trek, en die stofsuier gekoop. Dit was die maklike deel. Ek moet erken, ek was baie beïndruk met die stofsuier, nadat Jannie dit aan my gedemonstreer het - ek het nie geweet die pastorie is so vuil nie! Ongelukkig het ek nie daardie soort van geld om so ’n duur stofsuier te koop nie.

Die moeilike deel van Jannie se voorneme om stofsuiers te verkoop, was dat hy in die hele jaar wat verby was, nie een enkele stofsuier verkoop het nie. Kyk, hy is so onsuksesvol, hy het al begin wonder of hy nie ys aan die Eskimo’s moet probeer verkoop nie. Sy ouers het begin krapperig raak, want vir die hele jaar lank moet hulle hom onderhou! En onthou: dit was juis hulle wat vir hom gesê het dat dit geldmors was. Julle moet ook nie vergeet nie: daar is nog ’n meisie ook, en meisies, so het arme Jannie gou-gou uitgevind, kan nogal duur items wees om aan te hou.

Gemeente, ek het agtergekom dat Jannie se voorneme om stofsuiers te verkoop nie gaan werk nie, toe ek die volgende sien gebeur het. Ek was eendag besig om by Jannie se ouers te kuier, toe hy weer in sy kamer besig was met die stofsuier.

Die volgende oomblik het die voordeurklokkie gelui. Dit was hulle buurvrou, Adel Naudé. Sy het haar tjekboek in die hand gehad. “Waar’s Jannie?” wou sy by sy ouers weet. Dit het vir my gelyk of Jannie uiteindelik besigheid gaan kry.

“O, hy’s in sy kamer besig met daar die verbrande ...”, was sy pa besig om te sê, toe die buurvrou sommer in die gang af loop en aan Jannie se kamerdeur klop: “Jannie,” het sy gesê, “dit is ek, tannie Adel. Ek hoor jy verkoop sulke grênd stofsuiers.”

Nuuskierig het ek in die gang afgeloer. Daar was geen geluid van ’n stofsuier in die kamer nie ... alles was doodstil. Die volgende oomblik het die kamerdeur oopgegaan en Jannie het sy kop by die deur uitgesteek.

Die buurvrou het by hom verby probeer skuur, maar Jannie het die hele deur vol gestaan: “Het ek reg gehoor? Ek is seker ek het jou met ’n stofsuier hoor werk? Wys die ding ’n bietjie vir my. Ek soek lankal na so ’n grênd ding.”

Weet julle wat? Julle sal my seker nou nie glo nie, maar Jannie het toe vir die tannie half verleë geantwoord: “Nee, tannie Adel, u het u definitief verbeel. Ek het nie ’n stofsuier in my kamer nie ... dit was maar seker my radio.”

“Wel dan moet ek maar elders gaan soek!” het die buurvrou boos geantwoord, en die huis, met haar dik tjekboek, verlaat.

Ek wou nog iets sê, maar ek was skoon uitgeboul! En ek het nogal gedink hy wil graag ’n stofsuierverkoper wees. Die blikke wat sy ouers my gegee het, was van daardie wat sê: “Sien jy nou, Dominee, ons was toe die heeltyd reg!”

Geliefdes van ons Here Jesus, later die volgende dag het Jannie daar by my by die pastorie aangekom: “Dominee, hoekom kry ek nie ’n stofsuier verkoop nie? Ek raak nou al moedeloos!”

Kyk, ek wou my eers bloedig vir hom vererg, maar wyslik het ek besluit om soos ’n regte dominee op te tree: “Jannie, ek dink jy moet jou taktiek so ’n bietjie verander. Jy het mos saam met die stofsuier ’n handleiding gekry met al die tegniese besonderhede in. Gaan bestudeer daardie inligting, en gebruik dan daardie feite om mense te oortuig dat jou stofsuier net die ding is wat hulle nodig het.”

Jannie het toe die handleiding uit sy kop gaan leer. Hy kon presies vir jou sê hoe sterk die motor van die stofsuier is, hoeveel stof en gemors dit kan opsuig, wat ’n mens met al die toebehore kan doen, en nog vele ander goed.

Daarna het hy toe na die Visagies se huis gegaan, en aan die deur geklop. Oom André het oopgemaak, en na ’n vinnige “Hallo, Oom!” het Jannie losgetrek en al die tegniese besonderhede van die stofsuier aan hom vertel. Jannie was nog nie eers halfpad met sy voordrag nie, toe het die oom vir hom beduie dat hy “mal” is, en die deur in sy gesig toegemaak.

En soos julle kan raai, het Jannie sommer direk daarvandaan na my toe gekom: “Ag, Dominee, dit help ook niks nie! Oom Visagie het die deur in my gesig toe geklap. Ek het vir hom al die regte feite oor my stofsuier oorgedra, en hy wou nogtans nie luister nie. Dis genoeg rede om enige normale ou in ’n depro te laat gaan.”

Ek het toe vir hom gesê: “Jannie, miskien moet jy jou stofsuier meer aggressief bemark. Laat die mense weet dat hulle ’n behoefte aan stofsuiers het. Elke huis is vol stof, en op een of ander manier moet hulle dit gebruik.”

Jannie het toe by die plaaslike skou vir hom ’n stalletjie gaan huur, en baie hard met die omstanders gepraat: “Mense, julle het ’n behoefte aan stofsuiers! Julle huise is vieslik vuil. Sonder my stofsuiers gaan dit stink in julle huise. Dis julle laaste kans om stofsuiers te koop! Wee, julle as julle nie koop nie!”

So het Jannie elke dag van die skou vuriglik sy stofsuier bemark. Hy het gewag ... en gewag ... Niemand het egter ’n stofsuier by Jannie gekoop nie.

En raai na wie toe het Jannie na die skou gegaan? “Dominee,” het hy baie na aan trane gesê, “hoekom wou niemand terugkom en een koop nie? Hulle het dan almal so belangstellend gelyk?”

Wat kon ek toe vir die arme jongman sê? Ek het toe maar vir hom gesê dat die mense se koppe te vol van die krieket en rugby was dat hulle nie meer bewus is van wat regtig in die lewe belangrik is nie ...

Vir ’n lang ruk het ek niks van Jannie gehoor nie. Ek het wel verstaan dat hy voortgegaan het om met sy stofsuier te werk. Eers het hy net sy eie kamer skoongemaak, maar mettertyd het hy die hele huis begin skoonmaak. Die huis was later so skoon dat selfs sy ouers moes erken: dit was toe nie so ’n slegte kopie nie.

Eendag het die buurvrou, tannie Adel, onverwags by die huis ingestap, juis toe Jannie so besig was om die voorhuis skoon te maak. Verbaas het sy hom, hande op die heupe, dopgehou.

“Hoor hier, Jannie,” het sy gesê, “daardie stofsuier van jou werk darem uitstekend. As dit daardie vuil mat so mooi skoon kan maak, wil ek beslis ook een hê! Kom, verkoop een van daardie grênd goed aan my!”

Net daar en dan het Jannie die transaksie beklink, en glo my, dit was die eerste van sy baie verkope.

Broers en susters, jongmense en kinders, ek hoop julle verstaan wat ek probeer sê het. ’n Mens kan nie ’n stofsuier verkoop as jy dit wegsteek, of die mense verskreeu en dreig, of wanneer jy net toesprake hou oor hoe goed die ding is nie! Jy gaan dit alleen regkry as mense oortuig is die ding werk wonderlik. Hulle moet ’n demonstrasie daarvan sien ... jy móét die stofsuier se werksvermoë wys. Wat help dit jy vertel vir die mense al die feite en wat die stofsuier nie alles kan doen nie, maar hulle sien nie een keer hoe dit gedoen word nie?

So werk dit ook mos met die Evangelie van die Here Jesus wat ons aan mense wil “verkoop”. Julle maats en vriende sal dit alleen “koop” as hulle dit in jou lewe kan sien werk. Dit gaan niks help nie as jy alles van die Here Jesus se geboorte weet; dat Hy aan die kruis gesterf het vir jou sondes; dat Hy op die derde dag uit die dood opgestaan het; dat Hy opgevaar het na die hemel; en dat, as jy in Hom glo as die ware Verlosser, jy eendag die ewige lewe sal erf. Ja, dit help nie jy ken die handleiding, ons Bybel, op die punte van jou vingers, en jy kan presies vir mense sê waar elke ding in die Bybel staan, maar hulle kan dit nie sien nie!

Nou hoe gaan julle maats of ander mense hierdie dinge dan kan sien, en boonop glo? Wel, onthou julle nog dat die Here Jesus gesê het: “Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen ... Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Joh 13:15, 34-35)?

Ja, ’n mens se hele lewenswyse moet ’n demonstrasie wees van dit wat jy bely en glo. Mense sal alleen die verlossingsboodskap van die Here Jesus “koop” vir die waarheid, as hulle sien dit werk - veral in die lewe van dié een wat dit aan hulle probeer “verkoop”. As mense kan sien hoe “skoon” jou geloof in die Here Jesus jou eie lewe maak, sal hulle beslis daarin geïnteresseerd wees. As jy egter jou geloof wegsteek en dit nie met ander wil deel nie, sal hulle dit ook nie wil hê nie.

Gemeente, daarom moet julle vandag besef dat Paulus reg is wanneer hy vir die jonge Timoteus sê om die verlossingsboodskap oor te dra aan ander, sodat hulle dit weer op hulle beurt kan oordra aan iemand anders. Só bereik die Evangelie meer mense, en al hoe meer mense dank God op die ou end vir sy genade. Ja, gaan en wees goeie verkoopsmanne en -dames vir Jesus Christus.

Gaan “verkoop” die verlossingsboodskap aan almal wie se lewens nog vuil is, deur vir hulle ’n voorbeeld daarin te wees.
Amen