1 Samuel 17:31-58

Op die Here alleen vertrou ek!



Geliefdes van ons Here Jesus, die tema vir hierdie prediking is: Op die Here alléén vertrou ek! En hierdie tema wil ek vir ons toelig uit Psalm 20 vers 8: “Sommige vertrou op strydwaens en ander op perde, maar ons, ons vertrou op die Naam van die Here ons God.”

Broers en susters, jongmense en kinders, ek is seker dat hierdie verhaal van Dawid en Goliat by al die kinders bekend is. Ja, julle weet dat dit ’n jong skaapwagtertjie, met die naam Dawid, was wat hierdie verskriklike groot en ervare soldaat, Goliat, met een klein klippie neergevel het. Maar besef julle werklik waaroor hierdie verhaal gaan? In hierdie verhaal moet julle onthou dat dit nie net gaan oor klein teen groot nie, maar ook oor goed teenoor sleg.

Maar wie was hierdie Dawid wat geen bang haar op sy kop gehad het nie? Hoe het dit in elk geval gebeur dat so ’n jong seun op die slagveld was? En waarom het juis hý kans gesien vir Goliat en nie een van die meer ervare soldate van Israel nie?

Gemeente, Dawid was die jongste van die agt seuns van Isai, ’n veeboer. Op ’n dag het die Here vir Samuel na sy huis toe gestuur met die opdrag: “Ek stuur jou na Isai toe, want onder sy seuns sien Ek vir My ’n koning” (vgl 1 Sam 16:1). Maar nou sal julle egter onthou dat Saul nog koning was oor Israel, maar die Here was nie tevrede met Saul nie. Saul het nie die Here gevrees nie, en het gemaak net soos hy wil. Daarteenoor het die jonge Dawid ’n heilige ontsag en vrees vir die Here gehad. Daardie dag het Samuel toe vir die jonge Dawid as koning gesalf, al was Saul nog wettig die koning van Israel. Nadat hy vir Dawid gesalf het, het die Gees van die Here van toe af kragtig in Dawid gewerk.

Dawid het egter geen koningsbloed in hom gehad nie. Nee, inteendeel, hy was ’n gewone skaapwagter. Dit was gewoonlik ook die gebruik in daardie tye dat die jongste seun verantwoordelik gehou is vir die versorging en beskerming van sy pa se skape en kleinvee. Die skaapwagters het saam met die kleinvee geslaap en geleef in die veld. Net so het Dawid ook sy pa se skape en kleinvee opgepas en beskerm. Dit is iets wat hy blykbaar baie goed gedoen het, want ons weet dat daar baie roofdiere soos leeus, bere en wolwe was wat die skape kon vang. Julle moet besef dat indien ’n skaapwagter van sy kleinvee sou verloor weens roofdiere of agterlosigheid, hy deur sy eie mense as ’n slegte skaapwagter beskou sou word. Daarom moes ’n skaapwagter hierdie kleinvee met sy eie lewe beskerm, want sy eer was op die spel. Die wapens van so ’n skaapwagter was eenvoudig: ’n knopkierie, ’n staf en ’n slingervel. En hierdie slingervel kon hulle met verbasende akkuraatheid teen roofdiere gebruik. Hulle het ure in die veld geoefen om daarmee die roofdiere te verwilder.

In Dawid se tyd was daar ook baie oorloë teen die ander volke en nasies. Een van Israel se grootste vyande was die Filistyne met hulle magtige leërs en soldate. Israel het gereeld vir die Filistyne laat les opsê. Eendag het hulle weer oorlog teen mekaar gemaak, maar dié keer was dit die Israeliete wat bang was. In die kamp van die Filistyne was daar ’n reusagtige soldaat met die naam van Goliat. Hy was ongeveer drie meter lank en ’n baasvegter. Vir veertig dae lank het hy vir die Here en die Israeliete gespot, en boonop het hy hulle uitgedaag om met hom te baklei. Niemand in die leër van Israel het egter die moed (en hart) daarvoor gehad nie.

Maar, geliefdes van ons Here Jesus, daardie dag stuur Isai vir die jonge Dawid om vir sy drie broers, wat deel was van die leër van Saul, kos weg te neem. Toe Dawid in die kamp aankom, sien hy hoe bang en verskrik die Israeliete reageer op die uitdagings en beledigings van Goliat. Verbaas vra Dawid vir sy broers: “Wie is hierdie heiden, hierdie Filistyn nogal dat hy die linies van die lewende God verkleineer?” Vir Dawid was dit een te veel. Niemand, maar niemand beledig sy God nie! Immers Hy is die enigste lewende God en aan Hom moet alle eer toekom. Hy stap na koning Saul toe en sê vir hom: “’n Mens moenie oor hóm moedeloos word nie ... Ek sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.”

Saul was baie bekommerd oor of Dawid genoeg ervaring het om hierdie reusagtige Filistyn te verslaan. Dawid verduidelik aan koning Saul dat hy nie bang is nie, want hy het al baie in die verlede as jong seun met leeus en bere baklei. Immers, in sy oë is hierdie barbaar niks ander nie as ’n dier, en daarom sal hy met Goliat presies dieselfde doen omdat hy die lewende God verkleineer het. Dawid antwoord vir Saul: “Die Here, wat my gered het uit die kloue van die leeu en die kloue van die beer, Hý sal my red uit die mag van hierdie Filistyn.”

Selfs die ervare en reusagtige Goliat was verbaas om ’n jong seun na hom toe te sien aankom. Sekerlik het hy nie gedink dat hierdie jong seun teen hom sou wou veg nie. Hy het dan nie eers oorlogsklere aan nie, wat nog te sê van oorlogswapens! Ja, Goliat het beledigend en met minagting op Dawid neergekyk. Dawid het egter nie geskrik vir hierdie reusagtige Filistyn se grootbek nie. Inteendeel, dit is Dawid wat minagtend met Goliat praat, so asof hý die een is wat die kleinste is: “Jý kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God ... wat jy verkleineer het. Vandag sal die Here jou in my mag oorgee ... sodat die hele wêreld kan besef dat Israel ’n God het. Dan sal hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle in ons mag oorgee.” Ja, Dawid het nie met verskriklike wonderlike wapens teen Goliat kom veg nie ... nee, net in die Naam van sy God! Al was Dawid deur Goliat se grootheid, sy wapens en sy ervaring oorskadu, het Dawid steeds die oormag aan sy kant gehad. Ja, Dawid het vir die lewende God aan sy kant gehad. Nie hy wat Dawid is nie, maar God sal die oorlog wen! En dit is presies toe waar Goliat vir hom 'n stukkie aarde koop, aan die voete van Dawid voor God se almag.

Broers en susters, jongmense en kinders, wat wil hierdie verhaal van Dawid en Goliat vir ons vandag leer? As ons daaroor gaan nadink, dan besef ons dat dít wat in hierdie verhaal afspeel, daagliks met julle, as kinders en jongmense, gebeur. Ja, die Christene, as God se volk, en julle word daagliks deur die Satan en die boosheid verkleineer en verneder. Ons grootste vyand vandag is beslis die sonde en Satan ... hulle lyk soos Goliats teenoor ons!

Maar ons is mos ook soldate vir Jesus Christus! Ons lees in 2 Timoteus 2 vers 3 die volgende: “Dra jou deel van die ontberings soos 'n goeie soldaat van Christus Jesus.” Net soos Dawid het ons mos ook al baie in die verlede teen leeus en bere geveg en boonop gewen. Ja, hoeveel keer het ons nie al die sonde in ons lewens oorwin nie?! Elke sonde en versoeking in ’n kind en jongmens se lewe is leeus en bere wat 'n bedreiging inhou vir die Here Jesus se kudde. Geen wonder nie dat Petrus ons daarteen waarsku: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind” (vgl 1 Pet 5:8).

Maar hierdie “Goliats” van ons lewens sal ons nie met wapens en mag kan verslaan nie. Nee, net in die Naam van ons enigste Verlosser en Heer, Jesus Christus, sal ons die stryd kan wen. Hierdie oorlog teen die boosheid en sonde, en dus ook die uitslag daarvan, word nie deur ons gewen omdat ons so goed en sterk is nie, maar alléén deur Jesus Christus. Ja, God het alle mag in die hemel en op die aarde aan sy Seun, Jesus, gegee (vgl Mat 28:18).

Geliefde gemeente, jongmense en kinders, laat elkeen van ons vandag ook soos Dawid besef dat jyself nie alleen daartoe in staat is om die oorlog teen die sonde te wen nie. Maar jy kan wel die oorwinnaar wees met die genade en liefde van God. Dit is waarom ons teksvers ook uitdruklik sê: “Sommige vertrou op strydwaens en ander op perde, maar ons, ons vertrou op die Naam van die Here ons God.” Ja, laat ons gelowig die stryd teen die sonde in die Naam van Jesus Christus beveg!
Amen